Geloftedag: Gister, vandag en môre

voortrekkermonument-geloftedagHierdie artikel deur prof. Danie Goosen is deel van Maroela Media se reeks artikels oor Geloftedag. Klik hier vir vorige artikels. – Red

Inleiding

Alvorens ons by die betekenis van Bloedrivier en die Groot Trek stilstaan, wil ons ter inleiding ’n eenvoudige vraag vra: Wat sou gebeur het as die Voortrekker-kommando onder leiding van genl. Andries Pretorius by Bloedrivier deur die Zoeloe-mag van Dingane verslaan is?

Buiten dat die Groot Trek in ’n katastrofale mislukking sou geëindig het, sou ons geskiedenis as Afrikaners na alle waarskynlikheid heeltemal anders verloop het. Die heroïes-wonderbaarlike oorwinning by Bloedrivier en die sukses wat die Groot Trek as gevolg daarvan was, het immers die volgende dinge moontlik gemaak:

Eerstens, vanweë Bloedrivier en die Groot Trek het ons as Afrikaners eers werklik ’n volwaardige volk geword. Bloedrivier en die Groot Trek was ons werklike oomblik van geboorte. Vóór hierdie tyd het ons onsself nog nie werklik as ’n volk verstaan nie. Maar ná Bloedrivier het ons geweet: Ons as Afrikaners behoort – in weerwil van ons onderlinge verskille – onherroeplik as ’n volk aan mekaar.

Tweedens, vanweë Bloedrivier en die Groot Trek is Afrikaners in staat gestel om in die daaropvolgende dekades ’n uitsonderlike ding te doen, naamlik om orde aan ons wêreld te gee. Ons voorouers het dit gedoen deur ’n veelheid van republieke in die binneland te stig waardeur hulle (binne ’n destyds nog primitiewe en niedemokratiese wêreld) op ’n ordelike wyse oor hulself kon regeer.

Hierdie prestasie moet ’n mens beoordeel teen die agtergrond van die destydse kritiek op die Voortrekkers as sou hulle slegs uit die Kaap wou trek om ’n bandelose bestaan in die binneland te voer. Presies die teenoorgestelde het egter gebeur. Piet Retief het in antwoord op dié kritiek reeds aan die begin van 1837 in sy beroemde manifes geskryf:

“Ons is vasbeslote om, waar ons ook al mag gaan, die beginsel van ware vryheid hoog te hou.” Met “ware vryheid” het Retief nie ’n bandelose bestaan bedoel nie, maar ’n bestaan binne die raamwerk van ’n republikeins-demokratiese orde.

Derdens, sonder die stigting van dié republieke sou die historiese tafel ook nie gedek gewees het waarop die Afrikaners hul roemryke vryheidsoorloë teen Groot Brittanje sou voer nie. Alhoewel die Boere militêr gesproke uiteindelik dié stryd verloor het, het hulle dapperheid die weergalose respek en bewondering van die ganse wêreld afgedwing. Die gedagte van die Boer is toe in die verbeelding van talle lande tot onsterflike simbool van vryheid verhef.

Vierdens, sonder Bloedrivier en die Groot Trek sou die historiese omstandighede na alle waarskynlikheid ook nie geskep gewees het nie waarbinne Afrikaners in die 20ste eeu die voortreflikste staat in die moderne geskiedenis van Afrika tot stand gebring het. Maar nie net die voortreflikste staat nie, maar ook die voortreflikste ekonomie, landbou, onderwys, universiteitswese, regswese, letterkunde, kunste, musiek, mediese sorg, mynwese, tegniese ontwikkelinge, plaaslike owerhede, orde en wet.

Onlosmaaklik deel van hierdie prestasies was ook die feit dat die Afrikaners tydens die 20ste eeu daarin geslaag het om hulle moedertaal van ’n kombuis- tot ’n universiteitstaal te ontwikkel. Dit was ’n weergalose prestasie.

Indien die Voortrekkers Bloedrivier sou verloor het, sou hierdie dinge waarskynlik nie so gebeur het nie. Vandag betuig ons ons diepe dankbaarheid jeens ons voorgeslagte vir hulle onverskrokke heldemoed, vir hulle verbeelding, hulle versiendheid en hulle onbreekbare geloof in dié God wat alles onderhou.

Die probleem

Daarmee het ons uitgekom by die punt waaroor ons graag vandag wil gesels. Dit hou verband met die uitdaging waarvoor die Voortrekkers destyds te staan gekom het. Ons gaan hieronder uit van die standpunt dat die Afrikaners vandag voor soortgelyke uitdagings te staan gekom het. Maar nog meer, ons gaan ook uit van die standpunt dat die antwoord wat die Voortrekkers destyds op hulle uitdaging gegee het vandag – in weerwil van die enorme verskil tussen die era van die ossewa en die internet – steeds vir ons belangrik is. Waarna verwys ons?

Soos wat die destydse die Boere voor die Groot Trek dikwels aan ’n gevoel van rigtingloosheid gely het, so ly ook ons as Afrikaners vandag (in weerwil van die talle goeie dinge wat reeds onder ons gebeur) steeds aan ’n gevoel van rigtingloosheid. Soos die Boere voor die Groot Trek is ons ook vandag onseker oor die toekoms.

As ons die wese van die Groot Trek kan raakvat, kan ons sê dat dit ’n verbeeldingryke, deurdagte en daadkragtige antwoord op die probleem van rigtingloosheid was. Ons word vandag voor dieselfde vraag gestel. Gaan ons, soos die Boere van destyds, ook op ’n verbeeldingryke, deurdagte en daadkragtige wyse op ons eie rigtingloosheid antwoord? Of gaan ons soos ’n vasgekeerde trop diere in ’n gevaarsone senuagtig bly rondskarrel, sonder ’n rigtinggewende antwoord?

Die geskiedenis

Alvorens ons ’n antwoord op hierdie vrae probeer gee, moet ons egter eers by die geskiedenis stilstaan. Hoe moet die geskiedenis verstaan word? ’n Antwoord hierop kan ook help om ons probleem nog beter te verstaan.

Ons gaan hieronder uit van die standpunt dat die geskiedenis gekenmerk word deur die gevaarlike spel tussen die verrassende uitdagings wat dit aan ons rig, en ons (geslaagde of mislukte) antwoorde daarop. Kortom, waarheen die geskiedenis met ons op pad is, is dikwels ’n funksie van die wyse waarop ons op die verrassende uitdagings antwoord.

As ons tyd gehad het, kon ons na heelwat voorbeelde hiervan uit die Europese geskiedenis verwys het. In die besonder sou ons kon verwys het na die enigsins merkwaardige feit dat daar die afgelope vyfhonderd jaar tydens die eerste twee dekades van elke nuwe eeu ’n verrassende uitdaging aan Europa gerig is. Telkens is die rigting waarin die geskiedenis in die daaropvolgende eeue beweeg het, bepaal deur die wyse waarop die Europese mens op dié uitdagings in die eerste dekades geantwoord het.

Met die gebrek aan ruimte wys ons tog op een voorbeeld: Op 31 Oktober 1517, vanjaar presies 497 jaar gelede, het Martin Luther ’n verrassende ding gedoen toe hy sy 95 stellinge teen die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker het. Daarmee het Luther – in die eerste dekades van die 1500’s – ’n omvattende uitdaging aan sy tyd gerig. Die wyse waarop Europa op Luther se daad geantwoord het, het die aard en wese van die volgende eeue gedefinieer, bykans op elke terrein van die lewe.

Belangriker vir ons doeleindes is egter enkele voorbeelde van dieselfde verskynsel uit ons eie geskiedenis. Ons verwys nogmaals na die vreemde feit dat die afgelope drie eeue en in die besonder die eerste twee dekades van elke nuwe eeu deur die gevaarlike spel tussen verrassende uitdagings en ons (mislukte of geslaagde) antwoorde daarop gekenmerk is.

Die eerste datum uit ons eie geskiedenis is 1707, aan die begin van die nuwe eeu. U is vertroud met die verhaal: Ná uitdaginge wat die Kaapse owerheid destyds aan die inwoners van Stellenbosch gerig het, het Hendrik Bibault, uit woede teen die owerhede, die merkwaardige antwoord aan hulle gegee: “Ik ben een Afrikaander.”

Waarom was dié antwoord merkwaardig? Bibault het met sy antwoord ’n definisie aan homself en sy mense gegee wat oor die eeue heen weerklank gevind het. Meer as 300 jaar later beskryf dit steeds ons as kultuurgemeenskap. Soos Bibault destyds, is ons vandag steeds Afrikaners.

Ons tweede datum hou verband met ’n uitdaging wat op ’n haar na presies ’n eeu later, naamlik 1806, aan ons gerig is. In daardie jaar is die Kaap die tweede en laaste keer deur Brittanje beset. Waarom was dit ’n uitdaging? Voor hierdie gebeure het die vroeë Afrikaners hulself nog polities as afhanklik van Nederland ervaar. Toe Brittanje die Kaap egter finaal beset het, is die uitdaging aan ons mense gerig om die politieke (en psigiese!) afhanklikheid jeens die moederland te laat vaar en voortaan vir onsself verantwoordelikheid te aanvaar. Die hele eeu wat op 1806 gevolg het – ingesluit die eeu waartydens die Groot Trek plaasgevind het – kan as ’n uitdrukking van dié antwoord verstaan word.

Die eerste manifestasie daarvan was ’n mislukte antwoord, naamlik die Slagtersnek-rebellie van 1815. In die groter golwinge wat hierdie dramatiese antwoord egter veroorsaak het, het groot getalle Afrikaners enkele dekades later egter ’n suksesvolle antwoord gegee toe hulle aan die Groot Trek deelgeneem het. Ten grondslag van die Groot Trek het die gedagte gelê dat ons voortaan vir onsself verantwoordelikheid sal moet aanvaar. Ons keer hieronder in meer breedvoerige terme na hierdie antwoord van die Afrikaners terug.

Dit bring my by die datum aan die begin van die 20ste eeu. Ek verwys na 1905. Hierdie datum is ’n belangrike landmerk in ons geskiedenis, want toe het Afrikaners gewys hoe om skeppend te antwoord op die vernietigende Anglo-Boereoorlog, wat in 1902 beëindig is.

In 1905 word die gedig “Winternag” van Eugène Marais, gepubliseer. Met dié uitsonderlike antwoord wys Afrikaners dat hulle gereed is om hul moedertaal tot op die hoogste vlakke in die letterkunde uit te bou.

Daarby het dit egter nie geëindig nie. Asof ons as Afrikaners toe besef het dat “Winternag” deur ’n veelheid van kragtige instellings ondersteun moet word, het Afrikaners – let op die datums – onder meer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909 en die Nasionale Party in 1914 gestig. Om nie eens te praat van die veelheid van skole wat Afrikaners ook in die eerste dekade tot stand gebring het, soos (om maar een voorbeeld te noem), die stigting in 1907 van die Oranje Meisieskool in Bloemfontein.

Alle antwoorde wat ons toe gegee het, was uiteraard nie op die lang termyn suksesvol nie. Trouens, juis in 1914, op ’n haar na honderd jaar gelede, het Afrikaners met nog ’n “mislukte” opstand geantwoord, naamlik die Rebellie van 1914. Nogtans het dié tragiese antwoord, soos Slagtersnek, ook positiewe golwinge veroorsaak.

In en deur die golwinge wat dié mislukte antwoord veroorsaak het, is talle ander Afrikaner-instellings gestig, soos die FAK in 1929 (vanjaar 85 jaar gelede), en in die jare daarop Die Voortrekkers, die ATKV, die Reddingsdaadbond, ensovoorts. En in die groter golwinge wat ook dit veroorsaak het, het Afrikaners uiteindelik in 1961 hul eie onafhanklike republiek gestig. Dit was ’n grootse antwoord en weergalose prestasie.
Maar dit bring ons by die laaste datum. Ons bevind onsself weer eens in die eerste dekades van ’n nuwe eeu. Watter datums staan hier uit?

Omdat ons nog te na is aan die gebeure, waag ek slegs enkele opmerkings. Tydens die twee ampstermyne van pres. Thabo Mbeki, wat in 2008 tot ’n einde gekom het, het daar iets bykans onsigbaar onder ons mense gebeur. Tydens dié ampstermyne het daar ’n gemeenskaplike besef onder Afrikaners deurgebreek dat die staat nie net nie in staat is om sinvol aandag aan ons aansprake te gee nie, maar dat dit (in weerwil van die beloftes van die Grondwet) selfs afwysend staan teenoor ons aanspraak om oor dié sake te besluit wat onsself as gemeenskap raak. Die onlangse uitlatings van die minister van hoër onderwys dat geen beskutte ruimtes vir Afrikaans aan universiteite geduld sal word nie, is slegs die jongste uitdrukking hiervan.

Maar soos in die vroeëre eeue breek daar ook in hierdie tyd die gemeenskaplike besef tot ons deur dat ons vir onsself verantwoordelikheid sal moet aanvaar.

Driehonderd jaar ná Hendrik Bibault in 1707, tweehonderd jaar ná die oproer wat die Britse besetting van 1806 veroorsaak het en honderd jaar ná “Winternag” in 1905, gee ’n toe nog redelik onbekende sanger uitdrukking aan hierdie besef. In 2006 sing Bok van Blerk vir die eerste keer sy onbeskaamde Afrikanerlied, “De la Rey.” Soos Bibault drie eeue voor hom bevestig Van Blerk so op ’n hartstogtelike wyse wie en wat hy is. Groot getalle Afrikaners vereenselwig hulself in dié tyd spontaan met dié lied.

Maar daarby eindig die vergelyking nie. Net soos met “Winternag” in 1905 val “De la Rey” in 2006 ook saam met die klem op die stig van nuwe instellings (of die herskepping van ou instellings). Met ’n beroep op die idee van selfstandige handeling en eie verantwoordelikheid gee hierdie instellings vandag rigting aan die rigtingloses, en ’n sinvolle antwoord op die uitdaginge van ons tyd.

Die Groot Trek

Maar dit bring ons terug by die Groot Trek. In aansluiting by ons verhaal hierbo kan ons sê dat die Groot Trek ten diepste as ’n skeppende antwoord op die uitdagings van sy tyd verstaan moet word. Om dit egter beter te verstaan, moet ons kortliks na die oorsake van die Groot Trek verwys.

As ’n mens vandag oor die oorsake van die Groot Trek nadink, kan dit tot vier vereenvoudig word, naamlik die militêre, ekonomiese, politieke en geestelike magteloosheid wat die Boere destyds aan die Oosgrens ervaar het.

Ekonomies gesproke was hul plase (buiten die feit dat die plase hul lewe – hul wese – verteenwoordig het), ook die belangrikste ekonomiese eenheid waaroor die Boere beskik het. Maar juis hul plase was gereeld deur plunderende bendes aangeval, plaasopstalle is afgebrand, groot getalle vee is weggevoer en talle gesinne is op afgryslike wyses vermoor.

Hierdie toestand is vererger deur die Boere se politieke en militêre magteloosheid. Polities het hulle oor weinig inspraak in eie sake beskik, terwyl hulle militêr gesproke aan bande gelê is. Hul oproepe aan die Kaapse owerheid om politieke en militêre steun is dikwels met ’n gebrek aan simpatie bejeën.

Ook geestelik het dit nie altyd na wense gegaan nie. Alhoewel die Kaapse kerk ’n belangrike rol in die vorming van die vroeë Afrikaners gespeel het (‘n mens dink hier aan die geestelike bystand van die kerk en die lewensbelangrike skole wat uit die kerk tot stand gekom het), het die kerk nogtans nie altyd in voeling met die nood van ons mense gebly nie.

Teen die agtergrond van hierdie faktore is dit te verstane dat die Boere destydse aan wanhoop gely het. In ’n taal wat klink asof dit slegs gister verwoord is, skryf Piet Retief daarom ook in sy manifes:

“Ons wanhoop daaraan om die kolonie te red van die euwels wat dit bedreig deur die oproerige en oneerlike gedrag van rondlopers, wat toegelaat word om die land in alle uithoeke te verontrus; en ons sien geen vooruitsig op vrede en geluk vir ons kinders in ’n land wat op dié manier onder binnelandse onrus gebuk gaan nie.”

’n Duidelike antwoord het egter geleidelik onder Afrikaners posgevat. Afrikaners het daarvan oortuig geraak dat hulle ’n verbeeldingryke, deurdagte en daadkragtige antwoord op hulle toestand sal moet gee. Die Groot Trek was daardie antwoord. Die wese van hierdie antwoord kan in enkele punte saamgevat word:

Eerstens, die Voortrekkers het die sindroom van politieke afhanklikheid jeens die Kaapse owerheid afgewerp. Terwyl ’n bekende Kaapse leier van daardie tyd, Andries Stockenström, nog ’n beroep op die Trekkers gedoen het om eerder van die instrumente van die owerheid gebruik te maak as om die weg van selfstandigheid te volg, het die Voortrekkers besluit om hulself daarvan los te maak. Voortaan sou hulle eerder self eie instellings en in die besonder eie owerhede iewers in die onbekende binneland gaan stig. Die woorde “selfstandige handeling” eerder as “afhanklikheid jeens die staat” het die leidende idee onder ons mense geword.

Tweedens, en ten nouste hieraan geknoop, die Voortrekkers het die regte ding gedoen deur hul strewe na selfstandigheid in ’n universeel aanvaarbare taal te giet, naamlik in die taal en idioom van die destydse republikeinse tradisie. Dit wil sê in die taal en idioom van dié tradisie wat sê dat volkere vry is wanneer hulle, in gehoorsaamheid aan God, op ’n demokraties-ordelike wyse oor hulself regeer.

Derdens, die Voortrekkers het hulle strewe na selfstandigheid aan ’n sin vir regverdigheid geknoop. Piet Retief verwoord dit wanneer hy in sy manifes skryf: “Ons is van plan om in die loop van ons trek en wanneer ons in die land aankom waar ons permanent wil woon, ons bedoelings aan die swart stamme bekend te maak, asook die begeerte om in vrede en vriendskap met hulle saam te leef.” Die voorstelling van die Voortrekkers as sou hulle op die uitbuiting, misbruik en selfs uitwissing van die swart stamme ingestem was, is daarom ook volledig vals. Ten diepste het ons voorgeslagte hulle strewe na selfstandige beheer oor hulself aan ’n respek vir die ander volkere verbind.

Die dramatiese antwoord van die Voortrekkers op hulle uitdagings het daartoe gelei dat die moedeloosheid plek vir ’n gemeenskaplike selfrespek onder hulle gemaak het. In die proses het die rigtinglose rondgeploeter plek gemaak vir ’n duideliker rigtingbesef. Ons staan vandag nog in die gloed van dié helder oomblik uit ons geskiedenis. Die herinnering daaraan brand nog warm in ons gemoed.

Vandag

Vriende, dit bring ons ten slotte by vandag. Soos die Voortrekkers tydens hulle donker dekades, word ook ons as Afrikaners vandag uitgedaag om op die eise van ons tyd te antwoord. Dit is eise wat in menige opsigte ooreenstem met die uitdagings waarvoor die Voortrekkers te staan gekom het.
Laat niemand u daarvan oortuig dat die geskiedenis van die Afrikaners noodwendig op ’n einde afstuur nie. As dit so is dat die geskiedenis verstaan kan word as die spel tussen uitdagings en ons antwoorde daarop, dan beteken dit ook dat die geskiedenis nie soos ’n vooraf opgewende horlosie is wat bloot meganies en onverbiddelik die tyd aftik nie. Nee, dan is die geskiedenis juis oop, onvoorspelbaar en vol verrassende wendinge.

Indien ons die uitdaging van die geskiedenis aanvaar, kan ons ten minste die volgende wenke uit ons geskiedenis neem. Ons sluit met hierdie wenke af:

Eerstens, soos ons voorgeslagte kan ons ook die sindroom van afhanklikheid jeens die staat afwerp. Die staat is in vele opsigte nie by magte en dikwels onwillig om aan die saak van Afrikaners ’n hoë prioriteit te verleen. Laat ons dus self verantwoordelikheid aanvaar. Neem soos die Voortrekkers self die middele ter hand waarmee ons vir ons veiligheid kan intree; skep self die ruimte waarbinne ons ekonomies welvarend kan word; hou die bestaande opvoedkundige en universitêre ruimtes so goed as moontlik in stand en skep nuwes waar dit noodsaaklik is; skep eie kulturele ruimtes waarbinne ons moedertaal kan floreer; konsolideer bestaande en skep nuwe geografiese ruimtes waarbinne ’n eie gemeenskapslewe moontlik kan wees en ontdek weer die geestelike bronne waarbinne ons voorgeslagte geanker was.

Die wonderlike is natuurlik dat Afrikaners reeds hiermee besig is. Van die kunstefeeste tot en met ons betrokkenheid by die skole, ons eie veiligheid, ons eie vakbonde en burgerregtebeweging, ons eie maatskaplike sorg, ons eksperimente met geografiese ordening, ensovoorts, gee Afrikaners te kenne dat hulle na hierdie wenk vanuit die verlede luister. Namate die staat verswak – en daar is geen vooruitsig dat dit binnekort anders sal word nie – in daardie mate skep dit vir ons die ruimtes waarbinne ons vir onsself kan intree en self verantwoordelikheid kan aanvaar.

Tweedens, sorg soos die Voortrekkers dat die saak van die Afrikaners in ’n taal en ’n idioom geformuleer word wat op enige internasionaal erkende verhoog verdedig kan word. Soos wat die Boere in die onmiddellike dekades ná die Groot Trek hulself op ’n universeel legitieme saak soos die republikeinse tradisie beroep het, so kan ook ons vandag na wyses vra waarop ons opnuut inhoud aan dié tradisie binne ’n nuwe konteks kan gee. Soos met die Boere kan dit aan ons saak ’n onkreukbare legitimiteit verleen.

En laastens, soos wat Retief in sy manifes geskryf het, soek goeie verstandhoudings met die ander gemeenskappe in Suid-Afrika op.
Ons, die nasate van die dapper Voortrekkers, beskik vandag nog oor dieselfde deugde as waaroor hulle beskik het. Ten diepste is Afrikaners steeds gelowige mense. En soos ons voorouers beskik ons ook oor uitsonderlike verstandelike vermoëns, ons beskik ook oor ’n skeppende verbeelding, ons beskik ook oor enorme wilskrag.

Laat ons op grond van hierdie eienskappe wat ons steeds met ons voorouers deel hard en duidelik “ja” vir ons uitdagings sê.

Indien ons dit doen, sal die geskiedenis weer vir ons oopgaan, soos wat dit ook vir die Voortrekkers oopgegaan het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Amoree Steyn ·

Ja en weereens ja. Ek glo deur God se genade kan ons weer die volk word wat ons was. Hy het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van selfbeheersing.

hans ·

Onthou dat dit die vrouens was wie die mans gemaan het om Dingane te gaan straf – die mans wou omdraai! Onthou ook dat daar ook 200 mak Zoeloes in die kraal was, plus Engelse en Kleurlinge! Dit het nie gegaan oor wit en swart nie, maar oor duisternis en lig!

Johannes ·

Wat n puik artikel. Dit gee baie goeie perspektief op ons huidige omstandighede asook op n seker toekoms vir ons as Afrikaners. Uiters inspirerend en rigtinggewend.

Johan ·

In ons Almal se lewens is daar ons storie (lower story) en God se Storie (Upper Story). As ons besef dat ons mense se wel en weē op hierdie aarde deel is van God se versoeningsplan met die Mensdom, sal ons gebeurtenisse soos Bloedrivier meer waardeer.
Goeie artikel. Baie dankie.

Jan ·

“Op U Almag vas vertrouend, het ons vadere gebou. Skenk ook ons die krag, o Here !!!!!

Jan ·

“Op U Almag vas vertrouend, het ons vadere gebou. Skenk ook ons die krag, o Here !!!!!”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.