‘Gee ons eerder ‘n engelsman’

Van ʼn verruklike piekniekplek tot ’n haglike konsentrasiekamp

'n Ongedateerde foto van die konsentrasiekamp by Irene.

Voor die Anglo-Boereoorlog oorlog was Irene nie net die eerste spoorwegstasie tussen Pretoria en Johannesburg nie, maar veral bekend as ʼn “verrukelijkste picnic-plaats”. Die beeld sou tydens die oorlog verander. Om die gees en infrastruktuur van die Boerekommando’s te breek het die Britte ʼn verskroeide aarde beleid gevolg, waarvolgens die Boerehuise, plase, lande en vee vernietig is. Duisende vroue en kinders wat daardeur dakloos gelaat is, is in konsentrasiekampe geplaas. Irene kamp is in 1901 gevestig op die plaas Doornkloof en teen die einde van die oorlog was daar 5700 persone in die kamp.

Twee Afrikaners, Scholtz en Esselen was die eerste twee kampkommandante. Onder hulle leiding het die toestande in die kamp vinnig versleg. Weens siektes, blootstelling, swak voorsiening van lewensmiddele en onvoldoende mediese sorg het daar in Irene konsentrasiekamp het ongeveer 1200 mense gesterf, waarvan meer as ʼn duisend kinders onder 15 was. Op ʼn stadium is selfs die vrywillige verpleegsters die kamp verbied. Eers nadat die inwoners uit desperaatheid vertoë tot die Britse bevelvoerders gerig het, word drie dames weer toegelaat om hulp te verleen, onder andere Henrietta Armstrong, een van die stigterslede van die SAVF. Alhoewel daar ʼn gemiddeld van 540 siekes per dag was, het die kampowerheid bepaal daar mag op geen stadium meer as ses verpleegsters in die kamp wees nie.

Die kraal of strafplaas was ʼn kaal veld en rotse omhein met doringdraad, waar vroue soms vir ʼn hele dag sonder voedsel of water gelos is as hul straf omdat hulle “oproermakers” was, of bloot omdat hulle mans nog op kommando was. ʼn Vrou wat gedurende Esselen se tyd daar opgesluit was moes die aand uitvind dat haar kind gedurende die dag gesterf het. Selfs die protes van die gemeenskap oor die martelingmetode het niks gehelp nie. Esselen het aan die Britse bevelvoerders gerapporteer dat hy verskeie male gebruik gemaak het van die strafkamp met veel sukses.

Rantsoene was ten alle tye onvoldoende. ʼn Week se rantsoen het bestaan uit 7lb meel, 4oz sout, 6oz koffie en 12oz suiker. Kinders het die helfte daarvan gekry. Melk, vars groente, seep, kerse en toiletware was skaars en slegs voorsien wanneer die kampdokter dit as ʼn “medical comfort” voorgeskryf het. Hierdie rantsoen verteenwoording ongeveer 29% van ‘n volwasse se kalorievereistes, en slegs 15% van die van ʼn kind. Vleis was selde beskikbaar en die gesinne van vegtende kommando-lede het niks gekry nie.

Leipoldt skryf oor hierdie tyd:

Hier struikel ʼn kind wat te vroeg gebore was
Hier sterwe ʼn oumens te swak vir die stryd
Hier kom ʼn gekerm en geskree teen jou ore
Hier tel jy met angs elke tik van die tyd

Luitenant Alexander Bruce, Anglo-Boereoorlog-kamphoof by Irene, wie Saterdag met 'n monument in Irene deur die Voortrekkers vereer word. Dit maak deel uit van die Voortrekkers se 80ste verjaarsdagvieringe.

Gee ons eerder ‘n Engelsman

Die Afrikanervroue in die kamp het by die Britse bevelvoerders gepleit om eerder ‘n Brit as kamphoof te stuur as ʼn “Engelschgezinde Afrikaner”. In November 1901 is die versoek toegestaan toe Luitenant Alexander Bruce (RAMC) as kampkommandant aangestel is. Hy het binne ’n paar weke die hele kamp herorganiseer. Op sy aandrang is 180 skape geslag en 600 pruimpoedings gebak as Kersete vir die kampbewoners. Onder sy leiding is ʼn sportterrein in die middel van die kampterrein opgerig en ʼn kolfblad vir krieket is aangelê. Die eerste krieketwedstryd is op 9 November 1901 op die verjaarsdag van Koning Edward gespeel. Die sportterrein wat as die Oval bekend staan is met die dorpsuitleg van Irene behou en is vandag sowat 200 meter van die kampkerkhof geleë. Die ontwikkeling van ʼn sportterrein was maar ʼn klein deeltjie van Bruce se omvattende herstrukturering wat ook ingesluit het beter mediese sorg, kos en skuiling. In die sewe maande wat hy kampkommandant was (November 1901-31 Mei 1902) het slegs sowat 35 kinders gesterf teenoor die byna 1000 kinders onder Esselen en Scholtz. Natuurlik is die 35 kinders te veel, maar wat raakgesien moet word is dat die Britse konsentrasiekamphoof met dieselfde ontferming en gesindheid as die van ʼn Emily Hobhouse baie lewens gered het.

Die verantwoordelikheid van ‘n gemeenskap

Dit wat tot die geskiedenis behoort is nie ʼn dooie verlede nie. Verlede, hede en toekoms is dinamiese wisselwerkende kragte wat die hede beïnvloed en die gang van die toekoms bepaal. Kultuurfilosowe wys daarop dat die onvermoë van moderne mense om die verlede, hede en toekoms sinvol aanmekaar te bind is van die belangrikste redes is vir die agteruitgang van ʼn gemeenskap se kultuur en waardes. Die Nederlandse teoloog Herman Bavinck het op ʼn stadium opgemerk dat die Afrikaner se geskiedenis vir hom reëel is. “In krisistye gryp hy daarna terug en put daaruit krag vir die toekoms.” FA van Jaarsveld waarsku:

“As ʼn volk sy geskiedenis verwaarloos verdwyn sy bodem onder hom. Koester hy nie ʼn duidelike hostoriese beeld nie, het hy ook geen toekomsverwagting nie.”

Onder die invloed van die ANC se charteristiese aanslag het baie Afrikaners sedert die vroeë negentigerjare hulle perspektief op die Suid-Afrikaanse geskiedenis as gevolg van skuldgevoelens verloor. Die geskiedenis van Suid-Afrika is gedikteer vanuit die ANC se politieke perspektief wat Afrikanergeskiedenis kriminaliseer en die struggle-geskiedenis romantiseer. Hierdie proses het nie net die Afrikaner se historiese selfbeeld en selfvertroue byna vernietig nie, maar ook die bewaring van Afrikanergeskiedenis en kultuur in die weegskaal geplaas. Historiese name van stede en strate is verander, erfenisgebiede en -monumente is verwaarloos en geskiedenis in skoolhandboeke is herskryf. In ʼn tyd waar Afrikanergeskiedenis uit skoolboeke gereduseer word tot kolonialisasie en apartheid is dit belangrik dat gemeenskappe verantwoordelikheid moet neem om die geskiedenis vir hulle kinders te laat leef.

Die behoefte om geskiedenis vir kinders te laat leef word ook deur ander gemeenskappe gedeel. Antoinette Sithole, wie se broer, Hector Pieterson op 16 Junie 1976 doodgeskiet is, sê onder andere:

“Ons kinders moet weet waarvandaan hulle kom. Elke ouer moet dit op hulself neem om hul kinders die geskiedenis van Suid-Afrika te leer sodat hulle nie soos buitestanders voel nie. Ek dink omdat die leerlinge die storie uit my mond gehoor het, is dit nie meer net ’n storie nie, maar ’n werklikheid oor wat daardie dag gebeur het.”

Dit is beslis nie nodig dat verskillende perspektiewe op die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdelend hoef te wees nie. Wanneer gemeenskappe geskiedenis gebalanseerd aanbied met respek vir ander gemeenskappe se ander perspektiewe daarop kan verhale uit die verlede nie net rigtinggewend vir die toekoms wees nie, maar selfs deernis en begrip vir mekaar bewerkstellig.

As deel van die Voortrekkerbeweging se 80ste verjaarsdag het Polsslag Voortrekkerkommando saam met Centurion Erfenisvereniging ʼn monument ter ere van Luitenant Bruce se reddingswerk op die Oval in Irene opgerig. In die monument word ʼn tydkapsule met kinders se briefies geplaas wat oor veertig jaar gelees gaan word wanneer die Voortrekkerbeweging 120 jaar en die Irene kamp 150 jaar oud is. Dit is ʼn goeie voorbeeld waar Afrikaners sonder ʼn volksromantiese bril na die verlede kyk en ʼn Britse kamphoof vereer vir die lewens wat hy gered het deur sy ontwikkelingsinisiatiewe. Dat sy agterkleindogter in Londen spesiaal vir die onthulling van die monument kom wys dat die gebalanseerde omgang met die verlede word raakgesien en waardeer. Hierdie Oval-monument staan egter veral in die teken van ʼn gemeenskap wat sy verantwoordelikheid teenoor sy kinders nakom om die geskiedenis vir hulle te laat leef. So sal die erwe van ons vadere vir ons kinders erwe bly.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Louis du Plessis ·

Danie Langner ~
 
1  Watter dryfkrag spoel deur ons almal uit hierdie Irene-konsentrasiekampverhaal van jou!  Jy wys welsprekend hoe onmisbaar dié historiese gebeure vir ons almal is.  Jou bydrae trap in die voetspore van ander geskiedenisse, soos van Diko van Zyl (op 25 Augustus) oor die Sandveld en Paternoster en Elandsbaai, soos van Alana Bailey (op 31 Augustus) oor die opofferings van die Potgietertrekkers wat niemand durf vergeet nie, en soos Dirk Hermann (op 30 Augustus) oor die treurgrond waarin soveel van ons aangerande volksgenote hulle bloed gestort het. 
 
2  En hoe wys Deon Geldenhuys (op 12 September) dat mens dieselfde historiese gebeure verskillend kan vertolk!  Deon Opperman ontbloot (op 15 Augustus) dat mens elke vlam wat in die geskiedenis brand eers kan raaksien as jy dramaties daarna kyk, dus, vanaf uiteenlopende observasieposte met selfs botsende invalshoeke! 
 
3  Saam met jou, Danie, boor die Groot Debat af en af en af – in die diepstes van ons herkoms!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.