Geert Wilders die ware wenner van Nederlandse verkiesing

Rutte (links) en Wilders (regs) Dinsdag tydens 'n laaste verkiesingsdebat. Foto: Phil Nijhuis HH POOL via AP

Rutte (links) en Wilders (regs) tydens ‘n laaste verkiesingsdebat. Foto: Phil Nijhuis HH POOL via AP

Verlede Donderdagoggend het die internasionale media dit uitbasuin: Populisme het ʼn bloedneus in Nederland gekry. Die huidige eerste minister, Mark Rutte van die vryemark gesinde VVD, is op CNN, BBC en in koerante van New York tot in Berlyn as die groot oorwinnaar, wat regse nasionalisme ʼn bloedneus gegee het, beskryf.

Angela Merkel het haar vreugde uitgespreek dat Nederland nie sy rug op die Europese Unie gekeer het nie. Politieke kommentators het na ʼn lang nag, waartydens die byna 13 miljoen stemme getel is, glimlaggend ontleed hoe Nederlanders die voortou geneem het met die verwerping van ekstremisme, nasionalisme en identiteitspolitiek.

Wat het regtig verlede week in Nederland gebeur? Het Nederlandse kiesers die Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders verwerp? Het Nederlanders hul rug op identiteit gekeer en ten gunste van minder grense en meer magte aan die Europese Unie gestem?

In ʼn land waar 28 partye aan ʼn verkiesing deelneem, 13 setels wen en die grootste party slegs 21% van die stemme kry, is dit onmoontlik om eenvoudige gevolgtrekkings oor die uitslag te maak.

Mark Rutte verdien krediet. Hy sal waarskynlik binnekort tot ʼn derde termyn as eerste minister van Nederland aangewys word. Dit op sigself is reeds ʼn uitsonderlike prestasie. Sy party het wel 8 setels minder gekry, maar Rutte verdien die meeste krediet vir die meesterlike wyse waarop hy tydens die verkiesingsveldtog met slim retoriek teen massa-immigrasie en meer magte vir die Europese Unie na regs beweeg het, om uiteindelik letterlik honderde duisende stemme by Geert Wilders weg te vat.

Wilders se PVV het vir maande lank voorgeloop in die peilings. Oor die afgelope drie maande het beide die regerende VVD en die Christen-Demokratiese Appél van Sybrand Buma egter na regs beweeg en talle standpunte van Wilders hul eie gemaak om sodoende veld te wen. Die bekende kommentator, Jelte Wiersma, skryf in Elsevier Wilders is die groot wenner van die verkiesing. Hoewel die PVV swakker gevaar het as wat die peilings voorspel het, het hy van 15 tot 20 setels gegroei en sy stemtotaal het van 950 000 tot 1,3 miljoen toegeneem. Die belangrikste element van Wilders se oorwinning lê egter nie in die aantal stemme en setels wat die PVV gewen het nie, maar wel in die wyse waarop die PVV die agenda van die Nederlandse verkiesing beïnvloed het.

Kwessies soos immigrasie, die invloed van die Islam op die Nederlandse kultuur, wat Nederlandse identiteit vandag behels, die belangrikheid van grense en die soewereiniteit van EU-lidlande, was hooftemas tydens die verkiesingsveldtog en is bykans almal temas wat deur Wilders en sy PVV op die voorgrond geplaas is. Die meeste Nederlandse partye het meer skepties oor die Europese Unie geraak en groot partye, soos die VVD en CDA, het sterk uitsprake teen massa-immigrasie gemaak.

Nederland het verlede week na regs beweeg, nie net weens die vyf setels wat die PVV bygekry het nie, maar ook weens die wyse waarop Wilders talle partye om hom na regs gedwing het. Wilders sal nou die hoof opposisieleier van Nederland wees. Enigiemand wat dink dat hy die verkiesing verloor het of dat die verkiesingsuitslag ʼn verwerping van die PVV se standpunte is, sal baie naïef wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Karoobossie ·

Jaco jou kommentaar is verfrissend in die kol! Jy mag maar

Sebastiaan ·

Interessante, alternatiewe perspektief op die hoofstroom-media se skaapgeblêr

Andries Erwee ·

Jaco Kleynhans dit is regtig eensydig om na een verkiesing te kyk en daaruit n tendens te wil aflei. Daar was wyd verwag dat Wilders selfs die verkiesing kon wen en hy het inderdaad 5 setels meer gekry as in 2012. Wat jy uitlaat is dat hy 5 minder as in 2010 gekry het. op die heel beste kan daar dus gese word dat sy agteruitgang gestop is.

Boerseun ·

Dankie Andries, ons kan ook BBC lees.

Jaco gee n ander kant as die res van die eensydige ontledings wat wereld wyd gedoen is. Selfs ou Leopold moes toegee dat daar n skuiwing na regs was.

Paul ·

Andries, het jy opgelet na wat Jaco in werklikheid geskryf het?

Hy skryf dat dit nie genoeg is om na die kiesprestasie van Wilders se party te kyk nie, en dat die groter invloed was dat Wilders dit reggekry het om partye soos die VVD en CDA verder na “regs” te trek.

Leendert ·

Ai, en dit laat my dink aan wat hier by ons aangaan, Maimane en sy DA het weer al meer links beweeg, die ANC se beleid nou bykans net so oorgeneem. Hy is ook nie die regte ou vir die DA nie, net ‘n leier in naam.

Sakeman ·

Superryk sakemanne beheer die media, en die media beheer die massa stemmers se koppe. Liberaal is slegs die belang van hierdie groot sakemanne, hulle soek een wereld, een taal, geen geloof, om hulle mark so groot moontlik en met so min moontlik barriers to entry te kry.

John ·

Maimane is die ANC se dominee. Dis al. Die eerste ou in die DA wat uitgevang word vir misdrywe en die vrome ds word ge’fire’ en die DA verdwyn in die niet. Zille het aanhoudend swak keuses gemaak vir leiers en wou ongelukkig die ‘white queen’ speel. Haar joernalistieke poging om Steve Biko as verontregte te ontwerp en die wit polisie as boewe uit te maak, het na jare na haar terugekeer op dieselfde dag wat sy monument onthul is… Dit kom daarvan… soos die oumense sou se.

Jcwf ·

Die (eurokritiese) VVD het 8 verloor en die kabinet Rutte II 34.

Daarvan het (die euroskeptiese / anti-EU) Wilders net 5 gekry en dus het hy nou steeds minder as hy vroe”er reeds gehad het.

Die ander 29 setels het gegaan na pro-EU partye soos CDA en D’66 en GroenLinks waarmee Rutte nou moet probeer saamwerk.

En julle noem dit “na regs verskuif”?

Is onderwys in SA nou so sleg dat julle nie meer kan reken nie? Nederland het pro-EU gestem… Die hele Nexit-gepraat is net Putin-twak.

Hector Jooste ·

Met Wilders se skaamtelose vryery na die Gay-stem in Nederland sal ek hom alles behalwe “regs” noem!

Vrolik ·

En wat laat jou dink dat daar nie ook duisende “regse” Gays is nie????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.