Geld kom die land binne, maar skuld styg

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Buitelandse beleggings het Suid-Afrika binnegestroom, maar dit is nog heeltemal te min om op te maak vir die miljarde rand skuld wat die land het.

Suid-Afrika is ook nog baie ver van pres. Cyril Ramaphosa se mikpunt dat ons oor drie jaar onder die voorste 50 lande op die Wêreldbank se mededingingsranglys moet wees.

Direkte buitelandse beleggings het toegeneem van $1,3 miljard in 2017 tot $7,1 miljard (R98,6 miljard) in 2018, Dit is ‘n toename van net duskant 450%.

China het verlede jaar R193 miljard aan nuwe beleggings in die vooruitsig gestel. Een van die grootstes is vir die R11miljard-fabriek in Coega se hawe. Saoedi-Arabië is voornemens om net soveel in die energiesektor te belê en BMW het dieselfde plan.

Maar net Eskom se skuld staan op R420 miljard en die SAL s’n op R13 miljard. En die Wêreldbank se verwagte groeikoers is maar ‘n karige 1,3% in 2019.

Peter Attard, hoof van Intellidex se kapitaalmarknavorsing, sê geen ander land het nog in Ramaphosa se voorsiende drie jaar ‘n sprong van 82ste tot 50ste op die Wêreldbank se (Ease of Doing Business) EDB-ranglys vir beleggings geklim nie.

Suid-Afrika se 82ste plek plaas hom darem bokant die halfpadmerk uit 190 lande. In 2011 – aan die begin van die Zuma-vergrype – was die land op nr. 35. Afrikalande wat beter presteer, sluit in Mauritius (20ste), Rwanda (29ste), Marokko (60ste) en Kenia (61ste).

Die topvyflande waar daar die maklikste belê word, is Nieu-Seeland, Singapoer, Denemarke, Hongkong en Suid-Korea.

Ons moet begroot vir skuld

Die land se munisipaliteite skuld sowat R34 miljard aan die elektrisiteitsverskaffer Eskom. Die grootste deel van Eskom se laste kom egter van die twee melkkoeie Medupi en Kusile. Medupi se koste het van R24,9 miljard tot R145 miljard geëskaleer en Kusile s’n van R80,7 miljard tot R161,4 miljard. Saamgetel gee dit R200,8 miljard, en nie een van hulle lewer al naastenby die voorsiene elektrisiteit nie.

‘n Groot deel van die begroting moet dus voorsiening maak vir Eskom en die SA Lugdiens (R13 miljard) se skuld, terwyl die bevolking smeek om werkskepping, verhoogde minimumlone en welsynstoelaes, beter skole, hospitale en dienslewering.

Die ekonoom Dawie Roodt noem ook die korrupsie in staatsbeheerde instellings en sê daar is 600 000 oortollige staatsamptenare wat die staatskas leeg melk.

Desondanks word 600 onervare polisielede in die geheim in bestuursposisies in die SAPD opgeneem en kry 136 oud-MRK-lede posisies van kapteinsrang en hoër in die weermag.

Kan ‘n mens nog lig vir die land sien as jy hierby voeg die agterstande by skole, paaie, riolering en die sowat 60% wanfunksionerende munisipaliteite wat reddingsboeie moet kry? En dis maar ‘n klein deeltjie van die agteruitgang onder die afgelope 25 jaar se kaderontplooiings.

Tegniese skole

Een van die ontstellendste bevindinge is dat byna 10 miljoen van die land se bevolking hulself nie kan onderhou nie. Nuwe geluide word nou gemaak oor tegniese skole en tegniese kolleges, wat onder Kader Asmal se katastrofiese bewind teen enorme en voortstuwende kostes deur universiteite met lae slaagsyfers vervang is.

Dit lyk of daar weer nuut gedink word aan briljante kinders wat nie akademies aangelê is nie, maar deur dieselfde skoolstelsel moet worstel. As tegnici kan hulle goeie salarisse verdien en die land tot iets hoër as rommelstatus voer.

Lande soos China, Japan, Korea en Arabiese lande beskik oor tegnies vaardige mense en produseer vandag van die wêreld se beste damme en vervoerstelsels.

Hopelik word ‘n paar noodsaaklike regstellings ná die verkiesing gemaak as Ramaphosa nie so deur sy party se verdeeldheid gekortwiek word nie.

Die jongste interne meningspeiling van die DA wat gewoonlik, net soos die ANC se interne peiling, by verre die akkuraatste politiekpeiling in die land is, toon glo dat die ANC se steun in Gauteng tot onder 50% gedaal het en dit lyk of die verdeelde DA beter kan vaar as wat algemeen verwag word.

Al meer swart meningsvormers begin teen die ANC standpunt inneem. Dit lyk of daar nuwe insigte op voetsoolvlak aan die posvat is. Kan dit help tot besinning deur die ANC en sy magtigste alliansievennoot, Cosatu? Kan koalisies – soos dié sukkelendes in die Johannesburg- en Tshwane-metrorade – in ‘n breë Afrika-demokrasie werk?

Voetnota:

Die Engelse, Kanadese en Amerikaanse billion (nege nulle) is in Arikaans, Nederlands, Duits en Frans ’n miljard.

Die entrepreneur dr. Anton Rupert het die verskil tussen R1 miljoen en R1 miljard so verduidelik:

  • As jy R1 miljoen het en elke dag R10 000 bestee, sal dit 3½ maande hou.
  • As jy R1 miljard het en daagliks R10 000 uitgee, sal dit 274 jaar lank hou.

Dit skep die prentjie vir Eskom se skuld van R420 miljard.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

alida ·

Wat help beleggings en inspuitings aan die wankelende staatsinstansies? NIKS!!! Die mense met die lang vingers is nog steeds in hulle poste en niemand word afgedank nie. Gooi die geld by die punt van die pyp in en die hande staan onder om dit te vang WEG!!!

Annie Webb ·

Enigiemand wat vir SA geld gee, skryf dit seker af as ‘n bydrae tot liefdadigheid. ???

John ·

CR gaan sekerlik voor die verkiesing ‘n haas uit die hoed pluk en dit sal heel moontlik ‘n Arabiese hasie wees… dors en honger met groot winste in die oog… dalk eerder ‘n konyn… een met rooi oè wat olie diep in die aarde, selfs onder in die see, kan sien. Die kroonprins, ja daai een, kuier lekker rond oraloor. Sy koms hierheen sal die 9 nulle laat bokspring voor die ANC en unies se gierige ogies. En raai wat: Teen die volgende verkiesing wonder ons weer waar die foutjie ingesluip het. Daardie jaar sal dit ‘n kaktus wees… uit die Noord-Kaap met baie stekels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.