Gebruik jou onsinverklikker

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Dit was onlangs presies 40 jaar dat die Beatle John Lennon vermoor is. Ofskoon die besonderhede bekend is – Lennon is deur ene Mark David Chapman doodgemaak – sê iemand wat ek ken, in ’n grafstem aan my: “Ek is oortuig dit was die CIA.”

Die man beskryf homself as ’n “linkse anargis”, maar in sy wêreldbeskouing het hy buitengewoon veel met regse ekstremiste gemeen. Dergelike komplotdenke tref jy veral onder ekstremiste van alle soorte, links en regs, aan.

In ons eie dae word in Amerika die komplot versprei dat die Demokrate en die “Deep State” die presidentsverkiesing bekook het, dat Donald Trump eintlik gewen het. Jy kan praat en redeneer soos jy wil met Trump se mees fanatiese aanhangers, en jy sal geen millimeter vordering maak nie.

Vergeet maar om te sê dat die Trump-kamp letterlik tientalle hofsake in deelstaathowe begin het om die uitslae ongeldig te laat verklaar, en dat die regters dit telkens (soms in behoorlike skerp bewoordings) van die hand gewys het. Vergeet maar om te sê dat Trump die indruk van ’n slegte verloorder wek; dit sal niks help nie.

Wat is dit wat mense beweeg om alle feite en bewyse te negeer en aan ’n skimmige komplotteorie sonder harde bewyse vas te klou? Want let wel, bewérings is daar in oorvloed, maar aan bewýse van die soort wat in ’n hofsaak orent sal bly, is daar ’n ernstige tekort.

Twee akademici wat navorsing oor Amerikaanse “komplotgelowiges” gedoen het, is prof. Eric Oliver en dr. Thomas Wood, politieke wetenskaplikes aan die Universiteit van Chicago. Hul bevinding, soos gerapporteer in die American Journal of Political Science, is relevant.

Hulle sê verreweg die meeste komplotteorieë het drie gemeenskaplike eienskappe (en ek haal, waar relevant, in die oorspronklike Engels aan):

  • Ten eerste word die oorsaak van ongewone maatskaplike en politieke verskynsels gesoek in “unseen, intentional and malevolent forces”;
  • Tweedens word dit vertolk as ’n geveg tussen absolute goed en absolute kwaad. Hulle haal die historikus wyle prof. Richard Hofstadter (Columbia-Universiteit) aan, wat skryf komplotdenkers meen “a vast or gigantic conspiracy is the motive force in historical events. History is a conspiracy, set in motion by demonic forces of almost transcendent power”; en
  • In die derde plek, sê hulle, “most conspiracy theories suggest that mainstream accounts of political events are a ruse or an attempt to distract the public from a hidden source of power”.

Trump en sy ondersteuners se bewerings dat hy deur ’n komplot van ’n oorwinning weerhou is, pas presies in dié drie elemente. Maar die fopnuus wat hy al sedert sy toetrede tot die politiek met oorgawe verkondig het, het aanleiding gegee tot veel meer bewerings.

So is een komplotteorie wat deesdae die ronde onder Duitse neo-Nazi’s doen, die volgende: Die koronavirus is nie wat mense dink dit is nie. Dis fopnuus wat deur bondskanselier Angela Merkel versprei word.

En die agtergrond is nóg interessanter: Pres. Donald Trump gebruik die grootskaalse Navo-oefeninge wat in hierdie dae in Duitsland en sy buurstate plaasvind, as rookskerm om Merkel tot ’n val te bring en die Duitse Ryk (hetsy die een van die keisers of van Adolf Hitler) te herstel. Dit word in alle erns vir die waarheid verkondig, en tienduisende mense gló dit.

Dieselfde man wat ek oor John Lennon en die CIA aangehaal het, het in 2016 stellig beweer dat Hillary Clinton eintlik dood was, dat pres. Barack Obama die verkiesing sou kanselleer en krygswet afkondig. Sy bron? Facebook.

Die deeglike gematig-konserwatiewe Duitse oggendkoerant Die Welt onthul nou die dag hoe Rusland fopnuus in daardie land rondstrooi. Dit gaan om “’n ganse netwerk van vermeende nuusportale as skyn, wat ernstig klinkende name dra, van wie die vermeende joernaliste egter glad nie bestaan nie. Hulle is in werklikheid opgeblase fopnuus-knoeiers.”

Onthou julle nog die ramp van MH17, die pasassiersvliegtuig van Malaysia Airlines wat in 2014 onderweg van Amsterdam na Kuala Lumpur bokant Oekraïense rebellegebied neergeskiet is? Ná ’n uitvoerige ondersoek het ’n amptelike Nederlandse ondersoek bevind dat die vliegtuig neergeskiet is deur ’n Boek-lugafweermissiel afkomstig van ’n Russiese militêre eenheid.

Maar terwyl die verwarring nog die oorhand gevoer het, het Russiese fopnuuswebwerwe beweer die wrak van MH17 is in werklikheid dié van MH370, wat net enkele weke tevore spoorloos oor die Indiese Oseaan verdwyn het. Die wrakstukke en lyke is glo deur die Oekraïense regering op die ramptoneel rondgestrooi met die uitdruklike doel om die rebelle swart te smeer.

Eintlik is sulke fopnuus niks nuut nie. In Duitsland is die onomwonde militêre nederlaag van 1918 lank ontken met die bewering dat die nederlaag die gevolg was van ’n dolkstoot in die rug – ’n sameswering tussen opponente van die keiserlike regering en Jode. Nes Trump in 2020 doen.

Die probleem is dat fopnuus vroeër oorwegend oor ’n bier in die kroeg of by die braaivleisvuur versprei is. Die koms van die internet en aanverwante sake – e-pos, Facebook, Twitter, noem maar op – het fopnuus van ’n relatief onskadelike verskynsel tot ’n verwoestende veldbrand omskep.

Wat die verwoestingskrag, helaas, eksponensioneel vergroot, is die onvermoë van die hoofstroommedia om ’n geloofwaardige alternatief te skep. Die internet stel elke Jan Rap en sy maat in staat om die gekste bronne te raadpleeg en dit as betroubaar te ag, betroubaarder selfs as die hoofstroommedia.

Nou wil ek nie verkeerd begryp word nie. Daar is baie wat met die hoofstroommedia skort.

Dit kan ook nie anders nie, want om gebeure in behoorlike konteks weer te gee terwýl hulle gebeur, is bitter moeilik, indien nie onmoontlik nie. Maar ná 48 jaar as joernalis weet ek dat verreweg die meeste joernaliste en media hul (onvolmaakte) bes doen om so goed moontlik te werk te gaan.

Die verwyte dat die media deel van die een of ander komplot is – sommige komplotdenkers praat van ’n “geheime wêreldregering” wat alles agter die skerms bepaal – raak kant nóg wal.

Die beste is om al die skinderstories wat op die internet rondsweef, te ignoreer en uiteenlopende ordentlike, professionele media met verskillende politieke perspektiewe te raadpleeg. En uiteindelik, gebruik jou onsinverklikker. Oftewel jou gesonde, nugtere verstand.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Human

Die rubriekskrywer slaan die spyker op die kop, nou moet die tjankkommando hul repliek lewer op sy skrywe, om net weereens sy standpunte te bevestig.

pokkel

dit was nou ‘n lekker lees, maar mense glo wat hul glo en al is dit onsin sal niemand hul ooit daarvan kan oortuig

annie

Ek wens ek was darem so slim soos die uwe, wat waar en vals duidelik kan onderskei; na 48 jaar net weet wie Jan Rap en sy maat en hul familie is. Trump is natuurlik een van die uitskieters van daardie dowwe do-do’s… and definitely not Human. En so ry ons met die bootjie na Kammaland en koes vir daai Russiese lieplappers, net die Kavalny nie. Die swart hond hier agter op die boot… ek raak bang… waar kom hy so skielik vandaan. Vroutjie, het jy dalk gesien… die golwe… koes!

Mauritz

Mnr Scholtz beveel tereg aan dat mense hulle onsinverklikkers moet gebruik. Ongelukkig is daar miljoene mense wat sonder hierdie onsinverklikker gebore is of wat dit iewers langs die pad verloor het.

Jacobus

Twee opmerkings:
“Peace in our time” tesame met ‘n wit papiertjie
En “checks and ba!ances” – hoe groter die twak hoe meer klink is dit.