Gautengse township-wetsontwerp skiet te kort

(Argieffoto)

Deur Martin van Staden

Die Gauteng Township Economic Development Bill 2020 word tans oorweeg deur die Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling. Die wetsontwerp se oënskynlike doel is om toestande te skep vir die ekonomiese ontwikkeling van township-gebiede in die provinsie.

Tot ’n sekere mate blyk dit of die provinsiale regering verstaan dat rompslomp soos lisensiëring en burokrasie ’n probleem is, maar die wetsontwerp skiet te kort omdat dit tot nóg nadelige ekonomiese uitkomste gaan bydra, soos veral die mag om te sentraliseer, geleenthede vir korrupsie en die versterking van ’n rassebeginsel. Hiervolgens sal voordelige vrystellings en subsidies uiteindelik op grond van die ras en die status van burgerskap kan plaasvind.

Die wetsontwerp is teenstrydig met die Wet op Besighede (1991), wat die premier van ’n provinsie slegs bemagtig om die gesag vir lisensiëring aan munisipale owerhede te verleen. Die betrokke wetsontwerp plaas nou daardie gesag in die hande van die Gautengse Lid van die Uitvoerende Raad (LUR) vir ekonomiese ontwikkeling. Die voorgestelde wetgewing verteenwoordig dus ’n sentralisasie van mag, wat as sodanig teenstrydig is met die grondbeginsel van konstitusionalisme: die verdeling en desentralisering van regeringsmag.

Eerder as om ’n provinsiale LUR soveel ongebreidelde mag te gee, moet die provinsiale regering liewers oorweging daaraan skenk om dele van Gauteng in spesiale ekonomiese gebiede te omskep. In die Volksrepubliek van China het sulke gebiede grootliks bygedra tot die transformasie van daardie land van een van die armste lande ter wêreld na een van die rykstes. Townships en ander gebiede in Gauteng kan dan vrygestel word van belastings en ander tariewe, asook vrystelling van Suid-Afrika se outoritêre arbeidsregime, veral ingrypings soos die minimumloon. Liberalisering van dié aard sal baie meer effektief wees as ’n LUR se willekeurige kies en keur van wenners en verloorders in die mark.

Sulke mag in die hande van ’n burokraat is veral gevaarlik omdat die wetsontwerp dit verpligtend maak vir diegene wat die Wet moet implementeer om deur “spesifieke transformatistiese beginsels” gelei te word. Die wetsontwerp is meesal stil oor die aard van die beginsels, buiten om sekere voorbeelde daarvan te noem, soos om “produktiewe aktiwiteite en waardetoevoeging, wat ontwerp is om frontvoorhouding (fronting) te voorkom en uit te roei, te bevorder.” So ’n verpligting kan nét tot rassisme, korrupsie, nepotisme, en partydigheid lei.

Die wetsontwerp is ook ongelukkig een van die talle voorbeelde waar die een hand van die regering nie weet wat die ander hand doen nie omdat dit teenstrydig met goed gevestigde mededingingsbeleid is.

Die Mededingingswet, 1998, stel dit duidelik dat die regering dit as sy rol ag om kompetisie in die ekonomie te bevorder, met die einddoel om pryse te verlaag en die kwaliteit van goedere en dienste te verhoog. Teenstrydig hiermee plaas die wetsontwerp ’n verbod op ’n groot hoeveelheid potensiële   mededinging in township-gebiede. Dit reserveer besigheid in dié gebiede slegs vir ondernemings wat ten volle deur Suid-Afrikaanse burgers of permanente inwoners besit word. Dus, indien ’n onderneming deur nege Suid-Afrikaners en een Zimbabwiër besit word, mag dit (volgens die wetsontwerp) nie in ’n Gautengse township besigheid doen nie.

Verder het die Gautengse regering nie die finansiële vermoëns of menslike kapasiteit om al die verpligtinge wat die voorgestelde wetgewing op hom sit, na te kom nie. Byvoorbeeld, die wetsontwerp verplig die regering om bemarkingsdienste aan township-ondernemings te verskaf. Indien dié dienste regverdig verskaf gaan word aan alle kwalifiserende besighede en nie slegs die begunstigdes wat die LUR van hou nie, sal dit die provinsiale regering etlike miljarde per jaar kos.

Dit is belangrik dat die provinsiale regering nie bykomende provinsiale belastings of heffing plaas op diegene wat reeds baie betaal nie. Tog lyk dit, gegewe die aard van die wetsontwerp, onvermydelik. Indien dit so maak, verslaan die wetsontwerp sy eie doelwit, deur om die lewe nóg duurder en moeiliker vir mense te maak.

Ten opsigte van die wetsontwerp skep die provinsiale regering die indruk dat dit verstaan dat rompslomp en burokrasie, veral met betrekking tot die lisensiëring van ondernemings, besigheid belemmer. Provinsiale staatsorgane word dus verplig om township-ondernemings regstreeks by te staan wanneer daardie besighede sukkel om lisensies, permitte, vrystellings, sertifikate, en dies meer, te verkry van enige lisensiëringsowerheid. ’n Innoverende klousule maak ook voorsiening dat township-besighede wat nog wag om gelisensieerd te word, deur provinsiale owerhede sal geag word as rééds gelisensieerd.

Maar hier maak rassigheid ’n jammerlike verskyning in die wetsontwerp. “Township-gebaseerde ondernemings” word gedefinieer as besighede in townships wat ten volle deur swart (insluitend bruin en Indiër) Suid-Afrikaners besit word.

Dus, byvoorbeeld, sal ’n sjebien wat deur swart Suid-Afrikaners besit word en ’n dranklisensie nodig het om alkohol te verkoop, deur die relevante provinsiale gesag beskou word as reeds voldoende aan al die vereistes vir die lisensie, voordat dit inderdaad daaraan voldoen het. Daarom sal so ’n besigheid sommer vinnig drankprodukte kan verkoop sonder om die somtyds lang tydperk te wag vir die lisensie om uitgereik te word.

Dit is ’n puik idee om burokrasie op dié manier te vereenvoudig en vergemaklik, veral vir klein ondernemings. Maar dit moet nie op ’n rasgedrewe beginsel gegrond wees nie. Alle ondernemings in die provinsie moet vir hierdie voordeel kwalifiseer. Per slot van rekening, dit is mos ’n goeie idee per se! Hoekom wil die regering dit op arbitrêre gronde beperk?

Die wetsontwerp se erkenning dat dit makliker moet wees vir klein ondernemings om in die Suid-Afrikaanse ekonomie te funksioneer, is baie welkom. Die Suid-Afrikaanse regering en sy provinsiale organe voer al ’n jare lange stryd teen besighede en doen, willens of wetens, alles in sy vermoë om dit so moeilik as moontlik te maak vir ondernemings om in Suid-Afrika te floreer. Maar hoe die wetsontwerp beoog om hierdie mikpunt te bereik, laat veel te wense oor.

Die selfstandige sakegemeenskap Sakeliga, ingevolge sy kommentaar op die wetgewing wat Maandag ingedien is, is van mening dat die énigste wyse waarop die regering entrepreneurskap in Gauteng en Suid-Afrika kan bevorder, is om ’n radikale agenda van markliberalisering en deregulering na te streef. Sake moet makliker gemaak word vir almal. Die Gauteng Township Economic Development Bill 2020 reik na die doel, maar skiet ver te kort. Om hierdie rede moet dit heroorweeg word.

  • Martin van Staden het ’n meestersgraad in regte (cum laude) aan die Universiteit van Pretoria, waar hy vanaf 2021 vir ’n doktorsgraad gaan studeer. Meer inligting by Martinvanstaden.com. Hy skryf hier namens die selfstandige sakegemeenskap, Sakeliga.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Sakenuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.