Geen einde aan die Brexit-sirkus

Pro-Brexit-ondersteuners betoog in Januarie buite die parlement in Londen. (Foto: Jonathan Brady, AP)

Die Brexit fiasko, wat nou reeds sedert die Brexit referendum in 2016 groot onsekerheid in Brittanje veroorsaak, is steeds nie verby nie. Dit volg nadat die Britte die afsnydatum waarop hulle die Europese Unie (EU) moes verlaat  – naamlik 29 Maart – nie nagekom het nie. Na die Britte uitstel gekry het tot 12 April, het die Britse eerste minister Theresa May toestemming by haar kollegas in die Britse Laerhuis (parlement) gekry om te vra vir ’n verdere uitstel. Die nuwe datum vir Brexit is dus nou amptelik 31 Oktober vanjaar.  Indien ooreenkomste bereik kan word voor daardie datum, kan Brexit dan wel voor die afsnydatum plaasvind.

Besluiteloosheid oor Brexit

Die Britse parlement, met sy komiese speaker, John Bercow, wat self ’n internetsensasie geword het met sy gedurige en luide “Order! Order!” in die erg verdeelde parlement, kan seker tereg tans as ’n groter sirkus as die Suid-Afrikaanse parlement met sy ongepoetste rooi-oorpak “vegters” en die ANC-jabroer-meerderheid gesien word. Die Britse parlement het reeds verskeie kere gestem oor watter rigting Brittanje moet inslaan betreffende Brexit. Net twee weke gelede is vyf verskillende mosies afgestem op een dag.

Ons weet reeds sedert 23 Junie 2016 wat die Britse publiek wil hê – meer as 17 miljoen mense het gestem om die EU te verlaat, ’n meerderheid van 52% van die kiesers. Intussen het die kiesers se parlementêre verteenwoordigers besluit dat dit nie heeltemal is wat hulle wil hê nie. May het drie keer tevergeefs mosies ingedien oor ’n moontlike ooreenkoms met die EU, wat haar swak leierskap in die kollig plaas. Basies het sy voorgestel dat die Britte ’n doeane-unie met die EU vorm en dat die grens tussen Noord-Ierland en Ierland (Ierland is ’n EU-land) oop bly totdat ’n permanente oplossing daarvoor gevind kan word (die sogenaamde backstop).

Ander mosies wat gesneuwel het, is dat die Britte die EU sonder enige handelsooreenkoms verlaat (in so ’n geval sal handel tussen Brittanje en EU-lande volgens normale wêreldhandelsorganisasie-beginsels geskied) of dat ’n nuwe referendum gehou moet word.

ʼn Beeld van Theresa May, die Britse eerste minister, pryk in Desember buite die parlement in Londen tydens die betogings teen Brexit. (Foto: Frank Augstein, AP)

Wegbrekers teenoor EU-voorstanders

Die grootste kwelling vir baie Britte wat nie die EU wil verlaat nie, is veral oor moontlike skaarstes van produkte (soos vrugte en medisyne) wat van die EU-lande ingevoer word. Ander is weer bekommerd oor hul werk- en bewegingsvryheid, terwyl hulle ook nie weer rigiede paspoortbeheer wil hê as hulle EU-lande in- en uitgaan nie. Hulle beskou Brittanje se onttrekking uit die EU as ’n stap weg van globalisme en gevolglik ’n terugwaartse stap.

Die grootste beweegrede vir die wat ten gunste van verlating van die EU was, is dat Brittanje weer beheer oor hul eie grense sal hê. Hulle is ook gekant daarteen dat die EU se onverkose uitvoerende gesag, die EU-kommissie, Brittanje basies vanuit Brussels regeer. Vir die Britte, wat ’n lang en trotse geskiedenis het en eens op ’n tyd oor groot dele van die aardbol geheers het, is dit onaanvaarbaar dat die EU-kommissie, wat in wese deur die Duitsers gedomineer word, oor hulle kan heers. Hulle het immers die Nazi’s oorwin wat Duitse gesag oor hulle wou instel.

Die wegbrekers is teen die instroom van vlugtelinge uit die Midde-Ooste en Afrika na Brittanje, wat sommige dele in Britse dorpe en stede in Derde Wêreld-enklawes omskep het, kompleet met vreemde kulture, misdaad, gemors en aandrang op bevoorregting wat sulke state kenmerk. Die wegbrekers voel dat Brittanje miljarde ponde jaarliks in die EU stort en dat die eenwording van die EU-lande veroorsaak dat werkgeleenthede vir die middel- en werkersklasse verlore raak. Soos in die VSA, word globalisme gesien as die oorsaak van ’n agteruitgang in hul lewenstandaard.

Die tweespalt tussen die pro-EU-Britte en die wegbrekers is in albei partye te vind. Die Konserwatiewe Party (oftewel die Tories), asook die opposisie, die Arbeidsparty, het parlementslede en lede wat diep verdeel is oor Brittanje se toekoms.

Theresa May. (Foto: AP Photo/Frank Augstein)

Theresa May, die hofnar

Ten spyte van die verdeeldheid, het die Britse parlementariërs ’n totale gemors van die Brexit-proses gemaak. Die grootste nar in die sirkus is sekerlik May. As iemand wat teen Brexit gekant was en daarna die Tories se steun verkry het om eerste minister te word, het sy klaaglik misluk om Brexit deur te voer. Sy was van die begin af huiwerig en het getob oor vlakke van onttrekking (’n “sagte” Brexit teenoor ’n “harde” Brexit). Toegegee, om almal gelukkig te hou in so ’n komplekse skeisaak, is seker nie maklik nie. Maar May het egter heeltyd gehuiwer en nooit gelyk of sy enige visie het oor die toekoms van Brexit nie.

Sy het verskeie kere stemmings in die laerhuis oorleef om onthef te word van haar pos as eerste minister. Dit is sekerlik nie oor haar politieke vernuf nie. Dit is eerder dat geen van die Tories kans gesien het om haar pos oor te neem terwyl die hele Brexit-proses in duie stort nie.

As laaste uitweg probeer May tans om ’n ooreenkoms met die Tories se aartsvyand – die Arbeiders – te bereik. Sy wil graag steeds ’n ooreenkoms nalaat al is dit keer op keer uitgestem deur die Britse laerhuis. Die Arbeiders self is diep verdeel oor Brexit. Vir hulle gaan dit eerder oor die verloor van werkgeleenthede as ’n party wat al vir dekades deur die vakbonde en werkersklas ondersteun word. Die ultralinkse leier van die Arbeiders, Jeremy Corbyn, het weer sy oog op ’n groter welsynstaat met minder beheer oor immigrasie en sal heel moontlik nóg ’n groter gemors maak van Brexit, sou hy eerste minister word.

Daar is sprake van ’n nuwe algemene verkiesing om ’n mandaat te verkry oor die toekoms van Brexit. Dit is te betwyfel of die Tories of selfs die Arbeiders met ’n meerderheid sal wen. Heel moontlik sal een of ander koalisieregering gevorm moet word, wat nóg groter onsekerheid kan veroorsaak.

Vlae van die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk hang buite die parlement in Londen, Engeland. (Foto: Tim Ierland, Xinhua)

EU-globaliste lag in hul mou

Die hele Brexit-gemors skep ook onsekerheid in die EU. Die EU sal uiteraard ’n noue ooreenkoms met die Britte verwelkom om die status quo te handhaaf. Twee EU-staatshoofde met sterk globalistiese uitgangspunte, Angela Merkel van Duitsland en Emmanuel Macron van Frankryk, lag seker lekker in hul mou oor die Britte se onsekerheid. Hulle wil graag ander EU-lande soos Italië, Spanje en Griekeland – wat die hele proses met valkoë dophou – oortuig dat enige lidland se onttrekking van die EU hulle in ekonomiese en politieke chaos gaan laat.

Dis duidelik dat die EU die hef in die hand het en Brittanje aanmoedig om ’n doeane-unie te vorm. Met só ’n unie sal Brittanje aan EU se handelsooreenkomste en tariewe verbind wees (waarvan hulle wou ontsnap) en nie self handelsooreenkomste kan aangaan nie. Om hierdie rede het die Amerikaanse president, Donald Trump, deur verskeie twiets May se voorgestelde ooreenkomste met ongeloof begroet. Trump wil graag ’n aparte handelsooreenkoms met Brittanje sluit.

Demokrasie word geminag

Die grootste verloorder in die hele Brexit-deurmekaarspul, is uiteraard die Britse kiesers. By die kiesers was daar geen misverstand oor wat Brexit behels nie. Hulle onttrek uit die EU, onderhandel ’n handelsooreenkoms met die EU en kry beheer terug oor hul landsgrense. Sekerlik met ’n aanvanklike gesukkel en gepaardgaande verlies aan vryheid van beweging, werkgeleenthede in Europa en ’n paar goedkoper produkte; maar daarmee saam ontsnapping van die EU-dominasie en verminderde binnelandse werksverliese. Theresa May en die hele Britse parlement het egter die kieser se wense geminag. Om watter rede sal hulle aan toekomstige verkiesings of referendums deelneem as die politici later self die besluite omkeer?

Daar is ook steeds groot ondersteuning vir ’n tweede referendum oor Brexit. Die pro-EU-kant glo dat die wegbrekers bestaan het uit meestal ouer kiesers, terwyl jongmense die voortsetting van EU-lidmaatskap ondersteun. Nadat heelwat jonger mense nou intussen kiesers geword het, asook die klaarblyklike onvermoë om Brexit uit te voer, is daar ’n sterk moontlikheid dat Brexit in ’n opvolgreferendum gestuit sal word. Uiteraard is dit ’n mistasting van ’n demokratiese besluit en ’n teken dat die globaliste eenvoudig sal aanhou stem totdat hulle hul sin kry.

Brittanje se eerste minister, Theresa May, praat in die Laerhuis in Londen (16 Januarie 2019). Foto: House of Commons/PA via AP

Waarheen nou met May?

Waar laat hierdie stand van sake ons met Brexit? Uiteraard is dit ’n vloeibare situasie, maar dit is heel duidelik dat Brexit eers uitgestel gaan word. Indien dit wel plaasvind, gaan dit baie afgewater wees en die backstop sal vir jare voortduur, terwyl Brittanje aan die EU se handelsbetrekkinge verbind kan wees deur ’n doeane-unie. Om die wegbrekers te troos, sal daar darem seker meer beheer oor die instroom van vlugtelinge na Brittanje wees. Dan is ’n tweede referendum, of selfs die onttrekking van Brittanje se wetgewing wat voorsiening maak om uit die EU te tree (artikel 50), ook ’n moontlikheid. Die logiese keuse, naamlik ’n onttrekking uit die EU sonder ’n handelsooreenkoms, wat wegbrekers soos die konserwatiewe politikus Nigel Farage juis as logiese alternatief aanbied, gaan nie sommer gebeur nie.

Wat ook al met Brexit gebeur, dit lyk of Theresa May se dae as premier getel kan wees. Sy is net daar omdat niemand anders haar swak besluite as gevolg van ’n totale gebrek aan visie en leierskap wil oorneem nie.

Sy kan sekerlik as Brittanje se swakste premier in ’n baie lang tyd beskou word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

10 Kommentare

John ·

… sekerlik wag daar ten minste ‘n blink toekoms op haar as sy ‘n eierdansskool in Londen open. Moeder Theresa is die liefling van Europa. Die enigste plek waar sy om die nek geval word. Brittanje gaan die stortingsterrein en melkkoei van die slinkse EU word… Duitsland wat sonder-enige-skoot-geskiet-fontein geleidelik die wèreld a la Hitler beheer met die hulp van Navo onderhou deur die VSA .

Annie Webb ·

Die VSA onderhou nie meer NAVO nie en die regses gaan waarskynlik binnekort die regerings in Duitsland en Frankryk oorneem. Die AfD en Marine le Pen wil net hulle eie land bestuur, niemand anders se land nie.

Nico K ·

Ek stem glad nie met die artikel saam nie. “Die Britse publiek het reeds aangedui wat hulle wil hê.” Dit was slegs ‘n meerderheid van 1%.! Ek kan nie sien hoe ‘n land so belangrike besluit kan implimenteer op 1% meerderheid nie. Ek wed al my geld as daar weer ‘n referendum gehou word is die uitslag anders.

Nico Stegmann ·

Nico, maar is dit nie maar soos die demokrasie werk nie? Selfs al wen jy met een stem wen jy tog? Tog is jy reg oor nog ‘n stemming. Met nog ‘n referendum kan die Bly-stem wen. Maar die beginsel is dan – julle sal stem tot julle reg stem!

Annie Webb ·

Puik uiteensetting, Nico Stegmann! Die meerderheid was nie 1% nie, dit was 17+ miljoen teen 16+ miljoen. En ja, demokrasie beteken nié julle hou aan stem tot iemand met mag die uitslag kry wat hy/sy wil hê nie. (In Afrika dalk…) Ek gaan probeer om ‘n insiggewende grafiek hier in die kommentare te laai, hoop ek kry dit reg. Soos in soveel ander lande is die regerende “elite” in Brittanje uit voeling met die gewone kiesers.

Therese van Schalkwyk ·

Briljante samevatting van hierdie tragiese komedie!

Harde kritiek op Theresa May, maar ongelukkig welverdiend. Waarom ‘n pro-Brexit leier nie destyds as premier na vore kon tree nie, gaan die verstand te bowe.
Politieke ‘speletjies’, konkel en rugsteek maak van demokrasie deesdae ‘n klug, en Brexiteers kan met reg bitter voel.

Dat die eens magtige Britse Ryk sowaar nie die moed van hul oortuiging het om hul eenvoudig los te maak van EU-rokspante en betyds nuwe ooreenkomste met gretige nuwe handelsvennote van hul keuse te sluit nie. Genugtig, hulle het twee jaar grasie gehad.
(vrugte en medisyne-tekorte tel meer as die wil van die meerderheid … wil jy nou meer!)

Jerry ·

Theresa May het presies dieselfde probleem as leier, as wat CR het. Hulle kan doodeenvoudig nie verder sien as hulle onderskeie ideologiee wat hulle aanhang nie. May se probleem is dat sy net die menings van die 52% referendum kiesers in ag neem en vorentoe wil stoomroller sonder om enigsins die menings van die ander 48% ook in ag te neem om ooreenkomskompromiee aan te gaan. Vir May is dit n kwessie van “winner takes all”, n standpunt wat nie eers deur haar eie party gehuldig word nie! In SA is dit presies dieselfde met CR, wie ook net ingestel is op vooruitgang vir “our people” ten koste van die res! Beide Theresa May en CR is leiers wat so vas verstrengel is in hulle onderskeie ideologiee, dat jy nie eers deur burgeroorloe hulle sover sal kry om van standpunt te verander nie. In SA is daar n hele paar selfaangestelde leiers wat met dieselfde probleem worstel, met ou geykte standpunte wat so vasgesement is dat nie eers terpentyn hulle van standpunt kan verander nie! Met sulke leiers het nasies nie vyande nodig nie, want sulke ideologiese stiksienige leiers, is die nasie en ook hulle eie, grootste vyande. Daar is nog hoop vir Brexit, omrede Theresa May se eie party haar kop gaan laat rol! Vir SA is daar egter geen hoop, omrede daar geen kans bestaan dat CR se kop sal rol nie! In die ANC is die een appel so vrot soos die res van die appels!

Herman ·

Baie dankie vir die beste opsomming van die fiasco wat ek nog gelees het.

alwyn burger ·

Theresa praat van die eens magtige Britse Ryk. Ek dink ook Brittanje se aura en tyd is verstreke. Kyk maar rond in jou huis. Alles Duits/Oosters. Die Britte het ook nie die Nazi’s verslaan nie. Die wêreld het. Self SA was daar met honderde van ons bruin en swart broers

Hans Richardt ·

Dis nie meer “nuus” om na gemors op TV (BBC en suster stasie TRT) te kyk nie.
May onderhandel meer met haar parlement oor konsensus, as wat sy bekommerd is oor nuwe Britse wetgewing en handelsooreenkomste is, waarsonder Brittanje nie EU kan verlaat nie!
Dis byna al dieselfde sirkus as SA parlement oor onteiening.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.