Geloftedag: ʼn Pleidooi vir konsentrasie, leierskap en geloof

‘n Ossewa by die Voortrekkermonument. Foto: Carla van der Spuy

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging, se Geloftedagtoespraak by die Swarthoek Geloftefees.

Die afsluiting van die toespraak word eerste gegee waarna die res van die toespraak volg.

Vriende,

Waarom het ek u vanoggend so lank besig gehou met ʼn geskiedenisvertelling oor die gebeure van 1838 en dit wat daartoe aanleiding gegee het. Omdat ek juis wil vra dat ons met erns vandag weer na die omstandighede wat ons mense toe in soveel verdriet gedompel het, moet kyk en harder moet probeer om nie weer dieselfde foute te maak nie.

Terwyl ons vandag hier ons roeping en ons verbond met God herdenk, herinner ons, onsself ook aan die volgende negatiewe punte:

  1. Die voortdurende tweespalt en stryd tussen die Vryburgers, grensboere en veral die Voortrekkers en die negatiewe gevolge wat dit ingehou het.
  2. Die krisisse wat oor 350 jaar ylverspreide besetting van dele van Suid-Afrika veroorsaak is. Onthou hier Retief en Maritz se waarskuwing aan die Boere om in groter laers saam te trek.
  3. Die onvermoë om sterk Afrikanerleiers te kies en dan hulle leiding te volg. Waar die teenoorgestelde die geval was, soos by Bloedrivier, was die gevolge anders.
  4. Tog is dit net so belangrik vir leiers om na die volk te luister. Indien Retief na Maritz en talle ander leiers en die meerderheid van die Natalse trekkers geluister het, sou hy nie sommer net by Dingane opgedaag en dan ook nog sy wapens buite die stat agtergelaat het nie.

Waar staan ons vandag? Ek is ten diepste oortuig daarvan dat die Afrikanervolk geroepe is om as ʼn Westerse beskawing aan die suidpunt van Afrika te bly voortbestaan. Ons doen dit reeds vir meer as 350 jaar. Reeds vir meer as drie eeue is ons ʼn volk wat met dapperheid en inisiatief vir ons vryheid opstaan. Ons trek uit die Kaap na die binneland van die kolonie en die oosgrens. Vandaar vind die Groot Trek plaas. Die Boere-republieke word opgerig. Toe die Unie en uiteindelik die republiek.

Waar staan ons vandag? Bietjie soos die trekboere van die 1830’s woon ons verstrooid en kwesbaar oor ʼn groot gebied. Baie van ons mense sit selfs in die buiteland. Ons vind geen konsensus oor leiers nie en talle van ons mense neem belangrike besluite suiwer gebaseer op waar die beste spreekwoordelike weiveld is.

Wat bind ons? Ons Christelike geloof, ons taal, ons roeping wat op soveel kere herbevestig is, ons geskiedenis en ons wete dat alles wat oor 350 jaar gedoen is en gebeur het tog nie tevergeefs kan wees nie. Ook die gelofte bind ons. Nie as ʼn meulsteen om ons nekke of ʼn straf van ons voorvaders nie, maar as ʼn lig op ons pad in die soeke na ʼn vrye, voorspoedige en veilige voortbestaan in Suid-Afrika.

Kom ons gaan uit en herinner onsself elke dag aan die inhoud van die gelofte, aan die sterwenswoorde van Maritz en die oggendgebed van Erasmus Smit.

Ek dink daar is vyf lesse wat ek in nederigheid self hieruit wil put en met u wil deel:

  1. Die Afrikaner het ʼn roeping in Suid-Afrika om as volk voort te leef en ʼn om Christelik-Westerse beskawing hier in stand te hou.
  2. Ons sal moet konsentreer. Ons sal geografies, maar ook organisatories weer moet laer trek in enkele gebiede van Suid-Afrika en binne organisasies, kerke, eie skole en die nodige instellings wat ons veiligheid en kultuurbehoud kan verseker.
  3. Ons sal moet leer om weer opofferings te maak. Opofferings is dade van dapperheid en kom makliker wanneer jy in diepe geloof jou roepingsbesef uitleef.
  4. Leierskap en samewerking is noodsaaklik vir elke volk se voortbestaan. Met tweespalt, verdeeldheid en verdagmakery sal onsself vernietig.
  5. Indien ons sal aanhou om die gelofte te herdenk vanuit ʼn vertrekpunt dat die basis van alles wat ons is en wat ons doen ons geloof is, dan sal die gelofte beide ons anker en ons vlerke kan wees.

Ek sluit af. Prof G.D. Scholtz skryf in 1977 in sy boek Afrikaner Waarheen? dat die Afrikaanse volk voor sy grootste krisisuur staan. U kan self dink as hy in 1977 ʼn krisisuur sien kom het, hoe duidelik hy kon sien wat vir ons sou voorlê. Ek haal hom aan: “Alleen deur ʼn grootse daad wat die vrug sal wees van geestelike sterkte en van fisieke en materiële opoffering, sal die Afrikaners deur hierdie aanslag op hul bestaan as volk kan voer. Mag God hulle daartoe in staat stel!”

Die toespraak: 

Historici soos Professore Hermann Giliomee, Fransjohan Pretorius en GD Scholtz is dit almal eens dat daar met die aanvang van en tydens die Groot Trek nog nie juis ʼn sterk volksgevoel tussen die trekkers was nie. Die grensboere was Afrikaners en het ʼn sterk Christelike lewenswandel gevolg, maar soos wat Prof. Pretorius onlangs weer geskryf het, was nasionalisme nog grootliks onderontwikkeld aan die oosgrens en was Afrikanernasionalisme eerder ʼn gevolg as ʼn oorsaak van die Groot Trek.

Die Groot Trek is hoofsaaklik vanuit praktiese oorwegings onderneem wat ingesluit het die Engelse regering aan die Kaap se behandeling van die grensboere. Die regering se besluit dat geen grensuitbreiding anderkant die Visrivier toegelaat sou word nie, het die boere diep gegrief. Ook die afwesigheid aan besitreg van grond met eers die leningplaasstelsel en daarna die instelling van erfpaggrond was vir die grensboere ʼn groot probleem. ʼn Verdere probleem was die vrystelling van slawe wat tot heelwat misdaad aan die oosgrens en meer afgeleë dele van die kolonie gelei het. Die boere het gevoel dat hulle geen beskerming van die regering ontvang nie en dat hulle ontmagtig is om hulleself te beskerm.

Hermann Giliomee bespreek in sy boek, Die Afrikaners: ʼn Biografie, die aanloop tot die Groot Trek en hoe daar deeglike verkenningsekspedisies uitgestuur is wat ondersoek na die potensiaal van die binneland kon gaan soek. Die Groot Trek was dus nie ʼn impulsiewe daad nie, maar wel ʼn daad van rebellie teen die imperialisme van die Britse regering aan die Kaap. Juis in hierdie rebellie lê duidelike wortels van volkseenheid wat eers baie later, en na groot terugslae, verder sou ontwikkel.

Die ontstaansgeskiedenis van die Afrikaner as volk vanaf die vestiging van ʼn verversingspos in 1652, die Vryburgers se vestiging op plase, die verspreiding in die Kaapkolonie wat daarop sou volg, die Groot Trek en uiteindelik die Slag by Bloedrivier was alles boustene tot die ontwikkeling van ʼn volk met ʼn nasionalistiese strewe wat duidelik eers heelwat later sterk na vore sou kom.

Verskeie historici het al die sterk Christelike lewensbeskouing van die Grensboere deeglik ondersoek. Was daar ʼn roepingsbesef onder die grensboere teenwoordig of is hulle suiwer deur ʼn behoefte vir vryheid en grond gedryf?

Ook hier moet ʼn mens verder in die verlede gaan kyk. Die burgers aan die Kaap het reeds van vroeg af na hulself as Christene verwys. In die eerste honderd jaar van die Kaapkolonie was die burgers egter nie besonder godsdienstig nie. Min mense het Bybels besit en daar was min gemeentes aan die Kaap. In 1743 het die Hollandse amptenaar G.W. van Imhoff nog soos volg verklaar: “Die onverskilligheid en onkunde van ʼn groot aantal van die grensboere is so erg dat dit wil lyk of ons met ʼn gemeenskap van blinde heidene te doen het eerder as ʼn kolonie van Europeërs en Christene.”

Dit alles sou binne die volgende een honderd jaar dramaties verander. Soos wat die boere en hulle gesinne oor die Kaapkolonie verspreid begin woon het, is ʼn groter premie op die Christelike identiteit geplaas. Hoewel dit aanvanklik in ʼn groot mate slegs ʼn manier was om hulleself van die bruin- en swart mense te onderskei, het die verbintenis tot aktiewe geloofsbeoefening skerp toegeneem. Aanneming in die kerk, die doop en nagmaal was dinge waarop die boere ʼn groot premie geplaas het en teen die vroeë 1800’s het die boere en hulle gesinne groot moeite gedoen om gereeld kerkdienste by te woon. Huisgodsdiens was ʼn instelling en ʼn diepe kennis van die Bybel was algemeen.

Giliomee haal ʼn Engelse reisiger wat in die 1830’s die afgeleë boere in die binneland van die Kaapkolonie en op die oosgrens besoek het soos volg aan: “There are certainly no people in the world who are so truly God-fearing as the Afrikaner.”

Die gevoel van roeping en spesifiek ʼn spesiale verbond tussen die boere en God het ook toegeneem. Die kinderdoop in die NG Kerk het ʼn groot rol gespeel om ʼn verbintenis tussen ouers en God vir die opvoeding van kinders in die geloof te verskerp. Giliomee voer ook aan dat soos wat die verbondsteologie wortelgeskiet het, die burgers toenemend oortuig was dat die gebruik van die kerk se sakramente hulle as ʼn gemeenskap saamgesnoer het.

Foto: Argief.

Teen die tyd toe die Groot Trek in 1835 begin het, was die Afrikanergemeenskappe in die Kaapkolonie mense met ʼn diepe roepingsbesef en was daar ʼn groot mate van gemeenskaplikheid. Die wyse waarop verskillende trekgeselskappe en families mekaar tydens die trek sou ondersteun, het ook hieruit voortgespruit.

Tog was daar geen eensgesindheid onder die Afrikaners oor die Groot Trek nie. Aan die Kaap het amptenare en kerkleiers almal negatief op die boere se besluit om die binneland in te trek, gereageer. Gideon Joubert, ʼn vername grensboer het selfs voorspel dat die boere almal uitgewis sou word. Christoffel Brand, ʼn bekende en ryk Afrikaner aan die Kaap het aan Andries Pretorius geskryf om te sê dat Pretorius nooit moet vergeet dat hy wat Brand is self ook ʼn Afrikaner is en dat die trekkers in sy gedagtes is nie. Daar was dus ʼn mate van solidariteit met die trekkers in sommige kringe, maar nie ʼn algemene solidariteit nie.

Hierdie tendens sou deur die Groot Trek, die vestiging van die Boere-Republieke, die Vryheidsoorloë en selfs ʼn groot deel van die twintigste eeu se Suid-Afrikaanse geskiedenis voortgesit word. ʼn Mate van solidariteit sou altyd in sekere dele van die Afrikanerbevolking aan die Kaap vir die binnelandse Boere bly bestaan, maar die breuk tussen Kaapse liberale Afrikaners en die toenemend konserwatiewe, streng behoudende binnelandse Boere sou net groter word.

Teen die tweede helfte van 1837 was daar reeds 2000 trekkers wat die binneland ingetrek het en hulle in ʼn breë band vanaf die bron van die Caledonrivier tot by die Oranjerivier bevind het. Rampe het die trekkers egter gou getref met die Van Rensburg-trek wat deur vyandige stamme in die Limpopo-vallei uitgewis is. Die Tregardt-trek is weer deur siekte getref moet Tregardt self wat weens koors dood is. Die Slag by Vegkop was nog ʼn terugslag vir die trekkers en hoewel slegs 35 manlike trekkers die aanslag van duisende Ndebeles in een van die dapperste momente in ons geskiedenis, afgeweer het, het die Ndebeles daarin geslaag om byna al die trekkers se vee weg te voer.

Terwyl die trekkers vinnig deurgeloop het onder swart vyandige stamme en siekte was dit egter nie hulle grootste uitdaging nie. Die groter probleem onder die trekkers was die enorme verdeeldheid en twis wat meegebring het dat hulle nie deeglik saamgewerk het om hulself te beskerm nie. Dit is dalk ook net een van die oorsake vir die rampspoedige wyse waarop die eerste paar maande van 1838 uiteindelik vir die trekkers sou afspeel.

Eers net terug na laat 1837. Natal het vir die trekkerboere baie aantreklik gelyk, veral soos wat inligting oor die hoë reënval, goeie weiveld en wye ooptes onder die trekkers versprei het. Die trekkers wat ook sterk onder die indruk dat die grootste dele van Natal ontvolk was weens die verdelgingsoorloë tussen die Zoeloes. Retief en ʼn klein geselskap van vyftien man het na Port Natal vertrek om ondersoek te gaan instel.

Op 7 Oktober 1837 het Piet Retief ʼn brief na sy laer gestuur. Erasmus Smit skryf in sy biografie soos volg oor sy indrukke uit Retief se brief aan die laer: “dat zij van die hoogtes dezes bergs de schoonste landstreken gezien hebben, die zijn Ed. Ooit in Afrika gezien heeft.” ‘n Mens kan gerus FA Venter se Offerland gaan lees om ook mooi beskrywings van die trekkers se eerste indrukke van Natal te kry. Retief en sy geselskap het sonder twyfel Natal as ʼn soort paradys beskou.

Retief was doelgerig ingestel om ʼn ooreenkoms met die Zoeloe-koning Dingane by sy woning Umgungundlovu te sluit sodat die trekkers permanent in Natal kon vestig. Professor Gert Duvenage skryf in sy boek oor Bloedrivier dat Retief en sy geselskap sonder twyfel voor hulle besoek aan Dingane oor sy wispelturigheid, sluheid, wreedheid en misterieuse persoonlikheid gewaarsku is.

Dit is hier belangrik dat ons, onsself herinner aan Dingane se eie geskiedenis. Sy pa was die Zoeloe-opperhoof Senzangakhona. Dingane was ʼn jonger seun van die opperhoof en het volgens oorvertelling geen besonderse indruk as kind en as jongman geskep nie. Met die dood van die hoofman in 1816 is Shaka, die oudste van Dingane se halfbroers, as opperhoof bevestig. Dingane het van 1816 tot 1828 in Shaka se Womberegiment gedien, maar het ook daar geen indruk as ʼn dapper krygsman gelaat nie. Toe in 1828 sluit Dingane ʼn ooreenkoms met sy ander halfbroer Mhlangana en met Shaka se persoonlike lyfbediende Mbopha. Op 22 September 1828 verras hulle vir Shaka by Dukazakraal en steek hom dood.

Shaka se vertrouelinge is daarna ook afgemaai en uiteindelik het Dingane teen sy halfbroer Mhlangana gedraai en hom ook laat vermoor. Dit het die weg gebaan vir Dingane om opperhoof van die Zoeloes te word.

Terwyl Shaka oorlogslustig was en daar groot oorloë tydens sy bewind plaasgevind het, het die Engelse by Port Natal en die meeste Zoeloes volgens oorvertelling gehoop dat dit onder Dingane sou verander, juis omdat Dingane geen groot oorlogsvoerder of krygsman was nie. Hy was ʼn onindrukwekkende persoon: Kort en weens sy gemaksugtige en onaktiewe lewe ook redelik oorgewig.

Tog het die Engelse by Port Natal redelik goed met Dingane saamgewerk en is daar oor en weer handel gedryf, terwyl die Engelse Zoeloedrosters aan Dingane uitgelewer het in ruil vir vrede en die geleentheid om die Christelike geloof onder die Zoeloe-stamme te verkondig.

Retief en sy geselskap was deeglik hieroor ingelig voordat hulle op 5 November 1837 by Dingane se koninklike stat aangekom het. Dié vyftien man moes een of ander ongemak gehad het met die omvang van die stad met sy 1 500 strooihutte wat tussen 15 000 en 20 000 Zoeloe-soldate gehuisves het.

Drie dae na hulle aankoms, het Dingane hulle te woord gestaan. Hy het ingestem om vir die trekboere grond te gee indien hulle die Tlokwa-opperhoof Sekonyela aan hom sou uitlewer en sou help om die vee wat Sekonyela uit Dingane se veekrale gesteel het, terug te kry. Die Engelse sendingwerker Francis Owen het Retief se brief waarin die inhoud van die gesprek met Dingane bevestig is, in Engels vertaal.

Daarna het Owen, wat teen daardie tyd vir Dingane goed geken het, vir Retief afgeraai om Dingane se vee by Sekonyela te probeer terugkry. Owen was baie skepties oor die tentatiewe ooreenkoms tussen Retief en Dingane, onder andere wees Dingane se onvoorspelbaarheid, maar ook omdat Dingane reeds die grond wat hy vir die trekkers wou gee, aan die Engelse by Port Natal belowe het. Retief en sy geselskap is toe terug na hulle laer en kort daarna het trekkers na Natal begin vertrek. Retief en ʼn kommando het kort na Kersfees na Sekonyela wes van die Drakensberge vertrek om Dingane se gesteelde vee terug te kry. Teen 11 Januarie 1838 was hulle terug met die vee.

Vir Retief het dit gelyk of alles volgens plan verloop. Nie almal het egter saamgestem nie. Reeds op 3 Januarie word die trekkerlaers deur ʼn smous, Thomson, gewaarsku dat Dingane van voorneme was om hulle te laat vermoor. Die Amerikaanse sendeling Gardiner het ook waarskuwings aan die trekkers en die Engelse in Port Natal gerig dat die woord deur sommige Zoeloes versprei word dat Dingane ʼn uitwissing van alle blankes in Natal beplan.

Retief was baie bekommerd hieroor, maar dit het hom nie in sy Natalse planne gestuit nie. Wat Retief verder onstel het, was dat meer en meer van die trekboere teen alle versoeke in begin het om plase langs die Bloukrans- en Boesmanriviere uit te soek. Die trekkers het al hoe meer ylverspreid begin woon omdat hulle weiveld vir hulle vee gesoek het.

Maria Hugo beskryf in haar biografie oor Retief hoe Dingane begin besef het dat die koms van die trekkers na Natal ʼn groot bedreiging vir hom sou inhou weens hulle groot getalle en hulle militêre vermoë. Die wyse waarop hulle Mzilikazi verslaan het, het hom veral bang gemaak en hy het met sy raadsmanne, Dambuza en Umhlela, ʼn plan begin beraam om van die Boere ontslae te raak.

Terwyl Retief onrustig was, was ander trekkerleiers selfs kwaad en ontsteld oor die onverskillige optrede van sommige van die trekkers. Andries Hendrik Potgieter het gevoel dat die trekkers halsoorkop na Natal getrek het. Potgieter wou eerder sien dat die trekkers finaal in die Transvaal gaan vestig en hy het Natal as te riskant bestempel.

Potgieter was ook ongelukkig omdat die trekkers nie saamgestaan het en saam op een plek gevestig het nie. Daar was duidelik groter en groter verdeeldheid tussen die laers.

Op 16 Januarie het Retief ʼn volksvergadering geroep om die opvolgbesoek aan Dingane te bespreek. Hoewel die vergadering goed verloop het, was talle laers nie by die vergadering verteenwoordig nie. Selfs Maritz het dit nie bygewoon nie omdat hy van Retief verskil het. Kort voor Retief se vertrek na Dingane het leiers soos H.P. Malan, wat uiteindelik saam met Retief sou sterf, en Sarel Cilliers almal vir Retief versoek om nie self vir Dingane te besoek nie.

Tydens Retief se tweede besoek aan Dingaan was daar drie groot laers in Natal. Gert Maritz was gestasioneer bo-aan die Boesmanrivier, die Retieflaer was naby Spioenkop en die Potgieterlaer bo-aan die Tugela onder die Drakensberg. Die meeste trekgroepe was egter verspreid langs die Boesmansrivier, Klein- en Groot Moordspruit en die Bloukransrivier. Hierdie verspreide vestiging het samewerking tussen die trekkers bemoeilik en ook tot onenigheid aanleiding gegee.

Voor Retief se besoek aan Dingaan het hy ʼn pleidooi aan die kleiner laers gelewer om nader aan die groot laers te trek. Die meeste boere het egter geweier weens die behoefte aan goeie weiding vir hulle diere en omdat elkeen die beste plaas vir homself wou uitsoek.

Die feit dat meer en meer boere langs die riviere gevestig het, het ʼn gevoel van dringendheid by Retief laat onstaan om die ooreenkoms met Dingane af te handel. Hy was bang dat vinnige vestiging van die trekkers in Natal wantroue en vyandigheid by Dingane sou uitlok. Retief het ʼn sterk besef van sy rol as trekkerleier gehad en wou daarom self vir sy mense ʼn ooreenkoms by Dingane gaan sluit.

Kort voor Retief se vertrek na Dingane het Maritz weer sterk kapsie teen die besoek gemaak. Hy het aan Marthinus Oosthuizen, wat ook vir Retief sou vergesel, gesê: “geen enkele van julle sal terugkomen.”

Op 6 Februarie 1838 is Retief en sy sewentig manskappe saam met hulle dertig agterryers by Dingaan se woning, Ungungundlovu, vermoor. Na die Retief-moorde het Dingaan tussen 6000 en 7000 Zoeloe-krygsmanne uitgestuur om die trekboere en hulle gesinne te vermoor. Die Boere het teen ʼn reuse oormag te staan gekom en was totaal onvoorbereid. Op daardie tydstip was daar sowat 800 Boere in Natal.

Toe Retief en die trekkers wat hom na Dingaan vergesel het teen 15 Februarie nog nie teruggekeer het nie, het Maritz bekommerd begin raak en die ergste verwag. Hy het die trekboere net soos wat Retief voor sy vertrek na Dingaan gedoen het, probeer oortuig om in die groter laers bymekaar te kom. Ook Maritz se pogings om die boere te oortuig het grootliks misluk en weerlose groepies boere en hul families het langs die riviere bly boer.

Eers op 20 Februarie het Maritz ʼn brief van een van die Engelse aan Port Natal ontvang waarin hy die nuus van Retief en sy manskappe se dood gekry het. Dit was egter te laat.

Reeds in die vroeë oggendure van 17 Februarie, drie dae voor die ontvangs van hierdie brief, is die eerste boere en hulle gesinne langs die Bloukransrivier aangeval. Daniël Bezuidenhout, sy broer, Petrus en enkele vroue soos die bekende Johanna van der Merwe, na wie ʼn duikboot in die Suid-Afrikaanse vloot meer as honderd jaar later vernoem is, het die aanval op die Bezuidenhout, De Beer, Liebenberg en Rossouw-families oorleef. Daniël het verskeie assegaaisteke gekry, maar kon vlug om die verskeie ander families langs die rivier te gaan waarsku.

Die Bloukransmoorde was een van die donkerste en verdrietigste momente tydens die Groot Trek. Meer as 300 wit trekkers en 200 bediendes is op wrede wyses vermoor. Die Zoeloes het ook tussen 20 000 en 25 000 beeste van die trekkers gebuit.

Na die moord op Retief en sy manskappe en die daaropvolgende Bloukransmoorde was die trekkers in wanorde en is hulle dae deur vrees en onsekerheid gekenmerk. Baie van die Boere het al hulle vee en al hulle besittings verloor. Die wreedheid van die Zoeloe-aanvalle op 17 Februarie 1838 sou vir altyd in die psige van die Boere bly. Die tonele van verbrande waens, kindertjies wie se koppe ten wawiele stukkend geslaan is en vroue wie se liggame vermink is, het die sterkste oorlewendes geknak.

Gert Maritz is diep geraak deur die tonele wat hy op Sondagoggend, 18 Februarie aanskou het. Tog het hy nie in moedeloosheid en verslaenheid verval nie, maar het hy besluit om die leierskap wat van hom vereis is, op te neem en sy mense te bemoedig en te motiveer. Hy is na die Bloukransmoorde sterk gesteun deur geestelike leiers soos Erasmus Smit en Sarel Cilliers.

Na pleidooie van die trekkers het die trekgroepe van Piet Uys en Hendrik Potgieter uit die Oranje-Vrystaat kommando’s gestuur om die Natalse trekboere te gaan bystaan. Die Boere het op 28 Maart by Maritz se laer bymekaar gekom om ʼn volksvergadering te hou. Daar is tydens dié vergadering besluit om ʼn strafkommando na Dingaan te stuur. Maritz was ʼn goeie leier, maar het beperkte kennis van oorlogvoering gehad en Piet Uys is as Kommandant van die Boere-kommando aangewys.

In sy oggendgebed het Erasmus Smit die oggend van 28 Maart soos volg gebid:

“Dat de Heer al het volk en de voorgangers deszelven wilde vereenigen tot een zin en gevoelen, om met God en Zijne hulp den vijand met vereenigde krachten te bestrijden en overwinne; opdat hij ons niet andermaal verraderlijk aanvalle en ons overwinne.” Hierdie gebed was ‘n duidelike voorloper tot die Gelofte van 16 Desember 1838.

Die Slag van Italeni het op 9 April plaasgevind en het rampspoedig vir die Boere geëindig met die dood van Piet Uys, sy seun Dirkie en nog 8 ander Boere. Die Boere se twee kommando’s het uit 247 manne bestaan terwyl hulle deur ʼn reuse oormag van by die 8000 Zoeloes oorrompel is. Piet en Dirkie Uys is noordwes van die Italaberg dood.

Na die nederlaag by Italeni het Potgieter en sy manne besluit om eerder na Transvaal te trek en daar te vestig. Die Natalse trekkers was erg verdeeld en onenigheid en dwarstrekkery was algemeen. Maritz het sy mense bymekaar probeer hou, maar sy gesondheid het voortdurend agteruit gegaan. Die trekkers se getalle in Natal is ook met Potgieter se vertrek gehalveer. Verder is daar byna daagliks Zoeloe-spioene gevang. Die trekkers het in vrees vir ʼn volgende Bloukrans geleef.

Maritz se moed is egter nooit gebreek nie. Hy het die trekkers bly motiveer en het ook per brief hulp uit die Kaap aangevra. ʼn Mens moet ook vermeld hoe die vroue ʼn groot rol gespeel het om hulle mans te bly bemoedig.

Intussen is daar begin om aan ʼn volgende strafkommando op Dingane te beplan. Voorrade is deur Maritz in Port Natal gaan haal en hy het aan ʼn taktiek begin werk wat uiteindelik op 16 Desember by Bloedrivier sou uitspeel. Maritz het ook aktief meegewerk aan die verskuiwing van die verskillende laers.

Op 12 Junie het die Volksraad in Natal vergader en is Jakobus Smit tot President van die Raad verkies. Op 13 Augustus het die Zoeloes ʼn aanval op die trekkers by Gatslaer geloods. Die Boere was baie beter voorbereid en meer as 2 000 Zoeloes het gesneuwel.

Na dié veldslag het ʼn belangrike verskuiwing plaasgevind. Weens die honderde ontbindende lyke moes die trekkers se laers verskuif word. Maritz het osse gestuur en al die laers, behalwe die van Greyling, Landman en die Uyse was nou saam met Maritz aan die Klein-Tugela verenig.

Intussen het Maritz se gesondheid agteruitgegaan. Goeie nuus is egter ontvang dat twee vooraanstaande boere uit Graaff-Reinet se distrik, Andries Pretorius en Jacobus Boshof, van plan was om na Natal te trek.

Op 23 September 1838 is Maritz op 41-jarige ouderdom dood. Sy laaste woorde is deur sy dogter Debora Susanna Sophia neergeskryf: “Dit is met my gegaan soos met Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie… Graag het ek die bloei van my volk gesien, maar dit is my nie gegee nie. My raad aan julle is: wees getrou aan die Heer, en getrou aan julle owerheid… Hoe moeiliker dit ook lyk, julle sal die opbloei van ons volk seker aanskou in hierdie veelbelowende land.” Die trekboere in Natal was weer leierloos.

Gert Duvenage beskryf die gemoed onder trekkers na Maritz se dood soos volg: “Die goeie ideaal het aan skerwe gelê. Die land is ʼn verdoemenis, ʼn verderf; vryheid was ʼn hersenskim. Natal was maar soos die oosgrens, die lyding en offers was net meer.”

Einde Oktober het Andries Pretorius en sy trek vanaf Graaff-Reinet by die trekboere langs die Klein-Tugela aangesluit. Pretorius was ʼn indrukwekkende man met natuurlike leierseienskappe. Op Sondag 25 November of Maandag 26 November is Pretorius in die teenwoordigheid van al die Natalse trekkers as kommandant-generaal verkies. Pretorius het onmiddellik begin om soveel moontlik inligting oor die Zoeloes se strategie en taktiek in te samel.

Pretorius was ʼn diep gelowige en die gedagte van ʼn gelofte het reeds langs die Tugelarivier by hom onstaan. Pretorius en die trekkers was oortuig dat hulle soos Israel moes bly vertrou op die Here om hulle beloofde land binne te kon trek. Die Tugela was hulle Jordaanrivier.

Uit Sarel Cilliers se boodskap op Sondag 2 Desember het die idee van ʼn gelofte nog sterker na vore gekom. Pretorius het hom daarna versoek om die gelofte af te lê. Op 9 Desember lees Sarel Cilliers vir die trekkers vanuit Pretorius se tent langs die Wasbankspruit uit Psalm 38 en sluit hy af met ʼn gebed waarvan die gelofte, wat hy reeds op 7 Desember aan Pretorius voorgehou het, deel was.

Van 10 Desember af is die gelofte elke dag tydens die aanddiens herhaal. Op 15 Desember het die Boere die tyding ontvang dat die Zoeloeleër so twintig kilometer van hulle af was. Pretorius het dadelik op ʼn gelyk, oop terrein laer getrek. Agter en langs die laer was hoë loskoppies en rantjies en voor hulle diep slote na die rivier. Die Zoeloes sou moeilik hul gebruiklike stormloop kon uitvoer.

Toe die digte mis die oggend van 16 Desember om die laer lig, was die laer deur Zoeloes omring. ʼn Stryd tussen die 468 trekkers en meer as tienduisend Zoeloes het sowat twee ure geduur. Slegs drie trekkers is beseer, terwyl drie duisend Zoeloes dood is. God het op die gebede van die trekkers geantwoord.

Na die oorwinning oor die Zoeloes het Pretorius se mense hul gelofte nagekom en is ‘n kerk in Pietermaritzburg gebou. Vir lank na die Slag by Bloedrivier is die Gelofte egter nie weer formeel by geleenthede voorgehou of herdenk nie. Dit was eers Paul Kruger wat in 1880 weer die viering van die gelofte laat herleef het.

Kruger het as kind eers by Vegkop die aanval deur die Ndebeles en in 1838 in Natal die Zoeloe-aanvalle, na die moord op Retief, beleef. Hy het dus van jongs af sterk geglo dat God sy hand oor die trekkers as verbondsvolk gehou het.

ʼn Roepingsbesef het al by die Kaapse Afrikaners van die vroeë 1800’s bestaan. Dit is deur die Voortrekkers versterk. Teen 1852 was daar ʼn diepe besef van volksplanting en het die Afrikaners aangedring op die herdenking van die volksplanting tweehonderd jaar gelede.

Paul Kruger het nadat hy in 1883 die laaste President van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword het, hierdie diepe roeping verder bevorder en die jaarlikse herdenking van die geloftes was een manier. In die daaropvolgende byna een en ʼn halwe eeu sou die Afrikanervolk deur makliker en moeiliker tye gaan.

Tog was die uitdagings wat die Afrikaners aan die Kaap ervaar het, die uitdagings wat die grensboere aan die oosgrens trotseer het, die krisisse van die Voortrekkers, met spesifieke verwysing na die gebeure van 1838, die Vryheidsoorloë, onderdrukking en armoede na 1902 en uiteindelik weer die verlies aan ʼn eie regering in 1994 almal op interessante maniere aan mekaar verbind.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

André André ·

Cyril Ramaphosa verstaan nie dat die Afrikaner ‘n bydrae wil lewer nie en hy verstaan nie dat die Afrikaner ‘n eie identiteit, soos elkeen van die etniese groepe in die land het nie. Cyril Ramaphosa weet dat hy ‘n Venda, met Venda tradisies is.

Wingman ·

Net soos wat die Afrikaner na 1900 oor die Engelse gevoel het, so voel die swartes oor Afrikaners. Apartheid het blywende skade veroorsaak. Die gevoel van swartes sal nie gou, indien ooit, verander nie.

Markus ·

En toe kom daar n leier met n gesplete tong en verkoop die volk uit sonder om ten minste te onderhandel vir n onafhanklike tuis staat en ja die res is n onderdrukking en vergelding vir die afgelope 25 jaar.

André André ·

As mens verstaan waar jou land vandaan kom, die kragte waaruit dit ontstaan en opgebou is, die diversiteit van die mense wat elkeen ‘n bydrae gelewer het, het jy soveel meer begrip om toekomsgerig te wees en om al daardie kragte met visie tot voordeel van die land aan te wend.

Ek wil glo dat elke president sy land se geskiedenis moet ken, juis waar dit ‘n land van verskillende kulture is, anders, hoe het hy dit veil vir al sy burgers as hy nie begrip vir hul herkoms en aspirasies vir die toekoms het nie?

Kerneels ·

Die gemiddelde blanke het ook nie ‘n idee waar die swartmense vandaan kom nie. Hulle stel ook nie belang nie. Die ou blanke politici het ook nie belang gestel nie.

André André ·

Kerneels, wat ek hiervoor geskryf het, nav die bostaande artikel, is spesifiek op presidente gemik. Daardie persoon, wit of swart, vir wie die skoen pas, kan self besluit en dit dan gerus maar aantrek.

Tog het ek ‘n idee dat die ‘ou’ blanke politici het wel deeglike kennis oor die geskiedenis van die land gehad, soos ook vandag s’n. En natuurlik is die gemiddelde blanke persoon hoegenaamd nie oningelig nie.

Cornelia C ·

Baie dankie Jaco. En dan bygevoeg dat mens werklik vele meer feite, name en omstandigheids faktore van die Trek geskiedenis uit jou deeglik nagevorste kennisskat ryker geword het.

Wepner Viljoen ·

Maar die Afrikaners het kolonialisme en die juk van die Engelse oorkom, die vertrapping en die veragting van Afrikaans, sonder om die Engelssprekendes in die land vir die wolwe te gooi. Dan, laat ons besin oor hoe lank die land aan kolonialisme onderworpe was, in hoe verre dit die inheemse mense tenagekom het en hoe lank die land onder apartheid bestuur is en die gevolge daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.