Gee eerder aandag aan seksualiteitsopvoeding by tersiêre instellings

onderwys-appel-pen-merkwerk

Argieffoto.

Deur Marga Botha

Suid-Afrika het een van die hoogste persentasie tienerswangerskappe, hoogste seksuele misdaadsyfer asook die hoogste MIV/VIGS-persentasie ter wêreld (UNAIDS, 2016). Met dit in gedagte kan mens verstaan waarom die onderwysdepartement die seksualiteitsopvoeding binne die skoolkurrikulum wil opskerp.

Leerders moet geleer word wat seksualiteit is, wat hul houdings, waardes en oortuigings rakende die onderwerp, insluit. Hulle moet bygestaan word om hul houdings teenoor seksualiteit te verstaan en om beheer te neem van hul seksuele gedrag.

Skoolgebaseerde seksualiteitsopvoedingsprogramme is ’n effektiewe wyse om leerders se seksuele gesondheid te verbeter deur die ontwikkeling van seksuele bekwaamheid en bewustheid. Daar is egter heelwat rooi ligte wat flikker wanneer onlangse beriggewing in ag geneem word.

Wanneer daar oor ’n sensitiewe onderwerp soos seksualiteitsopvoeding besluit word, moet alle rolspelers in ag geneem word. Dit is te verstane dat ouers ontstoke is oor die allerlei gerugte van die nuwe lewensoriëntering-kurrikulum. Suid-Afrika is ’n demokratiese land met 86,6% van die bevolking wat hulself vereenselwig met die Christen-geloof (Statistiek SA, 2016). Dit is dan vanselfsprekend dat die waardes van die geloof een van die kernriglyne moet wees wanneer so ’n kurrikulum aangepas word. Verder moet daar beslis insette van die ouerkorps geïnkorporeer word en natuurlik ook hoër onderwysinstellings wat onderwysers oplei om seksualiteitsopvoeding aan te bied. Om bloot ’n bygewerkte kurrikulum te skryf, sonder om alle gevolge en rolspelers in ag te neem, kan katastrofies van aard wees.

Dieper navorsing moet deur die onderwysdepartement gedoen word, spesifiek met die klem op die bekwaamheid van lewensoriëntering-onderwysers op die gebied van seksualiteitsopvoeding. Die doeltreffendheid van hierdie programme hang grootliks af van hoe gemaklik en vol selfvertroue die onderwyser met seksuele leerinhoud is. Lewensoriëntering-onderwysers word nie gedurende opleiding toegerus om seksualiteitsopvoeding met selfvertroue aan te bied nie en dít kan die doeltreffendheid van die programme beïnvloed.

Wanneer die bogenoemde aangebied word, sal die onderwyser die vertroue van die ouers asook die breër gemeenskap geniet. Dit sal lei tot die sukses van seksualiteitsopvoeding asook die gerusstelling dat die inhoud waardegedrewe en gepas vir die relevante graad sal wees.

Dit word algemeen erken dat daar nie genoeg aandag aan seksualiteitsopvoeding by tersiêre instellings gegee word nie. Dit is as gevolg van die afwesigheid van ’n mandaat vir ʼn nasionale kurrikulum wat seksualiteitsopvoeding insluit. Elke tersiêre instelling besluit tot watter mate hy seksualiteitsopvoeding in sy voordiensopleiding-kurrikulum wil insluit.

Wanneer seksualiteitsopvoeding deur ’n gekwalifiseerde lewensoriëntering-onderwyser gedoen word, sal alle partye daarby baat vind. Leerders sal bemagtig word om verantwoordelike besluite te neem binne hul geloofsraamwerk, ouers sal meer gemaklik voel wanneer dié sensitiewe onderwerpe behandel word en die nabye gemeenskap se seksuele misdaadsyfers behoort ook mettertyd  af te neem.

Seksualiteitsopvoeding is broodnodig, maar slegs wanneer dit op ’n gepaste manier en deur ’n opgeleide persoon gedoen word.

  • Marga Botha is ‘n dosent in didaktiek en lewensvaardigheid aan Aros. Botha het ‘n MA-graad in seksualteitsopvoeding van die Universiteit van die Vrystaat verwerf en is tans ingeskryf vir PhD aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Nee. Voed die ouers en veral die ma’s op tov van hul verantwoordelikhede. Hoeveel aborsies word jaarliks gepleeg… onderwysers wat skooldogters aanrand? Ma’s kompeteer met mans vir topposte en hul kinders word verwaarloos. Moenie nog idees opper vir verdere dwaashede nie. Geslagsopvoeding hoort by die huis. Kry die ouers van leerders byeen en voed hulle op met geen kind teenwoordig nie. Hierdie land is ‘n ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur… ‘n tragiese krisissone. Vee gerus die bydae uit.

Felix ·

Korrek, begin daar in die gemeenskap en by die ouers, dit help nie dit word net in die skool vertel nie, dit is wat jy daarmee maak as jy by die hek uitstap.

Lizl Fourie ·

Ek is hierdie week deur n jarelange vriendin (voordat Facebook bestaan het) “unfriend” omdat my siening konserwatief is en ek my wantroue in die besluitmakers uitgespreek het. As hierdie nie baie baie versigtig hanteer word nie is dit n ongeluk wat wag om te gebeur. Soos Mkebi se beetkuur en Zuma se stort, kan hierdie ons nageslag vir baie generasies lank bederf. Hoe draai jy terug as dit nie die gewenste uitwerking het nie. Kyk hoe word wettige aborsies nou as voorbehoed gebruik. Ek is dankbaar my kinders is klaar met skool ja, maar my kleinkind is 8jaar en onskuld self. Ek is benoud vir watter goggas hierdie bewusmaking gaan wakker maak.
Hou ons op ons kniëe!

Oop oge ·

So n bek kort jam…
Dis inderdaad parent delinquency en nie child delinquency nie.
Die kinners volg maar net die ouers se voorbeeld.
Common sense weeg uiteindelik swaarder as intellektualiteit.

Johan Neuteman ·

Opvoeding is ‘n gesinsaak ten eerste en daar is dinge wat baie mooi is, so mooi dat die Bybel ‘n boek soos Hooglied het, maar so innig is dat dit nie in die openbare lesinglokaal hoort nie, en dit iets is wat geleidelik en binne die geborgenheid van die huisgesin geleer word. Stem nie daarmee saam dat geslagsvoorligting verlaag word tot maar net nog ‘n funksie van die staatlike onderwyskurrikulumworsmasjienonderwys nie.

Denise ·

‘n Swanger tienermeisie het vir my eens by die skool vertel: “Mam, it doesn’t matter hoe much and how good you teach us about sexuality and sex, we are still going to do it” Sy het later skool verlaat. Ek dink as kinders besig gehou word met sport, kuns en kultuur gaan hulle nie tyd he vir seksuele verhoudings nie. Genoeg liefde en ondersteuning by die huis sal help dat hulle nie liefde en dieper aanvaarding iewers anders gaan soek nie. Ouers moet weet waar hul kinders is en wie die vriende is. Dis skokkend om te hoor hoe kinders vertel dat hul ouers dink hulle weet waar hulle is maar hulle jok vir die ouers en die ouers volg nie op om seker te maak die kinders is waar hulle se hulle is nie. Groot ruimte vir duistere dinge om te gebeur. My ouers was reg om my te verhoed het om outjies op skool te he. Ek is dankbaar dat ek net kon kind wees. Seks onderrig was in Standerd 5 aangebied vir meisies en seuns apart en dit was nie weer nodig daarna nie. Ons was net te besig met ander dinge.

Aaaaaaaa! ·

Stem saam Denise. Volg alles met die ouers op en help hulle om hul ouerskaptaak beter aan te pak. Gee ook opleidingsgeleenthede by klinieke sodat ouers beter toegerus word en hulp kan kry. Seksuele opvoeding moet appart vir seuns en dogters aangebied word en moet asb. nie by herhaling plaasvind nie. Die sogenaamde jaarlikse herhalende vigs opleiding wat by skole gedoen word frustreer die kinders. Identifiseer kinders wie dit nodig het en kom met die ouers ooreen om formele sessies aan te bied. Daar is baie opvoedkundige sielkundiges sonder of met min werksgeleenthede wat die nodige vaardighede het om dit aan te bied. Onderwyser behoort nie hiermee belas te word nie. Dit is nie hulle forté nie.

Klipindiebos ·

Ouers wat vandag lewe om te oorleef het nie die krag om hulle kinders reg te help of om rolmodelle vir hulle te wees nie. Dit is ‘n stryd tussen lewe of net bestaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.