Gemengde welslae vir die SA-rugbyspanne

Lelia Masaga van die Chiefs glip verby Wynand Olivier van die Bulle Foto: Gallo Images

Iewers is daar ʼn skroef los by die Bulle. Ek weet nie of dit die skelpienk-uitrustings is wat hulle aantas nie, maar vir die tweede week in ʼn ry is die gehalte van die spel wat hulle na rustyd opdis, totaal en al verskillend van dít wat hulle in die eerste helfte aanbied. In die eerste helfte was daar dringendheid in alles wat hulle gedoen het: aanval, verdediging, skopwerk, lakwerk, alles van hoogstaande gehalte… In die tweede helfte was daar ʼn duidelike insinking. As die tendens voortduur, is die huidige Super 15 neusie verby vir die Bulle.

Die Chiefs het net te maklik vanuit die vaste fasette die verdediging van die Bulle oorhoops gehad en dit moet kommerwekkend vir die afrigtingspan wees dat die Bulle nou in twee wedstryde ná mekaar vier drieë vanaf die vaste fasette afgestaan het. Die treintjie wat gevorm word om die bal deur vier spelers na agter te voer word oordryf en dit maak die bal baie stadig. Die verdediging kry kans om te hergroepeer en niks gebeur op die daaropvolgende aanval nie. Francois Hougaard se flinke diens kort ook ʼn bietjie olie, want te veel kere word sy skoppe afgestorm en is hy agter die skrum betrap.

Die foute sal hulle beslis duur te staan kom teen die Stormers, veral na hulle lang reis terug. Die groot Noord/Suid-kragmeting volgende Saterdag sal beslis vir die Bulle vorentoe bepalend wees.

Die riller in die Shark-tenk was bloot ʼn riller omdat die skeidsregter ʼn openlike vorentoe aangee aan Gio Aplon vir sy tweede drie nie raakgesien het nie, en dit die Stormers ʼn kans sou gebied het om die wedstryd in die laaste 7 minute te kon wen. Die wedstryd het voldoen aan alles wat tussen twee SA-spanne verwag word. Die Sharks het met hulle makropak beslis ʼn plan gehad om die Stormers se voorspelers te neutraliseer en hulle het dit skitterend reggekry. Die Sharks is beslis besig om die regte vorm te bereik op die regte tyd en dit voorspel niks goed vir die Bulle en die Stormers nie.

Hoede hoog af vir die Cheetahs wat na ʼn swak begin die wedstryd kon wen. Traak-my-nieagtige verdediging het veroorsaak dat hulle die heeltyd moes veg vanuit die agterste linie, maar gelukkig het hulle die briljante individue wat met goeie besluitneming en gerugsteun deur hope vaardigheid die bordjies kon verhang. Die Cheetahs maak van rugby ʼn skouspel en met ʼn bietjie meer diepte kan hulle een van die grotes word.

Die treurmare rondom die Leeus wil maar nie gaan lê nie en ʼn mens begin hulle bewonder vir die feit dat hulle Saterdag ná Saterdag opdraf met die wete hier kom nog ʼn nederlaag. Dalk hou hulle vir hulle ondersteuners ʼn groot verrassing in deur Saterdag die Sharks in Johannesburg oortuigend te klop. Net jammer daar sal nie baie mense wees om dit te aanskou nie.

ʼn Ondersteuner mag mos maar somtyds drome droom

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.