Gemeenskappe, ontluikende vrystede en sentrale regerings in die tyd van Covid-19

Deur Alida Kok 

alida-kok

Alida Kok. Foto: Jurgens Burger.

Ons het eintlik vir ʼn ruk lank gesien hoe ʼn politieke tsoenami uit die ooste na ons op pad is. Toe die golf ons uiteindelik tref, het dit nie lank geneem vir ʼn verwronge “morele orde” om in ons samelewings pos te vat nie. Terselfdertyd het ʼn vernuwende beweging ook begin waarin gemeenskappe mekaar se menswaardigheid op prys stel, beskerm en bevorder.

Die politieke stryd waarin vrystede en sentrale regerings gewikkel is – die voorbeeld van Hongkong en China

In Junie 2019 het gewelddadige protesoptogte in Hongkong vlamgevat. Dít nadat die sentrale regering in China – die Chinese Kommunistiese Party – aangedui het dat wetgewing in Hongkong deurgevoer moet word wat sal toelaat dat inwoners van hierdie stad wat van oortredings aangekla word, na die Chinese vasteland weggevoer word om deur die sentrale Chinese regering self vervolg te word.

Hongkong was onder Britse besit van 1842 tot 1997. In 1997 is die gebied oorgedra na Chinese besit en sedertdien is die stad ʼn spesiale administratiewe streek in China. ʼn “Een land, twee stelsels”-beleid word hier geïmplementeer wat beteken Hongkong is semi-outonoom, al is dit in die sentralistiese Chinese staat geleë, en het afgewentelde uitvoerende, regsprekende en wetgewende magte.

(Foto: AP Photo/Vincent Yu)

ʼn Eiesoortige tradisie, in vergelyking met dié van die Chinese vasteland, het dus in Hongkong ontstaan vanaf ten minste die 19de eeu tot en met vandag. Hongkongse inwoners dring aan op burgerlike vryhede en liberaal-demokratiese waardes. Gevolglik is daar ʼn baie diep kloof wat loop tussen dié vrystad of sogenaamde “charter city” en die outoritarisme waarvan Beijing ʼn voorstander is. Dit verduidelik die ontsettende woede wat onder inwoners van Hongkong ontstaan het toe Beijing die regering in Hongkong wou dwing om wetgewing in hul metropolitaanse area deur te voer wat die stad se semi-outonomiteit en afgewentelde magte direk sou oorskry.

Inwoners van die stad weet dat wetgewing wat die uitlewering van verdagtes na die Chinese vasteland toelaat, mense sal blootstel aan die dreigende mag wat deur China se outoritêre politieke instellings uitgeoefen word. Terselfdertyd is die Chinese regbank ʼn verlenging van die magtige Kommunistiese Party en kan daar beslis nie ʼn beroep op ʼn Chinese regsprekende gesag gemaak word om burgerlike vryhede te beskerm nie. Die Chinese president en algemene sekretaris van die Chinese Kommunistiese Party, Xi Jinping, het juis in ʼn toespraak in Februarie 2019 bevestig: “China moet absoluut nie die Westerse roete van regsprekende onafhanklikheid volg nie”. Die Kommunistiese Party hou die regbank onder hul duim.

(Foto: AP Photo/Vincent Yu)

Intussen het aktiviste in Hongkong in ’n langdurige protes begin deelneem vir die behoud van burgerlike regte en vryhede in die algemeen en die hervorming van hul wetgewende gesag. Ontstellende video’s en foto’s waarin veiligheidsmagte aktiviste of gewone Hongkongse inwoners aanrand, het sedert verlede jaar in die globale media versprei.

Dit blyk dat die kragte van die sentralisering van politieke mag (wat deur China versinnebeeld word) en die desentralisering van politieke mag (wat, onder meer, bewerkstellig word wanneer ʼn stad sy munisipale uitvoerende en wetgewende magte behou en in praktyk selfs vergroot) ʼn nuwe eietydse maatstaf van politiek in die ontwikkelende ekonomieë van die globale suide gaan wees.

Gemeenskappe, ontluikende vrystede en provinsiale en sentrale regering in die tyd van Covid-19 in Suid-Afrika

Die afgelope jaar se botsing tussen China, as dié staat in die internasionale samelewing wat ʼn voorstander van outoritarisme en ʼn opkomende wêreldhegemoon is, en Hongkong, as een van die vernaamste vrystede (“charter cities”) in die wêreld, is een van die groot momente wat tesame met die aankoms van Covid-19 globale politiek oor ʼn drempel na ʼn nuwe era van outoritarisme gestoot het.

Argieffoto

Hierdie tendens het ook aan die regerende party in Suid-Afrika die geleentheid gegee om soos ʼn China outoritêre politieke instellings in ons eie samelewing te vestig. Nou is ons eie gemeenskappe en ontluikende vrystede ook in ʼn stryd met magsbehepte ANC- sentrale en provinsiale regering gewikkel. Sommige van die botsings wen gemeenskappe en stede, en sommiges wen provinsiale en sentrale regering. Dink byvoorbeeld hier aan die hofsaak wat die Demokratiese Alliansie (DA) teen die Gautengse provinsiale regering gewen het waarin die hof die onwettige besluit van die ANC- provinsiale regering om die Tshwane-metro onder administrasie te plaas, omgekeer het. Hierdie beslissing deur die hof – midde-in die staat van inperking – is ʼn oorwinning vir munisipale regering wat tot ʼn mindere mate onder die invloedsfeer van die ANC val. Of dink aan die nasionale regering se beslissings oor watter distrikte of stede minder streng inperkingsmaatreëls mag implementeer. Stede het nie noodwendig op die oomblik die invloed om die besluite van die regering op nasionale vlak in hierdie verband amptelik teen te staan nie.

Covid-19 en ʼn nuwe “morele orde” wat deur globale, nasionale en plaaslike politiek strek

Twee maande gelede was ons eie samelewing se grootste kollektiewe uitdagings die inkrimping van die ekonomie, die destruktiewe gevolge van fenomenale staatskaping en die vernietiging van staatsinstellings.

(Grafika: Pixabay)

Nou het ʼn tsoenami uit die Ooste veroorsaak dat ons gekonfronteer word deur ʼn nuwe sogenaamde “morele orde” wat dit geldig wil maak dat die militarisering van die polisiemag plaasvind, dat mense mekaar in hul eie woonbuurte by wetstoepassers aangee, dat families weens die reëls van die staat van inperking van mekaar weerhou word, dat sterwendes in hospitale se geliefdes hulle nie kan besoek of groet nie, dat ʼn minister besluit wat ʼn mens mag koop en nie mag koop nie, dat joernaliste hul moontlike afdanking moet vrees weens kritiek op ministers of die president, dat kwarantynkampe soos konsentrasiekampe opgestel word waarin mense in gedwonge afsondering geplaas word, dat daar beplan word dat jeugbrigades by Gautengse skole ingestuur word, dat geweld en korrupsie rondom kosverspreiding ontstaan, dat gemeenskappe honger ly, dat ʼn raskriterium gebruik word om te bepaal watter ondernemings noodhulp van die regering ontvang, en dat mense wat moet werk om te oorleef, gekriminaliseer word.

Binne ʼn maand het die norme en standaarde van aanvaarbare optrede, of die sogenaamde “moraliteit”, in die openbaar verander asof ons samelewing een stel tafelmaniere vir ʼn ander stel tafelmaniere uitgeruil het. Die tsoenami uit die Ooste het ons gedrag begin bepaal in ons stede, woonbuurte en selfs ook in van die mees intieme ruimte van ons lewe. Dit kom voor asof die ontmensliking van ons samelewing plaasvind.

Die sleutel tot ons “medevermensliking” – om mekaar se menswaardigheid weer op prys te stel – is opgesluit in die bemagtiging van ons gemeenskappe. Sedert die begin van die Covid-19-krisis in Suid-Afrika is dit gemeenskappe wat mekaar se menswaardigheid beskerm en bevorder, en nié ʼn sentrale ANC-regering nie. Terwyl die ANC Covid-19 as ʼn rookskerm gebruik om ʼn outoritêre fantasie uit te leef, is gemeenskappe en ontluikende vrystede besig om te midde van al die chaos van hierdie nuwe era herstel en vernuwing mee te bring.

  • Alida Kok is ʼn dosent in politiek aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Burgermeester

Dit is ‘n interessante artikel. Ek kan sien hoe die sleutel tot ons “medevermensliking” opgesluit lê in die bemagtiging van ons gemeenskappe. Ongelukkig vir ons, probeer die ANC-regering alles in hulle vermoë om te verhoed dat ons daai ‘sleutel’ gebruik om die bemagtiging te ontsluit, want hulle wil alles besit en beheer. Ek stem nie saam met die stelling dat die gemeenskappe en ontluikende vrystede besig is om te midde van al die chaos te herstel en vernuwing mee te bring nie. Dit wil eerder voorkom asof ons besig is om te verval in plaas van herstel. Ek sal graag… Lees meer »

JJ

Uitstekende artikel. Waar kom jy nou eers vandaan?

Kanjynoumeer

Alida Kok baie dankie vir n uitstekende artikel. Die protes gaan voort in Hong Kong om nie in te gee onder die outoritêre druk van China nie en ook nie hier in Suid-Afrika nie.
Daar is nog hoop vir Suid-Afrika. Politieke partye en gewone burgermag veg voort deur howe.
So sal hernuwing plaasvind.
Never give up.

Jack

Die oogmerk van die ANC is sekerlik soos die van sy geldskieter china om die wetgewende magte ondergeskik te maak aan die uitvoerende magte. Daar is n grondwet maar word dit nie net as n dokument gesien nie en wie waarborg die uitvoering van wat daarin staan.