Gambië: “Pappa” vat toe eindelik die pad

jammeh-gambie

Ondersteuners van Jammeh tydens die Desember 2016-verkiesing. Foto: Verskaf/The Independent.

Die jongste politieke verleentheid vir Afrika is die vorige president van Gambië, wat nie die mag wou prysgee nadat hy ʼn verkiesing verloor het nie. Ná troepe van die Wes-Afrika-streeksgroepering, ECOWAS, egter die afgelope naweek op sy drumpel gestaan het, het pres. Yahya Jammeh uiteindelik toegegee en die land verlaat. Dit het ʼn burgeroorlog in dié klein landjie verhoed.

Gambië is ʼn redelik onbenullige landjie in Afrika, die kleinste landjie op die vasteland en maar 50 km breed op sy wydste punt en so 250 km lank. Die ekonomie is maar karig met ʼn paar landboubedrywighede waarvan die grootste grondboontjies is. As voormalige Britse kolonie met ʼn paar mooi strande is dit ook nogal ʼn toeristebestemming.

Nietemin wil ons hier fokus op die nalatenskap van nog een van Afrika se vele diktators. In vele opsigte val sy manewales in die kategorie van voormalige diktators soos Idi Amin van Uganda.

“Die Oorwinnaar van Riviere”

Die amptelike titel vir die voormalige diktator was “Sy Hoogheid Sjeik Professor Alhaji (Moslem wat al Mekka besoek het) Doktor Yahya Abdul-Aziz Awal Jemus Junkung Jammeh Nasirul Deen, Babili Mansa”. Babili Mansa beteken vry vertaal “Oorwinnaar van Riviere”, terwyl Nasirul Deen beteken “Beskermer van die Geloof”. Nieamptelik staan hy blykbaar bekend as “Pappa vat nie twak nie” (my vrye vertaling).

Jammeh het as 29-jarige in Julie 1994 met ʼn staatsgreep aan bewind gekom, so drie maande ná die ANC in Suid-Afrika die regering oorgeneem het. Hierna het hy verkiesings in 1996, 2001, 2006 en 2011 gewen voordat hy in Desember 2016 teen Adama Barrow die presidensiële verkiesing verloor het. Al die verkiesings was nooit juis vreeslik vry en regverdig nie en dit word wyd aanvaar dat Jammeh maar erg verneuk het in elke verkiesing.

Terloops, die bevolking in Gambië stem al jare met albasters in plaas van stembriewe vir hul gunstelingkandidaat. Nietemin is dit duidelik dat Jammeh nie die ongunstige uitslag verwag het nie en eintlik onkant betrap is deur die ondersteuning vir die opposisie wat geen media of finansiële hulpmiddels het nie. Verkiesings in Gambië word gekenmerk deur geweld teen en intimidasie van die opposisie, dominering van media, onakkurate kieserslyste wat die sittende president verreweg bevoordeel.

Hoewel Jammeh eers aangedui het dat hy die uitslag aanvaar, het hy ʼn paar dae later omgeswaai en geëis dat ʼn nuwe verkiesing gehou word. Hy het daarna geweier dat die nuwe president ingesweer word, ʼn noodtoestand aangekondig en aangedui dat hy verder gaan regeer.

Afrikaleiers, en veral dié in Wes-Afrika, was nie baie beïndruk met Jammeh se manewales nie. Gevolglik het die streeksgroepering, ECOWAS, ʼn militêre mag saamgestel met ongeveer 7 000 troepe van Nigerië, Senegal en ander. Die troepe is na Gambië gestuur om druk op Jammeh te plaas om te onttrek. ʼn Oorlog is gevrees en heelwat burgerlikes en staatsamptenare het die pad gevat deur eenvoudig oor die grens na Senegal (wat Gambië van drie kante omring) te vlug.

Die weiering tot afstaan van mag is natuurlik nie uniek tot Gambië se gewese diktator nie en is seker een van die grootste probleme wat Afrikastate het. Neem maar Robert Mugabe se weiering om mag oor te dra ten spyte van sy ouderdom van 92 en die gemors waarin die land verkeer.

Afrika se nalatenskap

Net in 2016 het ʼn klomp kontroversiële verkiesings plaasgevind waar Afrikaleiers eenvoudig geweier het om die demokratiese proses te laat plaasvind, of oënskynlik eenvoudig die verkiesings bekonkel het.

  • In Februarie 2016 het president Yoweri Museveni van Uganda die verkiesing gewen, hoewel verskeie waarnemers grootskaalse verkiesingsbedrog aangemeld het. Museveni is reeds 30 jaar aan bewind.
  • In dieselfde maand is president Mahamadou Issoufou in Niger herkies, ná grootskaalse ongerymdhede. Die opposisie het selfs onttrek aan die verkiesing.
  • Edgar Lungu het in verdagte omstandighede die verkiesing in Zambië in Augustus gewen.
  • Ali Bongo van Gaboen, wie se familie reeds dekades dié land beheer, het in September 2016 blykbaar die uitslae bekonkel en seker gemaak hy kry nog ʼn termyn as president.
  • In een van die rykste lande in die wêreld met een van die armste bevolkings, die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), het president Joseph Kabila die 2016-verkiesing eenvoudig afgestel omdat daar blykbaar nie geld is om die verkiesing te laat plaasvind nie. Hulle sal nou blykbaar later in 2017 verkiesing hou.
  • Ons moet darem net noem dat John Mahana van Ghana, wat die verkiesing in Desember 2016 verloor het, die nederlaag aanvaar en die tuig ontruim het. Ongelukkig is dit die uitsondering eerder as die reël in 2016.

Die streeksgroep, ECOWAS, se militêre ingryping het uiteraard verseker dat Jammeh die mag opgegee het. Dis interessant dat ECOWAS besluit het om in te gryp maar ʼn paar jaar tevore niks gedoen het ná burgeroorloë, staatsgrepe en soortgelyke magsvergryp ná verkiesings in ander ECOWAS state nie. Die meeste state van ECOWAS het in die een of ander stadium self verkiesingsongerymdhede of ernstige burgeroorloë in die die laaste paar jaar beleef. Dit sluit in lidstate soos Burkina Faso, Ivoorkus, Guinea-Bissau, Liberië, Mali, Nigerië, Sierra Leone en Togo wat nou nie juis self ligpunte van demokrasie is nie.

Miskien is dit omdat Gambië so ʼn klein landjie is, net bietjie groter as ʼn halwe Gauteng met ʼn klein weermag van sowat 1 000 lede. Dis natuurlik makliker om in te gryp en klein landjies aan te vat as bv. Ivoorkus of Mali.

Maar terug by Jammeh.

Jammeh se onsinnighede

Jammeh het nogal ambisie vir sy klein landjie gehad en Suid-Afrika se oudpresident, Thabo Mbeki, se visie gedeel oor pan-Afrikanisme. Hy het selfs in 2004 vir Mbeki met sy kenmerkende wit gewaad en hoed, kierie, bidkrale, sneesdoekie en ʼn Koran in die hand besoek. Wat ook opvallend is, is dat beide presidente ʼn interessante houding jeens vigs gehad het. Mbeki het die oorsaak van vigs ontken en Jammeh het gereken dat hy vigs kan genees. Jammeh het blykbaar verskeie mense in 2007 “genees” van vigs deur gebruik te maak van tradisionele medisyne.

Natuurlik was korrupsie ook ʼn belangrike bestanddeel van Jammeh se bewind. Forbes-tydskrif het in ʼn stadium uitgewerk Jammeh besit tot VSA$ 1,8 miljard. Dit sluit blykbaar huise van $10 miljoen elk in twee Wes-Europese stede en vyf Oos-Europese stede, $30 miljoen in Marokko en $50 miljoen in Dubai in. Jammeh het ook blykbaar ʼn aandeel in byna elke besigheid in Gambië gehad.

Nog ʼn klompie interessante staaltjies oor die diktator van Banjul (die hoofstad):

  • Hy het aangedui dat hy ook onvrugbaarheid en hoë bloeddruk met sy eie gebroude tradisionele medisyne kan genees.
  • In 2008 het Jammeh aangedui dat homoseksualisme strafbaar is met die dood en dat hy gay of lesbiese persone in Gambië se koppe sou laat afkap.
  • In 2009 het Jammeh sy spesiale “Green Beret”-troepe na ’n dorpie gestuur en al 1 000 inwoners gedwing om ʼn konkoksie van kruie-medisyne te drink wat hulle vir dae lank laat hallusineer het. Dit was blykbaar nadat die dorpie se toordokter ʼn fatale towerspel op sy tante geplaas het.
  • In 2010 het Jammeh aangedui dat Gambië ʼn primêre rol in die lugvaartbedryf gespeel het en dat die eerste transatlantiese vlug en eerste vlug vanaf Oos-Europa in Gambië geland het.
  • In 2012 het Jammeh nege gevangenes deur ʼn vuurpeloton laat teregstel nadat daar vir 30 jaar geen teregstellings in die land was nie. Die internasionale gemeenskap was geskok.
  • In 2013 het Gambië uit die Statebond getree, wat Jammeh as ʼn neo-koloniale instansie verklaar het. Hy het laat blyk dat Brittanje in 300 jaar niks beteken het vir Gambië nie, en die inwoners slegs geleer het om Baa Baa Black Sheep en God Save the Queen te sing.
  • In 2014 het hy Engels as Gambië se amptelike taal geskrap. Geen alternatief is egter ingestel nie.
  • In 2015 het Jammeh besluit dat Gambië voortaan ʼn Islamitiese Republiek sal wees, in weerwil van opposisie wat aangedui het dis teen die grondwet.
  • In 2016 het Gambië Suid-Afrika ondersteun deur aan te kondig dat hulle gaan onttrek van die Internasionale Geregshof omdat slegs Afrikaleiers vervolg word deur dié

Hoewel Jammeh se onsinnighede relatief uitsonderlik is, is daar nog te veel Afrikastaatsleiers wat in die naam van veelpartydemokrasie die politieke stelsel uitbuit, die staatskas leegsteel, verkiesings eenvoudig bekonkel, in weelde leef en geen snars omgee vir hul volgelinge nie.

Te maklik kom Afrikaleiers daarmee weg om op die oog af demokrasie in hul lande toe te laat, maar sodra hul magsbasis onder druk kom, eenvoudig enige metode gebruik om die mag te behou. Ongelukkig is die meeste opposisiepartye natuurlik ook net geïnteresseerd om die verkiesing te wen en daarna die mag so lank moontlik te behou en die staat sover moontlik self te plunder.

Sulke optrede deur Afrikaleiers is natuurlik ongehoord en dit versterk Afropessimisme.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.