Ganse wat goue eiers lê … kan vlieg

begroting-finansies-ekonomie-bestuur-stevepb-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Deur Amanda Visser

Hoë-inkomsteverdieners bly in die visier van die regering danksy verskeie belastingverhogings, insluitend ’n nuwe top- marginale koers vir individue en ’n reuseverhoging in dividendbelasting, die jongste salvo wat afgevuur is.

Die aanname dat die verhoging in dividendbelasting slegs Suid-Afrika se ryk inwoners raak is egter nie in die kol nie. Die verhoging van 15% tot 20% op verklaarde dividende het ’n veel wyer trefwydte. Dit raak ook die gewone werkersklas wat deel is van hul maatskappy se breë-gebaseerde ekonomiese bemagtigingsplan, sowel as pensioenarisse wat dividendbetalings op aandeleportefeuljes ontvang.

Charles Castle, bestuurder van AfriSake se arbeidsregsadvieseenheid, maan dat gewone werkers se vertroue in die belastingstelsel moontlik negatief deur ondeurdagte regeringsoptrede beïnvloed kan word.

Dividendbelasting is ’n soort belasting wat deur aandeelhouers betaal moet word sodra ’n dividend aan hulle uitbetaal is. Onder normale omstandighede word die bedrag egter deur die maatskappy, wat die dividendbetaling maak, weerhou en aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oorbetaal.

Talle mense maak op die dividendinkomste staat om vir die aandele wat deur die maatskappy vir sy werkers aangebied word, te betaal. Dit beteken eenvoudig dat dit nou langer vir mense gaan neem om “aandeelhouers” in die ware sin van die woord te word.

Dividendbelasting het sekondêre belasting op maatskappye in 2012 vervang in ’n poging om Suid-Afrika in pas te bring met internasionale praktyke, asook om die persepsie dat Suid-Afrika se maatskappybelasting onaantreklik hoog is die nek om te draai.

Met die instelling van die nuwe marginale belastingkoers van 45% vir individue is daar natuurlik kommer dat individue eerder dividende (belasting teen 15%) as inkomste (belasting teen 45%) kan ontvang.

Die verhoging in dividendbelasting wat tydens die Februarie-begrotingsrede bekend gemaak is, is toe sommer met onmiddellike ingang ingestel. Dit verteenwoordig ’n verhoging van 33% en beteken dat enige dividend wat op of ná 22 Februarie vanjaar betaalbaar is, ongeag wanneer dit verklaar is, aan die verhoogde belasting onderworpe is.

Dit wil egter voorkom of daar nie goed nagedink is oor die gevolge van hierdie verhoging nie.

Patricia Williams, belastingvennoot van die regsfirma Bowmans, sê daar is bestaande teenvermydingsmaatreëls wat enige poging om inkomste as dividende te verbloem, ontbloot.

Waarom dan die ingrypende verandering om “moontlike” belastingvermyding te probeer verhoed? Dalk lê die antwoord in die feit dat die verhoging na verwagting bykans R7 miljard in bykomende belastinginkomste vir die staat se koffers gaan beteken.

Williams, ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns, wys daarop dat die verhoging daarop neerkom dat afgetredenes nou ’n derde meer belasting op hul dividendinkomste gaan betaal (die verhoging van 5% is ’n derde van die aanvanklike koers van 15%).

Welvaartbestuurders het kommer uitgespreek oor die volgehoue aanslae op hoë-inkomsteverdieners. ’n Belangrike oorweging wat die regering egter ignoreer is dat dié groep mense uiters mobiel is.

Cheryl Howard, besturende direkteur van Talaria Wealth, verwys na die onlangse verhoging in kapitaalwinsbelasting, die ingryping in die gebruik van trusts in boedelbeplanning en die ontmoediging om optimaal te bespaar.

Sy wys daarop dat maatskappye tans ’n effektiewe koers van 22,4% op kapitaalwinste betaal en trusts tans teen 32,8% belas word. Die insluitingskoers vir albei is 80% (met ander woorde vir elke rand wat verdien word, word 80% daarvan belas).

Die belastingkoers op trusts is boonop tot 45% verhoog, in pas met die hoogste marginale koers vir individue. Die aanslag op trusts het onlangs in felheid toegeneem. Hoewel dit die mees doeltreffende manier is om boedelbeplanning te doen, is dit in wese slegs ’n opsie vir boedels wat meer as R30 miljoen werd is. Bitter min Suid-Afrikaners haal egter dié drempel.

’n Legio teenvermydingsmaatreëls en administratiewe koste wat die hoogte inskiet maak trusts net eenvoudig nie meer ’n kostedoeltreffende manier om bates vir jou nageslag en afhanklikes te bewaar nie.

Castle beklemtoon dat AfriSake homself beywer vir die behoud van ’n vryemarkstelsel met minimale inmenging van die staat. “Die staat het al tot vervelens toe bewys dat sy vermoë om staatsfondse te bestuur wesenlik ontbreek.”

Volgens Howard het die aantal kliënte wat haar maatskappy om hulp met emigrasie verwante navrae nader, skerp toegeneem. Dít is die ding met ganse wat goue eiers lê; hulle het vlerke wat kan vlieg.

  • Amanda Visser is ’n onafhanklike finansiele verslaggewer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

dirk ·

dit klink na strawwe verhogings,. Hoe werk emigrasie en jou geld ? kan iemand raadgee?

Johanna Botha ·

Presies en hoeveel ganse het nie al reeds gevlieg nie …daar gaan die beleggings, werksgeleenthere en belasting …alles weg en wie verarm nog meer ….ja ons weet wie …die getroue mense wat so vir die anc bly stem …en nou het hulle niks en blameer almal anders as hulle self. Rommelstatus hier kom ons met komplimente van die anc

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.