Geloftedag: Hier staan ons

Dr. Danie Langner. Foto: Reint Dykema.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), se Geloftedagpreek by die Voortrekkermonument.

Hier staan ons. Binne ’n simboliese Voortrekkerlaer, terwyl ons dink aan die gebeure in ’n ander laer van 181 jaar gelede.

Hier staan ons binne ʼn groot monument wat ʼn grootse verhaal vertel. ʼn Unieke verhaal. ʼn Heldeverhaal wat uit klip gesny en in marmerfriese verewig is.

Op die friese sien ons langs die wapad van die Groot Trek was daar baie staanplekke. Slegs enkele van hierdie staanplekke het as monumente langs ons wordingspad en rigtingwysers vir ons toekomspad uitgestyg. Ons praat nie van die alledaagse uitspanplekke na ’n lang skof nie, maar van daardie enkele, beslissende, lotsbepalende staanplekke waar die voortbestaan van die trek in die weegskaal was. Momente waar die Voortrekkers ’n keuse moes maak wat nie net aan die koers van die trek ’n nuwe wending sou gee nie, maar ook aan die toekoms van hulle kinders en elke “opkomende geslag” daarna.

Daar is die fries waar Piet Retief as goewerneur ingehuldig is. Tot op daardie dag het Europese koningshuise regeerders vir hulle kolonie aangewys, maar op 6 Junie 1837 het die Voortrekkers die eerste demokratiese regering in Suider-Afrika gevestig. Van dié oomblik af was die Groot Trek niks anders as ’n republiek op trek nie.

Kerkenberg, waar Debora Retief haar pa se naam teen ʼn Vrystaatse sandsteen‑rots geskilder het, is ʼn staanplek van bestemming. Die Voortrekkers wou hulle nie iewers in die binneland isoleer nie, maar in ’n nuwe land woon waar hulle kon floreer. Kerkenberg, op die rand van die nuwe land, is ’n plek van hoop en afwagting. ’n Staanplek van uitsig en drome. Van toekomsvisie en toekomshoop.

Erasmus Smit het hier uit Psalm 126:1-3 gepreek: “Toe die Here die lot van Sion verander het, was dit vir ons soos ’n droom. Ons het gelag en gesing. Onder die nasies het hulle gesê die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen. Die Here het groot dinge aan ons gedoen; ons was bly.” Hulle het die rand van die berg Blye Vooruitsig genoem en spontaan “Prys die Heer met blye galme” gesing.

Skaars drie maande later het die Trekkers te staan gekom voor ontsettende verlies. Die moord op Retief en sewentig familie- en gesinshoofde op 6 Februarie 1838 was die episentrum van ’n aardskuddende gebeurtenis wat met wreedheid en geweld van staanplek tot staanplek uitgekring het. Bloukrans. Wenen. Italeni. Modderlaer. Veglaer. 1838 was ’n bloedjaar wat die grense van geloof met gebrokenheid en lyding uitgedaag het.

Bloedrivier was die waterskeidingsoomblik. Voortbestaan was in die weegskaal. Hier is die uitkoms van die trek beslis. Juis daarom is dit treffend dat die Gelofte van 1838 juis begin met die treffende woorde: “Hier staan ons …”

  • Hier staan ons in ʼn donker laer. Voorbereid. Gefokus. Gereed.
  • Hier staan ons ook bedreig. Deur vyande omsingel. Sonder simpatie, internasionale steun of staatshulp.
  • Hier staan ons sonder omdraai of vlugkans.
  • Hier staan ons gestroop van eiewaan, groot drome, groot leiers, groot planne.
  • Hier staan ons. Ontbloot. Afhanklik.
  • Hier staan ons alleen.

Dit is maklik om positief te leef as daar blye vooruitsigte is. As ’n toekoms vol beloftes wink. Wanneer jou voortbestaan in die weegskaal geplaas word, wanneer jou lewe bedreig word, wanneer daar geen uitkoms is nie, word selfs ʼn gelowige bang en begin twyfel. Dan word die vraag akuut: WAAR STAAN GOD? Dit is die dieper vraag wat agter die Gelofte lê. Waar staan God in ons nood?

Psalm 69 help ons met ʼn antwoord. Psalm 69 is die pleitgebed van ’n gelowige wat voor bomenslike omstandighede te staan gekom het. Die digter is besig om in sy probleme weg te sink. Sy keel is hees geroep, hy kan nie meer behoorlik sien nie. Hy het sy greep op die lewe verloor. Hoor sy nood:

Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het.

Dié wat my sonder rede haat, is meer as die hare op my kop.

Dié wat my vir altyd wil stilmaak, is sterk.

My vyande dwing my met vals beskuldigings om af te gee wat ek nie geroof het nie.

My gebed is tot U gerig, Here, antwoord my tog gou, Here, antwoord my in u groot liefde, o God.”

Die Bybel probeer nie ons seerkry en swaarkry met ’n geveinsde vroomheid en ’n naïewe positiwiteit wegpraat nie. Die Bybel probeer nie ons onsekerheid en toekomsvrae onder die mat invee nie. Die Bybel gee nie hol beloftes en kitsantwoorde op moeilike vrae nie.

Die Bybel wys wel vir gelowiges waar staan God.

Aan die einde van vers 14, kom daar ’n dramatiese wending. ’n Ontdekking. ’n Belydenis. “U HULP STAAN VAS.”

Natuurlik verdwyn probleme nie oornag nie. Die spottende vyande, diep waters en meesleurende stroom is steeds daar, maar in die Here se vasstaan het die gelowige ʼn anker en toekomshoop.

Op elke beslissingspunt kon die Voortrekkers sê: “Hier staan ek”, omdat God bevestig het: Hier staan EK. Dit is alleen die Here se vasstaan wat opstaan te midde van verlies en lyding moontlik maak. Daarvan getuig vers 30: “Ek is ʼn hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God, sal my red en my beskerm.”

Paulus som dit treffend op in Romeine 5: “Ons verheug ons oor die swaarkry, want ons weet swaarkry kweek volharding en volharding egtheid van geloof en egtheid van geloof kweek hoop en die hoop beskaam nie, want God het Sy liefde in ons harte uitgestort.”

In Grieks is die verse van Romeine 5 geskryf in die verlede, hede en toekomstige tyd. God het gister vasgestaan, Hy staan vandag vas en môre sal Hy steeds onwrikbaar vasstaan, terwyl Hy onophoudelik, elke oomblik, Sy ewige liefde in ons harte uitstort. Dit is HOOP wat nooit beskaam nie.

Hier staan ons, Afrikaners, op 16 Desember 2019.

  • Hier staan ons om die lig van die son op ’n graf te sien val met die woorde Ons vir jou Suid-Afrika, maar ons sien donker skaduwees oor ʼn gebroke land.
  • Hier staan ons met eie vrese en verskrikking oor dood en geweld op plase en in woonbuurtes.
  • Hier staan ons met onsekerheid en kwaad oor die vernietiging, afbreek en ineenstoring van dit wat eens op ʼn tyd bates was.
  • Hier staan ons met ons eie trek of bly vrae.

Elke staanplek waar voortbestaan in die weegskaal geplaas word, eis van ons ’n antwoord oor die hoop wat in ons leef. Dit was in die verlede so en is vandag steeds so.

  • As die geskiedenis ons, die Afrikaners van 2019, op hierdie moment vries, hoe sou ons marmerfries lyk?
  • Wat sal die nageslag, ons kinders en kleinkinders, van ons werke uitbeitel?
  • Wat getuig ons fries van ons staanplek?

As gelowiges wat vashou aan die belydenis van Psalm 69:14 staan ons nie hier doelloos, verslae of verslaan nie. Ons staan nie krities en passief op die kantlyn en wag vir beter dae nie. Ons moed is nie gebreek nie. Ons het nie hoop verloor nie.

  • Hier staan ons vandag, op 16 Desember 2019, in ʼn betekenisvolle monument met
  • Hier staan ons as bouers. Ons bou – kerke, skole, universiteite, organisasies. Ons bou ’n toekoms vir ons kinders.
  • Hier staan ons omdat ons kies om ons kosbare taal, ons kultuur en ons geskiedenis te koester en te vertel.
  • Ons sing. Ons skryf. Ons dig. Ons skep. Ons ontdek nuwe horisonne. Hier staan ons, want ons is die nageslag van pioniers.
  • Hier staan ons as hoopdraers wat diensbaar leef. Ons isoleer nie, ons reik uit. Ons gee om en sorg vir ons naaste. Ons wil veiligheid, voorspoed en vrede vir almal in die land hê.
  • Hier staan ons in Suid-Afrika, met al sy bomenslike uitdagings, omdat ons kies om HIER ’n verskil te maak.

Dit is wat ONS VIR JOU SUID-AFRIKA vandag van ons vra.

Ons staan hier “Sodat die eer van Sy naam verheerlik sal word”.

Dit is wat die Gelofte van ons vra.

AMEN

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eg Afrikaans ·

Ek is so trots op my afkoms.
Ek is so trots op my geskiedenis.
Ek is trots Afrikaans.

Sic? ·

Net soos Retief gekies was , doen ons weer , onderhandel , ruil , koop , verkoop , deelneem , aansluit , stig, as ons die geskiedenis leer sal ons nie so trots wees op baie van die volksleiers nie . Kyk sy saalsakke bv . Numeri 23:9 . Job22:15

Neels ·

Hierdie mooi preek sal die meerderheid in die land koud laat. Hoe nou gemaak? Moet Afrikaners maar aanploeter en glo in “Ons vir jou Suid Afrika”, al wil die massas ons nie hier hê nie. Ek wil beslis nie sterf vir hierdie ashoop nie. Dis nou tyd vir nuwe planne maak, of ons gaan verdwyn en uitsterf, voor die einde van hierdie eeu.

Tommie Westermann ·

Ek is trots op herkoms.
Ek is trots Afrikaner.
Ek glo in die pad wat GOD ons op lei.

Leon Pit ·

GOD HET HIERDIE LAND AAN ONS GEGEE EN EK SAL MY LEWE AFLE VIR S.A. en MY GOD.

Christopher ·

Vandag sê die dominee dit was net n minderheid wat die gelofte die eerste keer afgele het en n verskil gemaak het en dit sal weer n minderheid wees wat die verskil sal maak.
Dit het my moed gegee.

Amanda ·

My God sal my nooit versaak nie. My God luister na ons pleidooie en Sy wil sal geskied. Op Sy tyd, nie ons s’n nie. As ons val, sal ons opstaan soos ons voorvaders en weer ons land herbou ten aanskoue van hulle wat dit geplunder, gebrand, vermoor het. Ten aanskoue van hulle wat getwyfel het. Ten aanskoue van die wat nie bereid was om saam met ons te staan nie. Ten aanskoue van lande wat nie agter ons gestaan en ons gehelp het nie. Hoekom wil ons opbou wat af gebreek was? Want ons is Voortrekkers, voorbokke, voirstaanders van dit waarin ons voorvaders en moeders geglo het en omdat hulle dit aan God belowe het. Ons nageslagte sal die Gelofte voortdra omdat ons hulle geleer het om te waardeer. Geleer het om beskaafd te wees. Omdat ons hulle morele standaarde geleer het en die belangrikste…omdat ons Christene is. Mag elke een van julle wat hier lees, onthou waaroor die feesgety gaan en wees veilig. Wees vreedsaam en wees lief vir mekaar. Geseend is julle. Voorspoed op dit wat 2020 gaan bied.

Marius ·

Mooi geskryf – dankie! Ek het maar gemengde gevoelens as dit by ons toekoms kom. Ek glo ons kan hier ‘n toekoms bou en gelukkig wees, maar die aanhoudende stryd wat in my woed oor my kinders en nageslag se toekoms en die invloed van my keuses op my nageslag put my uit. Die Voortrekkers het juis getrek om ‘n beter toekoms vir hulle nageslag, wat nou ons is, te skep. Moet ons nie dieselfde doen en ook ‘trek’ nie? Ek vra net…

Piet left the Building ·

Trek so vinnig moontlik. Jou kinders sal jou ewig dankbaar wees. Hulle is niemand se ideologiese poppe nie.

Spikkels ·

Dag van Gelofte wat gemaak is 16 Des 1838 vir ons as nageslag om te onderhou

André André ·

Ek het ‘n idee Cyril Ramaphosa ken nie die geskiedenis van die land nie, veral nie daardie voor die ANC se stigting in 1912 nie.

Petrus ·

En die wittes het nie ‘n idee van die geskiedenis hier voor 1652 nie…..

Wepner Viljoen ·

Petrus, daar was toe niemand wat dit opgeteken het nie, vandag lees die mense aan die hand van ekologiese uitgrawings se resultate, rots skilderkuns edm, wat in die geskiedenis plaas gevind het.

Nico ·

‘n Rekord getal mense het die gelofte erediens in Mosselbaai se stadsaal bygewoon. Daar was nie plek vir ‘n muis nie, stoele is ingedra en mense het op die trappe gesit. Ek het dit nog nooit so gesien nie !! Daar het beslis ‘n kentering plaasgevind !!

Wepner Viljoen ·

Jy kan gerus die foto’s van hoe die plek nou daar uitsien gaan Google.

Walter ·

Geskiedenis is mondelings oorgedra van generasie na generasie. Maar toe kom die Europiërs. Klomp skote later en bang…bang, die geskiedenis is uitgewis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.