Gee SA ʼn ministerie vir minderhede, vra AB

minderheid-minderhede-rasse-ooreen

Foto: Robert-Owen-Wahl/Pixabay.com

“Ons, die mense van Suid-Afrika”, so verklaar die 1996-Grondwet van Suid-Afrika, “glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid”.

Dit is ’n verhewe ideaal, maar dit is ongelukkig nie ’n ware weerspieëling van die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Die Suid-Afrikaanse Grondwet is die grondslag van ons nasionale eenheid, maar — paradoksaal — daardie eenheid is bedoel om te berus op die erkenning van ons verskeidenheid.

In die aanhef word nie uitgebrei uit oor die aard van hierdie verskeidenheid nie, maar in ander artikels van die Grondwet word erkenning spesifiek verleen aan kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (artikels 29, 30, 31, 185 en 235). Dit is insiggewend dat die Grondwet erken dat die Suid-Afrikaanse samelewing ’n verskeidenheid van kultuur‑, godsdiens- en taalgemeenskappe insluit. Suid-Afrika is dus ’n land van minderhede, en verhoudinge met hulle moet met die grootste sorg en sensitiwiteit hanteer word, aangesien voortgesette vrede en harmonie tussen gemeenskappe fundamentele vereistes vir die toekomstige sukses van ons samelewing is.

Hoewel daar nie akkurate statistieke is nie, word geraam dat 10% tot 20% van die wêreld se bevolking tot minderhede behoort. Dit beteken dat tussen 600 miljoen en 1,2 miljard mense spesiale maatreëls nodig het vir die beskerming van hul regte, aangesien minderhede dikwels van die mees benadeelde groepe in die samelewing is en hul lede dikwels onderwerp word aan diskriminasie, ongeregtigheid en uitsluiting van sinvolle deelname aan die openbare en politieke lewe (volgens die Verenigde Nasies se webblad oor minderhede).

Dit is noemenswaardig dat die Suid-Afrikaanse Grondwet nie van die internasionaal erkende konsep van minderhede melding maak nie, maar eerder van gemeenskappe. Tog is die drie tipes gemeenskappe wat in die Grondwet omskryf word, naamlik kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe, ook die drie internasionaal erkende kriteria (kultuur, godsdiens en taal) wat etniese, godsdiens- en taalminderhede definieer. Dit is egter waar Suid-Afrika van internasionale standaarde en norme verskil.

Die bevordering en beskerming van minderheidsregte is nie op die agenda van die groter politieke partye nie. Te dikwels is dit die geval dat die groter partye lippediens bewys aan, onder meer, taalregte, maar hierdie regte nie daadwerklik bevorder en steun nie. Dit is om hierdie rede dat die regering, byvoorbeeld, nie eers ’n poging aanwend om al 11 amptelike tale te bevorder nie.

Dit is dus as gevolg van hierdie gebrek aan enige tasbare optrede deur die groter partye dat ons die onlangse uitslae van die algemene verkiesing en die toename in stemme vir partye wat bepaalde belange bevorder, gesien en geëvalueer het. In hierdie verband moet die groei van die Vryheidsfront Plus, die Inkatha Vryheidsparty, die African Christian Democratic Party en Al Jama-ah genoem word.

Hieruit kan afgelei word dat minderhede hulle na politieke partye wend om hul bepaalde belange te bevorder, aangesien hierdie belange erg verwaarloos word as gevolg van die wanfunksionering van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad. Ek verwys ook na ons brief van 13 Desember 2018, waarop ons nog nie ’n reaksie ontvang het nie, waarin ons ons kommer uitspreek oor die wanfunksionering van hierdie grondwetlike liggame.

’n Gesonde balans is nodig tussen die eie belange van taal-, kultuur- en minderheidsgroepe, aan die een kant, en die algemene- en landsbelang, aan die ander kant, wat vir alle Suid-Afrikaners geld. Om net op landsbelang te fokus, is ook verkeerd en dien nie die magdom van Suid-Afrika se mense nie. Verskeie minderhede en gemeenskappe het hulle daartoe verbind om hulle vir die toekoms van ’n suksesvolle Suid-Afrika te beywer. Gevolglik kan die baie minderhede en gemeenskappe wat die verskeidenheid van Suid-Afrika uitmaak en bewys daarvan is, nie geïgnoreer word nie.

Om minderhede te ontken of te ignoreer, is nie in Suid-Afrika se beste belang nie.

Suid-Afrika het ’n lang geskiedenis van rasseverdeling, konflik en onderdrukking. Ter afsluiting van u toespraak by die eeufeesviering van die Afrikanerbond op 7 Junie 2018 in die Paarl het u gesê: “Let us seek peace together in this torn, tragic, divided South Africa.”

Rakende die identifisering van goeie praktyke met betrekking tot minderhede en politieke deelname is ons van mening dat die Suid-Afrikaanse regering nie die internasionale beste praktyke volg wat minderhede en hul deelname aan die politiek van ons land betref nie. Die regering se nieamptelike posisie in die naam van transformasie en nierassigheid is dat minderhede moet saamsmelt of deur die meerderheid geassimileer moet word. So ’n standpunt skep nie ruimte vir minderheidsdeelname nie en is strydig met internasionale beste praktyke in hierdie verband.

Ons Grondwet maak toereikend voorsiening vir die beskerming van elke burger se regte wat taal, kultuur en onderwys betref, maar die probleem is dat hierdie bepalings nie behoorlik geïmplementeer word nie. Daar moet meer aandag gegee word om vir kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe ’n sinvolle institusionele stem te gee oor kwessies wat hulle raak.

Oor die afgelope paar jaar het die drie liggame hierbo genoem duidelik gewys dat hulle nie hul grondwetlike pligte nakom nie. Die Handves van Regte word nie toegepas nie en hierdie instellings het Suid-Afrika teleurgestel in hul rol as beskermers en bewakers van die Handves van Regte en die beskerming van die verskillende gemeenskappe en minderhede in Suid-Afrika.

’n Voorstel vir ’n blywende oplossing

  • In belang van ons Grondwet, versoening en u ideaal dat ons “saam vrede soek in hierdie verskeurde, tragiese, verdeelde Suid-Afrika”, is die drastiese en dringende inisiëring van ’n proses om die mandaat en aktiwiteite van die drie instellings te hersien, noodsaaklik.
  • Ons pleit by u om ernstige oorweging te skenk aan die instelling van ’n skakelmeganisme vir minderhede en Suid-Afrikaanse taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe om die kwellings en spesifieke behoeftes van hierdie groepe in die verskillende staatsdepartemente, provinsies en grondwetlike instellings te bevorder, te evalueer en te monitor. In hierdie verband doen ons graag een of meer van die volgende aan die hand:
    1. ’n Permanente ministerie van Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe
    2. ’n Ombudsman vir Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe
    3. ’n Spesiale kantoor vir Suid-Afrikaanse minderhede/gemeenskappe in die Presidensie

Daar is talle internasionale voorbeelde van spesiale meganismes, in Europa en ook die Ministerie van Minderheidsake in Indië, waaruit Suid-Afrika beste praktyke kan oorneem.

  • Ons het die politieke wil nodig om internasionaal erkende minderheidsregte in Suid-Afrika te ondersteun. Dit kan gedoen word in die vorm van ’n handves van minderheidsregte as ’n byvoeging by die Grondwet. So ’n handves moet berus op internasionale konvensies en verklarings van minderheidsregte. Dit moet nie net die regte van minderhede of gemeenskappe insluit nie, maar moet ook die verpligtinge van die staat en regering teenoor minderhede en kultuurgemeenskappe uiteensit. In hierdie verband kan u die proses inisieer as deel van die voorstel vir ’n skakelmeganisme.

’n Nuwe begrip is nodig van wat die Grondwet se Aanhef beteken waar dit sê “Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid”.

Ons kan geen vordering maak om Suid-Afrika te verenig as ons verskeidenheid nie terselfdertyd erken, gevier, bevorder en gerespekteer word nie.

Die Afrikanerbond sal u met graagte wil ontmoet om hierdie sienswyse en voorstelle verder toe te lig indien u dit nodig vind.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

piet piet ·

Ons soek geen gunste of spesiale behandeling nie ons vra skrap die diskriminerende wette teen minderhede gebaseer op velkleur na 25 jaar het dit tyd geword .

Deon ·

Ek stem saam. ‘n Gelyke speelveld waar minderhede ook kan floreer sonder diskriminasie. Minderhede in SA kan intern sterk wees word sonder om te steun op een of ander burokraat wat na hul belange moet omsien. In Indië kan dit dalk nodig wees, maar dit is ‘n baie komplekse land en die omstanighede mag dit vereis.

Dirk ·

Vir solank as wat die onreg van die verlede nie reggestel is nie, vir solank sal minderheidsregte nie in SA deur die meerderheidsregering erken word nie en ek het so n spesmaas dat dit ook die rigting is waarin Musi Maimane die DA wil stuur. Minderhede sal dus gyselaar bly tot die wil van die meerderheid en die beleid en voorwaardes van die staat, tot tyd en wyl die onreg van die verlede reggestel is. Die politieke hindernis was en is steeds die onreg van die verlede en voordat opposisiepartye dit nie aangespreek het nie, sal veranderinge wat gestoomroller word die regstelling afforseer op n spesifieke minderheidsgroep met gevolglike uitsluiting aan onderhandeling en deelname. Die Afrikanerbond, VF en Afrikanerorganisasies behoort tog al teen die tyd te besef dat vir die meerderheid is die regstel van die onreg van die verlede ononderhandelbaar. Omrede die Afrikaner weier om toe te gee het die ANC dus besluit om met dirty tricks en doelbewuste kaping van die staat die klimaat te skep wat verandering moontlik maak om die onreg van die verlede reg te kan stel en dit is presies waar SA nou is met CR. Die AB gaan hulle ministerie kry, maar eers nadat CR veranderinge geimplementeer het wat die onreg van die verlede reggestel het! Die enigste manier om die ANC te stop is om die ANC as n kollektief, CR ingesluit, internasionaal aan te kla en te laat vervolg vir verraad deur staatskaping en die kamtige herstel daarvan!

Felix ·

Wel erns moet mens begin, die minderhede kan nie vir in der ewigheid deur die meerderheid gevange gehou word terwyl AL die minderhede se regte misken word nie. Ek het nou die dag onderaan ‘n ander artikel amper ‘n lys van minderhede in my kommentaar onderaan geplaas. Om jou verder hier te verstaan sal dit tog interessant wees as jy ‘n lysie van minderhede waaruit die bevolking van die land bestaan kan plaas. Onthou, as ons van bv taal praat, is daar wel meer as die elf amtelike landstale, as ons van etniese groepe praat, is daar meer as vyftien.

Andreas ·

Dirk, jy praat van die onregte van die verlede waarna Cyril dikwels verwys en ook waarna hoofregter Mogoeng nou met die inhuldiging van die LP’s verwys het, maar hulle is nie spesifiek nie. Ek sal graag wil weet, watter ongeregtighede van die verlede jy na verwys? Is dit die beweerde ontneem van geleenthede deur apartheid? Is dit die grond wat wit mense in die verlede van swart mense afgevat het soos wat Cyril met ‘n onwaarheid loop verkondig omdat hy iets moes bedink om aan die mense te bied, of wat hulle ook nog identifiseer?

Daar is vir jare SEB in plek en daar is seker nie ‘n wit huishouding in die land wat nie daardeur geraak word nie, eintlik moet ek sê, wit persoon. Nou wil Cyril-hulle grond onteien.

En was daar dan nie ongeregte deur die ANC tydens apartheid en tot op hede gepleeg nie?

Nou wonder ek, wat gaan hulle daaromtrent doen?

Stephan de S ·

Dankie vir hd inisiatief…….dit gee vir my hoop. Die logiese sal wees n minister wat hd saak hanteer…..n persoon wat uit hd gemeenskappe self kom en gereeld afgewissel word sodat alle minderhede n kans kry om n verteenwoordiger in hd pos te hê. Hoekom is daar n minister v tradisionele sake en talle konings wat ten duurste deur belastingbetalers onderhou word, as minderhede nie ook so n verteenwoordiger kan kry nie. Mag die AB suksesvol wees in hd poging. Wysheid word julle toegebid

Andreas ·

Dit lyk my die stuk hier bo is ‘n brief aan iemand van die regering geskryf, dalk die president, ek kan nie agterkom aan wie nie. Dit klink na die regte inisiatief vir ‘n begin. Dan wil ek vir Jan Bosman van die AB vra of hulle dit nou al verder geneem het en met ander partye gekonsulteer het om hulle saam op die reis te vat en hulle laat inkoop? Ek neem aan hulle het ook al reeds ‘n strategie en planne van hoe hulle hierdie aspirasie gaan dryf dat dit daadwerklik die erns van die regering kan raak sodat die president van die land ook ‘n president vir die minderhede kan wees.

Jan Bosman ·

DIt is inderdaad ‘n brief wat op 13 Mei 2019 aan die president gestuur is. Ons sou graag wou sien dat die vooorstelle oorweeg word maar dit is tersefdertyd nodig dat die taal. kultuur en geloofsgemeenskappe wel ook saam begin kyk na meganismes om ons gemeenskaplike, maar ook eie belange te bevorder.

Deon ·

Jan Bosman EN wie dink jy gaan dié minister wees? CR gee dit dalk vir Malema??? Of dalk aan mnr Groenewalt van die VF+??? Dan skreeu die mense weer dat mnr. Groenewalt is deel van CR se kabinet!!!!! Nee die Broederbond (ab) het SA meer as genoeg skade berokken by KODESA. Nag ou grote. Gaan rus nou!

Kallie ·

Die AB behoort eerder te werk aan Afrikaner selfbeskikking, iets wat reeds 30 jaar gelede moes gebeur het. Al die praatjies oor minderheidsregte en die Afrikaner se dit of dat is bloot tydmors.

Dries du Toit ·

Hoor ek reg. Eers Helen Zille en nou die AB. Goeiste, dit lyk vir my ons gaan nou almal in dieselfde rigting trek. My immigrasie planne is in die weegskaal. Boerboel, Andreas, cherokee, Annie Webb,Therese van Schalkwyk, Lerato
ONS GAAN NOU BRAAI

Ek ·

Ek soen nie ‘n regering vir minderhede maar wel ‘n onafhanklike LAND waar SLEGS Afrikaans gepraat word. Of ek bly in Suid-Afrika as trotse Afrikaner of ek immigreer.

Dirk ·

Ons het almal goeie voorstelle en planne, die realiteit is egter dat die ANC ander planne het wat misleiding insluit en waarvan hulle nie gaan afwyk nie. Om dit vir u kras te stel, die ANC sal ongelooflik gelukkig wees wanneer die dag aanbreek dat revolusioneres in die middelklas en rykklas woongebiede woon en die teenrevolusioneres in die townships. Die onregte van die verlede is alles, geldig of ongeldig, doeltreffende verskonings wat die ANC se planne vir die nodigheid van verandering motiveer en ondersteun. Die onregte van die verlede is die wortel vir die ANC se kwaad en wat hulle sal aanhou gebruik totdat die ANC hulle doel bereik het, omrede die teenrevolusioneres magtelose gyselaars van die onregte van die verlede is. As dit nie vir u sin maak nie, sal niks van waarheen die ANC oppad is, vir u sin maak nie! Die onregte wat die ANC gepleeg het word as geregverdigbaar beskou, selfs staatskaping, daarom moet die ANC se onregte getroef word deur te begin om die ANC as n kollektief en nie as individue, te laat vervolg deur die internasionale strafhof vir staatskaping as n daad van verraad teen SA. Om nou te wil pellie, pellie met CR en die ANC en let bygones be bygones is te min en te laat, want die ANC het reeds te ver gevorder met hulle planne en misleiding. Om die ANC te stop is om die ANC as n kollektief te ontbloot vir staatskaping verraad!

Penellope Jones ·

Daar is ‘n Ministerie van Vroue en daar kan vir dieselfde rede ‘n Ministerie van Minderheidsgroepe ook wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.