Gee AfriForum om oor die regte plaasmoordstatistieke?

Die Solidariteit Beweging het ’n bewusmakingsaksie teen plaasmoorde by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou (31 Oktober 2017). Foto: Reint Dykema

Deur Kate Wilkinson

Wilkinson vra hoekom ʼn burgerregte-organisasie vir minderheidsregte gebrekkige statistiek oor plaasmoorde in Suid-Afrika versprei. Lees ook Ernst Roets se reaksie op Wilkinson se meningstuk op Maroela Media.

“Kan ek met Kate Wilkinson praat?”

So het ʼn oproep na ons kantoor Maandag begin. Ons ontvangsdame het aan die persoon aan die anderkant van die telefoonlyn gesê ek is nie by my lessenaar nie – ek was by die radiostasie TalkRadio 702 om die statistieke van plaasmoorde te bespreek.

Toe die persoon hoor ek is nie beskikbaar nie het hy op die ontvangsdame oor my navorsing begin skree.

“Moordenaars!”, het hy geskree. “Moordenaars!”

Nog ʼn optog teen plaasmoorde

AfriForum, ʼn nie-regeringsorganisasie wat die regte van minderhede beskerm met ʼn spesiale fokus op die regte van Afrikaners, het op 25 November ʼn optog na die Uniegebou gehou. Hulle het ʼn memorandum oor plaasmoorde en aanvalle in Suid-Afrika aan die president oorhandig.

Duisende betogers reg oor die land het in Oktober bymekaargekom in ʼn soortgelyke protes wat #SwartMaandag gedoop is.

Ernst Roets, die adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, beweer dat “boere op hulle plase in buitegewone hoë verhoudings vermoor word”. Die “verband” waarna hy verwys, is die boere se moordkoers, aangebied as die aantal boere vermoor per 100 000 in Suid-Afrika.

Ek het al ʼn aantal ander plaasmoordstatistieke gedurende my tyd by Africa Check gesien.

Pieter Groenewald van die VF Plus het gesê dit is 133 per 100 000 terwyl die ACDP se Steve Swart en dr. Johan Burger van die Instituut vir Sekerheidstudies dit laer as 97 per 100 000 stel.

Berekening van plaasmoordkoers ‘byna onmoontlik’

AfriForum het in Oktober nuwe statistieke vir plaasmoorde bekendgemaak. Volgens TimesLive het AfriForum gesê die organisasie het bevind 156 kommersiële boere word uit elke 100 000 in die land vermoor. Die nuusberig beweer dat kommersiële boere 4,5 keer meer geneig is om as die res van die Suid-Afrikaanse bevolking in geheel vermoor te word.

In Mei vanjaar het ek met talle misdaadkenners, die Suid-Afrikaanse polisiediens en vakbonde gepraat in ʼn poging om te probeer vasstel of enige van die plaasmoordstatistieke korrek was. My gevolgtrekking? Die getalle wat die rondte doen is foutief en ons het eenvoudig nie genoeg data om ʼn akkurate skatting te bereken nie. Op die oomblik is die berekening van boere se moordkoers “byna onmoontlik”.

Die rede hiervoor is omdat daar talle probleme met die beskikbare data is. Eerstens: Alle plaasmoorde word waarskynlik nie aangemeld nie, sê die kenners. Tweedens: Ons weet nie presies hoeveel boere daar in Suid-Afrika is nie en daarom kan ons nie die koers akkuraat bereken nie.

Dat boere beslis slagoffers van uiters gewelddadige aanvalle is, word nie betwyfel nie. Wat wel betwyfel word, is hulle risiko vir moord in verhouding tot die gemiddelde Suid-Afrikaner.

Bewustelike verspreiding van gebrekkige statistiek

So, my eerste reaksie toe ek AfriForum se nuwe moordsyfer vir kommersiële boere sien, was nuuskierigheid.

“Hoe is dit bereken,” het ek gewonder. “Het hulle toegang tot nuwe data?”

Ek het vir Roets ʼn e-pos gestuur. My nuuskierigheid het in ontsteltenis verander.

Roets het gesê hulle nuwe statistieke “is dieselfde berekening wat reeds op Africa Check behandel is, maar vir die jaar 2016 bereken is”. Met ander woorde, hulle het statistiek versprei wat hulle weet op ʼn foutiewe manier bereken is.

Roets het nie op enige verdere vrae oor die berekeninge gereageer nie.

Plaasaanvalle is afskuwelik

As ek daardie Maandag by die kantoor was en self met die ontstelde inbeller kon gesels sou ek die volgende gesê het:

Ek het beslis groot medelye vir die gevare wat mense in landelike gebiede ervaar. Ek weet ook van die vrees wat hierdie gemeenskappe in die gesig staar.

Ek het self grootgeword op ʼn plaas in die noorde van KwaZulu-Natal. Ek ken mense wat in ʼn plaasaanval gemartel is. In een so ʼn geval is ʼn familievriend se voetsole van sy voete afgebrand. Hy is altyd in my gedagtes wanneer ek aan hierdie onderwerp werk. Dit is ʼn beeld wat jy nie uit jou gedagtes kan uitvee nie.

Om te sê dat akkuraatheid en eerlike statistieke belangrik is, is nie dieselfde as om te sê plaasaanvalle is nie skrikwekkend nie.

My vraag is: Gee AfriForum werklik om om plaasmoordstatistieke reg te bereken? Want op die oomblik is hulle oneerlik. Hulle deel bewustelik getalle wat met ʼn gebrekkige metodologie bereken is. Hulle het dit erken.

Africa Check het die beskikbare data rondom plaasmoorde en aanvalle met groot omsigtigheid versamel en gepubliseer, maar soos met enige onderwerp wat ons ondersoek, het ons nie ʼn monopolie daarop nie.

Ons doel is om akkurate en ingeligte debat oor ʼn onderwerp te help skep. Die beste openbare beskikbare data is maklik toegangklik en verstaanbaar uiteengesit in ons feiteblaaie. Ons verduidelik in my analise ook wat die navorsing kan en nie kan sê nie.

As AfriForum werklik vir hulle saak omgee, moet hulle sorg dat hulle die statistieke regkry. Hulle moet eerlik met die getalle wees. Hulle moet eerlik met die publiek wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Jerry ·

Kate, moenie dat dit jou so ontstel nie. Ons almal weet tog Afri-Forum het n ander agenda. Ten minste lieg Afri-Forum net so nou en dan. Hulle is nog nie soos die ander groepe wat permanent lieg nie. So, jy is nie alleen nie, ontspan, baie van ons sien dit raak.

Piet Snot ·

Ag nee wat Jerry, jou onderrok hang uit. Jy het waarskynlik ‘n verskuilde agenda, nes Kate Wienouweer.
Ek dink jy het hierdie webwerf uitsluitlik besoek om jou vriendin Kate te ondersteun. Of dalk is Jerry bloot ‘n skuilnaam vir Kate self?

Nakkie ·

My eerste vraag: hoeveel renosters het dit gevat voor ‘n taakspan ingestel is om renosters te beskerm van uitwissing? Hoeveel meer boere sal dit vat voor dit ernstig genoeg is?

My tweede vraag: Is die argument dat daar amper 20 000 moorde per jaar is en net ‘n klein persentasie daarvan is boere, nie ‘n siek grap nie? So wat jy vir my sê is omdat die algehele getal mense wat vermoor word dit okay maak vir mense om vermoor te maak? En die wreedheid van die moorde word nie ingereken nie. So jou argument is oor statistieke, terwyl Ernst Roets se argument is moord van ons mense is nie reg nie.

En dan ook, hoeveel word julle betaal om die punt te mis?

Leonard van der Dussen ·

Dis nou moeilik om te sê wie is nou reg en wie nie oor die statistieke. Wat wel sigbaar is, is dat Afriforum probeer om ‘n gruwel onder die aandag te bring en probeer om die owerheid tot sy plig op te roep daaroor.

‘n Punt wat in hierdie Africa Check/ Afriforum-debat ook gemis word, veral deur Africa Check, is dat die feit dat jy ‘n gruwel uitlig in een sektor, nie outomaties beteken jy ignoreer die ander soortgelyke dinge nie, maar as jy alewig so polities korrek moet wees om alles en almal in elke kommentaar in te sluit, sal jy nooit êrens iets gedoen kry nie. As Afriforum kies om die belangrike saak van aanvalle op boere uit te lig, beteken dit nie vanselfsprekend dat hulle bv die moorde en mishandeling van oumense nie raaksien nie.

Eish ·

Kan julle tweetjies nie maar by die Spur op Skelmbosh bymekaarkom en die sakie in die teenwoordigheid van joernaliste wat nie rondgestoot wil word nie, hanteer met bewyslewering nie?
Ek hou vreeslik baie van Afriforum en Solidariteit aangesien hul maar n sagte plekke vir verdukte minderhede het veral as hul Afrikaans praat en nie uit die dik donker streep van die reënboog hul neerslag vind nie.
Ek is net so gevoelig vir misleiding, aangesien ek self n paar keer so dom was om goed op sig en sêgwaarde te neem in plaas van om dit vir myself te bewys.

Therese van Schalkwyk ·

Goeie genugtig, is dít waar Suid-Afrika, en “Africa Check” nou is?
Die berekening van die moordkoers onder boere is bykans onmoontlik só erg is dit, maar julle neem mense kwalik oor ‘n syfer meer of minder?!
Ma.w. ‘n hareklowery oor getalle te midde van die allerwreedste martelings en moorde denkbaar. Dit terwyl één gewelddadige moord een te veel is!

Kate Wilkinson sal my verskoon as ek ‘n honderd keer eerder AfriForum se Ernst Roets en sy kollegas hiermee vertrou. Hulle is immers mense wat moeite doen om hierdie afgryslike gebeure wêreldwyd bekend te maak, en tel nie bloot slagoffers bymekaar vir die rekordboeke nie.

Hou Wilkinson ook rekord van die getal swart boere wat deur wit bendes vermoor word?

Tino ·

Mense, ek dink dat ons ‘n land is wat baie siek is. Mense word daagliks uitgemoor op die wreedste maniere denkbaar. Die slim mense praat oor syfers en praat dit goed dat daar nie so baie die jaar of in die spesifieke maand doodgemaak is nie? Ons boere en die land se burgers word doodgemaak. Ons Polisie en die regering van die land doen nie genoeg nie. Dit is abnormaal die hoeveelheid mense wat doodgemaak word in ons land. Heeltemal abnormaal. Die dief, moordenaar is toegelaat om aan te gaan met hy/sy se daad. Die Polisie is nie ‘n afskrik middel nie. Die regering het nie beheer nie en almal kan doen net wat hulle wil.
Die wat die wet gehoorsaam is nou die wat as verkeerd beskou word. Die wat die wet gehoorsaam en hulself as ordentlike land burgers gedra moet in vrees lewe en agter geslote deure en tralies lewe.

Ons is ‘n land wat baie baie siek is. Ons laat toe dat ons eie mense aanhoudend uitgemoor word. In die normale sin van menswees is dit nie reg dat ons toelaat dat dit so moet wees nie?

Dries du Toit ·

Wilkenson skep die indruk dat hy plaasmoorde probeer afwater tot n minder ernstige misdaad in SA. Wil hy nie maar sy tyd gebruik om oplossings vir hierdie afgryslike misdaad te bedink nie

Antwoorde ·

Weereens vra ek, hoe kan daar nie vasgestel word hoeveel boere daar is nie, waar is Agrimark, Afriforum, Solidariteit, waar is Landbou sekonder en tersiere inrigtings, hulle stuur ons jong opgeleide boere blindelings in die ‘oorlogzone’ in, sonder opleiding oor selfbeskerming…. word maar net nog n statistiek. Elkeen vir homself… dis om van skaam te raak. Militere beskermings opleiding moet n leerders vak word in tersiere landbou inrigtings.

Gerhard ·

Die berekening wat Afri Forum maak is so goed as wat jy kan onder die omstandighede. Hulle erken dit ook as nie volmaak nie. Tog is dit naby genoeg om te kan sien dat daar ‘n probleem is. Hierdie is ‘n moedswillige en onnodige aanval.

Basson ·

Ek aanvaar elke saak het drie kante, maar waar is julle sigbaarheid (soos julle stel op julle webblad) dat julle “We hold public figures accountable” ens?

Ek sien ook julle word befonds deur organisasies wat bes moontlik ook maar hulle eie agenda het? Maak dit julle werklik onafhanklik.

Domvraag ·

Kate as julle so slim is om te sê dat Afriforum se syfers verkeerd is, dan moet julle mos kan bewys dat dit nie so is nie en die ware syfers publiseer maar dit doen julle nie. Julle probeer net fout vind en twyfel skep met die doel om voor te gee dat die persentasie plaas aanvalle nie so erg is nie, terwyl ons daagliks lees van hoe boere wreedaardig vermoor word. Hoekom probeer julle nie deel wees van die oplossing ipv om deel te wees van die probleem of het julle eintlik n ander siniese doel om die aantal plaasmoorde as nie so erg af te maak sodat die aanslag maar kan voortgaan.??

John ·

Ons klink al soos die ANC op konferensies of oumense wat bv ure kan kibbel oor of ons vyf voor of vyf oor tien gery het. Baie woorde… en die vyand beplan reeds ‘n volgende aanval iewers in die land wat hartseer en verdriet en wanorde op plase veroorsaak. Nog nooit in die geskiedenis was mense, buiten die Afrikaners self, besorg oor die Afrikaners se lewenslot nie en baie van ons eie mense stel ook nie in hul medemens se ellende belang nie en dink ook ons flous die vader deur weg te kyk van eie mense se lyding deur ver weg te gaan ‘show’ opsit. Erge chaos wag. AfriForum boere-lyke is ons probleem. Lewendige dwase is nie ons probleem nie. Vergeet hulle….

Gerhard ·

Lewende dwase is die Groot probleem. Dit is waar al die probleme begin. As jy daardie probleem nie kan oplos nie sal alle ander probleme ook nie opgelos word nie.

Awie Opperman ·

Africa Check word deur die Open Society Foundation ondersteun, onder andere. Gaan lees bietjie op oor George Soros en verstaan die kaliber van mense waarmee hulle hulself verbind. Dankie Ernst en Afriforum vir wat julle vir die Boere doen, hou aan om die pleidooi van ons Boere aan die groot klok te hang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.