Ons almal weet van die gebeure en spanning wat ontstaan het weens ʼn bemarkingsveldtog deur die Sweedse klereverkoper H&M gedurende die afgelope twee weke. Woede het geheers na afloop van hierdie advertensie. Dit was egter duidelik dat talle mense oor die hele wêreld verdeeld was oor hoe om te reageer en te voel oor die woorde op hierdie kledingstuk.
Kort nadat die advertensie die rondtes op sosiale media begin doen het, het die EFF met geweld gedreig. Ten spyte van die feit dat meeste mense nie saamgestem het of die advertensie rassisties was of nie, het die rooi-keppie-party besluit om aksie te neem. Soos dit net die EFF en hul verontwaardigheidsprobleme behaag het lede van die party besluit dat die beste wyse om skynbare rassisme te beveg, is om met kriminele dade te reageer. Op 13 Januarie 2018 het die lede ʼn aantal H&M takke gaan verwoes en plunder wat gelei het dat die winkelgroep al hul takke in Suid-Afrika tydelik moes sluit.
Alhoewel meeste mense gemengde gevoelens oor H&M se advertensie het, behoort niemand van ons gemengde gevoelens oor die EFF se optrede te hê nie. Dit bly skrikwekkend dat, vir ʼn groot deel van die Suid-Afrikaanse bevolking, word woorde op klere meer afkeurenswaardig geag as skade wat aan privaat eiendom gerig word.
Gedurende die onwettige optrede het ons egter een van die mees ironiese oomblikke van die hele situasie gesien. In ʼn foto geneem van die onwettige optrede by die Menlyn Park-inkopiesentrum word die lede van die EFF gewys waar hulle plakkate in betoging ophou wat vra dat H&M gesluit moet word. In dieselfde foto, net onder die plakkate verskyn ʼn lid van die EFF met ʼn partyhemp wat lees: “Ons laaste hoop vir werksgeleenthede en dienslewering.”
Hierdie hemp word met trots gedra terwyl die betogers besig is om mede-Suid-Afrikaners se werkgewer se deure toe te maak. Mens wonder egter of enige van die betogers hierdie ironie besef.
Op geen punt is hierdie gedrag deur die lede van die EFF veroordeel nie. Inteendeel, dit word geprys deur die EFF se leiers. Wat egter vir alle Suid-Afrikaners duidelik is ná die afgelope twee weke se gebeure, is dat die EFF se optrede vir al meer Suid-Afrikaners onaanvaarbaar word. Suid-Afrikaners besef dat as die EFF verskeie klerewinkels kan gaan ontwrig en skade gaan verrig, raak dit nie moeilik om te sien hoe die EFF op ander wyses hulself nie gaan steur aan alle Suid-Afrikaners se regte nie. Hopelik dien hierdie as bewys vir medelandsburgers dat die EFF se kortsigtigheid nie net beperk is tot die hemde wat hul dra en die plakkate wat hul maak nie.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Oh die ironie van die plakaat op die regterkant…
‘Hullo’..!! : ]
Selfs nie die apologetiese H&M het dié barbaarse optrede hoegenaamd veroordeel nie.
Inteendeel, reeds aangekondig dat ondernemings in SA uitgebrei gaan word.
Dit verbaas dus geensins dat hierdie vernielsugtige, van links opgesweepte massas ‘n skrikbewind in vele lande voer en polisiemanne verdwaasd laat toekyk nie.
Misdadige optrede, saakbeskadiging, diefstal, onwettige byeenkoms, verlies aan inkomste, ekonomiese sabotasie, aanhitsing, alles word oor die hoof gesien ten spyte daarvan dat verskeie individue uitkenbaar is en dat daar ‘n kollektiewe motief vir hierdie optrede bestaan onder al die betogers.
Verduidelik asseblief hoekom hierdie selektiewe vervolging van kriminaliteit niks met ras te doen het nie? Sou ek, of enige ander wit persoon die geringste van daardie oortredings begaan sal dit welliswaar nie oor die hoof gesien word nie.
En hoe kan ´n mens H&M se onreaksie uitlê soos deur T. van Schalkwyk gewys?
Die EFF se amper ewebeeld in die weste is die “links” partye se verwoes-en-intimidasie troepe namens “Anti”fa. Lidmate van albei groepe is dom en word heel moontlik vir iemand anders se agenda misbruik.
´n Verklaring wat my byval vir H&M se stilswye en steeds verdere uitbreiding is kortsigtige gewin-maximering en geldgierigheid.
Woorde op klere word meer afkeurenswaardig geag as selfs moord en doodslag.