Geloftedag: Die Filosofie van Selfbehoud

ernst-roets-geloftedagHierdie artikel deur Ernst Roets is deel van Maroela Media se reeks artikels oor Geloftedag. Klik hier vir vorige artikels. – Red

Ernst Roets het op 16 Desember 2014 tydens die Akasia De Wildt-geloftefees op die Jopie Fourie-kampterrein gepraat. Hier volg sy toespraak. – Red.

16 Desember is nie sommer nog ’n dag op die kalender nie. Dit is ’n dag waarop ons die geleentheid het om ’n oomblik uit ons besige lewens te neem om stil te staan en:

• terug te kyk na waar ons vandaan kom;
• vrae te vra oor die hede; en
• saam te droom oor die toekoms.

Om te droom oor die toekoms is egter nie genoeg nie. Ons moet droom, maar ons moet ook beplan en uitvoer.

16 Desember is ’n dag waarop ons stilstaan voor die God van die Bybel, om aan hom dank te betuig vir die geskiedkundige gebeurtenis wat ons voorouers alleen met sy ingryping bereik het. 16 Desember gaan egter oor meer as net die herdenking van ’n Gelofte. Dit is ’n dag waarop ons moet besin oor die lesse wat ons uit die verlede kan leer, die rigting wat ingeslaan moet word om ’n toekoms te vestig en belangriker, die uitdagings vir die hede.

Dit is waar ons vandag gaan stilstaan.

Dit is vandag 16 Desember 2014. Presies 176 jaar sedert die slag van Bloedrivier, waar die Gelofte ook afgelê is. ’n Gelofte waarmee ons verklaar het dat ons die dag soos ’n dankdag en ’n Sabbat sal deurbring as God die oorwinning in ons hand sou gee. Ons het ook beloof dat ons die Gelofte aan ons kinders sal oordra en hulle dus ook sal leer van die geskiedenis op daardie dag, sodat hulle dit ook aan hulle kinders kan oordra. Die Gelofte was wel gemaak deur ’n klein groepie van ’n paar honderd Boere en het die res van die volk nie outomaties gebind nie. Die van ons wat ons uit eie keuse en met verloop van tyd ons met die Gelofte geassosieer het en dit ook afgelê het, is egter ook daaraan verbind.

Die Groot Trek was een van die moeilikste tye in ons geskiedenis. Dit was ’n tyd van vreugde en opgewondenheid oor die nuwe toekoms wat gevestig gaan word, maar dit was ook ’n tyd van groot hartseer en swaarkry. Dit was ’n tyd van angs en vrees, maar ook van dapperheid en veggees.

As ons oor die Slag van Bloedrivier wil praat moet ons ’n oomblik neem om dit binne konteks te plaas en na die geskiedenis van die tyd te kyk.

• Jan van Riebeeck is in 1651 deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) versoek om ’n verversingstasie by die Kaap de Goede Hoop te vestig. Ons ken die geskiedenis van 6 April 1652. Van Riebeeck het tuine aangelê en groente en vrugte verbou ter voorsiening aan VOC-skepe wat by Kaappunt verby gereis het. Vleis is verkry deur middel van ruilhandel met die Khoikhoi-stamme.

• Om lewensvatbaarheid aan die verversingstasie te bring, is van die VOC-werknemers van hul kontrakte bevry en aangemoedig om op hul eie te boer (“vrijburgers”). Die grense van die kolonie het uitgebrei en in 1688 het die Franse Hugenote, wat vir hul lewens gevlug het vanaf vervolging deur die Rooms-Katolieke Kerk in die Kaap aangekom. Ander volke, wat Duitsers, Skandinawiërs, Iere en Skotte insluit, het hul ook met tyd in die Kaap gevestig en het later as die “Boers” of die “Cape Dutch” bekend gestaan. In 1707 is die woord “Afrikaner” vir die eerste keer gebruik toe Hendrik Bibouw die bekende woorde gesê het: “Ik ben een Afrikander”. Hy het dit gesê om sy begrip van tuishoort teenoor Afrika uit te druk en om te verklaar dat hy nie ’n Europeër is nie. Afrikaners het wel ’n Euro-etniese oorsprong, maar ons beskou onsself nie as Europeërs nie, maar as Afrikaners – as ’n groep wat in Afrika woon, wie se tuisgrond, geskiedenis en monumente in Afrika is, en wat ’n toekoms in Afrika sal maak.

• Die Boere het vermeerder en die grense van die Kaapkolonie is uitgebrei totdat dit die Visrivier bereik het. In die 1830’s is die Groot Trek, hoofsaaklik deur twee faktore ontketen: Britse oorname aan die Kaap en voortdurende aanvalle deur die Xhosas. 12 000 Boere het Noord getrek met die hoop om ’n veilige toekoms in Afrika te vestig.

• Verskeie veldslae het tydens die Groot Trek plaasgevind, waaronder die slag van Vegkop, toe 33 Voortrekkergesinne hulle teen 5 000 Matabeles moes verdedig. Aan die Voortrekkers se kant het twee gesterf; aan die Matabeles se kant, 430.

• Piet Retief het vas geglo dat ’n ooreenkoms met die Zoeloekoning, Dingaan getref kon word om grond vanaf die Zoeloes te koop. Daar was groot onsekerheid onder die volk en ’n gesamentlike vergadering, waartoe die verskillende trekke byeengeroep is, is gehou. Die Trekkerleiers het verskillende standpunte gehad. Die debat het hoofsaaklik gewentel rondom waarheen getrek moet word. Potgieter wou verder Noord oor die Vaalrivier trek en Retief wou in Natal vestig. Daar was groot onsekerheid oor die gedagte om Natal toe te trek, aangesien dit Zoeloeland was. Retief het egter met die voorstel gekom dat geen persoon oor die Drakensberg hoef te trek voordat hy nie ’n ooreenkoms met Dingaan kon aangaan om grond by hom te koop nie. ’n Klein groep Voortrekkers het die tog aangepak en Dingaan in sy kraal in UmGungundlovu ontmoet. ’n Ooreenkoms tussen Retief en Dingaan is gesluit waarvolgens die Voortrekkers grond vanaf die Zoeloes kan koop, in ruil vir die terugbring van beeste wat deur die Tlokwas by die Zoeloes gesteel is. Retief het sy deel van die ooreenkoms nagekom en kort daarna bykans 70 000 beeste vir Dingaan gebring. Na die oorhandiging van die beeste het Dingaan die traktaat op 6 Februarie 1838 onderteken. Daarna is Piet Retief, sy seun en ongeveer 100 van sy manne op kwaMatiwane koppie lewendig deur Dingaan se impi’s afgeslag. Retief is laaste vermoor. Hy is gedwing om eers te kyk hoe sy kommando en sy seun vermoor word.

• Na die moord op Retief se kommando het Dingaan opdrag gegee dat die Voortrekkerlaers aangeval moet word. Op 17 Februarie is die Voortrekkerlaers onverwags by Weenen, Doringkop, Bloukrans, Moordspruit, Rensburgspruit en ander gebiede aangeval. Onder die Voortrekkers is 41 manne, 56 vroue en 185 kinders vermoor. ’n Verdere 250 KhoiKhoi en Basuto wat die Voortrekkers vergesel het, is ook hier vermoor. Die boervrou, Johanna van der Merwe is 21 keer met ’n assegaai gesteek, maar het die aanval oorleef.

• Die Voortrekkers het hierop reageer deur ’n strafkommando saam te stel met die doel om Dingaan te onttroon. ’n Aantal veldslae het plaasgevind, waaronder die slag van Italeni, waar Piet Uys en sy seun Dirkie Uys gesneuwel het.

• Die slag van Bloedrivier het op 16 Desember 1838 plaasgevind. Daar was ongeveer 12 000 Zoeloe impi’s en slegs 470 Voortrekkers. Na drie ure se konflik is drie Voortrekkers gewond en ongeveer 3 000 Zoeloe krygers dood.

• Vier dae later het die Voortrekkers Retief se bene en die getekende traktaat by UmGungundlovu gevind.

Die Jopie Fourie-gedenkteken

Die Jopie Fourie-gedenkteken

Reaksie op die omstandighede

Die Voortrekkers het moeilike tye beleef en het ook rede gehad om benoud te wees. Waar ons vandag dikwels moedeloos raak en kla oor die omstandighede, kan ons net ’n oomblik neem om terug te dink aan die omstandighede waardeur ons voorouers is. Wat egter belangriker is as die omstandighede is die manier hoe daar binne-in hierdie omstandighede opgetree is.

In 1838 het Lenie Retief ’n brief aan haar familie in die Kaap geskryf. Dit was kort na die moorde op haar man en haar seun. In haar brief skryf sy nie dat sy moedeloos is of dat daar nie hoop is nie. Sy skryf nie dat daar nie ’n toekoms is nie en sy kla nie dat Afrikaners nie kan saamstaan of dat hul nie leiers het nie. Nee, sy skryf oor hoop en oor die toekoms wat hulle vir hul kinders in hierdie land gaan vestig. Sy skryf: “Stuur vir my ’n kissie vrugtebome, sodat ons kan plant in die nuwe land.”

’n Soortgelyke boodskap van hoop vind ons in ’n anonieme brief wat kort na die Tweede Vryheidsoorlog geskryf is. ’n Vrou, wie se naam nie bekend is nie, skryf:

“Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie. Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie. Ons besit tans vier perde, twee muile en ’n paar skape. Gister het ek ’n emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant. As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ’n boerdery op die been kan bring.”

Waar ons voorouers swaar tye beleef het, het hul elke keer terug gekeer na hul geloof en moed by hul Skepper gevind.

Geskiedenis in die visier

Ons moet egter vandag die tyd neem om nie net oor die verlede te praat nie, maar om by vandag se uitdagings stil te staan. Een van die grootste uitdagings wat ons vandag beleef is juis die feit dat ons geskiedenis in die visier is. Dit is asof die regering van die dag uit hulle pad gaan om Afrikaners se geskiedenis te diskrediteer.

Ons leef in ’n land waar die totale politieke ideologie van die regerende party gefundeer is op hulle eie definisie van die verlede. ’n Definisie waarin hulle geskiedenis uit verhouding uit geromantiseer word terwyl Afrikaners se geskiedenis uit verhouding gekriminaliseer word. Op grond daarvan regverdig die regering bykans elke beleid wat in die afgelope 20 jaar geïmplementeer is.

Ons kan die hele dag gebruik om voorbeelde op te noem oor hoe ons geskiedenis verdraai word. Hier is ’n paar voorbeelde wat ek persoonlik in die afgelope paar jaar teëgekom het:

• Daar word vertel dat Jan van Riebeeck deur die Hollandse regering Suid-Afrika toe gestuur is omdat hy ’n krimineel was en hulle nie verder met hom opgeskeep wou sit nie.

• Daar word vertel dat Afrikaners uitheems is en dus nie ’n plek in Suid-Afrika het nie. Dit, terwyl al die swart volke in hierdie land ook maar vanaf die Noorde na Suid-Afrika geïmmigreer het.

• Daar word vertel dat die Voortrekkers massamoordenaars was wat die land ingetrek het en almal in hulle pad uitgeroei het. Terselfdertyd word die massamoorde wat deur Mzilikaats en die Zoeloekoning Shaka gepleeg is, waar letterlik miljoene mense koudbloedig vermoor is, gerieflikheidsonthalwe vergeet.

• Daar word deur sogenaamde kundiges vertel dat die slag van Bloedrivier nooit plaasgevind het nie en dat dit deur rassistiese witmense uitgedink is as deel van ’n komplot om swartmense te verneder.

• Daar word vertel dat Geloftedag gevier word omdat witmense herdenk dat hulle ’n groot klomp swartmense doodgemaak het.

• Daar word vertel dat die Boere die swart volke se grond gesteel het terwyl die geskiedenis duidelik bewys dat daar as gevolg van die massamoorde van Mzilikaats (Mfecane of Dfecane) grootskaalse emigrasie was, wat uitgestrekte grondgebiede oopgelaat het. Gebeurtenisse soos die traktaat tussen Retief en Dingaan en ander soortgelyke ooreenkomste, of die verskeie geleenthede waar die Voortrekkers grond aan swart volke afgestaan het, word gerieflikheidsonthalwe vergeet. Die feit dat studies bewys het dat twee derdes van Suid-Afrika se grond nie sonder Westerse tegnologie wat die toeganklikheid van water vergemaklik het, in elk geval nie bewoonbaar was nie, word ook verswyg.

• Daar word vertel dat Afrikaners apartheid uitgedink het, terwyl Brittanje reeds voor die Groot Trek, met die anneksasie van die Kaap begin het om apartheidswette in te stel. Voor die anneksasie was daar nie eers ’n verbod op gemengde huwelike nie, wat dan nog van afgesonderde woongebiede. Met die anneksasie van Natal het Brittanje ook daar begin om paswette af te dwing. Dit was om te verhoed dat swartmense in húl gebiede inbeweeg of in verskillende distrikte sonder toestemming van die Britse regering beweeg. Lank voor die vestiging van die Boererepublieke was swartmense nie na donker in Britse strate toegelaat nie en is hul verplig om te alle tye pasboekies te dra. Dié beleid is uiteindelik in wetgewing opgeneem in die vorm van die Franchise and Ballot Act van 1892 en die Natal Legislative Assembly Bill van 1894. Die General Pass Regulations Bill van 1905 het swart stemreg verbied, hul beperk tot bepaalde gebiede en die pasboekstelsel in wetgewing opgeneem. Ander apartheidswette wat deur Engeland op Suid-Afrika afgedwing is, is:

• Asiatic Registration Act (1906)
• South Africa Act (1910)
• Native Land Act (1913)
• Natives in Urban Areas Bill (1918)
• Urban Areas Act (1923)
• Colour Bar Act (1926)
• Native Administration Act (1927)
• Native Land and Trust Act (1936)
• Representation of Natives Act (1936)
• Asiatic Land Tenure Bill (1946)

Al hierdie dokumente is voor 1948 deur Engeland op die wetboeke van Suid-Afrika geplaas. Algemene kennis is egter dat apartheid ’n produk van die Afrikaner is.

Ons het ’n verpligting

Ons moet vir ons kinders ’n suiwer en gebalanseerde beeld van die geskiedenis leer. Dit is nie nodig om propaganda te pleeg of om ons eie geskiedenis te oordryf nie. Daar is genoeg in ons geskiedenis om op trots te wees. Ons hoef ook nie oor die donker kolle in ons geskiedenis te jok nie. Ons hoef nie apartheid onvoorwaardelik te verdedig nie, maar ons moet dit minstens aan die jeug verduidelik. Een van die belangrikste wat aan die volgende geslag oorgedra moet word, nie net omdat dit in ons belang is nie, maar omdat ons ’n Gelofte aan God hieroor afgelê het, is die gebeure van 16 Desember 1838.

Apatie – ons grootste vyand

Sun Tzu het gesê:

“Know your enemy and know yourself and in a thousand battles you will never be defeated.”

Ons moet besef dat ons vyand nie die ANC of een of ander etniese groep is nie. Ons vyand is ons eie apatie en gebrek aan begronding. As ons die “vyand” wil bestudeer moet ons vasstel wat ons kan doen om ons eie apatie te beveg:

• Mense is apaties omdat hulle hoop verloor het.
• Mense het hoop verloor omdat hulle nie meer weet wat om te doen nie.
• Mense weet nie wat om te doen nie, omdat hulle nie deur ’n samebindende filosofie gedryf word nie.

Ons het leuenstoel-Afrikaners geword. Ons sit agteroor en kritiseer almal wat rondom ons is, maar huiwer om self hand aan die ploeg te slaan.

Ons het ook twee uitstekende verskonings vir ons eie apatie ontwikkel. Twee verskonings wat ons elke keer gebruik om ons eie gewetens te sus en onsself te troos wanneer ons nie bereid is om self om ’n verskil te maak nie.

• Die eerste verskoning is die geykte gesegde dat Afrikaners nie kan saamstaan nie.
• Die tweede, wat hieraan gelykstaan, is die bewering dat Afrikaners nie leiers het nie.

Wat ek wil voorstel is dat Afrikaners ’n nuwe politieke lewensfilosofie moet ontwikkel. Ek praat nie van partypolitiek nie, maar van politiek in die breë sin van die woord.

Kom ons noem hierdie filosofie die filosofie van selfbehoud.

Die filosofie van selfbehoud

Die woord “selfbehoud” is ʼn samevoeging van twee woorde:

• Die woord “self” beteken dat ons moet weet wie ons is. Dat ons moet weet waar ons vandaan kom en dat ons moet weet waarheen ons op pad is.
• Die woord “behoud” beteken dat daar iets is wat ons wil beskerm. Wat is dit? In die eerste plek is dit ons geloof en ons kulturele identiteit. In die tweede plek is dit ’n toekoms vir ons kinders – ’n toekoms waaroor ons self wil besluit.

Die filosofie van selfbehoud leer dus vir ons dat ons nie ons lot kan oorlaat aan ’n regering wat ons nie goedgesind is nie.

Die filosofie van selfbehoud leer vir ons dat ons nie verder sal toelaat dat ons en ons geskiedenis as politieke slaansakke gebruik word, as verskoning om aggressiewe wette en beleide te implementeer nie.

Die filosofie van selfbehoud leer vir ons dat ons nie vir ons kinders ’n toekoms sal kan vestig as ons nie eienaarskap oor ons verlede neem en die leuens wat daar oor Afrikaners se geskiedenis vertel word met durf en daad beveg nie. Ons weet dat daar nie meer in geskiedenissillabusse vir kinders oor Afrikanergeskiedenis geleer word nie. Waar die onderwerp wel aangeraak word, word dit uit ’n ANC-perskektief gedoen. Daarom moet ons meer intensief by ons kinders se opvoeding betrokke raak.

Die filosofie van selfbehoud leer vir ons dat ons nie die luuksheid het om agteroor te sit en te kla dat Afrikaners nie kan saamstaan nie, maar dat ons eerder iets moet doen om mense nader aan mekaar te trek.

Die filosofie van selfbehoud leer ook vir ons dat ons uiteindelike doel is om onsself te behou en dat “volkseenheid” nie ten alle koste nagestreef hoef te word nie. As daar mense in eie geledere is wat tevrede is met die status quo en verkies om deel te neem aan die regering se aggressiewe transformasie-agenda is dit hulle vrye keuse. As daar mense is wat saam met ons ontevrede is, maar nie met ons saamstem nie is dit ook hulle volste reg om te verskil. Geen nasie het nog ooit vir homself ’n toekoms gevestig sonder dat daar ten minste ’n mate van interne debat was nie.

Die filosofie van selfbehoud leer vir ons dat ons strategies moet wees. As ons sê dat ons wil behou wat ons eie is, sê ons ook vir mekaar dat ons moet vasstel of ons uitsprake en optredes ons nader of verder aan daardie doel bring. Dat ons nie radikale uitsprake moet maak wat daartoe sal bydra om die bedenklike beeld wat Afrikaners alreeds in die res van die wêreld het nog verder te beskadig nie, maar dat ons juis daarvoor moet werk om hierdie beeld reg te stel deur vir die wêreld te wys dat ons eise legitiem is en dat ons geen behoefte het om enige iemand te onderdruk nie.

Daarom leer die filosofie van selfbehoud vir ons dat ons altyd die morele hoë grond moet behou in dit wat ons doen en sê. Ons kan onsself nie ook skuldig maak aan die verdraaiing van geskiedenis nie. Ons hoef nie ekstremiste te wees nie. Al wat ons moet doen is om goed beredeneerde en suiwer argumente te gebruik.

Ons moet doelgerig wees, maar ook takties wees. Ons moet Afrikanerskap soos ’n handelsmerk hanteer. Daarmee bedoel ek nie dat ons dit goedkoop moet maak of met ’n verkoopsproduk moet vergelyk nie, maar dat ons, soos ’n goeie entrepreneur, hierdie identiteit aktief moet beskerm, bemark en bevorder. Dit moet iets wees wat modern is, wat eerlik is en wat met waardes geassosieer word – in ons geval Christelike waardes. Afrikanerskap moet met nederigheid, dinamika en integriteit geassosieer word. Mense moet hulle openlik daarmee wil vereenselwig. Die politieke wetenskaplike Samuel Huntington het geskryf oor wat nodig is om jou kultuur aanloklik te maak. In wese kom dit volgens Huntington op twee vereistes neer:

• Ons moet sorg dat ons identiteit en kultuur met materiële welvaart geassosieer word. Dit vereis nie dat ons almal in die geld moet rol nie. Dit vereis wel dat ons moet sorg dat ons kinders goed opgelei word en dat ons hulle moet bemagtig om doelgerigte, professionele mense te word wat in staat is om ook vir hulle kinders te sorg.
• In die tweede plek moet ons sorg dat ons identiteit en ons kultuur met invloed geassosieer word. Dit impliseer dat ons in staat moet wees om ons merk op die wêreld te maak. Ons moet onvervangbaar wees by die werk. Ons moet met selfvertroue aan die nasionale debat kan deelneem en ons moet ons hand kan uitreik om die lewens van die wat rondom ons is te verryk en ons medemens wat swaarkry op te hef.

Die goeie nuus is dat die filosofie van selfbehoud ’n antwoord op hierdie vereistes bied.

Die toekoms

Wat die toekoms betref:

• Ons moet besef dat ons toekoms net in ons eie hande lê.
• Ons moet besef dat, hoe langer ons agteroorsit en wag vir beter dae om aan te breek, hoe meer is ons besig om ons eie toekoms te vernietig.
• Ons moet besef dat ons kinders se toekoms net in ons eie hande is en dat hierdie toekoms begin met ’n deeglike begrip vir ons geskiedenis.

Ons toekoms is ons verantwoordelikheid en ons moet daardie verantwoordelikheid aanvaar. Ons moet besef dat ons nie ons lot aan ’n regering wat ons nie goedgesind is kan oorlaat nie. Terselfdertyd moet ons besef dat ons dit nie alleen kan doen nie en dat alles in God se hande is. Totius het gesê dat ons moet bid met die wete dat alles van God afhang, maar dat ons moet werk asof alles van onsself afhang. Dit is ook die Bybelse benadering om te volg, want die Woord leer vir ons dat ons twee goed moet doen: Ons moet werk en bid.

Al hierdie goed is belangrik, maar die eerste stap is om ons eie apatie te stop en hand aan die ploeg te slaan. Hoe langer ons onsself onttrek en weier om betrokke te raak, hoe meer raak ons deel van die probleem en nie van die oplossing nie. Daar is vandag baie organisasies wat baie goeie werk doen, maar die belangrikste werk is iets wat nie deur enige organisasie gedoen kan word nie – dit is die taak van die ouers. Hierdie werk is om diepte en begronding te gee aan ’n volgende generasie leiers wat ’n passie het om die wêreld te verander. ’n Generasie wat net daarin sal slaag om vir hulle mense ’n toekoms te vestig as hulle weet waarheen hulle op pad is, waarom hulle vandag bestaan en waar hulle vandaan kom.

Ongeveer ’n honderd jaar gelede was Afrikaners in dieselfde bootjie as vandag. Na die tweede Vryheidsoorlog was mense verslae en moedeloos. Na die Britse oorname het dit Afrikaners ongeveer 20 jaar geneem om die verlies te verwerk en op groot skaal weer aan ’n nuwe toekoms te werk. Skielik is reuse organisasies gebou en is nuwe energie in die volk se toekoms belê. Dit het egter 20 jaar geneem vir hierdie energie om vlam te vat en as dit nie vir hierdie energie was nie sou ons waarskynlik nie vandag hier gesit het nie. Vandag is ons weer onder ’n regering wat ons nie goedgesind is nie.

En raai wat… Dit is nou jaar 20.

Die goeie nuus is dat die keuse ons s’n is. Ons kan self besluit om handdoek in te gooi en so te sorg dat ons kinders die laaste generasie Afrikaners sal wees. Of, ons kan hand aan die ploeg slaan en nou begin om aktief betrokke te raak by die stryd om vir ons nageslag ’n toekoms te vestig. Ons generasie sal onthou word. Ons moet vandag kies waarvoor. Ons kan onthou word vir die feit dat ons die laaste Afrikaners was, of ons kan onthou word vir die feit dat ons die eerste Afrikaners was wat hierdie unieke tyd deurgedring het en vir ons kinders en hulle kinders na hulle ’n werklik volhoubare toekoms geskep het.

98 jaar gelede, op 3 Desember 1916 het Genl. De Wet die volgende gesê:

“Ons staan op die punt om óf ’n groot volk te word, óf om op te hou as ’n volk bestaan. Laat ons dus werk terwyl dit dag is. Laat ons ons volk opbou.”

My wekroep aan julle is: Kom ons wees die eerste generasie van die magtige nasie wat ons volk nog sal word.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Alda ·

Puik Ernst

Het my baie laat dink!

So waar begin ek – ek is self ‘n geskiedenis gegradueerde kenner en liefhebber en vertel my kinders graag oor ons en hele wereld se verlede, ek werk hard saammet hulle vir goeie prestasie in die skool en motiveer daagliks dat hulle hard moet werk, en gaan studeer. Net moeilik as jy van vriende hoor wie se kinders 90% gemiddelde het en mediese keuring geweier word? Medusa (of so iets) universiteit sal hul blykbaar neem maar word nie internasionaal erken. Hoe bly mens positief met al die dinge? Daar word ook op vele webbladde verwys na 70 000 blanke moorde sedert 1994, is dit die korrekte syfer? Ek sal graag wil betrokke raak by enige projek ter bevordering van die Afrikaner, Afrikaans en om ons volk te bevorder!

Bertus ·

Net ‘n kort kommentaar op die aanspraak dat Engeland die gemelde stukke wetgewing op SA afgedwing het: ek dink dit is net gedeeltelik waar; die Unie regering het seker self van daardie wette geskryf? Afrikaners was in daardie kabinette en parlemente, nie waar nie?

Rupert Ashford ·

‘n Puik stuk Ernst. Laat mens nogal diep dink…

Louis du Plessis ·

EENSGESINDHEID

1 Wat ‘n treffende boodskap vir Afrikaners! Is dit dalk verfilm? Dit sal gaaf wees as mens selfs verder as die teks kan gaan en ook die werklike voordrag kan hoor en sien – omdat lyftaal ‘n kragtige boodskap soveel sterker maak.

2 Die volgende argument hierbo benadruk die noodsaak van eensgesindheid welsprekend:
“Die filosofie van selfbehoud leer vir ons dat ons nie die luuksheid het om agteroor te sit en te kla dat Afrikaners nie kan saamstaan nie, maar dat ons eerder iets moet doen om mense nader aan mekaar te trek.”

3 Dalk is dit een van die kernideale vir die nuwe jaar: Trek ons volksgenote nader aan mekaar! Wat ‘n betekenisvolle Geloftefeesboodskap Ernst!

Gezina ·

Dankie Ernst Roets,jy het dit baie netjies gestel.

Ek wil dankie se,
vir mede Volksgenote wat Dinsdag 16Desember 2014,
getrou soos ‘n sabbatdag deurgebring het..,
As dit jou eerste jaar was,
dankie ook aan jou wat ‘n positiewe tree in die regte rigting begin gegee het.
Of dit nou deel van ‘n Geloftediens daar in jou omgewing was of nie,
God was daar waar jy ook al was,
Hy het die opregtheid van jou hart se binnekamers raak gesien,
en jou gebed,jou vrae oor gister en vandag,het Hy gehoor.

Hier in Vryburg het ons ‘n vol saal besielende boere gehad,
Daar is nie net besin oor 1838,maar ook van waar ons..,
en ons nageslagte deur ons heen op pad is.
‘n Bemoediginde boodskap uit die bybel en feesrede het gekom uit,
1Petrus 5:7 {werp al julle bekommernis op HOM,want Hy sorg vir julle.}
Ek glo daar waar een,twee of meer in Sy naam saam vergader,
meer werd is as ‘n miljoen toeskouers wat soos in Noag se tyd,
hom uitgejou het en op die kantlyn sit en toekyk het oor,
“Noag gedoen soos die HERE hom beveel het.”-Gen7:5

‘n Belofte aan God is nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie,
Ons voorouers het op 16Des1838 ‘n gelofte aan God gemaak,
God het sy engele na hulle gestuur om die stryd namens hulle te stry,
{Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand-na jou sal dit nie aankom nie.Want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou wee.-PSALMS 91:7,11}
Dit wat daar gebeur het was ‘n Goddelike wonderwerk,
net soos ek en jy vandag getuienis onder die nasies en al die volke oor sy wonders kan getuig.
{Vertel onder die nasies sy eer,onder al die volke sy wonders.-PSALMS 96:3.}
Kom ons bly getrou aan die belofte,
Kom ons hou moed oor die dag van more,
en bou positief voort aan ons volk,taal en kultuur.

Die uwe,
Mej,G.Moolman.

Honey Badger ·

> Om te droom oor die toekoms is egter nie genoeg nie.
> Ons moet droom, maar ons moet ook beplan en uitvoer

Jy’s reg oor die beplan en uitvoer Ernst, Solidariteit en Afriforum doen wonderlike dinge
Dieselfde met Orania en Kleinfontein

Ongelukkig is daar ‘n paar onoorkombare probleme

Eerstens, die ANC en hulle kiesers sal enige sukses sien as ‘n terugkeer na “minority rule” en alles in hulle vermoë doen om dit af te breek. Die ANC se grondrestitusie proses sal ook verseker dat enige suksevolle projek onmddelik onteien en “for the people” gegee sal word

Tweedens, die “kiesers” word al meer militant en swaai meer links na die EFF toe, kyk hoeveel steun het Julius in ‘n baie kort tyd gekry. Dit het die ANC forseer om ook meer militant te raak, wat niks goed vir wittes in die algemeen en en vir die Afrikaners in besonders gaan beteken nie.

Derdens wil hulle ons eenvoudig nie in die land hê nie, hulle beklemtoon dit gereeld, en al hoe jy welkom sal wees as jy stil bly en belasting betaal
As jy hulle teensaan sal hulle sal al die staatsinstellings gebruik om jou stil te maak

Etienne de Villiers ·

Ek stem met Ernst se plan van aksie saam.

Iewers gelees van die voorbeeld van ‘n olietoring wat besig is om af te brand. Daar is diegene wat die onblusbare vuur probeer beveg en in die proses omkom. Ander weer sien presies wat besig is om te gebeur, beveg dit nie omdat dit onstuitbaar brand, en spring vir selfbehoud en met waagmoed af in die koue see. Daar is die kanse op oorlewing ook moeilik maar tog is daar ‘n kans om aan iets vas te klou tot hulp opdaag en ‘n nuwe toekoms weer binnegegaan kan word.

Die ANC regering is self verantwoordelik vir die vernietiging van alle orde en om die ANC te vra om byvoorbeeld plaasmoorde te stop is dieselfde as om te erken dat hulle oor die vermoë of die wil beskik om dit te doen en dit beteken dat mens hulle steun of op hulle staatmaak om die vuur te blus.

Natuurlik sal die ANC alles bestry wat ons doen, maar “so what?”.

Die antwoord is dat ons bloot ons eie ding doen, sekermaak dat ons kinders die opleiding ontvang wat hulle steeds wêreldklas burgers kan maak. Indien ons ‘n voorbeeld kan stel van onafhanklike selfbehoud, binne die huidige omstandighede, sal daar geleidelik meer en meer kiesers wees wat besef dat ons, soos hulle, hier is om te bly, soos ons die ANC oorlaat aan hulself, om hulself te vernietig, en eerder ons voorbeeld volg om saam met ons ‘n nuwe toekoms binne te gaan.

My eie Hugenote voorouers het ‘afgespring’ vir hul eie selfbehoud, nie ‘n beroep op Louis XIV gedoen nie. Vir die Voortrekkers sou dit tog niks help om hulle op Engeland te beroep wat hul griewe betref nie. Na die ABO sou ‘n beroep op Engeland niks gehelp het om ons eie taalregte en opheffing te bespoedig nie.

Ons sit nou met ‘n nuwe bestel wat totaal en al misbruik word deur die ANC en die ANC is die laaste wat sal toegee dat ons ‘n punt beet het, maar ons voorgeslagte het baie erger bedreigings oorleef.

Dus moet ons ophou om te kla oor die ANC. Ons kan hulle nie verander nie. Hulle is besig om steun te verloor, stadig maar seker. Wie sou ooit kon dink dat hul president deur sy eie [voormalige] ondersteuners uitgejou sou word?

Ek kan my nie ‘n beter oplossing vir ons Afrikaners voorstel as om almal betalende lede van Afriforum te word nie, al is dit al manier hoe mens kan voel dat jy iets positiefs doen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.