Gebeure in Oos-Europa versterk verdeling in EU

europa-aardbol-vastelande

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Die 73-jarige president van Tsjeggië, Milos Zeman, is die afgelope naweek tot ’n tweede termyn verkies. Zeman beskou Rusland as ’n belangrike bondgenoot van sy land, handhaaf ’n goeie verhouding met Wladimir Poetin en is toenemend skepties oor die rigting wat die Europese Unie inslaan.

Op 8 April vanjaar sal kiesers in Hongarye na die stembus gaan. Alle peilings dui daarop dat die regse Fidesz-party van eerste minister Viktor Orban, gemaklik die verkiesing met meer as 50% van die stemme gaan wen. Orban is bekend daarvoor dat hy die afgelope tyd een van die belangrikste stemme teen die sentralisering van mag binne die Europese Unie geword het.

Orban is ’n sterk ondersteuner van Pole. Beide lande se leiers het die afgelope tyd hulself uitgespreek ten gunste van die bevestiging van ’n Christelike Europa in kontras met wat hulle beskryf as die sekulêre politieke elite wat leiersposisies in die Europese Unie domineer.

Toe die regse regering van Pole gedurende Desember 2017 een derde van die land se hooggeregshofregters afdank en die EU ongekende stappe teen Pole begin doen, het Orban en Hongarye onderneem om enige poging deur die EU om Pole se stemreg in die Europese Parlement terug te trek, te veto.

Hongarye, Pole, Slowakye en Tsjeggië vorm ’n blok van Oos-Europese lande wat gedurende 2017 sterk teenkanting teen onder andere die afdwing van immigrasie-kwotas deur burokrate in Brussel getoon het. Die nuwe regse regering in Oostenryk ondersteun, hoewel soms minder uitgesproke, hierdie teenkanting.

Die verdeling in Europa het duidelik by sy bron te make met identiteit en waardes. Oos-Europese lande is opnuut besig om hul historiese Christelike karakter te herbevestig. Die leier van die regerende party in Pole, Jaroslaw Kaczynski het onlangs gesê dat hy graag sal wil sien dat Pole die siek Europa van vandag moet help om weer die pad te vind na gesondheid wat behels ’n beskawing gebou op Christenskap.

Dit raak duidelik dat die liberale sekularisme van Wes-Europa en die Christelike konserwatisme van Oos-Europa die ware skeidslyn is wat sentralisering van beleid en waardes binne die Europese Unie kan verhoed. Burgers in Sentraal- en Oos-Europese lande reageer op hierdie spanning en selfs die gevoel dat hul waardes bedreig word, met die herbeklemtoning van nasionale soewereiniteit.

Nog ’n wesenlike onderskeid tussen wes en oos in Europa is die hiper-individualisering wat oor die afgelope paar dekades in Wes-Europa plaasgevind het, terwyl die gemeenskapsbelang steeds baie sterk in Oos-Europa aanwesig is. In Wes-Europa is kiesers se prioriteite baie keer hul eie pensioen en gesondheidsorg en ander persoonlike belange, terwyl die gemeenskaplike in Oos-Europa kiesers beïndruk. Die Hongaarse regering se herbou van kerke en die Poolse regering se verwydering van regters uit die kommunistiese era, maak dus in Oos-Europa sin.

Die Europese Kommissie, wat vir die dag-tot-dag-werksaamhede van die Europese Unie verantwoordelik is, se huidige konfronterende houding jeens opposisie uit hul oosfront, probeer nie ’n brug bou oor die skeidslyn nie, maar bevestig eerder hul siening dat liberale sekularisme, moderne demokrasie en die fokus op individuele regte op lidlande afgedwing moet word. Dit sal gedurende 2018 tot meer konflik binne die Europese Unie lei en kan uiteindelik tot die onttrekking van nog lande uit die EU of selfs ’n skeuring van die unie aanleiding gee.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

JC ·

Wonderlik!
Dankie Jaco, ek sien met welbehae uit na die “pragtige” skeuring.

Ondersteun die APK!

PJC ·

Gelukkig is daar nog mense in die wêreld wat vir hulle self kan en wil dink en nie net saam met die stroom gaan nie.

Stephan de S ·

Die verdelingslyn loop tussen diè wat gemeenskapslewe hoogag en diè wat dit minag …..n lyn wat ook in ou RSA veral tussen engelsgesindes en afrikaansgesindes deurgeloop het. Mag Afrikaners vandag in die hede hul gemeenskaporientering behou.

Nico K ·

Daar word in die artikel gesinspeel dat Oos Europa aan Rusland se kant is teen die Weste. Dit is natuurlik nie waar nie. Ukraine, Estland, Letland en Litua is baie bang vir Rusland en het juis daarom by Navo aangesluit. Ek weet daar is baie persone op Maroela media wat groot ondersteuners van Rusland is. Maar as jou bure vir jou bang is, dan is dit mos duidelik wie die aggressor is.

Jaco Kleynhans ·

Nico. Jy maak die verkeerde gevolgtrekking. Die situasie in Oos-Europa is myns insiens baie meer kompleks – met diverse volkere en verskillende prioriteite. By jou lysie kan Georgië gevoeg word wat ook verkies om met gevolge sterk bande met die Weste te handhaaf. Elke staatsgebou in Georgië het in hul portaal ‘n EU-vlag al is hulle nie (nog nie?) lid van die EU nie. Roemenië en die verdeeldheid daar tussen pro-Russiese en pro-Westerse groepe is ook ‘n interessante gevallestudie. My enigste argument is dat jy in Sentraal- en Oos-Europa met lande en leiers sit wat vriendelike of minstens neutrale verhoudinge met Rusland probeer handhaaf en dat dit sake vir die Europese projek, wat homself gereeld teen Rusland opstel, moeilik maak. Verlede jaar tydens ‘n besoek aan boere in Nederland was dit opvallend hoe sterk die meeste boere daar voel dat Nederland sy verhoudinge met Rusland moet normaliseer. Weer eens gaan dit oor prioriteite. Hierdie boere verloor ‘n belangrike mark wanneer Rusland ‘n invoerverbod op hul produkte instel. So verskil elke groep se prioriteite. Die Baltiese State het sekerlik rede om bang te wees dat Rusland hulle kan inval. Vir ander lande in Oos-Europa is goeie verhoudinge met Rusland noodsaaklik vir toegang tot gas en markte vir hul produkte.

Zachrys ·

Dankie Jaco, soos gewoonlik weer baie goeie komentaar.
Ek luister graag vanaand (Donderdag) om 20:15 verder na jou/julle op Pta fm!!!
Groetnis
Z

Janneman ·

Solank kommunisme net wegbly dis al. Somtyds voel dit vir my dat daar nogsteeds ‘n koue oorlog is , maar dat Christen geloof hoog geag word in oos- europa gee dit baie hoop en hulle sal geseen word, want die wat nie glo in God glo nie sal verlore gaan. En dit is Wes-Europase voorland.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.