Gaan Westerse lande hul vingers in Venezuela verbrand?

venezuela-protesaksie

Protesaksies het sedert 2017 skerp in Venezuela toegeneem. Foto: Voice of America/En.wikipedia.org

Venezuela verkeer in volskaalse chaos. Indien enigiemand ’n goeie voorbeeld wil sien van hoe harde sosialisme, gemeng met grootskaalse korrupsie en die magsgreep van ’n diktator lyk, kan jy maar net na Venezuela kyk.

Sedert Nicolás Maduro in 2013 die leisels by sy linkse voorganger Hugo Chávez oorgeneem het, het die land van die een krisis na die ander voortgestrompel, elke keer ’n bietjie dieper in die moeras van hiperinflasie, armoede, werkloosheid en, uiteindelik, selfs hongersnood.

Terwyl Chávez nog slim was, kan Maduro bloot net as ’n gekke ideoloog, wat boonop skelm is, beskou word. Oor die afgelope paar jaar het meer as vier miljoen mense uit Venezuela na buurlande gevlug. Die land se eens sterk middelklas is byna heeltemal uitgewis en sy grootste bron van inkomste, olieproduksie, het byna tot ’n stilstand gekom weens ’n tekort aan valuta en totale chaos in die ekonomie.

Die afgelope vier weke het die krisis in Venezuela egter ’n politieke keerpunt begin bereik. Vroeg in Januarie is die 35-jarige opposisieleier Juan Guaidó tot nuwe voorsitter van die nasionale parlement verkies. Die opposisie in Venezuela het al vir twee jaar ʼn groot meerderheid in die parlement, maar president Maduro erken nie meer die legitimiteit van die parlement nie.

Guaidó het vinnig die spanning met Maduro opgejaag en verlede Woensdag het hy homself volgens ’n grondwetlike bepaling tot die tussentydse president van Venezuela verklaar. Amerika, Kanada en die meeste Suid-Amerikaanse lande het hom onmiddellik as die nuwe, wettige leier van sy land erken. Ander Westerse lande soos Duitsland en Spanje het op vry en regverdige verkiesings aangedring anders sou hulle ook die nuwe leier as president erken het.

Die probleem is egter dat Rusland, China en Turkye bankvas agter Maduro staan. Dit is nie omdat hulle hom en sy skelm regering ondersteun nie, maar eerder omdat hulle teen Amerika wil staan. Die VSA het ’n slegte rekord in Suid-Amerika, terwyl Westerse lande se inmenging in politieke krisisse in die Midde-Ooste die afgelope twee dekades grootliks rampspoedig was.

Terwyl leiers soos Saddam Hoesein van Irak, Bashar al-Assad van Sirië en Moeammar al-Ghaddafi van Libië almal linkse diktators was, was hul lande beter daaraan toe voordat Westerse of Westers-gesteunde groepe die lande binnegeval en oorlog uitgebreek het.

Terwyl Westerse lande maklik en vinnig by oorloë in die Midde-Ooste betrokke geraak het, het hulle niks gedoen toe Robert Mugabe wit boere van hul grond verdryf en die ekonomie in Zimbabwe bykans in duie gestort het nie. Daar bestaan talle ander voorbeelde van politieke krisisse in ander wêrelddele waarby Westerse lande verkies het om nie betrokke te raak nie.

Daar kan geen twyfel bestaan dat Venezuela ’n beter land sonder Maduro en met ’n demokraties verkose president sal wees nie. Westerse inmenging en selfs militêre betrokkenheid sal die land egter in ’n volskaalse burgeroorlog (soos in Irak, Sirië en Libië) laat verval. Westerse inmenging in ander wêreldstreke misluk byna altyd. Die beste oplossing vir die krisis in Venezuela moet in die land self en deur sterk lande in Suid-Amerika gevind word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

nico k ·

Daar kan baie kommentaar op die artikel gegee word. Eerstens word westerse inmenging in lande veroordeel. Maar die Afrikaners hardloop vinnig na westerse lande om te gaan vra vir inmenging hier in SA. Om te sê inmenging in bv. Libië was sleg vir die land, is relatief. Dit was nie sleg vir die opposisie leiers wat in in tronke vergaan het onder Ghadafi se bewind nie. Ek weet die weste meng net in waar dit hulle ekonomie raak, wat seker ook logies is. Maar wil ons nie graag hê dat daar internasionaal meer gedoen moet word om van korrupte diktators ontslae te raak nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

‘n Land verdien die regering waarvoor hy kies om te hê!!

Jerry ·

Of die westerse wereld inmeng of nie, Venezuela beweeg op sy eie elke dag nader aan konflik tussen die massas en die regering. Wat SA aanbetref hoor ek dat die ANC se hulle gaan nie die Zimbabwe pad met SA stap nie en nou sien ek dat die ANC beslis nie daaroor lieg nie, want hulle is toe nou al die tyd besig om die pad van Venezuela te stap! Daarom gebeur dit dat SA se kwynende middelklas al hoe swaarder dra aan belasting vir “grants” aan miljoene werkloses en “bailouts” aan korrupte staatbeheerde entiteite. Misdaad, mynbou en besoedeling weeg swaarder as bewaring van menslike en natuurlike hulpbronne en net soos met Venezuela gaan SA se grootste bron van inkomste mynbou en olieproduksie word. Die middelklas, voedselprodusente en die res gaan stadig maar seker uitgefaseer raak.

HPV ·

Hoekom klink die woorde “volskaalse chaos” en “grootskaalse korrupsie” so bekend?
Wat maak Suid Afrika onder die anc regime beter? Welkom in die klub!

Faan Bothma ·

Demokrasie soos bedryf in die Weste is middeleeus, ‘n flop en chaoties. Kyk wat gebeur nou in die vsa, engeland en Suid Afrika. Demokrasie soos bedryf deur die Sjinese is modern en onfeilbaar. Moenie glo wat die joods-angelsaksiese hoofstroom media en engelse xpedias jou wysmaak nie. Sjina is lankal nie meer kommunisties nie , ek weet want ek bly nou al 12 jaar hier. En Christene word nie hier vervolg nie, ongeag van wat die media sê. Die President is ook nie ‘n diktator nie, die Politburo skryf vir hom voor wat hy mag aankondig. Hier word nie kitsbeslissings gemaak nie, enige aankondiging wat die president maak was vir ten minste ‘n dekade (soms 2 of 3) beplan en fondse sowel as arbeid daarvoor bewillig. Daarom is alles wat hulle aanpak suksesvol.
Afrikaners moet ‘n kopskuif maak – die toekoms is by Sjina.

DewaldS ·

Dankie vir jou interessante bydrae, Faan. Dis nogal moeilik om eerstehandse inligitng oor Sjina in die hande te kry. Maar diegene van ons wat ons breins gebruik het lankal besef dat die Westerse media die politici en skatryk elite se leuenfabrieke is en dat Westerse ‘demokrasie’ seker een van die grootste leuens denkbaar uit daai fabrieke is.

Willie ·

Baie bly om te sien meer lesers is bewus van die feit dat westerse lande met VSA as voorbok, ‘n groter gevaar is vir wêreldvrede, as enige ander groepering. Dit gaan alles oor geld en mag. Die VSA se “flacking” olie is besig om leeg te loop, so plan moet gemaak word Venezuela se olie te kry.

Leon Stevens ·

Jy lieg! Christene word vervolg en daarom moet hulle ondergronds gaan en China is ‘n kommunistiese land. Ek dink jy is verwar oor watter land jy tans woon.

Anoniem ·

Die Amerikaners ly nou nog aan die Vietnam skok en druk hulle neuse orals in onder die dekmantel van demokrasie. Hulle kon dit nog nie verwerk dat ‘n piepklein landjie hulle so op hulle neuse laat kyk het nie. Dan is hulle boonop arrogante wetters.

Faan Bothma ·

Die vsa het in effek nog nooit ‘n oorlog gewen nie ! Gaan kyk na die feite, nie na die flieks nie – dis akteurs wat daarin gevegte wen. Die sogenaamde ‘war of independance’ wou nie deur die britte gewen word nie want die minerale rykdomme van die ‘nuwe wêreld’ was te gering om voor te veg. Die gevegte wat wel plaasgevind het was net om tyd te wen sodat die senior britse hooligans kans kon kry om weg te kom. En dan het hulle jouwaarlik ook hul eie burgeroorlog verloor – die verkeerde kant het gewen. Dit het nie gegaan oor slawerny en rasisme nie, dit het gegaan oor die ‘establishment’ wat lande wil verenig – waarmee hulle vandag nog besig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.