Gedagtes oor Geloftefees

gelofte-beeldTer voorbereiding van my Geloftefeesrede vanjaar het ek die Voortrekkermonument besoek.

Van ver af sien ‘n mens die indrukwekkende argitektoniese meesterstuk van graniet, yster, brons en marmer op Monumentkoppie net buite Pretoria se middestad. Die argitek Gerhard Moerdijk, was ook die argitek van meer as 80 Protestantse kerkgeboue in Suid-Afrika.

Daar is baie simboliek in die Voortrekkermonument.

As ‘n mens nader kom, dan sien jy die laer van 64 waens rondom die monument – die laer wat die vyand buite gehou het – en die Trekkerboere veilig binne; die talle trappe wat ‘n mens moet klim om bo te kom – net soos in die lewe waar jy deur hard te werk weer bo kan kom. Binne die laer sien jy die moeder- en kinderbeeld van brons, 4m hoog, wat ontwerp is deur Anton van Wouw. Die beeld simboliseer die vrou as draer en beskermer van die Afrikaner se kultuur en Christendom. Daarom praat ons mos van vaderland en moedertaal.

Op die vier hoeke van die Voortrekkermonument staan vier hoekfigure van 5,5m hoog met roer in die hand en buskruithoring op die heup, en hierdie mansfigure stel die leiers van die Groot Trek voor: Andries Pretorius, Piet Retief, Hendrik Potgieter, Louis Trichardt, Sarel Cilliers, Piet Uys en Gerrit Maritz. Maar dit simboliseer ook vir my die man as die beskermer van die gesin en huis.

Oral in en om die monument is daar simbole ingebou wat ‘n mens letterlik ure besig kan hou. Byvoorbeeld die swartwildebeeste: dit simboliseer die gevare wat die Trekkerboere moes trotseer. Die buffelkop bokant die ingang na die hoofsaal simboliseer die beskerming van die eie. Die buffel word beskou as die gevaarlikste verdediger in die Suid-Afrikaanse dierelewe.

Wanneer ‘n mens binnegaan, dan word jy omring deur friese van wit marmer uit Italië teen die mure.

Hierdie friese van marmer vertel die geskiedenis van die Afrikaner, die Boerevolk vanaf die koms van Jan van Riebeeck op 6 April 1652 tot by die ondertekening van die Sandrivier-konvensie toe Brittanje die onafhanklikheid van die twee republieke, die Zuid-Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje Vrystaat, in Januarie 1852 erken het. Hierdie erkenning deur Brittanje het die kroon geplaas op die Groot Trek van 1835 tot 1838.

Maar, in hierdie groot saal waar die friese van marmer teen die mure aangebring is, is daar ‘n boek op ‘n tafel geplaas. ‘n Boek waarin besoekers hulle kommentaar kon skryf. Ek het gaan sit en lees wat mense skryf oor hulle ervaring van die Voortrekkermonument.

Jan Hendrik van Bloemfontein sê: “Die Voortrekkermonument maak my trots.” ‘n Ander een sê: “Baie lekker om te weet waar ek vandaan kom.”

Liza-Marie Coetzee sê: “Wonderlik! Maak my trots om ‘n Afrikaner te wees.”

Nog ander sê: “Really remarkable story and faith in God”; “Good history”; “We are proud”; “A great trip through history”; “Our history is touching”; en “It’s a monument of great art.”

Een wat ‘n knop in my keel bring was Louise Landman van Brisbane, Australië wat skryf: (It) “makes me proud to be a South African.” Sy het seker saam met Ouma en Oupa die monument besoek. Maar sy praat nie meer Afrikaans nie. Sy praat nou Engels.

Groot Trek 175

Ons staan in die vooraand van die Herdenking van die Groot Trek 175. ‘n geleentheid om groter eendragtigheid onder die Boervolk en die Afrikaner te verkry nadat ons soos eilande uitmekaar gedryf het oor die afgelope meer as 40 jaar.

Gaan dit ‘n verspeelde geleentheid wees of gaan ons dié geleentheid met albei hande aangryp?

Jaap Marais spreek tot ons vandag wanneer hy sê: “En anderkant die vernedering van vandag, anderkant die herinnering van more, roep die ongebore geslagte van u en my kinders. Hulle roep tot ons – as die skakel wat hulle moet bind aan wat agter lê. ‘Moet ons nie laat losdryf van ons voorvaders nie. Bind ons aan hulle deur julle dade’.”

Dade van moed en dade van hoop

Daar sal natuurlik dié wees wat spot dat ons weer wil laertrek.

Maar ons moet ons nie laat ompraat of bang praat nie.

Deur laer te trek, betuig ons die wil om in verset te kom, om onsself te handhaaf teen die onreg wat gepleeg word in naam van demokrasie, en om die juk van verknegting en onderdrukking af te skud en weer vry te wees.

Ons moet laer trek in organisasies: in ons kerke, ons landbou-unies, ons genootskappe. Ons moet die sterkste laers bou, want hoe sterker die organisasie, hoe sterker die weerstand teen misdaad en plaasaanvalle, hoe sterker die weerstand teen grondroof en  voedselonsekerheid,  hoe sterker die weerstand teen gemengde skole en die uitwissing van Afrikaanse skole, hoe sterker die weerstand teen geskiedenisbedrog  en naamsveranderinge, hoe sterker die weerstand teen taalmiskenning, gesinsverbrokkeling en verarming.

Ons moet getrou bly aan ons roeping, aan wie ons is en wat ons is.

Die Groot Trek van Afrikaners in die 19de eeu vanuit die Kaapkolonie die binneland in, het ‘n blywende merk aan die Suidpunt van Afrika kom maak.

Dit is hierdie pioniere wat die land kom mak maak het: wat die plase, dorpe en stede aangelê het; kerke, hospitale en skole gebou het – wat gelei het tot ‘n moderne staat met nywerhede, paaie, damme en brûe asook krag en kommunikasienetwerke.

Ten slotte

Daar is verskeie redes waarom sowat 17 000 Afrikaners die Kaapkolonie verlaat het, maar die belangrikste redes was die versuim van die owerhede om behoorlike hulp te verleen aan grensboere teen die Xhosa-rampokkers se moord- en rooftogte op die plase, en die verengelsing van die kerke, skole en howe. Daarby was daar die altyd inherente begeerte na ‘n eie vrye land… weg van Engelse Imperialisme, ‘n groot dryfveer.

Ons moet nie bevrees wees en rondom ons kyk vir hulp nie; maar ons moet na binne kyk – na binne en na Bo. En ons moet net soos die Trekkerboere fiks wees en geoefen, bereid tot opoffering en moeite. Ons moet sober van gewoontes wees; rein van hart; met geloof in ons saak; en gereed vir wat ookal vorentoe gaan gebeur. Dan sal ons weer bo kom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

André Alkema

Meer oor die skrywer: André Alkema

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae