Gelykheid voor die reg, die EFF, Nkandla en die entstofprogram

Oudpres. Jacob Zuma vra die hof om die lasbrief vir sy inhegtenisneming ter syde te laat stel. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die regter vra aan die beskuldigde: “Minag jy die hof?”

Die beskuldigde antwoord: “Nee, nooit edelagbare, ek probeer dan juis so hard as moontlik om dit weg te steek!”

Dit is wat tans rondom oudpres. Jacob Zuma en die howe aan die gang is. In Zuma se brief van 23 bladsye aan die Konstitusionele Hof, asook in ander verklarings, het hy die hof uitgedaag om hom tronk toe te stuur. As ek na die nuutste verklarings van die Zuma-advokate kyk, het ek hom duidelik die eerste keer verkeerd verstaan. Hy wil nie eintlik tronk toe gaan nie. Snaakse misverstand …

Die meerderheid reaksies ná die Konstitusionele Hof-uitspraak dat Zuma 15 maande moet tronk toe gaan, was dat die hof se uitspraak bewys dat in die nuwe Suid-Afrika almal voor die hof gelyk is en dat tot ʼn president kan tronk toe gaan as hy oortree.

Dit klink mooi en is natuurlik die polities korrekte reaksie – maar werk gelykheid voor die gereg regtig só in Suid-Afrika?

As ʼn ouer agter sy kind aanhardloop waar die kind van die sypaadjie na die see oor die strand hardloop, word hy in hegtenis geneem; ʼn ernstige oortreding van die inperkingsregulasies daardie tyd toe niemand naby ʼn strand mag gekom het nie.

Minister Bheki Cele het verskeie Kaapse strande besoek. Foto: Courtney Africa/African News Agency(ANA)

Op dieselfde wyse het minister Bheki Cele persoonlik op strande “patrolliewerk” gedoen en opdragte gegee dat mense gearresteer moet word. Maar wat van die onwettige optogte by Nkandla oor die naweek? Daar geld blykbaar ʼn ander “gelykheid voor die reg”.

Dieselfde oor die EFF se onwettige optog voorverlede week oor entstowwe. Logika is nie die EFF se sterkste punt nie. Die EFF noem die optog “March to save lives”. In die optog doen hulle alles wat lewens in gevaar stel. Die meeste optoggangers dra nie maskers nie en loop styf teen mekaar. Net 100 mense word op vlak 3 by ʼn optog toegelaat. Die EFF het 2 000 optoggangers. In plaas van lewens spaar, word hulle eerder supersverspreiders van die virus.

Soos alle populistiese partye stel die EFF eenvoudige oplossings vir ingewikkelde probleme voor. Daarom is hulle sterk met propaganda, maar swak met logika en werklike oplossings. Hulle marsjeer na die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) se kantore. Sahpra is die Suid-Afrikaanse instelling wat entstowwe goed- of afkeur. Die EFF eis dat hulle binne sewe dae die gebruik van Russiese en Chinese entstowwe goedkeur.

Talle lede van die EFF het Vrydag na die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) se kantore in Pretoria opgeruk. (Foto: EFF/Twitter)

Sahpra maak nie entstowwe nie. Hulle is ook nie verantwoordelik vir die aankoop van entstowwe nie. Hulle keur slegs aansoeke vir entstowwe goed of af. Die EFF is dus by die verkeerde adres.

Verder is alle aanduidings dat die Russiese en Chinese entstowwe waarvoor die EFF goedkeuring vra, nie so suksesvol teen die Suid-Afrikaanse B-variant of die nuwe D-variant is nie. Dit is egter nie deel van EFF-logika nie.

Die versoeking is groot om ʼn koerantleser van Bettysbaai te ondersteun toe hy in reaksie hierop in die koerant skryf: “Keur die entstowwe goed, maar met die voorwaarde dat dit net vir EFF-lede is.”

Nog regeringsinperkings sal nie keer dat ons nog baie Covid-golwe gaan kry nie. Die enigste manier om verdere golwe te keer, is ʼn suksesvolle inentingsprogram.

ʼn Britse studie in Mei bewys dat die Pfizer-entstof na ʼn tweede inenting 88% effektief is teen simptomatiese gevalle van die Delta-variant en 93% teen die Alfa-variant. Ek het verlede week my tweede Pfizer-inspuiting gekry.

Die VSA met ʼn bevolking van 330 miljoen het reeds 54% van die hele bevolking ingeënt. In verskillende state is alle inperkingsmaatreëls reeds opgeskort en keer die lewe weer na normaal terug. Israel met 65% en Brittanje met 66% van die bevolking reeds ingeënt, bewys net soos die VSA die doeltreffendheid van sekere entstowwe. Die nuutste VSA-syfers wys dat 99% van die mense wat as gevolg van ernstige Covid-komplikasies in die hospitaal opgeneem is en 99% van die wat aan Covid dood is, nie ingeënt was nie.

Die enigste punt waar ek met die EFF-optog saamgestem het, was dat die regering se inentingsprogram besig is om klaaglik te misluk. Eerstens het hulle te laat met die aankoop van inentingstowwe begin. Tans is die rede vir die bottelnek die regering se pogings om alles alleen te wil beheer. Daarom word die privaatsektor, wat ook bereid is om entstowwe so vinnig moontlik in die hande te probeer kry en te versprei, met mening gekeer. Die rede hiervoor is natuurlik die ANC se ou sosialistiese en SAKP-instinkte. Hierdie instinkte het tot vandag toe die meeste sake wat hulle aangepak het laat misluk.

Argieffoto: GCIS

Waarom sal dit nóú anders wees? Eskom het sedert 2007 nog nie weer behoorlik gewerk nie. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het in die slag gebly. Die Poskantoor staan met sy een voet in die graf. Treine loop glad nie meer soos vroeër nie en op baie plekke is spoorlyne gesteel. Twee derdes van alle munisipaliteite in die land misluk. Slaggate word oral aangetref en die helfte van die rioolplase werk nie. Die polisiediens is onbekwaam en korrup en slaag nie daarin om misdaad vas te vat nie.

Rio Tinto het verlede week al hulle werksaamhede in Richardsbaai gestaak. Dit kos Suid-Afrika miljarde rande en waarskynlik baie nuwe beleggings. Dit raak die toekoms van 5 000 werkers.

In 2020 was Rio Tinto se bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie R8 miljard. Hulle is die grootste bydraer tot die ekonomie van KwaZulu-Natal. Nico Swart, Rio Tinto se algemene bestuurder, is onlangs blatant vermoor. Van die reusegroot stootskrapers is verlede week aan die brand gesteek. In hulle verduideliking sê Rio Tinto dat hulle deurlopend deur misdadigers geterroriseer word en dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie in staat is om hulle werk te doen om dit te voorkom nie. Die ekonomiese effek hiervan is ingrypend.

Syfers van ander lande wys dat ekonomiese herstel regstreeks verband hou met hoe suksesvol jou inentingsprogram is. Die ANC se volharding om die entstofprogram alleen te wil beheer, maak dat Suid-Afrika myle agter die res van die wêreld en selfs agter die gemiddeld vir Afrika is.

As president Ramaphosa ʼn sukses van die inentingsprogram en van die herstel van die ekonomie wil maak, moet hy dringend die privaatsektor as vennoot nadertrek. Net so dringend moet hy kennis neem van wat president Reagan van die VSA oor kommunistiese instinkte gesê het: “Communism only works in heaven, where they don’t need it, and in hell, where they’ve already got it.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andre ·

Die redes en gevolge wat hier uit geblaf word is waar maar het die geblaf enige positiewe gevolge. Dit is nou so waar dat die ANC nie mislukkings geproduseer het nie maar definitief vervolmaak . Daar is geen aanduiding dat hulle goeie raad sal aanvaar soos Namibië dit gedoen het . Dit sal dan mos gesien word as swakheid om raad van ervare wit besigheidsleiers te ontvang

Sambok ·

As Zuma nie vanaand toegesluit word nie is geen wet meer geldig nie,dan is ons “business as usual”,maak alles self oop en bedryf besighede normaal

Fluisterwind ·

‘n Dilemma of moeilike omstandigheid waaruit daar nie ontsnap kan word nie weens onderling botsende of afhanklike toestande. Skaak mat vir die ANC en die regering se wetstoepassers! Nou sal die gevolg wetteloosheid wees soos in die res van Afrika!

Pietertjie ·

Mooi raakgevat, Doktor! Oom Jacob het volgens sy dogter blykbaar op Robbeneiland gesukkel met Afrikaans: hopelik kan sy nuwe sel-maats hierdie kommentaar vir hom in Zoeloe voorlees. Dis nou as van hulle nie dalk slagoffers van sy MK strafkampe was nie. Ek glo dat hy met Engels ook sukkel, veral begrippe soos fraud, theft, delinquent, contempt, oeps die lys gaan lánk raak…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.