Geleenthede vir groeiende selfstandigheid te midde van toenemende wanorde

SAvlagNou kan ʼn regering nie meer maak soos hy wil nie want nou het ons ʼn oppermagtige Grondwet en dus ʼn volskaalse regstaat. Selfs ʼn regering met die oorweldigende steun van die ANC is onderhorig aan die Grondwet en moet dit gehoorsaam. So het die prediking vir etlike jare ten aanvang van die grondwetlike oorgang in die middel 1990’s opgeklink. Tipies van ʼn prediking het ʼn evangeliese taal om geloof in die Grondwet in te skerp hoogty gevier.

Die Grondwet is “oppermagtig”, die regte daarin is “verskans” en gevolglik is al ons belange “gewaarborg”. En as jy steeds twyfel, onthou dat jy jou vertroue op die onafhanklike regbank kan plaas. Boonop is die Grondwet “finaal”. Niks kan dit opsy stoot nie. So het die Grondwet die meesterkonsep – die die sentrale begrip – geword wat die openbare gesprek oorheers het.

Die geloof was dat die oppermagtige Grondwet die politiek in ooreenstemming met die Grondwet se voorskrifte sou stuur. Die Grondwet, is geglo, beskryf derhalwe as’t ware hoe die politiek daaruit sien en voorspel hoe dit in die toekoms gaan ontplooi, naamlik in ooreenstemming met dit wat die oppermagtige Grondwet se bepalings beveel.

Die geloof in die Grondwet is met (sektaries-) religieuse onverdraagsaamheid afgedwing. Gevolglik is die enkele twyfelstemme wat die geldigheid van die aansprake van die oppermagtige Grondwet betwyfel, sonder meer stilgemaak. Die twyfelstemme was kettery wat angs ingeboesem het dat die grondwetlike geloof ongeldig was. Hierdie kettery moes die swye opgelê word. As een van die “ketters” het ek eerstehandse ervaring hiervan. Sake het intussen ingrypend verander. Hier en daar is daar dalk nog ʼn wêreldvreemde constitutional lawyer wat dit predik of dalk ’n oud-politikus wie se politieke nalatenskap op die gewaande oppermag van die Grondwet gebou is of ʼn joernalis met sterre, strooi of iets dergeliks in die oë, wat die oppermagtige grondwetlike geloof bely.

Oor die afgelope 20 jaar het die Grondwet ver na die agtergrond verskuif en is dit lank nie meer die meesterkonsep van die openbare gesprek nie. Die geloof daarin is as ongegrond bewys en die enkele oënskynlike ketters van weleer was reg en die leërskare van grondwetlike apostels was klaarblyklik verkeerd.

Hoe kon die leërskare so gedwaal het? Die rede is dat die Grondwet – enige grondwet – hoe hoog sy oppermagtige aansprake ook al is, ten slotte soos enige reg primêr ʼn stel norme en nie ʼn stel feite is nie. Die “oppermagtige” Grondwet ding mee en is dikwels uitgelewer aan ʼn falanks van sosio-politieke kragte wat sterker as die Grondwet self is. Hoe belangrik die Grondwet in daadwerklike terme is, moet derhalwe op grond van twee glyskale beoordeel word.

Op die eerste glyskaal kan daar aan die een kant groot eenstemmigheid bestaan oor hoe die norme vertolk moet word, maar aan die teenoorgestelde ent van die skaal kan daar ernstige onenigheid  heers oor wat daardie norme beteken.

Op die tweede glyskaal kan daar aan die een kant uiterste en aansienlike gehoorsaamheid aan die Grondwet bestaan, maar kan daar aan die teenoorgestelde kant uiterste en ernstige ongehoorsaamheid heers.

Hierdie sosio-politieke kragte het dikwels die volgende uitwerking:

Eerstens kan dit aan die Grondwet ʼn totaal onverwagse, selfs ontstellende betekenis verleen, wat op die stadium toe die Grondwet aanvaar is, glad nie voorsien is nie.

Tweedens kan die kragte die Grondwet in beduidende mate opsy skuif. Die uitwerking daarvan is dat nie die Grondwet self nie, maar hierdie ander kragte, die gang van die politiek stuur. Die Grondwet se bewoording bly in die proses onveranderd. Te oordeel na die bewoording word die skyn derhalwe verwek dat die Grondwet steeds oorheersend is. Te oordeel na die daadwerklike politieke gebeure is dit egter uitgerangeer. Vanuit daardie gemarginaliseerde posisie speel dit soms steeds ʼn rol, maar word dit dikwels bloot opportunisties ingespan om die een of ander politieke doelwit te bereik of is die Grondwet gewoon ʼn magtelose getuie van sy eie passiewe irrelevansie.

Dit is presies dít wat ons “oppermagtige” Grondwet te beurt geval het. Die Grondwet was heel voorspelbaar reg vanuit die staanspoor uitgelewer aan die wyse waarop die ANC as die oorheersende krag in die Suid-Afrikaanse politiek daarop sou reageer. Voorspelbaar inderdaad, want die ANC het reeds lank voor die aanvang van die grondwetlike oorgang nie ʼn geheim van sy voornemens gemaak nie. Hy het herhaaldelik sy voorneme verklaar om wat hy genoem het ʼn nasionaal-demokratiese rewolusie (NDR) deur te voer of in ander terme die ingrypende transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing te bewerkstellig. Daarvolgens moes alle sektore van mag en invloed onder die beheer van die party geplaas word: nie net die wetgewer en die uitvoerende gesag nie, maar ook die howe, dergelike grondwetlike instellings, die staatsdiens, polisie, weermag, burgerlike instellings, die professies, onderwys, sportliggame – trouens alle sfere van openbare mag en invloed. Daarvolgens moes daar ten slotte ook ʼn ingrypende herverdeling van rykdom wees.

Namate die ANC sy greep op die Suid-Afrikaanse staat vestig, sien ons hoe hy sy voorneme uitvoer. In reaksie hierop is daar ʼn aantal politieke kommentators wat die afgelope jare die NDR uitlig as die eintlike sentrale uitgangspunt op sterkte waarvan die Suid-Afrikaanse samelewing ooreenkomstig die ANC doelwitte omgekeer en ingerig word. Die NDR blyk dus die Grondwet opsy te geskuif het. Vir sover daar ʼn meesterkonsep en oppermag bestaan is dit derhalwe nie meer die eertydse oppermagtige Grondwet nie, maar eerder die oppermagtige NDR of oppermagtige transformasie.

So oorheersend het die NDR en transformasie geword dat daar nou herhaaldelike oproepe is dat ons die Grondwet daarteen moet beskerm. In ʼn klaarblyklike erkenning van die Grondwet se verlies aan oppergesag, is dit derhalwe nie meer die Grondwet wat beskerming aan ons verleen nie, maar ons wat die verlamde, onmagtige Grondwet moet beskerm.

Natuurlik speel die Grondwet ʼn rol, maar die rol is nooit outonoom nie. Die Grondwet spreek nooit vanself nie. Die Grondwet word vertolk deur die howe, die staatsdiens en die regering en soos alle vertolkings is hierdie vertolking ook nie neutraal nie. In dié geval word die Grondwet vertolk aan die hand van die uitgangpunte en doelwitte van die regerende elite onder die beheer van die ANC, met gevolge wat vir diegene buite die elite onbillik voorkom en tot ernstige verontwaardiging stem. Die AgriSA-uitspraak van die konstitusionele hof oor die ontneming van private mineraalregte is ʼn treffende voorbeeld hiervan. Die Renate Barnard-uitspraak was nog ʼn beter voorbeeld. Vir Tim du Plessis (“Gelykheid hoër geag as vryheid”, Rapport Weekliks, 7 September 2014) was hierdie uitspraak soos ʼn hamerhou teen die voorkop, ook omdat dit aldus Du Plessis so gemaklik in pas was met die ANC se beskouings oor “regstellende aksie”. Marinus Wiechers (“Nog van koers af ondanks goeie wet” in dieselfde uitgawe) was ewe onthuts oor die uitspraak.

Op die keper beskou is dié twee kommentators eintlik onthuts oor die meer algemene verskynsel naamlik dat die transformasie en die NDR die Grondwet opsy geskuif het. Die hofuitspraak is maar net ʼn simptoom van die breër verskynsel. Die Grondwet is derhalwe nie werklik oppermagtig nie en word eerder gebruik as ʼn instrument vir transformasie ooreenkomstig die ANC se beskouings en aspirasies.

Ofskoon die NDR en transformasie gewigter as die Grondwet is, sou dit egter verkeerd wees om dit nou weer as die nuwe vervangende meesterkonsep te beskou. Net soos die Grondwet nie oppermagtig was nie en nie die openbare orde kon beheers nie, is die NDR en transformasie, hoewel kragtig, ook nie sterk genoeg om dit te doen nie, want dit is ook in ʼn stryd teen ʼn stel kragte gewikkel wat die oppermag van transformasie en die NDR verhoed. Daaronder tel:

  • Die vervalle openbare sektor wat die ANC se vermoë om transformasie deur te voer soos hy graag wil, bemoeilik;
  • Die hewige interne tweespalt en mededinging binne die ANC wat dermate met groeiende geweld gepaard gaan dat prof. Karl von Holdt, sosioloog van Wits, in ʼn belangwekkende artikel verwys na Suid-Afrika se “oorgang na ʼn gewelddadige demokrasie”;
  • Die groeiende mobilisering van die burgerlike gemeenskap met sterk organisasies wat toenemende onafhanklikheid van die vervallende staat en toenemende selfstandigheid meebring. Afrikaners is waarskynlik die toppresteerders in hierdie verband. Die organisering van ʼn groot gematigde middelgrond onder Afrikaners rondom Solidariteit, AfriForum en die FAK vorm reeds ʼn gedugte krag hoewel die groot hef aan natuurlik nog voorlê. Talle terreine word ook gedek en sal in die toekoms gedek moet word: onderwys, maatskaplike en gesondheidsorg, vorme van korporatiewe en territoriale (veral proto-stedelike) selfstandigheid en private sowel as openbare veiligheid.

Die slotsom is dat daar nie ʼn enkele meesterkonsep of oppermagtige krag is waar rondom die Suid-Afrikaanse openbare orde ingerig word nie. Die Grondwet is dit nie, en transformasie is in weerwil van die feit dat dit die Grondwet opsy geskuif het, dit ook nie. Die Suid-Afrikaanse openbare “orde” word eerder gekenmerk deur verbrokkeling in ʼn veelvoud van kragte. Die sterkste is transformasie (en die NDR). Transformasie is bowendien gevaarlik omdat dit totalitêre aspirasies het en nie minderhede verdra nie. Oppermagtig is dit egter nie want dit moet meeding teen gemeenskappe wat hulself organiseer, bemagtig en toenemend selfstandig raak. Dit is in beduidende mate in gemeenskappe se eie beheer om hierdie groeiende bemagtiging en selfstandigheid te vestig. Soos blyk uit hulle toenemende konstruktiewe organisering is Afrikaners besig om vindingryk by die nuwe Suid-Afrika aan te pas, nie deur primêr hulp by die Grondwet te soek nie, ook nie deur die gewaande oorweldigende NDR afgeskrik te word nie, maar deur uit die bronne van die eie gemeenskap selfstandigheid uit te bou.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

bert ·

Let ook op hoe die ANC toenemend die Freedom Charter as dokument verhef bo die grondwet.

Henri ·

Korrek. Die freedom charter word gesien as die ware grondwet agter die grondwet. Die ware grondwet in die lig waarvan die grondwet interpreteer moet word. En die Zuma aanstellings op die grondwethof suen dit ook so. Ons kan net sowel ons ‘sham’grondwet (skeingrondwet) afskaf

Bruno Stef ·

Koos dit is n pragtige samevatting wat die gewone wat ouens wat nie polities georienteerd is nie maklik sal verstaan.Ek sal maar soos daardie Kaapse klong se, Maar so n bek moet JAM kry doen so voort.

BoelieBrand ·

Goeie ontleding, Koos.

Ek kan onthou hoe ek ‘n paar jaar terug die opmerking in ‘n gesprek my verbasing uitgespreek het oor die hoeveelheid Afrikaners in die Wesrand wat nie skaam is vir hulle herkoms nie. ‘n Kaalkop prokureur het ewe biddend, en ewe ongevraagd, begin lostrek en die grondwet se lofsange begin sing, kompleet met die “oppermag” van die grondwet se gesag, die vryhede van minderheidsgroepe wat daarin “verskans” en daardeur “gewaarborg” word.

My repliek was dat grondwette en manifeste soos konfetti wapper oor die lyke van miljoene in Afrika.

Ek was nie baie populer gewees vir die res van die aand nie.

Pieter Roux ·

Goed gestel. Ons sal net graag wil sien dat Solidariteit nou ook begin wakker skrik en ophou om heeltyd die Gronwet te wil ophemel asof dit ons nuwe Bybel is. Hul kan sommer ook om die bewerkers daarvan, soos FW, lof toe te swaai en alewig ‘n platform te gee. Miskien dan kan ons almal begin aanbeweeg na vryheid vir ons volk.

Johannes ·

Pieter, Solidariteit is die einste beweging wat ook jou belange beskerm, maar jy praat met min respek af na hulle. Jy is duidelik oningelig oor wat en hoekom hulle dinge doen. Wat anders as die grondwet en die howe dink jy kan hulle gebruik om die onregverdighede van die ANC hok te slaan? Wat het jy al vir die Afrikanersaak gedoen en hoe het jy te werk gegaan? Ek wil ‘n vriendelike beroep op jou doen om eerder die Solidariteit beweging te ondersteun en nie soos ‘n anti-Afrikaner teen hulle te praat of negatiewe opmerkings te maak nie. Ons het jou nou ook nodig in ons stryd teen die Afrikaner Haters.

Zirk ·

Soos Solidariteit en Helpende Hand in gewildheid toeneem weens die goeie werk wat hulle doen asook beter befondsing, raak dit ook ‘n groter bedreiging vir die ANC oligargie. Mag die organisasies net van krag tot krag gaan want dit is dalk binnekort ons enigste redding. Voorspoed, sterkte en doe so voort.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.