Gebruik gerus jou onsinverklikker

obama-conspiracy

Foto: Obamaconspiracy.org

Politici lieg. Nie almal nie en nie almal ewe veel nie. Net soos die mensdom in die breë.

Maar daar is tye dat ʼn mens byna wanhopig wil word oor al die leuens wat in die wêreld rondgestrooi word.

Barack Obama is homoseksueel en Michelle Obama is eintlik ʼn transvestiet met die naam Michael. Die wrak van MH 17 in die Oos-Oekraïne (wat volgens ʼn internasionale ondersoek per ongeluk deur pro-Russiese rebelle neergeskiet is) is eintlik MH 314 – daardie vliegtuig wat so geheimsinnig oor die Indiese Oseaan verdwyn het – en die lyke is sorgvuldig daar neergesit om die Russe die skuld te kan gee.

Hillary Clinton is eintlik dood. Of kranksinnig en opgesluit. Die vrou wat jy op televisie sien, is ʼn dubbelganger. Obama gaan krygswet afkondig, die verkiesing kanselleer en self aan bewind bly.

Robert Mugabe is ʼn dapper demokraat. Jacob Zuma het ʼn vuurbestrydingspoel by Nkandla laat bou. Die ANC veg ʼn titaniese stryd teen korrupsie. En die Illuminati manipuleer alles in die geheim op die agtergrond.

Dink die verspreiders van sulke gerugte nou regtig ons is almal mal en dom? Dat niemand in staat is om hul onsinverklikkers te gebruik nie?

Die probleem is dat die tsunami leuens wat oor die wêreld spoel, aangehelp deur daardie onberispelike bron wat ons natuurlik oombliklik moet glo, Facebook, ʼn klimaat skep wat gevaarlik is.

Ek lees tans ʼn interessante boek, geskryf deur die Amerikaans-Duitse historikus, Fritz Stern, The Politics of Cultural Despair. Die boek, wat in 1961 vir die eerste keer verskyn het, probeer die intellektuele bedding ontleed waarin Adolf Hitler se leuenagtige sade kon ontkiem en bloei.

Hy behandel drie Duitse denkers uit die laat 19de eeu, Paul de Lagarde, Julius Langbehn en Moeller van den Bruck, wat ʼn beduidende rol gespeel het in die bedding van die 1920s. Dit was die bedding waarin Hitler (aangehelp deur die vernedering van Versailles en die ekonomiese krisis) soos ʼn kurkprop boontoe geskiet het. Dit het hom in staat gestel om sy program téén die Jode en vír ʼn veroweringsoorlog sonder veel teenstand deur te voer.

Daar is uiteraard verskille tussen die drie se denke, maar Stern identifiseer bepaalde gemeenskaplike kenmerke.

Hulle het die destydse tyd in pikswart terme afgeskilder, as ʼn krisis wat teen elke prys en met alle moontlike middele opgelos moet word, anders sou sake op ʼn totale ramp uitloop. Hul oplossing was anti-modernisties, vir emosie en gevoel en teen die rasionele denke van die Verligting.

Die sondebok was vir hulle die liberalisme (wat op die Europese vasteland nie dieselfde is as in die Angel-Saksiese wêreld nie) en die Jode. Alles is gesien as een groot sameswering. Hulle het minagtend neergesien op die nuanses van intellektuele analise en verkies om wat hulle gesien het as Die Volle Waarheid meedoënloos te volg.

Terloops, in die 1974-uitgawe wys Stern op die groot ooreenkomste tussen dié drie en die opstandige studentegeslag van 1968. Die inhoud van die denke het weliswaar verskil, maar nie die denkwýse nie (en dit laat ʼn mens natuurlik dink aan sommige lede van die huidige geslag studente in óns land). Daardie geslag het – soos baie mense deesdae – ook nie geglo in beskaafdheid en maniere nie.

Terwyl ek nog besig was met die boek, kom die nuutste uitgawe van die Britse nuustydskrif The Economist by my aan. Onder die skuilnaam Charlemagne wys ʼn rubriekskrywer op ʼn lesing wat die Duitse sosioloog Max Weber in Januarie 1919 gelewer het. Daarin maak Weber ʼn onderskeid tussen wat hy noem Gesinnungsethik en Verantwortungsethik.

Eersgenoemde is ʼn moreel gedrewe etiek, een wat geen kompromis met die gebroke werklikheid duld nie, een wat rigied rég wil wees. Laasgenoemde is meer prakties en pragmaties en bereid om kwaad te duld of selfs te doen as erger kwaad daardeur voorkom kan word.

Weber het laasgenoemde benadering verkies. Aanhangers van Gesinnungsethik, het hy te kenne gegee, is in nege uit elke tien gevalle nikswerd grootbekke.

Hy het iets beet, maar net tot op ʼn punt. Want as jy nét op praktiese oorwegings en pragmatisme wil staatmaak, kom jy by die punt waar die doel die middele heilig, waar alle middele geoorloof is. Êrens is ʼn middeweg nodig.

Wat het Weber met Lagarde, Langbehn en Van den Bruck te make? En wat is die verband met die moderne politiek?

Wel, in die huidige wêreld word daar byna op jou neergesien as jy nie ʼn mening oor alles onder die son luidkeels verkondig nie. Feite en logika is nie baie relevant nie; op deskundigheid en ʼn intellektuele benadering word inderdaad neergekyk.

Gaan lees maar wat alles op Facebook kwytgeraak word. Of onderaan artikels in publikasies.

Elke, of byna elke, leser is ʼn absolute deskundige oor elke onderwerp en die skrywer word soms in die mees beledigende woorde uitgetrap.

Dit gaan oor gevoel. Mense vóél iets. En dus is dit ook waar.

Nou moet jy mense se gevoelens nie geringskat of negeer nie. As genoeg mense ʼn gevoel deel, word dit ʼn politieke feit waarmee rekening gehou moet word. En jy moet jou gespreksgenote altyd met respek benader.

Maar te veel gespreksgenote, darem ʼn minderheid, herinner aan die anti-intellektuele tirades van Lagarde, Langbehn en Van den Bruck. Aan die aanhangers van Weber se Gesinnungsethik.

Feite is nie onbelangrik nie. Maar in die moderne wêreld, waar die elektroniese media jou met “feite” en menings oorstroom, hoe vind jy die bos deur die bome?

Ons sal seker nooit volkome sekerheid aan hierdie kant van die graf vind nie. Is Poetin ʼn held of ʼn skurk? Is Trump of Hillary die antwoord op Amerika se probleme?

My eie beskeie ervaring is om bronne uit soveel moontlik rigtings te lees. Sowel dié wat Donald Trump ophemel as dié wat aan Hillary Clinton se kant staan. Sowel dié wat Poetin as ʼn slim, kragtige leier beskou as dié wat hom as ʼn gevaarlike aggressor beskou. (Ek wou nou hier byvoeg, sowel dié wat vír of teen Zuma is, maar ek weet nie meer van iemand wat Zuma nog verdedig nie.)

Die denkers wat Stern bespreek, het gehelp om ʼn donker tyd in die wêreldgeskiedenis voor te berei. Dus: Lees beskouings uit verskeie rigtings. Bly liefs weg van die soort anti-intellektuele denke en leuens waarmee die kuberruimte oorspoel word. Gebruik jou onsinverklikker en gesonde verstand.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wicus ·

Dankie Leopold, ek moet so met jou saamstem, lees wyd, lees teenpole, probeer insien wat die ander man beleef uit sy hoek, probeer sy lewensruimte verstaan en ontleed sommer sy eerste 6 jaar opvoeding, daardie indrukke bepaal latere gebeure.

Ek moet s-e soos ek ouer word raak ek almeer sinies oor die lewe en oor gebeure. Lyk my emosie speel ‘n baie Groot role in gebeure en besluite indien nie die grootste nie. As mens die psige van die mens kan verstaan verstaan jy baie. Ek dink als word gedryf deur selfsug en hebsug, daar is bitter min naaste liefde en beginsels in die wereld.

One gaan baie swaar key want ons verstaan nie Afrika denke, godsdiens fanatisie, die invloed van die moderne teglonolgie nie, daarvoor is one sielkundig nie gereed nie.

Putin, hoekom dink ek die Weste is die oorsaak van die meeste ellende. Illuminati, lees eerder stelsels/prosesse en one feel daarvan.

Liefdeskind ·

Liberales glo mos nie in feite, wetenskap en biologie nie. Jou gewone nie-liberaal is besig om deur die leuns van media en politici te sien en nee, ‘n mens hoef ook nie baie slim te wees om dit te kan doen nie. Ek glo liewer dat Michelle ‘n Michael is voordat ek alles vir soetkoek opvreet wat my goewerment en koerante my wil laat glo.

Veritas ·

Die probleem lê in die laaste paragraaf. ‘Gebruik jou gesonde verstand.’. Elkeen se verstand is gesond in sy eie oë!

Theuns ·

Leopold jou kommentaar is in die kol en daarom wragtig die waarheid. Jy hoef nie heldersiende te wees om te sien wat in die toekoms gaan gebeur nie as jy net jou gesonde verstand en jou onsinverklikker gebruik. Ek het telkemale in my lewe myself in my mense vasgeloop wat Hitler goedgesind was. Al die goed wat jy se oor Trump, Hilarry en Putin hoor ek elke dag. Mense glo die onsin wat hulle van die sogenaamde” Inligting Hoofweg” aftrek en lees. Debat is nie meer soos in die ou dae wat ons soos beskaafde mense na mekaar se opininies kon luister en kommentaar lewer sonder om ‘n klomp onsinnighede kwyt te raak nie. Dan is daar nog die alternatiewe Debat voering waar ‘n klomp studente op en af spring met gebalde vuiste, snaakse geluide uiter en vreemde danspassies uitvoer tot niemand se vermaak nie. En dan vir exsta tref krag trek vroue studende(Ma’s?) hulle klere uit en smeek die Polisie om nie die arme bloedtjies te skiet nie! En laasgenoemde gebeur waar ander studende die polisie met klippe gooi en geboue brand? Lekker dag vir jou!

Henry ·

“In die ou dae” het talle party-politieke byeenkomste en “debatte” in vuisgevegte en stoel gooiery ontaard. Daar was bittermin sprake van “beskaafde mense wat na mekaar se opinies kon luister”.

Gepraat van onsinnighede – dit is presies wat Leopold in hierdie skryfsel aantoon. Sien in hierdie verband ook al die afgesaagde sprokies en samesweringsteorieë wat onlangs na aanleiding van Dr Verwoerd se moord op hierdie blad herhaal is.

Robin Wood ·

Leopold Scholtz is ‘n hoofstroom joernalis en dit is al oor en oor bewys dat die hoofstroom joernaliste alles afmaak as ‘conspiracy theory’, ‘n breinspoel woord wat as afskrikmiddel gebruik word. Ek het egter ook ‘n vraag of twee aan Leopold Scholtz: Het jy al gehoor van die “Hegelian Prinsiepl” wat politikuste en die “elite” gebruik om die publiek en hele lande mee te mislei deur fiktiewe probleme daar te stel wat in werklikheid glad nie bestaan nie om sodoende ‘n vooraf bepaalde geheime onafhanklike doel te kan bereik? Of sal jy kom se dat die “Hegelian Prinsiep” ook maar net ‘n çonspiracy theory’ is? Kom ons let maar net op die Amerikaanse regering se weergawe van die twee ‘vliegtuie’ wat twee staal versterkte beton geboue inmekaar laat tuimel in ‘n beheerde sloping fatsoen. Net ‘n totale oningeligte onkundige persoon sal daardie fabel glo, maar die hoofstroom media en die publiek aanvaar daardie fabel. ‘n Derde gebou ten minste 500 meter van daardie twee geboue word op presies dieselfde wyse neergebring in ‘n beheerde sloping fatsoen as die eerste twee maar daar is geen vliegtuig by betrokke nie…die Amerikaanse regering se weergawe is die hiite vanaf die ander twee geboue is die oorsaak… dit is natuurlik alles strooi.

Leopold Scholtz ·

Beste Robin, as ek in ‘n Engelse hofsaal was, sou my reaksie wees: “I rest my case, m’lord.” Jy bewys my stelling.

John ·

En geskiedskrywers en joernaliste het ook maar hul eie opinies en kan ook verkeerd wees, buiten party natuurlik…

Leopold Scholtz ·

Beste John, natuurlik is jy reg. Ken jy enigiemand wat perfek is? Net perfekte mense is 100% objektief. (Sies, nou is ek sarkasties – trek terug.) Groetnis en goed gaan.

Pieter ·

Geen gelowige het nog ooit sy/haar onsinverklikker aangeskakel nie. Dis darem vreemd dat mense ander reëls het vir geloof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.