Geloftedag: Dat ons aan ons kinders sal sê…

kindersHierdie artikel deur dr. Dirk Hermann is deel van Maroela Media se reeks artikels oor Geloftedag. Klik hier vir vorige artikels. – Red

Dr. Dirk Hermann, het vanjaar op Geloftedag op Bokfontein buite Brits gepraat. Hier volg ʼn kort verwerking van sy sentrale boodskap. – Red.

Op 16 Desember word Geloftedag herdenk by honderde groter en kleiner feeste. Daar is byna nie ʼn distrik, veral in die Noorde, waar daar nie ʼn fees gehou word nie. Vir die afgelope 20 jaar praat ek elke jaar by ʼn ander fees. Lindley, Heilbron, Pretoria, Ermelo, Mosselbaai en oraloor. In sinksale, kerke, onder bome, oral is feeste. Party kamp en hou konsert, party hou perdesport, ander speel jukskei, in die stede word dikwels net kerk gehou en byna oral word gesing. Die feeste se bywoning word nie minder nie, dit word meer.

By al die feeste word die Gelofte afgelê en herbevestig.

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ʼn gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ʼn dankdag soos ʼn Sabbat sal deurbring, en dat ons ʼn huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag en dat ons aan ons kinders sal sê…

Dit is die laaste deel van die Gelofte wat dikwels nagelaat word. Ons sê nie meer vir ons kinders nie. Ons kontrakteur die vertel van ons geskiedenis aan skoolkurrikulums, dokumentêre en media-instellings uit.

Die manier waarop die geskiedenis aangebied word, kan net eenvoudig nie meer vertrou word nie. Die geskiedenis is nie meer ʼn geesteswetenskap nie, maar word gebruik om Afrikaners in ʼn permanente posisie van skuld te plaas. Geskiedenis word ʼn politieke instrument van die oorwinnaars en ons kinders word die slagoffers daarvan.

Afrikaners se geskiedenis word eensydig en simplisties as krimineel uitgebeeld. Vir meer as 350 jaar was oortreders aan die een kant en slagoffers aan die ander kant. Volgens dié weergawe van die geskiedenis was Afrikaners bevoordeeldes die dag toe Van Riebeeck sy voet in 1652 aan wal in die Kaap gesit het. Afrikaners se geskiedenis bestaan hiervolgens uit diefstal en uitbuiting.

Volgens hierdie skewe weergawe van die geskiedenis het Afrikaners baie morele skuld opgebou. Hulle moet hulle skuld betaal en solank die skuld nie betaal is nie, het hulle beperkte regte en moet hulle eintlik dankbaar wees vir die regte wat hulle wel mag geniet. Die regte wat Afrikaners het, is dus nie verdien nie, maar is bloot genade van die slagoffers. Om hierdie slagoffer/skuldenaar-verhouding in stand te hou, word die geskiedenis se propaganda-masjinerie net weer en weer en meer en meer geolie – tot so ʼn mate dat niemand meer werklik weet wat die waarheid is nie.

Die na-apartheidsgeslagte, wat nie apartheid self beleef het nie, moet die polities gelaaide geskiedenisbeeld aanvaar. Jong swart Suid-Afrikaners radikaliseer as gevolg van die oordrewe wyse waarop die benadeling van die geskiedenis aangebied word, en jong Afrikaners worstel toenemend met skuldgevoelens oor die oordrewe wyse waarop die geskiedenis die bevoorregting van wittes, en Afrikaners in die besonder, aanbied.

Geskiedenis moet reg oorgedra word en nie onnodig geromantiseer word deur die draers van die geskiedenis nie. Ander se geskiedenis moet egter ook nie gekriminaliseer word deur die oorwinnaars nie.

Afrikaners moet weer leer om self hulle storie aan hulle kinders te vertel.

My eerste voorgeslag het in 1658 voet aan wal gesit. My familie-storie is ʼn pragtige storie van aanhou, moedhou en geloof behou. Ons familie het ook ʼn hartseer storie van 350 jaar se swaarky. Ons familieverhaal is een van pionierskap, trek, oorlog, konsentrasiekampe, bannelinge en armoede. Ons familie het soet gehad, maar ook baie swaar. Daar was baie reg oor die geslagte en ook baie verkeerd. Die hartseer, geluk, reg, verkeerd alles is deel van wat my gevorm het en alles moet vertel word.

Daar is egter ook ʼn dieper rede waarom ek vir my kinders vertel. In my storie kan ek ook God se bewarende hand raaksien. Hy het oor honderde jare ons spesifieke familielyne bewaar.

Die feit dat God al hierdie familielyne bewaar het, is nie toevallig nie. Aan elkeen van ons word ʼn roeping met ʼn taak opgelê. Dit is hoekom mens soveel erns van roeping moet maak. God se bewaring van familielyne is ook ʼn bewaring van my. Hy het oor honderde jare ingegryp sodat ek gebore kon word en sodat ek my taak op die aarde kan vervul. Dit is hoe belangrik God my, maar ook jou, taak sien.

Uit die feit dat God ons oor soveel geslagte bewaar het, kan ons ook glo in die toekoms. Deur te vertel oor die verlede is dus ook om hoop te gee vir die toekoms.

Doen dus gerus wat die Gelofte vra, vertel vir jou kinders hulle storie. Dit skep kontinuiteit, dit dra waardes oor, dit help hulle om erns te maak van hul opdrag en dit skep ʼn toekomsbeeld.

Wat Suid-Afrika en spesifiek Afrikaners nou nodig het vir die toekoms is stories oor die verlede.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Joe64 ·

Dirk, oulike idee. Maar ons het dit nodig in multimedia formaat want sien. hier aan huis geld niks as dit nie uit ‘n rekenaar kom nie.

Die geskiedenis is geskryf, is beskikbaar. kan ‘n instansie soos solidariteit nie help om dit in digitaal vir die mense oor te skakel nie? Nie noodwendig om geld te maak daaruit nie, maar om die geskiedenis van ons mense oor te dra aan die slagoffers van na 94 se skool geskiedenis.

Sarie ·

Ek stem saam. Die FAK het geskiedenis op hulle webtuiste. Dit moet egter op verstaanbare wyse vir al die ouderdomsgroepe aangebied word.

Ben ·

Gelofte dag is na my mening n BELOFTE wat geheilig en eerbiedig moet word tot aan die einde van die bestaan van die wereld.
UITERS NOODSAAKLIK EN BELANGRIK OM HIERDIE GEDENKDAG EN DATUM OOR TE DRA VIR ONS NAGESLAG OM TE ONTHOU EN OM DIE BELOFTE GESTAND TE DOEN.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.