Gemaak om te behoort: Die noodsaaklikheid van kulturele geborgenheid

kruger-wildtuin-paul-kruger-hek

Die Paul Kruger-hek. Foto: http://greater.krugerpark.co.za/

Toespraak by die landswye Dameskringberaad, Bloemfontein 8 Oktober 2016

Die Krugerwildtuin is ʼn hartsplek, rusplek, asemhaalplek. Dit is bowenal ʼn plek waar ʼn mens geborgenheid op ʼn besondere manier ervaar. Die wildtuin is mos ʼn gesinsplek, familieplek en ʼn  kuierplek waar geborgenheid beleef word van die kar tot die kampvuur. Die troppe olifante, rooibokke, sebras, kameelperde, leeus, wildehonde, seekoeie, selfs die hiënas is alles uitroeptekens van geborgenheid.

Geborgenheid beteken om sorg te ervaar, om veilig en beskermd te voel, om te behoort. Geborgenheid hou ook verband met die mooi Nederlandse woord burg wat toevlugsoord, herberg en skuilplek beteken. Dit is alles woorde wat op veiligheid en sekuriteit dui.

In die Bybel word geborgenheid beskryf met Hebreeuse woorde soos:

  • רתס[sa-thar] wat toemaak, heelmaak of versteek beteken.
  • אבח [kha-ba] wat wegsteeken koester met liefde
  • Die mees algemene woord vir geborgenheid is הסח [kha-sa] wat vir ’n veilige skuilplek gebruik word. Kha-sa beteken ook om na veiligheid te vlug, om te gaan skuilof om vertroue in iets te hê of om veilig by iemand te voel. Dit kom 37 keer in die Ou Testament voor en word veral gebruik om die verhouding met God en die naaste te beskryf.

Geborgenheid het baie toepassingsvlakke. Geborgenheid kan ervaar word in ʼn veilige plek of omgewing. Geborgenheid kan ook in ʼn omgeegemeenskap ervaar word. Geborgenheid kan ook as ʼn innerlike belewenis van liefde, sorg en beskerming in ʼn verhouding of vriendskap ervaar word. Geborgenheid kan ook ʼn onuitgesproke behoefte wees wat verband hou met die onderste vlakke van Maslow se piramide.

Mens en dier het ʼn behoefte aan geborgenheid, want ons is immers gemaak om te behoort.

Die enigste plek waar ʼn mens volledig geborgenheid kan beleef, is in die verhouding met God. Hy is vir sy kinders ʼn skuilplek en ʼn vesting. ʼn Ouer wat vir sy kinders ʼn tuiskomplek skep. Geen wonder dat Maarten Luther ʼn Vaste burg is onse God sing nie.

Die eerste plek waar ʼn kind geborgenheid beleef, is in sy huisgesin. Die gesin word deur Izak Oosthuizen beskryf as die konstante liefdesgemeenskap wat die weerspieëling van God se ouerliefde is. Wanneer kinders in die veilige hawe van hulle huisgesin geborgenheid ervaar, beleef hulle stabiliteit en sekuriteit. In so ʼn gesin ontwikkel gebalanseerde volwassenes wat op ʼn dag ʼn geborge ruimte vir hulle kinders gaan skep.

Wat die onlangse wildtuin-ervaring so anders gemaak het, was die hartseer kontras tussen die ideaalbeeld van geborgenheid en die realiteit van ongeborgenheid. Die afgelope vakansie het ons ʼn  wildtuin-ervaring gedeel met gebroke kinders uit gebroke huise. Hulle soeke na geborgenheid was hartseer en ontstellend. Ongelukkig is die soeke na geborgenheid nie net die behoefte van ʼn paar kinders nie, maar die realiteit van duisende kinders en gesinne. Dit is algemene kennis dat geen wildtuin-teddieleeu of geld of geskenke die vakuum van ongeborgenheid in ʼn hart kan vul nie. Die vakuum word slegs gevul deur ʼn omgeeverhouding.

ME Rothmann (MER) help ons om ʼn antwoord op die verlies van geborgenheid te ontwikkel. MER was die enigste vrou wat deel was van die Carnegie-kommissie wat die armblankevraagstuk in die laat twintigerjare van die vorige eeu moes ondersoek. Sy was verantwoordelik vir die dele van die verslag wat gehandel het oor die rol van die huisgesin, moeder en dogter. Sy beskryf die boustene van ʼn beskawing as volg:

  • Die huisgesin is die fondament van ʼn beskawing. Vir MER was die ma die sentrale figuur in die huisgesin. Dit is sy wat verantwoordelik is vir die kweek van ʼn sin vir orde by gesinslede.

Die afwesigheid van ʼn basiese sin vir orde is die mees algemene kenmerk van ʼn fisiek en kultureel arm gesin. Sulke gesinne woon in smerige huisies, dra slordige klere en lewe van die hand na die tand. ʼn Gebrekkige sin vir orde lei nie net tot ’n wanordelike huishouding nie, maar tot verbrokkelde gesinsverhoudinge. Simptome van ongeborgenheid is die gebrekkige neem van verantwoordelikheid, onderlinge wantroue, inkonsekwentheid, selfsug en ʼn gebrek aan basiese opvoeding.

Waar daar ʼn sin vir orde is en die orde konsekwent toegepas word, ontwikkel ʼn kind ʼn morele waardestelsel soos respek, liefde, integriteit, aanpasbaarheid en die aanvaarding van verantwoordelikheid vir hulself en vir ander.

  • Wanneer gesinne in verhouding tree met ander gesinne ontwikkel ʼn gemeenskap. ʼn Lewenskragtige gemeenskapslewe word gekenmerk deur gesinsbetrokkenheid by die kerk, skool en kultuur. Deur gemeenskapsbetrokkenheid ontwikkel ʼn kind ʼn begrip vir die verhouding van sy “klein samelewing” tot dié van ander samelewings.

Die invloed van die onderwyser, predikant en kultuurleier op die kind word versterk of verswak deur die betrokkenheid van die gesin by die gemeenskapslewe.

  • Wanneer gemeenskappe met gemeenskappe in verhouding tree as gevolg van die deel van gemeenskaplike goedere, soos taal en tradisie, ontstaan ʼn volk.
  • Waar volke met volke in verhouding tree, ontwikkel ʼn beskawing.

Wanneer ʼn beskawing se morele vesel uitrafel, moet die grondliggende oorsaak gesoek word by die kernbousteen van die beskawing, naamlik die gesin. Ons beleef vandag hoë vlakke van onverdraagsaamheid, polarisasie, onbeskaafde gedrag en die gevolge van ʼn afbreek-kultuur wat strek van universiteite tot die klaskamer. Ons land se grondliggende krisis moet nie gesoek word in die politiek of ekonomie nie, maar in die verlies van geborgenheid in gesinne. Makro-grondskuiwe ten opsigte van tradisionele gesinswaardes vind vandag regoor die samelewing plaas. Simptome van die grondskuiwe is onder meer die hoë egskeidingsyfer, afwesige ouers, saamwoongesinne, saamgestelde gesinne, enkelouergesinne, gesinne waar ouers van dieselfde geslag is, of gesinne waar kinders kinders grootmaak. Laasgenoemde is veral waar van gesinne in swart gemeenskappe. Boonop lei hiper-individualisme nie net tot die verskraling van die huwelik tot ʼn blote kontraktuele ooreenkoms nie, maar is bande tussen gesin en gemeenskap ook besig om te verslap.

Die direkte gevolg van die verlies aan geborgenheid in gesinne is dat die druk op gemeenskapsinstellings soos die kerk, skool en kultuurorganisasies eksponensieel toeneem om geborgenheid vir hul lede te skep. Ons sou ook kon praat van gemeenskapsinstellings wat in eietydse konteks as burgorganisasies ʼn veilige toevlugsoord vir hulle lede en gemeenskappe word. ʼn Herberg waar gebroke ouers en kinders gekoester word. Die skep van geborgenheid is sonder twyfel een van die belangrikste prioriteite van ʼn kultuurorganisasie.

Daar sal altyd diegene wees wat in die skep van kulturele geborgenheid iets kwaadwilligs wil soek met ou en vervelige beskuldigings van laertrek of isolasie. Die waarheid is ʼn gemeenskap wat gedien word met lewenskragtige burgorganisasies is ʼn stabiliserende invloed in ʼn onstabiele land. Syfers wys daarop dat gemeenskapsinstellings, of dit nou kerk, skool of kultuurorganisasies is, wat op ’n verantwoordelike wyse daarin slaag om hulself as ʼn burgorganisasie te posisioneer, van krag tot krag gaan.

Hoe skep ʼn burg-organisasie ʼn kultuur van geborgenheid? Deur vier maklike werkwoorde, naamlik ontspan, erken, beskerm en toerus.

  • Of dit nou skoene uitskop tussen vriendinne in ʼn takvergadering, of kampvuur maak in die veld saam met jou Voortrekkerspan of te luister na ʼn musiekuitvoering is, mense het nodig om iewers tussen die spanning, stres en huiswerkboeke te ontspan. Burgorganisasies bied ʼn kans om te kan asemhaal en rus.
  • Afrikaners kry steeds eerder pakslae as erkenning vir die positiewe rol wat ons steeds op talle terreine vervul. Duisende vrywilligers dien in hulle gemeenskap se skool, kerk of kultuurorganisasie. Suksesvolle burgorganisasies sien die vrywillige dienswerk raak en gee erkenning waar nodig. ʼn Dankie kos niks, maar beteken baie.
  • Langenhoven het gesê: “Die waarde van die koelte is in die warm son rondom hom.” Ons beleef tans eerder ʼn Afrika-son wat taal en kultuur tot droogte wil verskroei as ʼn vriendelike lente-son wat taal- en kultuurbeddings laat groei, totdat hulle in volle blom staan. Burg-organisasies bied ʼn veilige koelteplek vir ons taal en kultuur.
  • Burgorganisasies leef nie vir hulleself nie, maar skep groeiruimtes waar lede toegerus word met vaardighede om positiewe waardes in hulle gemeenskappe in te spit.

Om betrokke te wees by burg-organisasies wat geborgenheid skep, maak mense gelukkig. Betrokkenheid gee betekenis in ons kultuurbelewing en ons menswees. Deur deelname aan burgorganisasies skep ons vir onsself, ons kinders, ons taal en ons kultuur skuilplekke en groeiruimtes. Meer belangrik, deur deelname skep ons behoortplekke waar ongeborge mense gekoester word. Geborge ruimtes waar ouers en kinders, mans en vroue deur die samesyn van gemeenskapwees God se ouerhart nuut kan ervaar en in die proses heel kan word.

Wat maak ʼn mens gelukkiger as dit?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

JC ·

Dankie Dankie Danie dit is ‘n uitstekende skrywe!
Dankie vir wat die FAK en ander taal/onderwys/kultuur/burgerregte organisasies soos Afriforum, Akademia, Aros en ATKV doen!!
Julle is almal bevonk!

Koos Boer ·

Dankie Danie. Hou so aan. Vorige geslagte het MER Langenhoven ens gehad om kontemporere leiers te wees. Ek was ook by Voortrekkers betrokke wat elke drie weke in die Kalahari naby Hotazel op plase gaan kamp het. Ons het met die Voortrekkers se rooi handboek gewerk tussen speel in die duine onder kameeldoring bome om kampvure. Vir my as grootmens was dit so wonderlik om te sien hoe moeilike stout kinders (volgens ouers en onderwysers) in die natuur saam met span maats speel spreel verander en rigting kry. Agterna was ek dankbaar om te hoor hoe van daardie kinders n geoloog en ingenieur geword het. Ons het leiers nodig. Hou so aan Danie.en ander soos onderwysers en leiers

Alet van Biljon ·

Wat ‘n sielskos ervaring was dit nie. Baie dankie. Het nou herkou kos om ons deur te sien tot die volgende beraad

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.