Gebruik Grondwet om korrupte aanslae af te weer

Gupta

Pres. Zuma (foto: Flickr/GovernmentZA) en die drie Gupta-broers (foto’s: who’s Who).

Die Guptas het blykbaar hul koffers gepak en landuit gevlug en die Konstitusionele Hof het harde woorde vir pres. Jacob Zuma en die (ANC-meerderheid in die) parlement gehad oor die korrupte manier waarop hy belastingbetalers se geld misbruik het om sy weelderige paleiskompleks by Nkandla te verfraai.

Dit het gebeur nadat Zuma reeds ʼn aantal jare gelede by implikasie aan korrupsie skuldig bevind is, toe regter Hillary Squires bevind het Schabir Shaik het omkoopgeld aan die toekomstige staatshoof betaal.

Daar gaan haas geen week verby sonder dat die media weer die een of ander korrupsieskandaal oopruk of onthul hoe prominente ANC-kaders hul mag op die een of ander manier misbruik het nie. Dit moet enige redelike mens, met ʼn ordentlike opvoeding, se asem skoon wegslaan as jy van die skaamteloosheid hoor waarmee dié mense hul stelery – want dit is immers wat dit is – verdedig.

Die vraag is: Waar kom dié kultuur van korrupsie en diefstal vandaan? Dit kom nie uit die tradisionele Afrika-kultuur nie, want ook dáár was diefstal voor die koms van die Weste ʼn oortreding.

Dis iets wat onlangs in die moderne tyd toegeslaan het. En almal wat iets van die geskiedenis van die ANC en Afrika in die 20ste eeu weet, hoef nie ver te soek na die oorsprong en ontwikkeling van die plunder-kultuur nie.

Die ANC se politieke kultuur het hoofsaaklik drie wortels: Die Engelse liberalisme, die Marxisme-Leninisme en ʼn mengsel van die tradisionele Afrika-kultuur en sy moderne gedegenereerde vorm.

Toe die ANC in 1912 gestig is, het sy denke berus op die Engelse liberalisme en die tradisionele Afrika-kultuur. Allengs het die invloed van albei bronne getaan ten gunste van die Marxisme-Leninisme en die moderne Afrika-politieke kultuur.

Die kommunisme het veral in die loop van die jare vyftig en sestig stadigaan ʼn ystergreep op die ANC verkry. Dit het gebeur in die vorm van die SA Kommunistiese Party (SAKP), wat die ANC in opdrag van die Kremlin – die oorspronklike dokument met die opdrag dateer al van 1928 – geïnfiltreer en sy leiding oorgeneem het.

Dit het in fases gebeur. Teen 1969 het die ANC die SAKP-ideologie reeds grotendeels oorgeneem en teen 1985 was die SAKP ook organisatories in beheer van die ANC. Luidens SAKP-dokumente het dit gebeur sónder medewete van die meeste gewone ANC-lede, wat onder die indruk was daar was slegs ʼn bondgenootskap tussen twee onafhanklike groepe met dieselfde korttermyn-doel, naamlik die beëindiging van apartheid.

Terselfdertyd was talle uitgeweke ANC- en SAKP-leiers tydens die jare van ballingskap lank blootgestel aan die wyse waarop “sterk” Afrika-leiers in die ná-koloniale tyd opgestaan en vir alle praktiese doeleindes diktators geword het. ʼn Mens dink aan leiers soos press. Kenneth Kaunda, Daniel Arap Moi, Julius Nyerere, Thomas Sankara, Kwame Nkrumah, ensovoorts.

Dié twee bronne het saam ʼn kultuur by die ANC/SAKP geskep waarvolgens die “kollektiewe wysheid” van die beweging álles was en die menings of wense van die individu niks beteken het nie. Dit kon duidelik gesien word in die wrede, Stalinistiese wyse waarop die ANC/SAKP alle sprake van afwykende menings in eie kring met growwe geweld papgeslaan het. Dergelike menseregte-vergrype is óf heeltemal óf grotendeels toegesmeer.

Die probleem is dat só ʼn situasie, waar die leiers diktatoriaal optree, vergrype bedek en verantwoordbaarheid ontduik, byna outomaties tot korrupsie en magsmisbruik aanleiding gee. Dit is dan ook logies dat ANC-leiers hulle destyds al aan seksuele misbruik van vroue, smokkel van dwelms en juwele, ensovoorts, skuldig gemaak het.

In dié klimaat is die ANC/SAKP-lede polities gesosialiseer om te aanvaar ʼn leier gebruik nie sy mag ten bate van die gewone mense nie, maar om sy eie mag te vergroot en sy eie beursie vol te maak.

Dis met ander woorde ʼn kultuur van vat wat jy kan, solank as wat jy kan. En sulke mense het nooit genoeg nie; soos soveel rykes wil hulle altyd méér hê.

Dis ʼn kultuur waar ʼn regering die staat onder sy beheer nie beskou as ʼn instrument om mense te ontwikkel nie, maar as ʼn koei wat gemelk moet word. Die ergste voorbeelde is press. Mobutu Sese Seko van Zaïre (DRK) en Robert Mugabe van Zimbabwe, maar hul voorbeelde is in effens minder mate ook deur ander gevolg. Pres. Jacob Zuma en sy ondersteuners in die ANC is ook dissipels van dié rigting.

Daar is gelukkig ʼn paar verskille tussen die huidige Suid-Afrika enersyds en die ANC/SAKP van voor 1990 en ander Afrikastate andersyds in die sin dat ons ʼn onafhanklike en uiters lewendige burgerlike samelewing het, wat met oorgawe gebruik maak van die beweegruimte wat die Grondwet ons bied.

Die Nkandla-uitspraak van die Grondwetlike Hof illustreer dié verskil en wys die Grondwet is nie so nutteloos as wat kritici voorgee nie. Bowendien, die oopvlek van die ANC se skandes in die media, is moontlik gemaak deur die verskansing van vryheid van spraak in die Grondwet.

Is die Grondwet volmaak? Nee. Maar hy het wel die ruimte vir die Nkandla-uitspraak, die groeiende opstand in die ANC teen Zuma en die smadelike vlug van die familie Gupta geskep. Dis ʼn dokument waaroor ons in talle opsigte (met al sy leemtes) die sterre kan dank.

Daar is egter natuurlik een ding wat selfs die mees fantastiese grondwet nié kan doen nie. Hy kan ʼn regering nie dwing om goed te regeer nie.

Wat hy wel kan doen, is om ammunisie te verskaf vir u en my om die ergste vergrype aan die kaak te stel. Op dié manier kan ons sommige vergrype minstens versag of selfs keer.

Dit gaan nie maklik nie. Dis moeilik, die pad is lank en swaar en ʼn mens kan nie eens seker wees of die koffie al daar wag nie.

Jy sal nie altyd slaag nie. Soms sal jy gevoelige nederlae ly.

Maar die demokrasie is nie vir sissies nie. Dit verg sterk senuwees, groot volharding en sommer baie genade.

Tog is dit ʼn skild om die ergste aanslae teen ons af te keer en soms is dit ʼn behoorlike stok om mee terug te slaan. Moenie die demokrasie en die Grondwet minagtend afskryf omdat dit nie volmaak is nie.

Dis al wat ons het. Gebrúík dit.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jordaan ·

Maar dit word net geignoreer. Skandaal op skandaal word oopgevlek en daar kom niks van nie.

Andrea van Vuren ·

Hoekom so min komentare oor hierdie skrywe? Lees ons mense nie wat lewensbelangrik is vir besluitneming nie?

Cobie Bezuidenhout ·

Die feit dat die Grondwet bestaan en dat ons in ‘n demokrasie leef en beweeg gee vir ons eintlik net riglyne, en dat die riglyne nie rigiede lyne is nie , beteken daar is ontwikkeling wat toegelaat kan word en dat ontwikkeling die platform is waar volgens ons daardie riglyne kan ontwikkel, verbeter en verbreed. Daar is wel een onbepaalde faktor – die persoon “verkose persoon” wat daardie riglyne moet oppas, beskerm, eerbiedig en bowenal respekteer. Daar word van die lands burgers verwag om presies dieselfde gesindheid te openbaar heens daardie riglyne. Maar, dit is nie wat die verkose persoon mag doen nie. Dit is blatante verontagsaming van ‘n afgelegde eed, ‘n onherroeplike etiese kode en trots heens jou roeping tot as, verkose persoon. Die verlies van, en beswaarding van vertroue, verbreking van ‘n afgelegde eed, en die verkleinering van die armstes is net ‘n openbaring van geen respek vir jou medemens en , jouself. ‘n Swak of geen inbors noop die persoon om in die gesig van korrupsie voort te gaan ongeag die resultate of hartseer so veroorsaak. Ek is seker dat die gevoel van hartseer en vernedering tussen lands burgers veroorsaak is deur die voete van klei, van die gekose persoon.
Die enigste herwinning van ‘n klein persentasie respek, het nodig dat die alreeds skuldige persoon, stilweg sy weg moet neem, die boeke “afsluit en balanseer”. Hoop is goed maar soms in waan.

Jordaan ·

En die gevolg van sy versuim is dat die man op straat ook begin rasionaliseer waarom moet hy wette gehoorsaam as nr 1 dit nie doen nie, dan begin die morele verval baie vinnig deur die samelewing versprei

Theuns ·

Andrea die rede hoekom daar so min kommentaar is is waarskynlik omdat Leopold se kommentaar so weldeurdag en van hoe kwaliteit is. Mens lewer nie sommer kommentaar as jy weet dat jy kan nie bydra tot ‘n uistekende geskrewe opinie nie. Doen so voort Leopold!

Johann Marx ·

Hierdie artikel is maar net iemand se opinie. Dit neem nie in ag dat die land se bevolking ‘n rat voor die oë gedraai word met ‘n sogenaamde “konstitusie” nie, terwyl die meerderheidsregering besig om die ANC se “Freedom Charter” tot die letter toe te pas. Gaan lees daardie dokument, en sidder. Dit is ook nie heeltemal waar dat “diefstal” bestaan in verskeie swart kulture nie……Baie van hulle het ‘n houding van “Jy mag hê wat jy kan oppas, en as jy dit nie kan oppas nie, mag iemand anders dit gebruik.” Dis eintlik ‘n skande dat ons NET ‘n grondwet het om ons regte mee te “beskerm”…….as FW en sy maters effens beter onderhandel het, sou hulle ‘n “deelnemende demokrasie” voorgestel het in plaas van ‘n “verteenwoordigende demokrasie”. In ‘n deelnemende demokrasie word baie besluite geneem deur die bevolking en wel deur referendum. In ‘n verteenwoordigenede demokrasie is die enigste bydrae wat die landsburgers maak die trek van ‘n kruisie op ‘n stembrief………en van daar af kan die party waarvoor jy gestem het en jou verteenwoordig, maak NET wat hulle wil, en jou enigste teenvoeter is om met die volgende verkiesing NIE weer vir hulle te stem nie. Tot dan is jy uitgelewer aan hulle “verteenwoordiging”… Goeie artikel, maar dit moes eintlik vier keer so lank gewees het as wat dit is…en AL die fasette van “Afrikanisme” in ag geneem het. Ons kan nie langer “gepaai” word met ‘n konstitusie nie…

John ·

Die grondwet, die howe en die regslui word meer en meer gemanipuleer deur die ANC. Uitsprake, soos in die geval van Hani, word nie eens deur die swartes aanvaar as dit hulle nie pas nie. Nuwe wette, soos die’ oor rassistiese optredes en uitlatings, sal die grens tussen reg en verkeerd laat vervloei. Afrika gaan insypel en omkopery gaan mettertyd die wagwoord word. Om te glo alles beweeg in ‘n eerste-wereldrigting, is wensdenkery. Selfs daar ( waar die’ wonderlike plek ookal is) gaan dit broekskeur en begin Afrika en die Arabiese mense hul stemme dik maak en vaar almal die strate in om hul griewe buite die geregshowe te besleg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.