Geloftedag: Om anders te sien

Geloftedag

Geloftedag. Argieffoto.

In Deuteronomium 1 ontmoet ons die bejaarde Moses en Israel in die woestynvlakte, oos van die Jordaan. Moses is 120 jaar oud. In Deuteronomium is hy besig met sy afskeidstoespraak. Hy blaai terug in die verlede om vir Israel te herinner aan die woestynpad wat God met hulle gestap het.

Moses herinner hulle daaraan hoe hulle pa’s, ma’s, oupas en oumas 40 jaar gelede ook op die drumpel van Kanaän gekamp het.

Hulle was onseker en bang. Op hulle aandrang het Moses 12 spioene gekies om die beloofde land te gaan verken.

Die 12 spioene het teruggekom met wonderlike nuus. “Die Here ons God gee vir ons ’n goeie land.” Hulle het swaar gedra aan die vrugte van die land. Die enigste probleem was die Enakiete. Die reuse. Boonop woon hulle in groot stede en skuil agter sterk mure.

Israel se moed was gebreek.

Op moedverloor se vlakte wou hulle nie hulle laat oortuig toe Moses hulle verseker: “Moenie bang wees nie. Moenie skrik nie. Die Here gaan voor julle uit. Hy sal vir julle veg.”

Toe die beslissende oomblik aanbreek waar hulle hul toekoms, hul lewe, hul kinders in die hande van die Here moet plaas, toe deins hulle terug … met katastrofiese gevolge.

  • Die woestynreis wat net 40 weke moes duur, word 40 jaar.
  • ’n Hele geslag moes sterf.
  • Ook Moses sou die beloofde land nie sien nie.

Laat ons nie te vinnig oordeel nie. Ek het tog simpatie met Israel. Ons voel dikwels ook maar klein en swak, weerloos en onvoorbereid om die toekoms in besit te neem. Ons kom ook te staan voor reuse uitdagings wat groter en sterker as ons is.

  • Ons voel aan ons lyf hoe reuse-armoede besig is om ons land te oorrompel.
  • Ons is bekommerd oor die reuse- finansiële krisis wat voorspel wanneer ons land ’n rommelstatus-gradering kry.
  • Ons mense buig onder reusespanning en werksdruk.
  • Reusemisdaadsyfers omsingel ons huise en bedreig ons veiligheid.
  • Voorspoed word verwoes deur reusekorrupsie.
  • Ons sien die reusegeweld wat hierdie jaar ons opleidings- en opvoedingsinstellings verlam het.
  • Dalk is daar reusegesondheidsprobleme wat jou lewe bedreig.

Dit gebeur so maklik dat ons geloof op moedverloor se vlakte kan beland.

  • Dat ons geloof pap en futloos, sonder toekomshoop kan word.
  • Dat ons ons in veilige private ruimtes terugtrek omdat ons naïef dink die reuse sal ons nie daar oorweldig nie.
  • Of met ’n wag-en-sien-houding van volstruispolitiek dink die reuse sal net verdwyn.
  • Of nog erger, dat ons, soos Israel, reuse-klakouse word wat eerder die woestyn verkies as om teen die reuse op te staan.

Veertig jaar later staan Josua op dieselfde plek. Op die drumpel van Kanaän.

Kan jy jou voorstel hoe onseker Josua op die woetynvlakte oos van die Jordaan moes voel?

Geloftedag word regoor die land gevier. Argieffoto.

Moses, die Godsman met sy vaste geloof, die persoonlike vriend van die Here, die ordeskepper, die bouer van ’n volk, is dood.

  • Ná 40 jaar is dieselfde reuse steeds daar.
  • Die stede is steeds groot en die mure hoog.
  • Israel is steeds woestynreisigers wat moet veg teen groter en sterker volke.
  • Al waarborg op sukses wat hy het, is die belofte van die Here: “Moenie bang wees nie. Ek is by jou.”

Maar, Josua het gekies om die Here te glo. Hy het gekies om die Here op sy Woord te neem.

Geloof beteken allermins dat Josua blind is vir die realiteite, die reusebedreigings, die feitlik onmoontlike taak op hande. Dit beteken ook nie dat Josua ’n geloofsaktivis is wat blindelings en onvoorbereid Kanaän gaan binnestorm nie.

Geloof beteken om anders te sien. Om agter die sigbare realiteite wat ons bedreig, die onsigbare helder te kan sien. Om agter die reuse, God raak te sien. Daar kom tye wanneer ’n mens, ʼn gesin, ʼn gemeenskap, ʼn land voor ’n beslissende oomblik te staan kom.

  • Oomblikke wat ’n moeilike geloofskeuse eis.
  • Oomblikke waar ons moet kies tussen die sigbare en onsigbare; tussen die realiteit van reuse, of die beloftes van die Here.
  • Oomblikke waar ons besef ons geloofskeuse bepaal nie net ons toekoms nie, maar veral ons kinders se toekoms.
  • Dit is wanneer ons op die beslissende oomblikke te staan kom, wat ons besef watter groot verantwoordelikheid op ouers se skouers rus.

Geloof wat anders sien, gee ons die onderskeidingsvermoë om op hierdie beslissende oomblikke die regte geloofskeuse te maak.

Vandag vier ons reg oor die land Geloftedag. Die Groot Trek is ook ’n woestyn- en intogverhaal. Dit is veral die verhaal van geloof wat anders sien.

Met die verfilming van die Groot Trek 175-dokumentêr vir kykNET het ons die laaste aand in die Bloedrivier-walaer gekamp. Ons moes die aand die Gelofte verfilm. Teen sonsondergang het ons presies gedoen, wat ek my voorstel, die ou Voortrekkers ook gedoen het. Ons het geëet, skottelgoed gewas en daarna na die middel van die walaer gestap om die Gelofte te verfilm.

Die aand was koud en donker. Die maan het agter die wolke verdwyn. Op daardie oomblik was dit so donker dat jy nie jou hand voor jou oë kon sien nie. Dit was so pikdonker dat dit selfs onmoontlik was om die wit 4×4-voertuie op die rand van die walaer te sien. Amper soos die aand van 15 Desember 1838.

Uit historiese bronne weet ons die reuse-Zoeloeleër, die magtigste en effektiefste leër in Afrika, was besig om die walaer te omsingel.

FA Venter beskryf dit treffend. Hoe daardie handjievol mans gedink het aan hulle gesinne wat iewers anderkant ’n duisend heuwels in die donker wag. Vasgekeer in laers. As hulle sou misluk in hulle reusetaak sou daar geen keer gewees het aan die tragedie wat sou volg nie. Die uitkoms van die Groot Trek was op die spel. Die lewe van hulle vroue en kinders was op die spel. Vrees het soos die digte, koue mis wat die walaer toevou, hulle harte omklem.

Ek kan my voorstel hoe hulle op daardie donker aand van 15 Desember teruggedink het aan die bloedjaar van 1838. ’n Jaar wat met soveel toekomshoop en drome begin het en so tragies geëindig het.

  • November 1837 het hulle op die rand van die Drakensberge gestaan met die asemrowende uitsig oor die Amfiteater, waar “songloed en glorie”, in die woorde van Eitemal, “die berge oor hulle fronsende voorhoof streel, waar ruisende wind oor die vlaktes met grassaad kerjakker en speel.” Piet Retief het geskryf dit is die mooiste land in Afrika. Die Voortrekkers was ontroer bly en bly. Hulle het tuis gekom. Op die rand van die berg het hulle spontaan “Prys die Heer met blye galme” gesing.
  • Skaars drie maande later word Piet Retief, sy 12-jarige seun, saam met 70 van die vooraanstaande familie- en gesinshoofde op die wreedste denkbare wyse vermoor.
  • Dit word ’n jaar van groot verliese. Die Groot Moord vind plaas met 49 massagrafte langs die Bloukransrivier en Moordspruit. Dit is die eerste en enigste keer in Suid-Afrika se geskiedenis waar 185 kinders in een nag vermoor is. Die verlies van leiers.
  • Dit word ’n jaar van angs en onsekerheid. Angs by Veglaer. Angs oor krimpende getalle soos mense drupsgewys wegtrek. Angs oor hulle toekoms.

Teen Desember 1838 was die Voortrekkers ’n getraumatiseerde gemeenskap wat op die mespunt van ’n beslissende oomblik te staan gekom het.

Sonstraal op die senotaaf in die Voortrekkermonument. Foto: Commons.wikimedia.org

Die Gelofte gaan nie oor mag en krag, oorwinning of nederlaag, swart of wit nie, of om die Here vir jou saak in te span nie.

Daardie donker, koue aand in die walaer by Bloedrivier terwyl ons die Gelofte moes verfilm het ek besef:

  • As jy op ’n beslissende oomblik in jou lewe te staan kom;
  • gestroop van enige selfversekerdheid en hoogmoed;
  • waar eie antwoorde stil word en planne opdroog, terwyl reuse jou omsingel;
  • as daar geen ander hulp en geen uitkoms in sig is nie en vlug nie meer ’n opsie is nie;
  • as jy nie met sekerheid sê of jy môre die son sal sien opkom nie;

kyk ’n gelowige op en bely jou afhanklikheid voor God.

Die Gelofte is ’n belydenis van afhanklikheid van mense wat gekies het om deur geloof anders te sien. Die Gelofte is ’n keuse vir hoop op die Here alleen. Dit is ’n getuienis van mense wat klein geword het, voor ’n groot Here. Wat bely: “Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde.” Dit is geloofstaal wat die onsigbare sien. Dit is vertroue wat in ’n krisis vrees oorwin en rustigheid bring. Dit is afhanklikheid wat toekomshoop skep.

Gelowiges het altyd ’n keuse. ’n Keuse om anders te kyk. Om God te sien. Om Hom op sy Woord te neem as hy sê: “Moenie bang wees nie. Ek is by jou.”

Wanneer ons vanuit God se perspektief na ons reuse kyk, sal ons vind dat groot reuse klein word, dat sterk stede swak word, dat God vir ons en ons kinders met die oorvloed van hierdie land sal sorg. Dit het Hy beloof. Sy Woord is genoeg.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

28 Kommentare

Izzy ·

Wat ‘n ongelooflike mooi skrywe is hierdie! Ek kan in nederigheid net se soos Josua…..’ek en my huis, ons sal die Here dien’.

Eish ·

Dit is n pragtige penbeskouing van Geloftedag en hoe, deur geloof, jy die werklikheid anders kan sien.
Ek bly egter bietjie vassteek by die goddelike waarskuwing aan die volk Israel voor hul die beloofde land binne getrek het. Ons hemelse Vader het dit duidelik uitgestippel dat die volk wat die land bewoon het, verjaag word vanweë hul sondes en dat dieselfde met Israel sou gebeur indien hul ook van die Wet van GOD afwyk. Wat ook dan gebeur het met die Assiriese wegvoer van Israel en die Babiloniese inval van Juda 400 jaar later.
Ons is die beloofde land in, nou spoeg hy ons uit vanweë ons sonde.
Ons is gereduseer tot leierlose dwalendes, ons eet en word nie versadig nie, ons drink maar ons dors word nie geles nie. Ons werk, maar is more die werk kwyt. Ons plant, maar ander eet die opbrengs van ons land.
Dit help nie ons vergelyk onsself met Israel en trek nie die streep dwarsdeur nie. Help nie jy probeer hoop skep deur net die helfte van die verhaal te vertel nie.
Ons predikante, pastore, priesters en whatever, trou mense van deselfde geslag, bly in mansions en rits rond in miljoen rand seëninge.
Ons, die Afrikaanse kaukasiër , beleef sy uitspoegoomblik in die land wat n helhool geword het.

Nic ·

Eish, Jy het goeie kommentaar gelewer, maar nie ‘n antwoord gegee nie. Die skrywer se bedoeling, dink ek, is juis dat ons as Afrikaner Kaukasiërs moet besef, soos Israel destyds in ballingskap, dat ons enigste hoop die Here God Almagtig is en dat ons ons weer moet verootmoedig soos daardie handvol Voortrekkers wat die eerste gelofte afgelê het. Wanneer ons dit doen, sal die Here ons land genees!

Nouja ·

Eish. Ek stem saam met die sentiment van jou boodskap en wil graag die volgende byvoeg:
Niemand is so blind soos hy wat nie WIL sien nie.
Niemand is so doof soos hy wat nie WIL luister nie.
Niemand is so afgestomp soos hy wat nie WIL voel nie.

Chris Ws ·

En niemand is so verlore as die mens wat NIE die Gelofte van 16 Desember 1838 nakom nie.Dis ‘n feit.

Patrioot ·

Wat ‘n pragtige kommentaar. Wat my deesdae almeer pla is: Kom ons die gelofte na wat ons voorsate daardie dag in 1838 gemaak het? Ek woon nie meer in SA nie, maar elke jaar hierdie tyd worstel ek met daardie vraag. Sal graag wou weet hoe ander voel.

CG ·

Danie. ‘n Baie mooi verwoorde en inspirerende stuk. Ongelukkig bederf jy toe alles met jou gevolgtrekking en laaste paragraaf. Spesifiek : “…. dat God vir ons en ons kinders met die oorvloed van hierdie land sal sorg. Dit het Hy beloof. Sy Woord is genoeg”. Ten spyte van vele versies waaruit die teendeel afgelei kan word, is God se boodskap aan ons nie dat Hy dit met ons sal laat goed gaan op hierdie aarde nie. Dit kon neer op welvaardsgodsdiens. Verder, wie is jy, mens (dus ook ek of enige iemand anders) om te verklaar wat God SAL doen. Dit kom baie naby aan wat God MOET doen. Ds. Cassie Aucamp se boodskap by die Voortrekkermonument vandag (uit Ps 126) dat God die beskikker van die lotgevalle van mense en volke is, is korrek. Dit beteken (my woorde) dat ons kan glo dat Hy oor ons lot gaan beslis. Ons mag glo en Hom pleit om ons te help, maar Sy wil sal geskied. Die heel belangrikste is dat Hy sy Seun gestuur het, sodat ons uiteindelike lotsbestemming Sy heerlikheid kan wees. Ek neem die vrymoedigheid om jou te versoek om jou stuk se gevolgtrekking te verander, met die strekking van: Daarom kan ons ons reuse as ‘n geloofsdaad en in nederige erkentlikheid tot die Almagtige God, konfronteer.Ons weet dat ons in God se hande is en dat Hy oor ons en ons volk se lot sal beslis.

Piet Kraak ·

Die geloftebesigheid bly maar ‘n belaglike besigheid. Vaderland.

Daniël ·

Piet Kraak, ek neem ten sterkste aanstoot aan jou kommentaar. As jy God en die Voortrekkers se Gelofte minag is dit jou keuse, maar toon minstens die ordentlikheid om dit eerder nie op ‘n openbare platvorm soos hierdie uit te spoeg nie. Het jy geen respek nie?

Valerie ·

En die Voortrekker Monument en ‘n sekere brug in Johannesburg is een van die lelikste strukture en geboue denkbaar.

Daniël ·

Valerie, dit het nog nooit gegaan oor die Voortrekkermonument nie. Behalwe pure moedswilligheid, wat is die relevansie van jou kommentaar rakende die Afrikanervolk se Gelofte teenoor God? Dat die die Voortrekkermonument en ‘n “sekere brug” in Johannesburg een van die “lelikste” strukture en geboue denkbaar is? Watter een is volgens jou die “struktuur” en “gebou”? Geen wonder die Afrikanervolk is in so ‘n haglike krisis nie.

CG ·

Valerie. Dit is die bril waardeur jy kyk wat dit vir jou so lelik maak. Ek hoop jy het iets anders wat vir jou mooi is, want jy mis iets baie besonders. (Ek weet nou nie van die brug nie – verwys nou net na die VTM).

Marthinus Willemse ·

Die Zoeloes wat op 16 Desember 1838 by Bloedrivier gesterf het, was ook mense, wat deur God geskape is, nes die Voortrekkers wat die sneller getrek het. Daar is voldoende bewyse dat die gryse en wyse indoenas nie wou veg nie; dit was die heethoofdige jongklomp wat wapen opgeneem het.

Gedurende die kruistogte het die pous gesê dis oukei om Moslems dood te maak. En ekstremistiese Moslems vandag sê dis oukei om Christene dood te maak. Ons kan nie bid dat God ons help om ons medemens dood te maak, en dan nog so `n onredelike gelofte aan ons nageslag afdwing nie.

Dis een ding om God om hulp te vra in `n oomblik van benoudheid. Dis `n ander ding om God te verseker dat, as hy ons help om ons medemens dood te maak, ons elke jaar daardie dag sal gedenk. (Ek kan nie namens God praat nie, maar ek is geneig om te glo dat hy so iets as jeugdige onvolwassenheid sal sien, en nie teen ons hou nie.)

God sal nie ons land genees as ons aanhou dink ons is uitsonderlik en verdien sy genade, en ander is nie so uitsonderlik, en kan maar sterf nie.

SNEL ·

Marthinus Willemse, Dawid kom nou in my gedagtes met jou geskrywe met al sy oorloë. Daar was so baie bloed aan sy hande dat God nie eers wou hê hy moet vir Hom n tempel bou nie. Nee wat, ek stem nie met jou saam nie. Ons kan nie net as Christene terugsit nie, ons kan veg en ons beskerm ook, en ons God sal ons help om n oorwinning te behaal en as ons in die proses n gelogte aflê, dan hou ons daarby.

Daniël ·

Marthinus, wat jy ons eintlik wil wysmaak is dat God geen onderskeid tref tussen diegene wat Hom aanbid en diegene wat Hom verwerp nie. Kan jy ook asseblief jou bronne aantoon van die “voldoende bewyse” dat die wyse en gryse indoenas nie wou veg nie. Die Voortrekkers was nie volmaakte mense nie maar die wat by Bloedrivier teenwoordig was, was sonder uitsondering Godgelowiges. Daar bestaan voldoende eietydse gedokumenteerde bewyse daarvoor. Dingaan is op rekord dat hy gesê het dat hy (Dingaan) God is en sy gryse en wyse indoenas was sy getroue volgelinge. Herkou ‘n bietjie daaroor voordat jy besluit jy weet hoe God dink. Lees gerus self wat die Bybel sê oor om in dieselfde juk te trek as die ongelowige…

L ·

Die voortrekkers het ‘n gelofte gemaak aan die enigste ware God en Hy het hul verlos.Die afrikaner het afvallig geword van die Here .Die afrikaner het God se Woord vervals deur ‘n Rooms -Arminiaans vertaling 1983 vertaling.Hul het 1992 God verlo”en deur mamon te kies met DIE JA STEM dan kom ons nie eers by Die liedboek wat godlo”enaars gebruik om die psalms te dig ens. Die Here gaan die afrikaner oorgee aan die vyand waarvan Hy die voortrekkers verlos het .Die slag van bloedrivier gaan teen ons getuig.

Max ·

Bid dat die Here ons moet bewaar teen voorspoed, dobbelary, afgodery, ens. Hou by God se Gebod!

Prok ·

@ Piet Kraak, hoe kan die herdenking van ‘n dag waarop die wonderwerke wat God verrig het ooit as belaglik afgemaak word?Ons herdenk die dag omdat die belofte in die gelofte gemaak is en om eer te bring aan God vir al die wonders wat hy daardie dag gedoen het. @ Marthinus die trekkers het nooit gevra dat God hul moet help om ander dood te maak nie maar gevra dat hul beskerm word. Sal jy nie God vir beskerming smeek as jy oornag in jou huis aangeval en jou geliefdes bedreig word nie? Dit was ‘n geveg wat God gewen het, nie die trekkers nie. Net soos Gideon nooit sy oorwinnig behaal het nie maar die eer God toekom.

L ·

Die Kruistogte was rooms die voortrekkers was protestante dit het niks met mekaar te doen nie.Die zulos (die indunas)het babbas,kinders en vrou uit vermoor bv. Bloukrans.(een rede vir die slag van bloedrivier) Die voortrekkers het nooit ‘n vrou of ‘n kind gedood nie.Wat van die mense wat Israel met die banvloed moes tref op God se bevel.dan wag Armageddon nog en die hel vir die goddelose.

alwyn burger ·

Die duisende Afrikaners wat nie deelgeneem het aan die Groot Trek nie , word nie geraak deur fie Gelofte nie. Baie het seker nie eers daarvan geweet nie,

CG ·

Alwyn. My biologiese voorgeslagte het nie aan die Groot Trek deelgeneem nie. Ek het my van kinderdae af tot nou toe gebonde aan die Gelofte beskou.

Wilmien ·

Goeiedag, kan ek asseblief ‘n afskrif aanvra van die artikel ‘Geloftedag: Om anders te sien’ van 16 Des 2017?
U kan dit aan my e-pos of faks (nr: 0865122463).
Met dank en waardering
Groete

N Lourens Reitz ·

M.Media jammer dat daar so min en selfs glad nie berig of verslag gedoen is oor Gelofte Dag en waar Afrikaners by een gekom het om weer hierdie Gelofte te herdenk in aanbidding en die wyse waarop dit opreg gedoen is .

CG ·

Stem saam! Ek verstaan dit glad nie, MM? Ons was by die Voortrekkermonument. Ons verkies om buite te sit a.g.v. die baie mense (hierdie jaar ooglopend meer as die vorige jare). Mev Knobel stel dit dat sy al 25 jaar betrokke is – hierdie jaar dink ek sy het die beste ooit uit ons gehaal met die voorsang. Ds. Cassie Aucamp preek dat God oor mense en volke se lotbeslis en dat ons daarom hoop mag he. Rondom ons sit en selfs bietjie kerjakker ons hoop op die pragtige groen gras. Kinders – baie! Hierdie volk het nog nie hoop verloor nie! Ek dink die tuine en terein was nog mooier as vorige jare. Baie dankie aan almal so so hard werk om dit wat vir ons dierbaar is, in stand te hou! Na die diens- die mense is oral. Kinders met hulle “Trotse Afrikaner” T-hemde. Dit is asof niemand wil huis toe gaan nie, maar nog ‘ n bietjie van die snoesigheid van tussen volksgenote wees , wil koester. 12 uur- die sonstraal “Ons vir jou Suid-Afrika”. Selfs in die gedrang, ook om weer by die klein deurtjie van die Monument uit te kom, is mense vriendeliker en hofliker as vorige jare. Ons gaan huis toe in euforie. Wat n belewenis!!

CJ ·

Ds. Langer. ‘n Baie mooi stuk. Baie inspirerend! Gee mens sommer weer moed! Baie jammer van die laaste paragraaf, wat eintlik die hele stuk se fokus op afhanklikheid van God weerspreek. Dit staan nerens in my Bybel dat “God vir ons en ons kinders met die oorvloed van hierdie land sal sorg” nie. Ek dink ook nie dit was die boodskap van God aan die volk Israel m.b.t. die beloofde land nie. (As dit was het Hy gelieg, want dit het ook bitter swaar met hulle indie “beloofde land” gegaan, hulle is in ballingskappe weggevoer en uiteindelik oor die wêreld verstrooi).

Terloops, wat bedoel jy met “hierdie land” (volgens die strekking van jou stuk ons beloofde land)? Bedoel jy Suid-Afrika? Daar was baie staatkundige veranderinge, maar geografies is dit steeds die gebied wat eers as die Unie van Suid-Afrika bekend gestaan en in 1910 as staat tot stand gekom het. Die eindproduk van Britse imperialism seder 1795; die produk van vele oorloë deur die Britte teen verskeie volke in Suidelike Afrika; in besonder die produk van die verskriklike Tweede Vryheidsoorlog. Reken jy Britse imperialism het ons “beloofde land” geskep? Indien jy so dink, gee jy hulle darem te veel krediet! Ons is orals in God se hande, nie net in ons eie gefabriseerde “beloofde land” nie.

God se bemoeienis met ons (elkeen as mens) en ook met ons volk, is besonders genoeg, dat ons nie hoef aan te dik nie. Vee die laaste paragraaf van jou stuk uit, asseblief!

Peet J ·

Die Katolieke en Protestante se geloofsbelydenis is presies dieselfde so ook al die ander Christelike gelowe.

Coen ·

Die God van die Bybel wil met ons in ‘n verbonds verhouding staan. Die inhoud van die verbond is eenvoudig: Wees vir my ‘n volk, dan sal ek vir jou ‘n God wees. Daaruit verstaan ek dat ek (ons) vir Hom ‘n volk is wanneer ons volgens Sy voorskrifte leef (wat Hy in die Bybel vir ons geskryf), en as Hy vir ons ‘n God is, dan ontvang ons die beloftes wat Hy aan sy volk gemaak het. En volgens Deuternomium 28 sal ons baie voorspoedig wees as ons gehoorsaam is, m.a.w. as ons vir Hom ‘n volk is. Maar as ons nie aan sy opdragte gehoorsaam is nie, vertel dieselfde Deuternomium 28 vir ons hoe sleg dit met ons sal gaan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.