Geloftedag 2020: Die storie van Afrikaners – ons sal self

Dirk Hermann.

In Afrika is hulle gevorm. Hulle het nie so hier aangekom nie. Hulle het hier geword. Dis die storie van Afrikaners…

Eers het Vryburgers, met hul gesigte weg van Europa, na Afrika gedraai. Vry van die Kompanjie.

“Ons is niemand se onderdane nie, die begin van die republikeinse strewe. Ons sal self.”

Hulle is ʼn mengsel van Hollandse handelaars, Duitse soldate en Franse Protestante wat ʼn keuse gemaak het vir ʼn harde Afrika-lewe. ʼn Klomp hardekoppe word toe een. ʼn Unieke mengsel. Protestantse werksetiek, roeping, werk en verantwoordelikheid vermeng in hulle. ʼn Kragtige kombinasie.

Hulle verkeer onder druk. Retief skryf in sy manifes: “Ons sien geen uitsig vir vrede en geluk vir ons kinders nie.” Ons soek vrede en grond. Die oorlog op die Oosgrens. Tientalle plaasopstalle is verwoes. Boere is aangeval en vermoor. Die grensoorlog het 6 000 boere geruïneer.

“Ons trek,” sê die Boere. “Tot waar?” word gevra. “Anderkant uit!” sê die oom. “Hoekom?” vra die magistraat. “Want ons sal self.”

Die boere trek die berge af tot in Natal. “Ons soek grond. Niemand mag oor ons heers nie.” Hulle trek onder moeilike omstandighede. Swaarkry, siekte, wilde diere en aanvalle van ander volke. “Ons beur voort, want ons sal self.”

Retief onderhandel vir grond tussen die Tugela- en Umzimvuburivier. Bring terug my beeste wat gesteel is van Sekonyela, vra Dingaan. Retief het dit gedoen, ʼn wettige traktaat. Nie gevat, gebuit of geroof nie. Maak dood die towenaars, bulder die Zoeloekoning. Retief en 70 manne word vermoor. As vernedering met klippe en stokke doodgeslaan. ʼn Verraderlike daad.

Die hen moet op die nes doodgemaak word en impi’s word na die laer gestuur. Bloukrans en Weenen – die grootste kindermoord in een nag. Meer as 500 mense, 185 kinders ingeslote, is koelbloedig vermoor met ʼn barbaarsheid waarvan ʼn kuns gemaak is. ʼn Toneel van dood en verwoesting. Die smarte is groot. Lenie Retief kry die nuus van haar man en seun se moord. Is daar hoop? Sy skryf later vir haar broer. “Bring vir my ʼn kissie vrugtebome. Ons gaan plant in ons nuwe land. Ons sal self.”

Pretorius vertrek met 464 mans en 64 waens op ʼn strafekspedisie teen Dingaan. ʼn Laer word getrek. Dis veilig in ʼn laer. Uit die laer word die Gelofte voorgelees: “Hier staan ons, voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen.” Psalms word gesing. Die laer word verdig. Waens word gekoppel. Takke gepak. Houtraamwerke wat veghekke genoem is, is met rieme tussen en onder die waens vasgemaak. Dit moes diegene keer wat onder die wa wou inkruip. Die Voortrekkers het doringtakke aan die veghekke vasgewoel om dit nog meer ondeurdringbaar te maak. Die krag van die laer…

“Ons sal self.”

Die laer word ʼn belangrike element in die storie van die Afrikaner. Die skarnier tot oorlewing was die laer. Vroegoggend op 16 Desember bars die slag los. Die Zoeloes val aan. Twintig Zoeloes teen een Voortrekker – 3 000 Zoeloes dood, geen sterfgevalle aan Voortrekkerkant nie. Zoeloe-boodskappers neem die slegte tyding van hul verpletterende nederlaag na Dingaan.

Die Voortrekkers hou ʼn dankdiens ná die geveg. Pretorius roep almal bymekaar om God vir die oorwinning te dank, want “die oorwinning was uit Gods hand.” Sarel Cilliers lei die dankdiens en gee die Here die eer vir die oorwinning. Die Zoeloes is oorwin. Dingaan vlug. Op Umgungundlovu word die bewaarde traktaat op 21 Desember deur Andries Pretorius en sy manne gevind. Tog is dit die einde nie. Die Engelse beset weer. So werk dit elke keer. Boere maak mak en Engelse vat.

“Ons trek,” sê die Afrikanervrou, “kaalvoet as dit moet, want ons sal self.”

Die Boere trek oor die berge en vestig twee republieke. Die ZAR, 1852 en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, 1854. Die Republieke was maar arm. Meesal boere en pioniers.

“Ons het weer ons plek gekry. Ons hys ons vlae, want ons sal self.”

Die Engelse kom weer en vat ons Republiek. Die Boere veg teen die kolonialiste. Hul uniform was plaasdrag en Marthinus Nicolaas Ras bou ʼn kanon uit wabande. Die begin van Suid-Afrikaanse artillerie. Hulle wen by Majuba. ʼn Afrikavolk oorwin ʼn koloniale mag. Die koningin sweer wraak. Die Vierkleur wapper weer.

“Ons sal self.”

Die koningin veg weer en die Boere veg terug – 50 000 Boere en 450 000 Engelse. Die wêreld se magtigste militêre ryk teen die klein Republieke. ʼn Lang en uitgerekte oorlog. ʼn Tweede Vryheidsoorlog. Vroue en kinders word in konsentrasiekampe gegooi, 33 000 dood.

“My moeder, my moeder, ek het tog so honger;

Kom gee tog vir my so klein stukkie brood![1]


Die moeder ontvang met vermagerde hande

Haar deeltjie oplaas – maar die kindjie was dood.”

Plase is afgebrand. Boere word bannelinge.

“Dis ʼn balling gekom
oor die oseaan,
dis ʼn graf in die gras,
dis ʼn vallende traan –
dis al.”[2]

Die koningin raak obsessief oor die Boere. Op haar sterfbed vra sy: Hoe gaan dit in Suid-Afrika? Die Boere verloor die oorlog, maar staan op. Vroue trek ʼn ploeg en saai ʼn emmer koring. As Pa terugkom uit Ceylon is daar ʼn oes op die land. Hulle werk hulself uit ʼn krisis uit. ʼn Nuwe begin.

“Ons sal self.”

Die Eerste Wêreldoorlog breek uit. ʼn Rebellie volg. “Ons wil nie vir Engeland veg nie.” Die Boere beland in armoede en skuld. Hulle begin die Helpmekaar-beweging. Bou Sanlam, Santam en later Volkskas. In die 1930’s is hulle armblankes. Die armoede is groot. Hulle begin die Reddingsdaadbond, Federale Volksbeleggings, die Voortrekkers, die FAK en bou ʼn monument.

“Ons sal self.”

Hulle was gewone arbeiders, mynwerkers, spoorwegwerkers en het swaar gekry. Werkloosheid het hoogty gevier. Hulle maak ʼn taal, vertaal die Bybel en moderniseer binne een geslag. Hulle gaan bly in die stad, maar word nie stedelinge nie. Hulle hunker na die ruimtes – grondmense, elkeen met ʼn stuk ingebore plaas. Hulle regeer weer. “Nooit weer gaan daar oor ons geheers word nie.” Hulle bou ʼn moderne staat en ekonomie. Yskor, Sasol, Evkom, nywerhede en myne word deur die wêreld se beste ambagslui tot stand gebring, Afrikaners.

“Ons sal self.”

Hul troepe is grens toe gestuur en beskerm die land. Hulle antwoord op die roepstem. Hul seuns het teen die Kubane en die magtige Rusland geveg en baie van hulle het hul lewens verloor. Die polisie trotseer binnelandse terreur en geweld en maak Suid-Afrika veilig. “Ons sal lewe, ons sal sterwe.” Dié seuns is nou ooms. Hul offer wat gevra is, word ontken. Hulle verdien ʼn saluut. Suid-Afrika word geboikot en bou die G6.

“Ons sal self.”

Dit is die storie van Afrikaners. Die unieke volk in Afrika. Hulle is anders. Hulle het swaar gekry. Hulle het opgestaan. Hulle het ʼn unieke Afrika-identiteit. Anders as ander, want “Ons sal self”. En vandag, oor die hele Suid-Afrika kom duisende mense by honderde Geloftefeeste bymekaar.

Hulle hoor van ʼn gelofte, geloof en vertroue. Hulle hoor van trek en die krag van ʼn laer. Hulle hoor van swaarkry en opstaan, gebed en vorentoe gaan. Hulle hoor van kaalvoet oor die Drakensberg en ʼn strewe na vryheid.

Hulle hoor van krisisse in die verlede, groter as nou. Hulle weet ons het oorwin en sal ook weer. Hulle hoor wie ons is, ons doodkry is min. ʼn Boer maak ʼn plan.

As iemand jou dus vra: “Het die Boere ’n toekoms in Afrika?”

Antwoord dan beslis terug: “Ons sal self!”

[1] Eerste twee reëls en laaste twee reëls uit Totius se gedig “In die kamp”.

[2] Tweede vers uit Totius se gedig “Dis al”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

… ja, en daar by Bloedrivier, ek onthou dit so goed, het ons trekkers vir mekaar gesè: “Ons sal self, mense. Bog met bangwees. Ons het vandag nie eens meer die hulp van die Vader nodig nie. Ons kan dit alleen doen.” En kyk nou net hoe voorspoedig is ons vandag. Geen bedreiging nie. Dis waar. Ons sè net weer: Ons sal self en wa-la. Die vyand is oorwin.

Susan ·

Ek glimlag oor jou kommentaar Annie. Maar jong, jy onthou verkeerd! Ek onthou weer die boere het vir mekaar gesê: ” Broers, ons doppie is geklink, tensy…” En toe bid hulle ernstig, en dikwels. En lê ‘n gelofte af, wat vandag nog geëer word. Ek dink nie ons kán self nie, en geseënd is die Afrikaner wat dit weet, en sy vertroue in God stel.

OW ·

Uitstekende skrywe Dirk.Ek stem met jou saam dat ons nog altyd ‘n hardwerkende nasie was en nog steeds is vandag.Soos jy tereg verwys na wat alles oor jare deur harde werk bereik is.Ten spyte van al hierdie goeie dinge wat bereik is,en die ongekende groei wat oor jare plaasgevind het,sal ek graag wil weet:Hoekom het die Afrikaner hom dan voor 1994 uit sy politieke mag wat oor dekades gestrek het,uit geonderhandel?Wat se politieke stelsels bly daar vir die Afrikaner oor?Kan daar dalk in ‘n toekomstige skrywe meer oor genoemde vrae uitgewei word.Groetnis.

Frans ·

Die antwoord sal jy in die Bybel kry.Daar staan dit geskrywe:Psalm 146 vers 2
Moet op prinse nie vertrou nie,
by wie niemand heil kan vind –
op die mens jou hoop nie bou nie;
want as God hul gees ontbind,
keer hul na die aarde weer
en hul raadslag stort terneer.
Dit is wat die Afrikaner gedoen het toe hy De Klerk vertrou het met hul toekons en wat met sy wigte en teenwigte telig bevind is en toe op die ou einde nie net sy volk se toekoms maar ook sy gasheer se huwelik verongeluk het.

Heinrich ·

Baie goeie opsomming. Ek het egter die die slot gemis waar ons oorgegee is aan die kommunistiese massa waarteen daar geveg was, waar ons ons ruggraat verloor het en gemaklik oorgegee het aan politieke korrektheid. Ek het gemis waar baie van ons ons geloof op gegee het en eerder Sondae rugby kyk en die rug gedraai het op ons Here. Ek het gemis wat sommiges opstaan om weer te ‘ons sal self’ maar ander gevou het onder ‘white guilt’. Ek het die slot gemis waar almal weer saamstaan as een, en oor onsself kan heers.

Michael ·

Heinrich ons is nou te materialisties. Ons gee nie meer om vir mekaar as ‘n volk nie. Dit gaan net oor eie gemak en om te buig voor die geldgod. God word net nog oor ons lippe genoem, maar ‘n lewe toegewy aan Hom bestaan net hier en daar. Wat ‘n trotse geskiedenis. Indien net 20% van ons kan saamstaan, ons aan God onderwerp dan sal ons weer oor onsself kan regeer. Maar helaas dit wil voorkom of ons nie kan wag om op mekaar te trap nie. In ‘n gesprek in ons plaaslike polisie kantoor tydens “lockdown” het die swart polisie beamptes my gewaarsku teen my eie volk wat mekaar weggee indien hulle sien hul bure het besoekers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.