Geloof, Godsdiens en ons Afrikaners

Skisofrenie

Mens sou die godsdienstige landskap van ons Afrikaanse wêreld uit baie verskillende hoeke kon ontleed. In so ‘n ontleding sou jy ook versigtig moet wees om nie aanspraak te maak daarop dat jy namens alle Afrikaners praat nie, en nog minder dat wat jy sê beperk is tot Afrikaners. Ons is ten ene male deel van ‘n wêreldsamelewing.

Mý perspektief op die toestand van geloof en godsdiens in ons Afrikaanse wêreld is dat ons vandag ly aan ‘n soort skisofrenie. Ons leef in ‘n toestand waarin ons ervaring en uitlewing van ons geloof versplinter is, soos die ego (die self) van ‘n psigiatriese pasiënt by wie skisofrenie gediagnoseer is. Verskillende kante van ons geloofs- en godsdienstige lewe beur uitmekaar, soos verskillende alter ego’s wat nie gelyktydig die botoon kan voer nie: as die een persona dominant is, dan word die ander onderdruk. Maar die omslag tussen die een en die ander is baie vinnig, en lê naby aan mekaar. Dit alles gaan natuurlik met baie sielkundige pyn gepaard; daar is ‘n groot klomp interne konflik. Ek wil die skisofreniese situasie waarin ons ons bevind probeer verstaan deur ‘n paar van die botsende alter ego’s te onderskei. Miskien is insig in ‘n mens se situasie die eerste stap in ‘n reis van geestelike groei…

Gees en liggaam

‘n Eerste spanningslyn, wat ‘n simptoom is van ‘n spirituele skisofrenie, is die verwydering tussen gees en liggaam wat daar in die uitlewing van geloof bestaan. Liggaam en gees word gewoonlik en sonder om daaroor te dink heeltemal van mekaar geskei. Aan die een kant is daar hierdie groot fokus in ons kultuur op liggaamlikheid. Ons gym dat dit klap; ons lees gesondheidsboeke; ons laat dinge vergroot en oplig; die kosmetiese bedryf floreer… Maar dit het niks te doen met ons geloof nie. Aan die ander kant is daar hierdie sogenaamde “geestelike lewe” waar dit gaan oor my verhouding met God. Maar hierdie verhouding met God het ‘n baie spesifieke karakter: dit is heeltemal onsigbaar. Dit is iets in my kop – ‘n stel geloofsoortuigings wat ek onderskryf, of dit is ʼn gevoel hier binne in my (my “verhouding met God”) wat niks met my liggaam te doen het nie. Dit kom geensins uit in die konkrete leefwêreld van my lyf nie.

Vroeg in die kerk se geskiedenis het sy te doen gekry met ʼn dwaalleer wat bekend is as die gnostiek. Hiervolgens word ʼn mens gered deur bloot die regte kennis te hê. Om die regte kennis van God te hê is al wat nodig is om die ewige lewe te kry. En waar is kennis? Dis in jou kop; jou denke. Vir die gnostiek is ʼn mens se liggaam dus glad nie belangrik nie. Inteendeel dis eintlik sleg en ʼn hindernis wat keer dat jou denke suiwer kan wees. In sy Christelike vorm het die gnostiek gesê dat Jesus net ʼn geheime kennis wat nodig is vir ons verlossing aan ons kom bekend maak het. Ons liggame, aan die anderkant is sondig en het niks met ons verhouding met God te make nie. Die kerk het die gnostiek as ‘n kettery verwerp, maar die nagevolge daarvan kon nog vir baie eeue in die kerk gevoel word. Selfs tot vandag toe.

Vir baie lank het ook Christene gesê ʼn mens se liggaam is die laer deel van jou menswees. Dis hier waar sondes uitbroei. En selfs vandag nog dink baie mense dat seksuele sondes (die liggaamlike sonde by uitstek) erger is as ander “sondes”.

In die breë kultuur vandag is liggaamlikheid egter baie belangrik. Mens sou dalk selfs kon sê dat liggaamlikheid in ons wêreld die denke verbygegaan het in belangrikheid. En seksualiteit staan orals voorop soos wat ʼn mens weet as jy maar net TV kyk en tydskrifte deurblaai. Gelukkig is seksualiteit vandag vrygemaak van daardie negatiewe sienings daaroor wat kom uit die gnostiek uit. Maar ongelukkig het seksualiteit vandag vir baie mense nog steeds niks te make met ‘n verhouding met God nie. En in hierdie opsig, byvoorbeeld, duur die invloed van die gnostiek steeds voort.

‘n Ander manifestering van die skeiding tussen gees en liggaam in ons wêreld vandag sou wees die privatisering van geloof: ek glo, ja, maar dis mý saak. Ek sien geen noodsaak om dit te beliggaam in konkrete verhoudings met ander mense nie. Deel wees van ‘n geloofsgemeenskap is met ander woorde vandag vir baie mense eenvoudig nie belangrik nie. En dit is niks anders as ‘n skeiding tussen gees en liggaam nie. Verwant hieraan is die virtualisering van geloof: ek behoort uitsluitlik aan ‘n internetkerk. Op hierdie wyse word beliggaming van geloof verhinder; word die skeiding van liggaam en gees gekontinueer.

Geloof en godsdiens

Die teenstelling van en spanning tussen “geloof” en “godsdiens” is ‘n verdere simptoom van die skisofreniese situasie waarin ons ons bevind. Mens hoor nogal dikwels deesdae mense wat sê dat hulle vroeër godsdienstig was, maar dat hulle nou gelowig is. Daarmee dui hulle aan dat hulle vroeë bloot deel gehad het aan ʼn formalistiese kultuurgodsdiens, maar dat hulle nou ‘n persoonlike verhouding met God het. Die subteks: godsdiens is sleg; geloof is goed.

Afhangende van hoe jy dit verstaan kan daar ‘n mate van geldigheid hierin wees, maar onderliggend aan die spanning tussen geloof en godsdiens is daar ‘n ander spanning wat verdien om geanaliseer te word. Dit is die spanning tussen oordrag en kommunikasie, of, anders gestel, die spanning tussen instelling en ervaring. Oordrag het te make met die noodsaaklikheid daarvan om ‘n leefwyse oor te gee aan die volgende geslag, om dit sodoende enigsins moontlik te maak dat daardie leefwyse sal bly voortbestaan. Dit is maar wat die woord tradisie beteken. Vir oordrag om plaas te vind is instellings noodsaaklik. ‘n Jonger geslag word deel van ‘n instelling en word daardeur gevorm in die leefwyse wat deur die instelling geïnstitusionaliseer (beliggaam) word. Op ‘n manier kan ‘n samelewing ook nie sonder skole, universiteite en die geïnstitusionaliseerde kant van geloofsgemeenskappe nie.

Aan die anderkant is daar in ‘n gemeenskap ook die noodsaak aan egte kommunikasie. Dit is nodig dat die lewe van ‘n gemeenskap vernuwe word deur kreatiewe uitdrukkings, die viering van verskille, die ervaring van egte kontak met ander. Waar oordrag oor tyd geskied gebeur kommunikasie in tyds, m.a.w. dit gebeur in die oomblik, in die enkele onherhaalbare gebeure (soos ‘n U2-konsert, of so iets.) Om dit alles nou van toepassing te maak op geloof en godsdiens onder ons Afrikaners sou ‘n mens kon sê dat daar vandag ‘n ontsaglike klem op kommunikasie ten koste van oordrag is. Dit is met ander woorde ‘n klem op ervarings ten koste van instellings. Tradisionele kerke wat, soos die naam sê, ‘n fokus het op oordrag, kwyn terwyl herlewingsbyeenkomste geweldige aftrek kry. In die verband kan ‘n mens maar net verwys na die Mighty Men-saamtrekke, en die Daniël-konferensies van die afgelope jare. Wat voorop staan is ‘n ervaring en viering van die onmiddellike aanwesigheid van God. Enige bemiddeling deur ‘n instelling of ampsdraers word met agterdog bejeën. Saam met die klem op kommunikasie gaan natuurlik ‘n al hoe groter rol vir die media. Dink net aan die “SA draai terug na God toe” wat op talle plekke in die stad vanaf 3×5 meter borde na jou toe gekommunikeer word.

Ten opsigte van sowel oordrag as kommunikasie sou ‘n mens negatiewe kante kon onderskei indien die een volkome ten koste van die ander oorbeklemtoon word. Daarby word weer later stilgestaan. Die voorlopige vraag is slegs: Waarom gebeur dit? Waarom beur hierdie twee momente uitmekaar soos alter ego’s van mekaar wat een slegs ten koste van die ander een die botoon voer?

Word 24 Januarie hier op Die Groot Debat vervolg. – Red

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kruger

Meer oor die skrywer: Jaco Kruger

Jaco Kruger is 'n predikant by die Gereformeerde Kerk in Wapadrant.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae