Geloftedag: Leef trots!

voortrekkermonument-senotaafHierdie artikel deur dr. Danie Langner is deel van Maroela Media se reeks artikels oor Geloftedag. Klik hier vir vorige artikels. – Red

Bloedrivier 16 Desember 2014

In 2012 het die FAK besluit om die Groot Trek se 175ste herdenking te vier deur ’n vier uur lange dokumentêr oor die Groot Trek vir kykNET te verfilm. Ons het oor ’n afstand van 5000 km Pieter Retief se spore gevolg. Van die Kaap tot Natal. Veertig mense. Agt viertrekvoertuie. Twee weke lank. Soos wat die reis gevorder het, het dit meer geword as bloot net ’n historiese reis. Dit het ’n persoonlike ontdekkingstog geword. Jy kan nie
• op ’n man se stoep koffie drink;
• sy vergete wa-spore in die Winterberge ontdek;
• ’n diens in Kerkenberg se katedraal hou;
• die Drakensberge aftrek; of
• by twee massagrafte staan

sonder dat jy nie telkemale vir jouself afvra wie op aarde was hierdie mense nie?

Wie wás hierdie mense? Mense wat sonder politieke, ekonomiese of kerklike bystand op ʼn reis gegaan het waarvan die eindbestemming onseker was. Wie was hulle?

Hulle was gewone mense. Mense soos ons. Gesinne en families wat ʼn plek gesoek het waar hulle vry, veilig en voorspoedig kon wees. Gewone mense wat deur hoëfunksieprestasies die buitengewone bereik het. Die Voortrekkers was in alle opsigte ’n presterende gemeenskap. Dink net, toe Paul Kruger as tienjarige seun saam met sy ouers oor die Grootrivier getrek het, was daar niks. Geen dorp, pad, spoorweg, stad, republiek of winkel nie. Vyftig jaar later het hy die president geword van ’n staat wat hulle uit niks uit gebou het. Dit alles in een leeftyd! Sy leeftyd. Dit is ook hy wat gesê het dat daar eendag vir die mense, wat ons vandag Voortrekkers noem, ’n monument gebou moet word.

Ek het huis toe gegaan met ’n gevoel van ongelooflike trots. Trots op wat die Voortrekkers bereik het:
• Hulle het die grense van Suid-Afrika getrek.
• Hulle het die oorloë van massamoord en plundery tussen die Zoeloes, Swazi’s, Sotho’s, Ndebeles, Tswanas en Griekwas stop gesit en die tirannie van inheemse despote beëindig.
• Hulle het in vrede getrek en na die inheemse bevolking uitgereik. Dit was die Barolong wat na Vegkop die Voortrekkers gehelp het. Na Bloedrivier het Pretorius en Koning Mpande ʼn vredesverdrag gesluit. In 176 jaar was daar nooit weer ’n oorlog tussen Afrikaners en Zoeloes nie.
• Die Voortrekkers wat die onreg en grypsug van Britse imperialiste eerstehands ervaar het, het die grondbeginsels van ʼn republikeins-demokratiese tradisie vasgelê. By Thaba Nchu het hulle die eerste demokratiese verkiesing Suid van die Sahara gehou waar daar uit die volk vir die volk leiers gekies is. Hulle het demokrasie in Suider-Afrika gevestig.
• Hulle het net ʼn manifes en 9 Artikels gehad. Met dit as vertrekpunt is die Republieke georden met grondwette, landswette, onderwyswette, landbouwette, munisipale wette en mynwette waarvan baie regsbeginsels tot vandag toe geldig is.
• Hulle het sonder ondersteuning en goedkeuring van Brittanje republieke gestig. In die kort tyd van 14 jaar het hulle republieke internasionale erkenning van verskeie Europese moondhede gekry. Hulle republieke was die eerste internasionaal erkende republieke in Afrika.
• Deur middel van reisjoernale, dagboeke en veldlessenaars het hulle die eerste Afrikaanse geskrifte die binneland ingedra en sodoende die grondslag gelê vir Afrikaanse skryfkuns.
• Teenoor Britse verengelsing het hulle ’n taal- en kultuurbewustheid geskep wat oor tyd sou lei tot die ontwikkeling van ’n nuwe taal, Afrikaans. ’n Taal wat gebore is uit Afrika en na hierdie kontinent vernoem is.
• Hulle het hulle spore bevestig deur simbole, vlae, liedere en monumente sodat hulle kinders en kleinkinders nooit aan historiese geheueverlies hoef te lei nie.
• Die Voortrekkers wat gewoond was aan staanplekke en laers het in 50 jaar dorpe en stede gevestig waar wit en swart ’n verdienste kon bekom. Dorpe soos Kroonstad, Betlehem, Lydenburg, Rustenburg, Potchefstroom en stede soos Pietermaritzburg, Johannesburg, Pretoria en Bloemfontein is gevestig en bestaan vandag steeds.
• Hulle het die grondslag vir natuurbewaring geskep. Die Krugerwildtuin, groter as die staat Israel, is vandag steeds ’n internasionale bewys van hulle kreatiewe skeppingsvermoë.
• In minder as 50 jaar het hulle wa-spore ontwikkel tot ’n spoorlyn van Kaapstad tot Mosambiek.
• Die infrastruktuur wat hulle in 50 jaar geskep het, was meer as wat die Kaapkolonie in 200 jaar kon regkry.
• Die Voortrekkers het met die Trap-der-jeugd in die wakis getrek. Vyftig jaar later is die fondamente vir topskole en tersiêre opleiding gelê.
• Die Voortrekkers het sonder die ondersteuning van die Kaapse Kerk getrek. Met slegs die Bybel in die wakis het hulle die Christelike geloof behou en wyd versprei. Teologiese fakulteite en sendingstasies is gevestig op plekke waar dit nie vroeër moontlik was nie.
• Tente waarin elke aand huisgodsdiens gehou is, het tot sierlike kerkgeboue ontwikkel.
• Selfs hulle leed het hulle met trots gedra. Die Groot Moord by Bloukrans en Weenen was die eerste en enigste keer in die Suid-Afrikaanse geskiedenis waar 185 kinders in een nag vermoor is. Daarmee saam is hulle goewerneur, sy seun en 70 ander familie en gesinshoofde wreed vermoor. Die Trek was op ʼn mespunt van mislukking. Hulle het nie in sak en as gaan sit nie, maar onder leiding van Gerrit Maritz mede-verantwoordelikheid vir die hulpbehoewendes geneem. So het hulle die maatskaplike grondslag gelê vir die latere oplossing van Afrikaner-armoede.
• Die Voortrekkers was na die Oosgrensoorloë verarm. Die verarmde Oosgrensboere wat met min roerende bates getrek het, het met vindingrykheid en harde werk in vyf dekades vaste bates van miljarde pond geskep.

Dit maak my trots.

Hulle Groot Trek is vandag ’n inspirerende gevallestudie van vryheid. Andries Pretorius verduidelik dat die “sug na vrijheid” nie net daarin bestaan het om van die Britse monargie vry te wees nie.
• Die sug na vryheid was ʼn bevestiging van die reg om as ʼn selfrespekterende, selfstandige gemeenskap met ’n eie identiteit te mag voortbestaan.
• Dit was ʼn strewe van ʼn gemeenskap om self te mag besluit.

Die Voortrekkers se sug na vryheid het opkomende geslagte Afrikaners geïnspireer om steeds na nuwe horisonne te beur.

Dit bou my trots.

Trots is nie selfverheffing of arrogansie nie. NP Van Wyk Louw waarsku immers teen kulturele hoogmoed wat die liefde vir die eie verhef tot ʼn nasionale egoïsme en miskenning van ander.
• Trots, in die positiewe sin van die woord, skep toekomshoop.
• Trots skep die durf om self verantwoordelikheid vir ons kulturele erfgoed te neem.
• Trots maak dit moontlik vir Afrikaners om ’n presterende gemeenskap te wees.
• Trots is die sleutel waarmee Afrikaners die kulturele kapitaal van die verlede ontsluit en eietyds toepas.

Ons geslag Afrikaners se reis deur die kontoere van die 21ste eeu is nie minder saakmakend of rigtinggewend nie. Ook ons sal as eietydse pioniers nuwe paaie moet bou en nuwe horisonne moet verken. Ook ons sal probleme aan die kraag moet vat, oplossings vind en nuwe koers aandui.

As ons terugkyk na die afgelope 20 jaar na 1994, is daar baie waarop ons trots kan wees.
• Trots dat Afrikaners vandag anderkant die ou verdelingslyne van links/regs/KP/NP/verlig/verkramp kan tree om opnuut weer saam te dink en saam te doen.
• Trots dat Afrikaners met ʼn nuwe kulturele selfvertroue hulle kulturele identiteit as Afrikaners herontdek. Afrikanerskap is vir moderne Afrikanerskap is nie ’n rasseding nie, maar ’n kulturele begrip waaruit Afrikaners krag put en met voorposdenke en – dade steeds daaraan betekenis gee.
• Trots op Afrikanerorganisasies wat nie na 1994 hulle Afrikanerskap versaak of vir ’n pot lensiesop verruil het, of dit vervang het met die niksseggende term Afrikaanses nie.
• Trots op Afrikaners wat vandag steeds onbeskaamd Afrikaner is.
• Trots op Afrikaners wat nie na 1994 slagoffers geword het nie. Wat nie met ʼn gelate gehawendheid en ʼn troostelose weerloosheid verlam is of aan een of ander skuldkompleks lei nie.
• Trots op Afrikanerorganisasies wat dit wat ons eie is – ons taal, ons geskiedenis, ons tradisies, ons kultuur in beskerming neem en dit steeds as ʼn kulturele bate vir ons kinders uitbou.
• Trots op Afrikaners wat steeds op die voorpunt veg vir dit wat reg en billik en menswaardig teenoor almal is.
• Trots dat Afrikaners regstellende aksie en transformasie oorwin met entrepreneurskap.
• Trots dat Afrikaners nie hulself van ander gemeenskappe afsluit en isoleer nie, maar uitreik, brûe bou en diensgerig leef.
• Trots dat Afrikaners in ’n tyd van soveel krisisse steeds hulle moue oprol en hard werk, sodat ons kinders ’n toekoms in Suid-Afrika kan hê.
• Trots dat ons weer vir ons kinders ’n nuwe Afrikaanse universiteit bou.
• Trots op ons Afrikaanse skole wat in ’n tyd van middelmatigheid uitnemend presteer.
• Trots dat ons as Afrikaners steeds hier is en steeds ’n presterende gemeenskap is.

Vandag staan ons by Bloedrivier en die horison lyk donker. Al is ons landsomstandighede akuut, sal Afrikaners met hoëfunksieprestasies ook die huidige landsomstandighede uitpresteer. Ons geskiedenis bewys dit en ons doen dit reeds. Ons vertrou nie op toeval nie. Ons fokus.

Gaan huis toe en leef trots. Leer jou kinders om as moderne Afrikaners trots te leef. Raak betrokke. Moenie op die kantlyn staan nie. Jou saamdink en saamdoen is nodig. Ondersteun Afrikanerorganisasies. Wees as Afrikaner die toekomsgerigte prestasie in jou gemeenskap.

In die Voortrekkersangbundel is daar ’n lied wat aansluiting vind by die gees van die Gelofte. ’n Lied met toekomshoop. ’n Lied wat my telkemale inspireer:

Soos kampvuurstompe deur die nag met helder vlamme brand,
so vlam in ons die liefde vir die jeug van hierdie land.
Die kinders van ons vaderland, o ja, vaderland bly steeds ons duurste pand.
En as ons met Trekkerseuns- en dogters werk,
dan maak geloof en liefde, ja ons hart en hande sterk.
En saam sal ons in hierdie land, o ja, hierdie land ’n helder toekoms bou.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Ant ·

Ou Hanno, jy moet bietjie ophelder jong, die tyd vir die “Ja maar” antwoorde tussen ons boere is lankal verby..

Dankie Danie, ek gaan hierdie een uitdruk en byderhand hou om so elke nou en dan te herinner aan dit wat ons behoort te bereik

Johann van Wyk ·

Ag Hanno Visagie, Jesus Christus het nooit bestaan nie. Hy, ook bekend as Super Jew, is ‘n skepping van die Katolieke Kerk. Lees tog asb oor die groot vakgebied, Esegese en dan daarna jou bybeltjie geskryf deur oeroue filosowe wat gedink het die aarde was plat.

Neil Prinsloo ·

Uitstekend Danie!! – In Namibië by die Bakenkop Geloftefees is die boodskap ook – Wees trotse Namibiese Afrikaners!

“Ek wil deel wees en ek wil ook my bes doen om te verseker dat my kinders eendag deel kan wees van ‘n sterk Kultuurvolk. ‘n Kultuurvolk met ‘n stewige identiteit sal ook ‘n stewige fondament hê. Sal mense wees wat as volk ook hulle koppe optel in die openbare lewe. Mense wat ywerig saam met al die ander Namibiese volke bou aan Namibië en trots sal wees op die prestasies en oorwinnings van die verlede – prestasies, oorwinnings en die opbou van die land waarvan Afrikaners deel was en in groot mate die leidende rol gespeel het.

‘n Kultuurvolk met ‘n stewige identiteit sal mense wees wat hulle plek in die ekonomie volstaan en polities beding om as ‘n erkende volk voort te bestaan. Hulle sal individue wees wat nie net vir hulleself werk nie, maar as groep kan saamstaan. Mense wat hulle God nie vergeet nie, maar Hom eer in hulle individuele en volkslewe.

Mense wat hulle taal nie net in stand hou nie, maar ook uitbou. Mense wat hulle kultuurfeeste vier, wat hulle kultuurkos bly eet en geniet saam met familie en vriende op ‘n bepaalde manier. Mense wat hulle geskiedenis ken, hulle wortels verstaan en positief leef, omdat hulle gelowige hoop het op die toekoms. Mense wat vertroue het in hulle God as Versorger en Onderhouer. Mense wat ‘n roeping het om steeds hierdie deel van die wêreld te beskaaf met die beginsels van God se Koninkryk.”

Heinrich Kohne ·

Uitstekende stuk. Ek hoor die ATKV op Hartenbos wou R 4000.00 se huur vir die klankstelsel he en daarom is die fees in die NG Kerk gehou ipv die amfiteater so oor etlike jare al. Kan hulle dit regverdig na al die finansies wat hulle oor jare ontvang en steeds ontvang, om nie eers die regverdiging van hul ontstaan te noem nie. Stink na politieke korrektheid as om hul naam gestand te doen as afrikaanse taal en kultuur wat ook die elemente is wat n volk defineer. My voorouers het na 1838 hier aangekom maar as christen is ek verbind tot hierdie gelofte. Dit is ‘n volksfees en nie ‘n politieke speelbal nie. Dit is n heilige verbond in Bybelse dedinisie en ‘n verpliting op ons om God te eer vir wat Hy vir ons gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.