Gelykheid voor die reg

justitia

Ons ken almal die beeld van Justitia, die vrou van geregtigheid met ʼn skaal in die een hand en ʼn swaard in die ander terwyl sy geblinddoek staan. Foto: Pixabay.com

Deur Morné Malan

Ons ken almal die beeld van Justitia, die vrou van geregtigheid met ʼn skaal in die een hand en ʼn swaard in die ander terwyl sy geblinddoek staan. Die blinddoek versinnebeeld dat die reg altyd onpartydig en neutraal sal optree. In die hof maak dit nie saak watter ras of geslag jy is nie, en jou status beteken niks nie. In die reg gaan dit net oor die feite van die saak en dat die regter by die korrekte beslissing sal uitkom. Die probleem is egter dat die reg in die nuwe Suid-Afrika glad nie so funksioneer nie.

Die Suid-Afrikaanse regstelsel verstaan nie gelykheid as die gelyke behandeling van alle mense voor die hof nie, maar eerder in die sin van sogenaamde substantiewe gelykheid.

Substantiewe gelykheid voer aan dat die gelyke behandeling van individue van verskillende groepe daartoe aanleiding sal gee dat huidige ongelykhede net verder beklemtoon sal word. Anders gestel, substantiewe gelykheid impliseer dat individue op grond van hul identiteit ongelyk gehanteer moet word sodat die resultaat meer gelyk kan wees. Daarom moet sommige rassegroepe, of mense van ʼn spesifieke geslag, bevorder word. Daarom is dit nie genoeg om bloot te kyk na die feite van ʼn saak en daarvolgens ʼn beslissing te maak nie. Die ideaal van transformasie is belangriker en daarom moet daar eers gekyk word na die identiteit van die partye en deur daardie lens kan ʼn regter sy/haar beslissing maak. Dit beteken natuurlik dat die regte van individue uit spesifieke groepe ter wille van individue uit ander groepe beperk kan word en dat diskriminasie geskoei op ras of geslag nie noodwendig onbillik is nie, soos ook in die Barnard-saak beslis is.

Veronderstel die rugbyspan wat bo-aan die puntelys is speel teen die span wat onderaan die lys is. Die meeste van ons sal meen dat dit ʼn jammerte is vir die span laer af op die lys, maar dat dit geen verskil aan die reëls van rugby maak nie. Regters in die Suid-Afrikaanse howe stem egter nie noodwendig met so ʼn benadering saam nie. Hulle sou voorstel dat die skeidsregter in so ʼn situasie moet seker maak dat die eindresultaat so gelyk as moontlik is, al sou dit beteken dat sekere reëls slegs vir die een span geld of dat die skeidsregter self tot die spel moet toetree en vir die een span speel in plaas daarvan om net die reëls toe te pas en ʼn oordeel te vel.

Ek wil dit duidelik stel dat ek nie ʼn aantyging maak of ʼn tendens probeer identifiseer nie. Dit is nie ʼn implisiete, versteekte voorkeur wat onder Suid-Afrikaanse regters te bespeur is nie. Dit is hul eksplisiete ideaal; dit is die norm waarna hulle streef. Dit word uitdruklik gestel in beslissings van die konstitusionele hof en in skrywes van en onderhoude met elke hoofregter sedert die land se eerste demokratiese verskiesing.

Hierdie gedrag van regters is geensins ongrondwetlik nie. In die aanhef tot die Grondwet word dit duidelik gestel dat die Suid-Afrikaanse reg gegrond is op maatskaplike geregtigheid (“social justice”). Maatskaplike geregtigheid is per definisie gekoppel aan die idee van kollektivisme, ʼn ideologie wat individuele geregtigheid ondergeskik aan groepsgeregtigheid stel. ʼn Mens se geslag, ras en sosiale klas is die vertrekpunt; daarna kan gekyk word na jou dade. Dit is ook geskoei op die grondreël van “transformatiewe grondwetlikheid”. Hierdie opvatting van die reg, waarvan voormalige hoofregter Pius Langa waarskynlik die mees prominente eksponent is, stel dit dat die Grondwet per se ten doel het om ʼn egalitêre samelewing te skep.

Wat word dan van neutraliteit? Wat word van onpartydigheid? Moet geregtigheid nie blind wees nie? Die antwoorde op hierdie vrae lê opgesluit in die werk van die Amerikaanse regsgeleerde Karl Klare. Klare, wat ongelooflik krities gestaan het teenoor die voormalige Suid-Afrikaanse regskultuur (uiteraard dikwels met goeie rede), verduidelik dat alle regters hul eie “inarticulate premise” na die regbank toe bring. Gevolglik sal geen regter ooit werklik objektief kan wees en die reg self sal ook nooit objektief toegepas kan word nie. Die regter se politieke oortuigings is dus altyd in die regspraak ingeweef. Daarom, volgens Klare, moet regters nie poog om objektief te wees nie. Hulle moet waak oor hul eie voorveronderstellings en aanvaar dat daar politieke dimensies aan hul beslissings verbonde is. Hierdie, waarskynlik akkurate, teorie word dus gebruik om aan te voer dat die reg implisiet teen sekere groepe optree en dat die enigste aanvaarbare reaksie daarop is om eksplisiet teen ander groepe op te tree.

Dit is nie die doel van hierdie stuk om almal sinies te maak oor die toestand van die Suid-Afrikaanse regstelsel nie. Trouens, die howe het al by verskeie geleenthede gewys dat hulle wel vir geregtigheid staan, ongeag die omstandighede. Met hierdie stuk wil ek net die leser bewus maak van die feit dat die manier waarop die breër samelewing regverdigheid verstaan, radikaal verskil van die manier waarop dit in die howe verstaan word. Vir die howe is die ideaal van onpartydigheid nie net onmoontlik om te behaal nie, maar dit is selfs boos. Dit is volgens hierdie opvatting nie voldoende om rasseneutrale beslissings te maak nie. Positiewe stappe moet gedoen word om sekere groepe te bevoordeel.

Sosiale geregtigheid (“social justice”) is, na my mening, heeltemal strydig met ware geregtigheid. Die twee vorme van geregtigheid kan nie gelyk bestaan nie. Die enigste vorm van ware geregtigheid is dié waarin die gevolge van dade ooreenstem met die waarde wat daardie dade vir die samelewing inhou en hoe dit deur die samelewing geag word. ʼn Regverdige samelewing is met ander woorde een wat na die ideaal streef dat goedheid beloon en boosheid gestraf word, ongeag die identiteit van die persoon daarby betrokke. Geen regverdige samelewing kan voortbestaan as individue se identiteit belangriker geag word as hul dade, of waar individue onseker is of die beloning vir hul harde werk hulle ontneem gaan word nie.

Ten slotte, net soos in die metafoor van die rugbywedstryd, kan bykomende stappe natuurlik gedoen word om swakker spanne te verbeter: beter afrigting, beter geriewe, meer doeltreffende administrasie, bykomende befondsing. Dit is egter nie die skeidsregter se verantwoordelikheid om die laer geposisioneerde spanne op te trek en die hoër geposisioneerdes af te trek nie. Dit is beslis ook nie die skeidsregter se rol om aan die spel deel te neem nie. Sulke voorstelle maak die spel in die geheel sinneloos. Dieselfde geld in die breër samelewing, veral in die werkplek waar kompetisie en meriete juis van kardinale belang is.

  • Malan is ʼn junior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

John ·

Ons leer uit die Bybel, dat iemand nie deur die reg bevoordeel mag word net omdat hy ryk en vernaam is nie, maar dat ‘n mens ook nie deur die reg voorgetrek mag word net omdat hy arm en onbelangrik is nie. Die crux is ‘n eerbare regter wat besef onder Wie se regstel en bewind hy eintlik funksioneer.

Johan ·

John ja hulle het geen greintjie gewete nie vir hulle werk dit. Ons moet ons mense voor bring maak nie saak wat dit kos nie. As die ander lande so kyk na ons dan lag hulle in die mou oor mense wat reg verdraai. Jy moet verstaan al die ouens wat iets verkeerd wil doen weet dit so hy doen wat vir hom goed is en kom weg met dit want ons regstelsel is krom. Ons kan se kromstelsel wat hulle gebruik. Dit laat ons blink al stink dit ooral.

MCH ·

Mag die Hemelse Vader ons bewaar van die scenario wat reeds manifesteer. Gesprekke met n prokureursvriend het dit reeds lankal bevestig. Die hele draad van omgekeerde diskrimenasie is feitlik identies aan diè van die vorige bedeling.

janneman ·

Ek stem 100% saam met jou Morne, en verstaan “social justice” ook so. Waar n kriminele element egter ter sprake is, dink ek nie dis regverdig om die “social justice” konsep dan te probeer toepas nie. Voorts moet daar net soos BBEE iewers n afsnydatum wees. As n rassegroep alles het wat tot hul voordeel strek, selfs n simpatieke regbank, en hulle gebruik nie die toegewings om hulself op te hef na die gegewe standaard van gelykheid nie, dan moet hulle aanvaar dat hulle as gelykes na n spesifieke afsnydatum behandel sal moet word. Die situasie van “ongelykheid” word egter uitgebuit, nie net vir politieke doeleindes nie, maar ook moniter van aard.

Loeis ·

Nou wonder ek sommer. Die mense wie in 1992 gedink het hulle doen die regte ding. Hoeveel van julle ouens dink nog julle het die regte ding gedoen? Of sal julle eerder enige prys betaal, net solank julle nie julle dekselse krieket hoef te mis nie?

JC ·

Met ander woorde, die regbank(sommige) se optrede is PARADOKSAAL van aard, Morne.
Hoe op aarde verklaar mens die Regbank se beslissings oor Afrikaanse studente se artikel 29(2) reg op moedertaal onderrig?
Selfs die beginsels, ideologiese strominge, en beleide hier bespreek, is te “lightweight” vir, of kan altans, DIE belaglike gevolgtrekkings oor moedertaal onderrig; nie regverdig nie.
Skynbaar praat ideologie van die HHA af en op baie hard, en nie die “law” nie.
Godweet wat gaan die “Grondwetlike” Hof te se he daaroor?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.