Geloftedag: Want haar naam is vrou en moeder…

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit.. (Foto: Maroela Media)

ʼn Opsomming van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, se Geloftedagtoespraak by Wachtenbietjieskop, Bronkhorstspruit.

Angstig wag die vroue. Piet Retief en sy manskappe is weg om met Dingaan te onderhandel. Lenie, Piet se vrou se tent is ʼn miernes. Almal wil weet of sy nuus het. Sy antwoord deurentyd met ʼn glimlag: “My Piet weet hoe om na homself te kyk. Ek is seker hulle het al ʼn goeie ent op die pad terug gevorder”.

En toe 17 Februarie 1838. ʼn Doodsnag – onverwags. Altesaam 185 kinders, 41 mans, 56 vroue en 250 diensbodes is by Bloukrans en Boesmansrivier vermoor.

Die trekke is platgeslaan. Is dit die einde van die Groot Trek? Is dit die einde van hulle?

Waar is goewerneur Piet Retief?

Op 20 Februarie 1838 die nuus dat Piet Retief, sy seuntjie Pieter en die hele geselskap wreed deur Dingaan vermoor is.

Op 27 Februarie skryf Lenie Retief:

Wanneer die slaap my snags ontwyk en ek wonder wat ek moet doen, dan probeer ek dink welke raad Piet my sou gegee het. Wat sou hy nou vir ons almal gesê het, hoe moet ons optree. Ek dink sy raad sou wees: Wat julle ook al doen, moenie oorhaastig wees nie. Maar moenie dat jul hartseer julle verlam nie. Daar is ʼn jong geslag tussen julle wie se toekoms in jul hande is. Jul uitdagings is drieledig: beveilig jul jeug se toekoms, dan is jul eie toekoms ook veilig; moenie moed verloor nie, maar slaan die hand aan die ploeg en woeker met die talente wat die Allerhoogste aan julle gegee het; en staan saam, want niemand kan die uitdagings wat hierdie wêreld bied, alleen te bowe kom nie. Dis wat ek in die nag dink dat my oorlede man se woord sou wees, en ek stem daarmee saam. Dit is die hoeksteen van ons toekoms.

Lenie Retief, gebroke, haar man en seun wreed vermoor. Sy het alle rede om nie meer hoop te hê nie, maar in ʼn brief aan haar broer in die Kaap skryf sy: “Stuur vir my ʼn kissie vrugtebome, want ek wil plant in die nuwe land.”

Die trek is verby, ons moet terug, het baie gevoel. Daar word vertel dit is die vroue wat gesê het, ons trek voort. Daarna die Gelofte en die oorwinning by Bloedrivier.

In 1842 word Port Natal weer deur die Britte beset. Weer was dit die Voortrekkervroue wat hierdie anneksasie verwerp. Susanna Smit, vrou van eerwaarde Erasmus Smit, het gesê dat hulle vasbeslote was om eerder kaalvoet oor die Drakensberge terug te stap.

Daar word vertel dat Susanna in ʼn stadium so kwaad vir die Engelse was, dat haar man gesê het: “Stil my vrou, bly ʼn bietjie stil.”

Vir die Britte was die vrou se deelname aan ʼn politieke gesprek vreemd.

Volgens prof. Hermann Giliomee het Afrikanervroue altyd ʼn sterk posisie in die familie en gemeenskap gehad. Feministe het al in die 1880’s geskryf dat Afrikanervroue se krag daarin lê dat hulle nie ʼn minderwaardige posisie gehad het nie. Hulle het nie minderwaardige onderwys teenoor dié van mans ontvang nie en daar is ook nie met boedelverdeling gediskrimineer nie.

Die Engelse het die Afrikaners nie uitgelos nie. Eers die besetting van die ZAR en die Eerste Vryheidsoorlog. 27 Februarie 1881 en die Boere oorwin die magtige Engelse ryk by die slag van Majuba.

Daarna volg die tweede besetting van die ZAR en die Tweede Vryheidsoorlog of die Anglo-Boere-oorlog.

Giliomee skryf in sy boek oor die Afrikaners dat die onblusbare verset van die Boerevroue gedurende die Tweede Vryheidsoorlog ʼn beslissende faktor in die oorlog was. Die mans, sowel Boere as Britte, was verstom dat die vroue bereid was om soveel te verduur vir die Boere se stryd.

Ná die oorlog was dit die vroue wat opgestaan het. Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) in die Kaap, die Oranje-Vrouevereniging in die Vrystaat en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in Transvaal is ná die oorlog gestig om welsynswerk, wat die stigting van kinderhuise ingesluit het, te doen.

Daarna die rebellie van 1914. Ná die rebellie het vroue insamelings gereël vir die Helpmekaarvereniging, wat die boetes van die rebelle moes betaal. Basaars, konserte en dinees is gereël. Die Helpmekaarvereniging se suksesvolle insamelings het ʼn enorme gevoel van selfbemagtiging aan Afrikaners gegee.

Dit was die stimulus vir ʼn reeks bemagtigingsinisiatiewe wat daarop gevolg het.

Op 5 Augustus 1915, ’n jaar ná die 1914-rebellie, het Afrikanervroue betoog teen die aanhouding van hul mans, broers en seuns – Boeregeneraals en ander leiers. By die Uniegebou gekom, het hulle ’n versoekskrif aan die goewerneur-generaal se afvaardiging bedien.

Die destydse De Burger het die volgende dag berig oor die “diepe ernst, kalmte, waardigheid en beslistheid” van die meer as 4 000 vroue wat in stilte deur Pretoria gestap het.

Jan F.E. Celliers het gedig oor wat hy op daardie winterdag in 1915 in Pretoria aanskou het:

“Ek sien haar swyend gaan op steile pad, half duisel nog van nagte deurgewaak, en wankel-tredend, elke tree ’n pyn, na soveel gaans aan liefdewerk gewy.

Ek sien haar wag, geduldig, sonder woord, soos sy al honderd jaar gewag het en gely,

Ek sien haar wen, deur lye net soos Hy;

Ek sien haar wen, vir man en seun en broeder.”

In die Groot Depressie van die 1930’s was dit weer die vroue wat gehelp het. Die vroue-instellings het ʼn kritieke rol gespeel om Afrikaners binne een geslag te moderniseer.

Kan ek julle voorstel aan my ma Moira. Sy is 81 jaar oud. Sy het ʼn hart van goud en al kwaad wat sy het, is erfsonde. Sy was die gom van ons gesin en die steunpilaar van my pa. Sy is gebore in 1938.

Dit was die einde van die tydperk van die armblanke-vraagstuk. Een derde van Afrikaners was arm. ʼn Hartseertyd in ons volkie se swaarkrygeskiedenis. Een van die veranderlikes wat Afrikaners laat opstaan het uit die swaarkry was roepingsgedrewe juffrouens. Ma was so ’n juffrou. Sy het later kleuters speel-speel met mooi waardes toegerus. Afrikaners was en is suksesvol as gevolg van juffrouens soos Ma.

Haar ma was ouma Magrieta. Wat ’n merkwaardige vrou. Stewig, gelowig, stabiel. Deur daardie arm tyd van die 1930’s het sy vir oupa Dirk, spoorwegwerker en later stasiebestuurder, ondersteun.

Haar pa is dood in die Groot Griep van 1918. Ouma Magrieta was ook siek, maar het oorleef. Sy was een van 12 kinders. Haar ma het hul gesin versorg as bediende en het vir ekstra geld klere gewas. Haar ma was arm, het swaargekry, maar het kinders ryk gemaak met die etiek van hard werk.

Oupa Dirk se ma was Johanna. Sy is in Lichtenburg begrawe. Haar eerste man is in die Anglo-Boereoorlog doodgeskiet. Sy was in ʼn konsentrasiekamp in Mafikeng. Vier van haar agt kinders is in die kamp dood. Sy ontmoet oupa Dirk se pa Daniël Francois in die oorlog. Sy eerste vrou is ook dood in ʼn kamp. Nog 7 kinders is uit hul huwelik gebore. Een was my oupa Dirk Johannes Crafford. Ek is sy trotste naamdraer. In ʼn brief oor die gebeure in die oorlog sluit sy af: “Ek het die portretjie van my laat neem op 19 Desember 1928. Ek is nog fris en doen my werk”.

Langs my ma is my pa Marthinus. Hy is ʼn produk van ʼn stabiele ma. Sy ma Christina het die konsentrasiekamp in Irene oorleef. Haar ma Hester en boetie Petrus is dood in die kamp. Sonder ma het sy groot geword, maar sy was ʼn wonderlike ma vir my pa.

En dit is my vrou Elsha. Sy hou ons gesin vas. Sy is die draer en wagter van waardes in ons gesin. Sy het ʼn groot deel van haar lewe 100% aan die gesin gewy. Sy het en besef baie goed dat die gesin die hoeksteen is van ʼn gesonde gemeenskap. In daardie tyd het sy ʼn meestersgraad én doktorsgraad in maatskaplike werk verwerf. Nou wy sy ʼn groot deel van haar lewe om, saam met Solidariteit Helpende Hand, te help om ʼn volhoubare maatskaplike stelsel vir Afrikaners te ontwikkel met ʼn spesifieke fokus om ʼn maatskaplike stelsel vir Orania te vestig sodat die dorpie kan ontwikkel in ʼn gesonde stad.

Haar ma is Petro. Sy kan werk. Sy het ook arm grootgeword. Haar pa was ʼn bouer. Soos talle Afrikanergesinne kon hulle nie die maatskaplike krisis van die vroeë 1930’s vryspring nie. Hulle was nege kinders. Sy was vyf jaar oud toe sy vir haar jongste boetie moes sorg. Hulle het ʼn ruk in die buitekamer van ʼn konsessiestoor gebly en het streepsakke met harde gras as beddens gebruik. Die kos was min, klere was min en haar ma het self klere gemaak. Ons kan arm wees, maar is netjies en skoon het haar ma haar geleer. Sy vertel haar ma het hulle geleer van werk en godsdiens. Deur al die swaarkry het haar ma net gesê: “Laat ons bid, laat ons bid.”

Sy vertel haar ma het in ʼn stadium in die klerefabriek gewerk. Die klerefabrieke het werk vir honderde arm vroue gegee. In hierdie tyd het ons verskriklik hard gewerk. Ons moes in die oggend vroeg opstaan om die huis netjies te kry. In die middag moes ons die koolstoof skoonmaak, die kole uitgooi en weer vuur maak. Een maal per week moes ons vloere skrop, politoer smeer en blink vryf. Ons het dan kos gemaak en as my ma by die huis kom, was die kos gereed.

Ma Petro het met skoonpa Gert getrou. Sy was ook ʼn kleuterskooljuffrou en het haar waardes aan ʼn volgende geslag oorgedra. Vir ekstra geld het sy en pa Gert linne verkoop. Hulle het kuikens gekoop en in die aand by die kuikens geslaap om seker te maak dat die lampie wat hul moet warm hou nie omval nie. En 40 jaar later het hulle ʼn spog hoenderplaas opgebou met 40 000 hoenders. Die plaas was ʼn slagoffer van ʼn bemagtigingstransaksie en twee jaar nadat die plaas bemagtig is, is die laaste hoenders deur die DBV doodgemaak.

Dit is my dogters. Marisha, Miné, Elzaan en Hanri. Hulle is blinkoog-dogters. Gereed vir ʼn toekoms wat wag.

Hulle is die volgende in die lyne van trotste geslagte van Afrikanervroue. Vroue wat in moeilike tye opgestaan het, voortgegaan, hard gewerk en baie gebid het. Wat my verstom, is die veerkragtigheid van jong Afrikaners. Hulle het net eenvoudig ʼn vermoë om terug te bons. Hulle word groot in die onsekerheid van vandag se tyd en hulle gaan antwoorde kry vir vrae wat ons gedink het daar nie voor antwoorde is nie. Hulle vier is trotste draers van die gene van die Afrikanervrou.

Lenie, Susanna, Johanna

Catherina, Anna, Hester Hendrina,

Christina, Susanna, Magrieta,

Moira, Elsie, Petro en Elsha,

Hanri, Elzaan, Miné, Marisha.

Noem maar nog vrouename, oral rondom jou.

As jy twyfel oor die toekoms kry moed in die Afrikanervrou.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jacques ·

Hoe kan ons moed opgee as ons voorouers soveel swaarder ons ons gekry het, en die bose ore aangesit het. Is dit die media wat ons verdeel, partykeer teen mekaar opsweep.
Ons moet net bly glo in ons Skepper, en bly veg vir vryheid. Ons dag sal kom.
Maak nie saak wat die massas se nie….!!!

Andre ·

Ons voorouers het nie keuses gehad nie. Baie het geglo die aarde is plat. Nou het ons keuses waar ons wil woon en bou.

Se maar net ·

@Andre. Ja hulle het die Bybel geglo wat se die aarde is plat. Miskien moet ons ook meer glo dit wat in die Bybel geskryf is.

Net 'n ander perspektief ·

En tog, lees op oor Piet Retief se agtergrond en dit blyk dat hy effe egosentries en impulsief was en dalk juis daarom sy kop ‘n paar maal hard gestamp het weens ondeurdagte, onvolhoubare planne. Verskeie kere in finansiële krisis, waarvan Lenie Retief en kinders sekerlik gesteier het. Dalk in sy agterkop gedink- dis omdat julle nie weet hoe nie, kom ek gaan julle wys hoe – toe sy mede Afrikaners hom teen Dingaan waarsku. Die een persoon wie sy foute en swakhede geken het, na wie hy dalk sou luister, het hom in sy dwaasheid ondersteun? In my opinie maak dit jou geen heldin nie, eerder deel van die probleem.

Jimmy ·

Baie van daai Voortrekkerleiers en Afrikanerleiers in die ou boererepublieke was ook maar so, veral Andries Pretorius. Nou word hulle opgehemel. Maar dit was nog altyd die Afrikaner se probleem. Kry altyd ‘n leier om te volg, ondanks waarskuwings.

J ·

In meeste families is so ‘n verhaal. Ek wens ons kan dit neerpen, in Engels vertaal en die wêreld in stuur. In SA is dit nie net een volk wat swaargekry het nie. Dis wel net een volk wie se mense kon opstaan en aanbeweeg.

SA het meer stories nodig van “opstaan, die stof afskud en aanbeweeg” nodig.

Iets anders:
Waarom berig Engelse koerante niks oor die wit bakkie wat aan die brand gesteek is nadat daar in rooi spuitverf doodsdreigemente op geverf is nie? Is dit omdat hulle skuldig is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.