Geloof, Godsdiens en ons Afrikaners – Deel 2

Lees deel 1 hier.

Fundamentalisme en liberalisme

‘n Derde skisofreniese breuklyn lê meer op die vlak van teologies-kerklike debatte wat tans aktueel is. Dit is naamlik die oorlog wat woed tussen die fundamentaliste en die liberaliste. Nie dat enige deelnemers aan die debat hulleself ooit as fundamentaliste óf as liberaliste sal beskryf nie. Dit is die teenoorgestelde standpunt wat óf as fundamentalisties, óf as liberalisties afgemaak word. Sowel fundamentalisme as liberalisme is dus stereotiperings, maar in ‘n vergelyking van die twee benaderings kan die benamings tog handig te pas kom. In die algemeen het die fundamentalistiese benadering ‘n geweldige agting vir die teks van die goddelike openbaring, m.a.w. vir die Bybel. Die vorm en inhoud van die Bybelteks is in breë trekke duidelik, en moet eenvoudig gehoorsaam word. Gehoorsaamheid kom in die reël neer op meer letterlike verstaan van die teks; “interpretasie” moet soveel as moontlik vermy word. Die fundamentalisme is dan ook voorskriftelik ten opsigte van die leefwyse wat deur die Bybel voorgeskryf word. “Vroue moet stil wees en hulleself laat leer.” “Die man is die koning, priester en profeet van sy huis,” “homoseksualiteit is eenvoudig sonde…

Die liberalisme aan die anderkant sien raak dat interpretasie ‘n gegewe is. Die menslike rede is altyd betrokke in die verstaan van wat as goddelike openbaring geneem word. Indien die interpretasie dus verantwoordelik moet plaasvind, moet die konteks waarbinne die teks ontstaan het ook in ag geneem word. Die onderskeiding van die historiese, literêre en teologiese kontekste waarbinne ‘n teks vorm aangeneem het (die sg. kritieke) ten einde by die “eintlike” Jesus of die “eintlike” Godsopenbaring uit te kom maak dus ‘n belangrike deel van die liberalistiese projek uit.

So is die liberalisme en fundamentalisme ook alter ego’s van mekaar wat elk die botoon wil voer en wat sodoende bydra tot ons ervaring van godsdienstige skisofrenie.

Iewers het trauma plaasgevind

‘n Skisofrene persoonlikheid ontwikkel dikwels in reaksie op een of ander geweldige trauma wat beleef is. Indien daar in die reine gekom kan word met die trauma wat plaasgevind het, sou ʼn alternatiewe – meer heel of gesonde – verhaal van die self vertel kon word. Ek wil die stelling maak dat daar inderdaad trauma in ons kollektiewe belewing en uitlewing van geloof en godsdiens plaasgevind het. Vanweë ons geografiese en kulturele isolasie was Afrikaanse mense vir lank afgeskerm van die felste implikasies van die trauma waardeur die Westerse kultuur in die breë gegaan het. Ons het dit egter nie vrygespring nie, en spring dit al hoe minder vry.

Die gewelddadige trauma wat ons godsdienstige psige beleef het kan teruggevoer word na die begin van die moderne tyd, waarvan die oorspronge op sy beurt weer na ontwikkelinge in die laat-Skolastiek herlei kan word. Die opkoms van ‘n moderne lewenshouding was allesbehalwe ʼn ontsnapping aan bygeloof en metafisiese vooroordeel. Dit behoort eerder beskou te word as ʼn alternatiewe teologiese keuse, ten opsigte van die hoofstroom Christelike tradisie tot op daardie stadium. Tot met die hoogbloei van die Skolastiek is die verhouding tussen die transendente en die immanente (of, vir die doeleindes van hierdie gesprek: die verhouding tussen God en sy skepping) algemeen verstaan as ʼn deelnemende verhouding – die immanente deel op ʼn analogiese wyse in die transendente waaruit dit voortkom. In afskeid van die tradisie van deelnemende denke baken die moderne denkhouding nou egter ʼn onafhanklike en outonome sfeer af: die suiwer immanente. Binne hierdie sekulêre sfeer geld die logika van ʼn vrygemaakte menslike rasionaliteit. Die keersy van die afbakening van ‘n suiwer immanente sfeer is dat die transendente (God) as’t ware ver weg gedruk is – Hy is nou absoluut transendent. Onder die invloed van hierdie ontwikkelinge begin die teologie enersyds self werk vanuit ʼn outonome rasionaliteit (breedweg die sg. kritiese teologie), en andersyds word dit gedwing om uit te gaan van ‘n openbaingspositivisme en fideïsme (“ek glo dit of dat eenvoudig omdat die Bybel so sê, en nie op grond van enige ingeskape rasionaliteit in die sake nie.”) So beskou is fundamentalisme en liberalisme dus gewoon teenoorgestelde manifestasies van dieselfde epistemologiese keuse wat aan die begin van die moderne tyd gemaak is.

Die postmoderne kan gesien word as ʼn krisis van die outonome rasionele subjek, soos wat dit in die moderne ontwikkel het. Eerder as dat die rasionele subjek soos ʼn filmregisseur orde aan die ervaringswerklikheid oplê, moet die subjek self gesien word as radikaal uitgelewer aan die fluktuasies van die diskoerse waarin dit vasgevang is. En terwyl die desentrering van die rasionele subjek ‘n positiewe beweging is – die narratiwiteit en tradisie-bepaaldheid van alle rasionaliteit moet erken word – kan ook geargumenteer word dat die postmoderne in vele opsigte steeds, en selfs meer radikaal, die teologiese keuse van die moderne deel. Dit is ʼn keuse vir ʼn volslae immanensie: daar is niks buite die eb en vloed van taaltekens waarin ons opgeneem word nie. As sodanig voer die postmoderne egter bloot die skeiding tussen die noumenale en die fenomenale wat deur Immanuel Kant gemaak is tot sy uiterste konsekwensie. Die postmoderne gewaad van die fundamentalisme-liberalisme debat moet dus ook gesien word vir wat dit is: terwyl dit op die oppervlak reageer teen die universele aansprake van die modernisme, kontinueer dit op ‘n dieper vlak juis ‘n basiese teologiese keuse van die moderne, naamlik die radikale skeiding van die God en die wêreld.

Die identifisering van hierdie trauma werp ook lig op die ander manifestasies van godsdienstige skisofrenie wat onderskei is. Die uitmekaar skeur van geloof en godsdiens, oftewel ervaring en oordrag, kan ook verstaan word as ‘n simptoom van die absolute verwydering tussen die transendente en die immanente. Waar die samehang tussen eenheid en verskeidenheid verloor word, daar verval oordrag maklik in ‘n verstikkende aandrang daarop dat identiteit beteken om presies dieselfde te bly. “Eenheid is gelyk aan eendersheid.” Uitgebreide prosedurele raamwerke word geskep om te verseker dat dit so sal bly. Homogenisering in die nasiestaat én in denominasionele kerkgemeenskappe is by uitstek ‘n moderne verskynsel.

In afskeid van die moderne aandrang op identiese repetisie fokus postmoderne denke slegs op die unieke gebeurtenis wat van oomblik tot oomblik aanbreek. Maar die gevolg daarvan dat godsdienstige belewenis volledig geprivatiseer word, en kontinuïteit feitlik volledig prysgegee word, is ironies genoeg, juis ‘n gebrek aan sensitiwiteit vir werklike verskille. Uiteindelik word godsdienstige sentiment dan maar ‘n grys massa wat bepaal word deur verbruikerstendense en groot media gebeurtenisse.

Die ander skisofreniese tweespalt wat onderskei is, is die skeiding tussen gees en liggaam. Terwyl hierdie skeiding teruggevoer kan word na die gnostiek, het die moderne skeiding tussen denksubjek en kenobjek beslis ‘n hernieude verbetenheid daaraan oorgedra: die liggaam is ‘n vleismasjien wat in hospitaal-werkswinkels uitmekaar gehaal en weer aanmekaar gesit word. Ditto die natuur.

Op reis na gesond word

Aan die begin is gesê dat insig in ‘n mens se geestelike situasie die begin van ‘n reis na gesond word kan wees. In baie opsigte is die reis self ook die bestemming. Om nou voorskriftelik ‘n padkaart te teken sou dalk juis beteken dat weer teruggeval word in die spanninge wat geïdentifiseer is. Maar miskien sou die postmoderne pelgrimstog waarop ons is kon baat by een of twee oriënteringspunte uit die tyd voor die trauma plaasgevind het. Miskien sou begin kon word by ‘n hernieude waardering vir die intieme aanwesigheid van God in hierdie wêreld wat Hy geskep het, terwyl die oneindige verskil tussen Hom en die eindige skepping nie gering geskat word nie. Om woorde uit die tradisie te gebruik: God is nader aan my as wat ek aan myself is. EN: God is ook altyd méér.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kruger

Meer oor die skrywer: Jaco Kruger

Jaco Kruger is 'n predikant by die Gereformeerde Kerk in Wapadrant.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Gemsbok ·

Dankie vir hierdie uiters interessante stuk leesstof Jaco en inderdaad welkom by die Groot Debat, waarvan min seker groter as hierdie een kan wees.

Dit is duidelik dat jy al lank aan hierdie onderwerp werk en ek waardeer dit dat jy dit met ons kom deel het.

Die vraag wat by my ontstaan het, is of dit sinvol is om die trauma slegs terug te voer tot by die koms van die modernisme?

Ek dink dat die moderne era die tydvak aandui waarin die westerse mens (waarvan ons deel is) sy eie kroon span, omdat dit die tyd was waarin ons westerse kultuur sy intellektuele mondigwording ervaar het. Hierdie mondigwording is egter die viering van iets wat reeds bestaan het; die kruin wat bereik word van ‘n berg wat ons lank gelede reeds begin klim het.

Ons was nie noodwendig voor die moderne era meer bewus van God se teenwoordigheid nie, tewens die optrede van vele Pouse, Kardinale, Priesters en Dominees sedert die vroegste tye wek die indruk dat hulle soms ook nie enige nabyheid van God ervaar het nie.

Die trauma is myns insiens terugvoerbaar tot by die sondeval. Wat met die modernisme bygekom het, is die mens se vermoë om sy emosionele ervaring van lewe op die sondige aarde in rasionele terme uit te druk, en om dit te probeer regverdig (lees “aanvaarbaar maak”).

Kan ons op hierdie sondige aarde ‘n groter bewussyn van God ervaar sonder om onsself eerste te stel? Dit is die uitdaging waarvoor elkeen staan wat soek. Indien ons die skisofrenie wat jy so goed uitgewys het in ons eie lewens waarneem, dan dui dit op ons volle afhanklikheid van God vir verlossing – en die feit dat die volmaakte lewe nie duskant die dood lê nie.

Ja, ons kerke het lidmate verloor, maar dit hoef nie negatief (as iets buite God se wil) ervaar te word nie, want nou is diegene wat ons moet bystaan in hul soeke na volheid soveel makliker identifiseerbaar.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.