Gemeenskapsinstellings: ’n Skans teen oorweldigende staatsmag

gemeenskapsbetrokkenheid

Foto: Shmfirm.com

Deur Christoff van Wyk

Afrikaners het die afgelope eeu onder meer in twee slagysters getrap. Eerstens het hulle afgewyk van hul tradisioneel desentralistiese, republikeinse kerngedagte (soos in die Boererepublieke van ouds) in ruil vir ’n meer sentralistiese staat waarvan die eerste tree gegee is met Uniewording in 1910. Tweedens het hulle dié sentralistiese staatstelsel, tydens die oorgang van apartheid na demokrasie, net so oorhandig aan ’n swart meerderheid wat hulle in wese, ondanks baie beloftes, nie goedgesind was nie. Afrikanergemeenskappe het dus ’n tyd lank eers stadigaan hul politieke mag verloor en toe in 1994 bykans oornag.

Om hierdie situasie vir Afrikaners om te keer, is onmoontlik binne die bestaande opset. Daar moet dus na alternatiewe opsies gekyk word, nie slegs vir Afrikaners se voortbestaan in Suid-Afrika nie, maar vir alle kultuurgroepe.

Verlede jaar het Johann Rupert in ’n toespraak tydens ’n geleentheid van die FW de Klerk-Stigting daarna verwys dat die regering nie ’n land so verwikkeld soos Suid-Afrika kan regeer sonder die hulp van die burgerlike samelewing en die privaat sakesektor nie.

Ons sien tans dat die vryheid van die burgerlike samelewing en privaat sektor toenemend ingeperk word deur ’n staat wat al meer mag in homself sentraliseer deur middel van wetgewing en die koöptering van voorheen vrye organisasies en instellings. Ongelukkig misbruik die staat hierdie mag om sy eie sosialisties-kommunistiese ideologie af te dwing, met verreikende gevolge op vele terreine.

Die vraag ontstaan nou, wat kan die burgerlike samelewing en die privaat sektor hieromtrent doen? Of wag die meeste van ons vir die staat om ons uit die gemors te kry waarin ons is?

Kan gewone mense regtig weer ’n verskil maak? Die kort antwoord hierop is, ja.

Maar dit gaan vereis dat ons ’n ander paradigma sal moet erken en aanvaar met betrekking tot die aanvaarde verhouding tussen staat en individu soos vervat in ons huidige bestel. Dit gaan moeilik wees, maar dikwels, veral in ’n krisistyd, is daar geen ander uitweg nie, en ons is bepaald nou in ’n krisis.

Die huidige formaat van politiek waarin ons as Suid-Afrikaners ons bevind, blyk al meer problematies te wees. Die demokratiese omwenteling in post-apartheid, met stemreg vir almal, het ’n illusie geskep dat probleme “reg”-gestem kan word. Hierdie indruk is versterk deur aanvanklike blyke van sukses en stabiliteit. Maar die krake het mettertyd begin wys. Afrikaners en ander minderheidsgroepe het met skok verneem dat politieke mag nou soms die botoon voer en selfs op ongrondwetlike wyse teen hulle ingespan word ondanks verskanste regte soos vervat in die Grondwet. Die beskerming wat die Grondwet moes bied oor kwessies soos taal en kultuur is glad nie meer gewaarborg nie.

Onder die meerderheid swart Suid-Afrikaners, en veral die jeug, vind ons tans ’n onrusbarende getal gewelddadige opstande wat plaasvind waarvan die meeste deesdae nie eens meer oor berig word nie. Vir hierdie miljoene mense het die beloofde werk en die “beter toekoms vir almal” nog nooit werklikheid geword nie, al het hulle “reg” (lees ANC) gestem. Dus, in samevatting, kom die gewilde slagspreuk “Vote for change” eintlik maar net neer op hoogstens ’n verandering in die regerende politieke party, en los dit Jan en alleman steeds magteloos.

Robert Nisbit, die bekende Amerikaanse sosioloog, het in sy voortydige werk, Quest for community, die volgende geskryf: “The real conflict in modern political history has not been, as is so often stated, between State and individual, but between State and social group.”

Ek stem met hom saam, al maak die stelling aanvanklik nie sin nie.

Lord Acton se uitsonderlike werk, History of freedom, behoort in hierdie verband meer lig te werp. Hy skryf die volgende: “It [die Staat] recognizes liberty only in the individual, because it is only in the individual that liberty can be separated from authority, and the right of conditional obedience deprived of the security of limited command.”

Wat Lord Acton hier sê, en wat ook aansluit by Robert Nisbit, is dat die staat hom oor die algemeen (en ook spesifiek in Suid-Afrika) daarmee bemoei om alle vorme van gesag wat gesetel is in gemeenskapsinstellings, soos gesinne, kerke, skole, universiteite en dies meer, te vernietig of te neutraliseer. Die rede hiervoor is omdat dit baie makliker is om mag te vervreem van die individu wat dit juis deur sy illusie van vryheid weggee (byvoorbeeld deur die reg om te stem), in teenstelling met sterk gemeenskapsinstellings wat in veel groter mate die verteenwoordigende wil van individue versinnebeeld.

’n Groot deel van die oplossing lê dus daarin om tradisionele instellings soos die gesin, die kerk, die skool, universiteite en ander instansies van vrye verbintenis weer te begin opbou en versterk. Hierdie soort gemeenskapsinstellings behoort die kern te vorm van ’n nuwe denkraamwerk rondom die terugwin van mag vanaf die staat.

Ons sien vandag dat al meer gemeenskaps- en burgerlike instellings tot stand kom en dat daar werklik sukses behaal word. Maar daar moet steeds meer gedoen word, aangesien die stig van nuwe gemeenskapsinstellings en die mobilisering van gemeenskappe rondom hul eie belange teen die grein van die huidige sosiale en kulturele diskoers ingaan.

In ons hedendaagse kultuur van hiper-individualisme is ons wysgemaak: Solank ek as individu oor sekere regte beskik wat grondwetlik of andersins verskans is, gaan ek veilig wees. In praktyk het dit nie so uitgewerk nie en hoewel ons die gevolge hiervan al meer aan eie lyf voel, is die natuurlike reaksie steeds staatsgerig in plaas van gemeenskapsgerig.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die nuutgestigte atletiekorganisasie Fasa (Forum for Athletes South Africa). Dit is ’n organisasie met vrywillige lidmaatskap wat poog om weer ’n stem te gee aan Suid-Afrikaanse atlete wat deur swak staatsinstellings ontneem is van hul regte en potensiaal. Hierdie soort organisasie stem presies ooreen met die argumente vir gemeenskapsinstellings soos hierbo uiteengesit.

Indien ons dus waarlik ’n verskil in ons land wil maak, gaan dit van ons as gewone burgers verg om uit ons gemaksone te beweeg en betrokke te raak by gemeenskaps- en burgerlike organisasies. En waar hierdie organisasies nog nie bestaan nie, sal ons hulle moet stig en daadwerklik begin verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie toekoms.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa ·

‘n Mondvol – maar baie baie waar. Sal dit nie fantasties wees as daar weer herlewing met nuwe woema kom nie? In ons Afrikaanse midde is daar analitici, akademici, strategiese beplanners, noem maar op en daar is top mense om ‘n groep van denkers te vorm vir hierdie voorbeelde wat genoem word. Dan word ons ander genooi om deel te neem en praktiese oplosbare goed te bespreek om ons almal weer moed te gee om voort te gaan. Dankie vir die artikel – ek hoop daar spruit iets wonderlik daaruit.

Leendert van Oostrum ·

Dankie vir ‘n baie belangrike en tydige uiteensetting van die magsverhouding tussen die staat en gemeeskap(pe).

Ek was twee weke gelede by ‘n internasionale konferensie van tuisskolers in Brazillië. Die temas in hierdie artikel het sterk deur die aanbieings by die konferensie geloop en is deur verteenwoordigers van 24 lande bespreek. Daar was ook ‘n sterk span internasionale regsgeleerdes wat saamgepraat het.

Veral die Suid-Amerikaners bevind hulle in ‘n posisie baie soortgelyk aan dié in Suid-Afrika vis-a-vis hul regerings, maar die lyk asof geen land ontkom aan die toenemende kaping van individuele en gemeenskapsvryhede deur die staat nie.

Die verblydende is dat daar wêreldwyd rondom tuis- en ander vorme van alternatiewe onderwys besig is om organisaies te ontstaan wat spesifiek die regmatige gesag van die gesin beskerm en bevorder – veral in die konteks van die onderwys maar ook op ander gebiede soos gewetensvryheid, gesondheidsorg en keuse van lewenstyl e.d.m.

Wat meer is, is dat ‘n konferensie soos hierdie (waarvan ek een van die organiseerders was) demonstreer dat tuisskolers internasionale netwerke bou om kennis uit te ruil en mekaar te ondersteun.

Johan ·

Baie goeie berig. Dis net bietjie moeilik die argument te hou, maar met die tweede lees het die lig deurgebreek.
Dit is fenomenaal die denkskuif wat die eeen-mens-een-stem stelsel veroorsaak het. Dit is werklik om die illusie te vertroetel dat my individuele stem my individueel bemagtig. Die illusie word voorts gevoed met die illusie dat die stemmery die einde van my verantwoordelikhede is. Ook die illusie dat ek my lojaliteit uitspreek en die illusie dat my stem vir my identiteit gee. Die realiteit is anders. Identiteit kan ek net vind binne my groter groep; lojaliteit kan ek net bewys aan ‘n groep; en verantwoordelikheid demonstreer ek aan my groep waaraan ek behoort. Omdat ons die groep versaak het vir individualisme het is ons burgers identiteitloos; aan niks lojaal as hulleself nie en neem net verantwoordelikheid vir eie belange. Ons het ‘n lang pynlike pad tot gemeenskapsbetrokkenheid…

Johann Marx ·

Wat hierdie nodige proses uiters moeilik maak is die feit dat die “Afrikaners” waarna verwys word gefragmenteerd tussen ander rasse woon. Heel eerste behoort ons ‘n spanpoging aan te wend om die regering te oortuig om “apartheid” in sy totaliteit om te keer (Hulle’s in elke geval besig daarmee….maar selektief). Apartheid moet in sy volle glorie omgekeer word. AL die “Afrikaners” behoort kosteloos hervestig te word in die voormalike tuislande (TBVC lande)….en die wat wil kan dan in Suid Afrika werk (met ‘n werkspermit of “dom-pas”). Slegs Afrikaners mag eiendom besit in hierdie tuislande, en in Suid Afrika slegs huur. Hierdie tuislande moet dan elkeen outonoom regeer word deur die inwoners van daardie tuisland, met eie regering, weermag, polisiemag, infra-struktuur en openbare werke en dienste. Die regering behoort dan ‘n gelykmatige finansiële inset te lewer (soos wat die apartheidsregering gedoen het aan Transkei, Bophutatswana,Venda en Ciskei)…..EN…..die inwoners van daardie lande moet dan ook onmiddelik van BELASTING onthef word, soos wat die inwoners onder apartheid daarvan onthef was (slegs PAYE betaal as hulle in SA gewerk het). Dan kan die huidige regering met SA maak NET wat hulle wil…..en die Afrikaner sal altyd ‘n plek hê om heen te gaan, as hy of sy sou wou. Binne 10 jaar sal daar dan uiters suksesvolle en florerende Afrikaner tuislande wees….met ‘n korrupte kreperende Suid Afrika daar om.

Wicus ·

Baie goeie voorstel Johann, dis waarskynlik die enigste vreedsame manier uit die gemors. Die lotte het egter ‘n kompleks sodat hulle wette nodig het om hulself teen die minderheid te beskerm! Natuurlik moet die melkkoei ook net aan die lewe gehou word en gekeer word om uit te breek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.