Generaal Piet Joubert en Majuba

Piet Joubert, die Boeregeneraal wat die nasionalistiese Transvaalse onafhanklikheidoorlog teen Brittanje vanaf 1880 tot 1881 aangevoer het.

Generaal Piet Joubert het ʼn prominente rol in die ZAR se hele geskiedenis gespeel, veral in die herwinning van vryheid in 1881.

Hy was ook die sterkste politieke teenstander van president Paul Kruger, hoewel hy terselfdertyd hoof van die republiek se militêre magte was. Dit is die moeite werd om na hierdie lewe in al sy skakerings te kyk.

Biografiese gegewens

Petrus Jacobus Joubert is op 20 Januarie 1834 in die Kaapkolonie, in die omgewing tussen Prins Albert en Oudtshoorn, gebore. Sy ma sterf kort na sy geboorte en hy word by sy grootouers groot en neem saam met hulle aan die Groot Trek deel.

Soos baie mense van sy ouderdom, het Joubert lank geneem om na die Trek tot ruste te kom. Hy het eers naby Pretoria in die Irene-omgewing geboer, waar hy sy vrou, ook ʼn Voortrekkerdogter, ontmoet het. Hulle het in verskillende dele van die republiek geboer, maar uiteindelik in die suidoostelike hoek, in die Wakkerstroom-distrik, gevestig.

Piet Joubert was ʼn intelligente persoon wat vir sy gebrek aan skoolopleiding vergoed het deur wyd te lees, veral in die regte. Hy was ʼn suksesvolle boer, wat spoedig welvarend geword het – iets uitsonderlik in ʼn samelewing waar boere meestal bloot selfversorgend was. Gedurende die 1860’s is hy vir die Wakkerstroom-kiesafdeling tot die Volksraad van die ZAR verkies. Hy het ook vir ʼn tyd lank as prokureur-generaal van die republiek diens gedoen.

Toe Brittanje die ZAR in 1877 geannekseer het, was Joubert konsekwent in sy weerstand daarteen. Toe die weerstand op oorlog uitgeloop het, is hy as kommandant-generaal van die republikeinse magte aangewys. In dié hoedanigheid was hy aanvoerder van die Boeremagte by die Slag van Majuba.

Met die herwinning van onafhanklikheid het Joubert kommandant-generaal van die republiek se magte gebly, tot hy in 1900 oorlede is. Met elke presidentsverkiesing van 1883 tot 1898 het hy teen Paul Kruger gestaan, maar nooit gewen nie.

Vroeg in die Tweede Vryheidsoorlog het Joubert tydens ʼn veldslag van sy perd afgeval en inwendige beserings opgedoen. Hy het nooit ten volle herstel nie en is op 28 Februarie 1900 in Pretoria oorlede.

Openbare lewe

Na Brittanje die ZAR in 1877 geannekseer het, het hulle probeer om soveel moontlik erkende Boereleiers in die regering te betrek. Piet Joubert het konsekwent geweier om daaraan deel te neem en so sy geloofwaardigheid as Boereleier gevestig. Dit was in later jare ʼn geskil tussen hom en Kruger dat laasgenoemde wel in die Britse administrasie gedien het.

Dit het aan die begin gelyk of die meeste burgers van die ZAR hulle met Britse anneksasie sou versoen. Joubert was een van ʼn klein groepie wat onvermoeid geywer het om die land se onafhanklikheid te herstel. Hy was oortuig dat deelname aan die Britse Ryk tot die verdwyning van ʼn eie Boere-identiteit (die woord Afrikaner is toe nog selde gebruik) sou lei.

Dit het gou geblyk dat die meeste burgers nie die anneksasie verwelkom het nie. Paul Kruger, MW Pretorius en Piet Joubert was die sogenaamde Driemanskap wat die protes georganiseer het, met die Britse owerhede geskakel het en weer aan die burgers verslag gedoen het. Toe dit blyk dat hulle niks met die koloniale owerhede in Suid-Afrika kon uitrig nie, het hulle twee maal met die regering in Engeland gaan onderhandel. Die Liberale Party het intussen in Engeland aan bewind gekom. Hulle was teen die anneksasie gekant, maar het nie kans gesien dat die magtige Britse Ryk stert tussen die bene uit ʼn kolonie padgee nie.

Die Driemanskap het hierdie onbevredigende resultaat aan ʼn volksvergadering by Paardeberg (in die huidige Krugersdorp) bekend gemaak. Die burgers het besluit om hulle republiek eensydig te herstel, wel wetende dat dit tot oorlog teen Brittanje sou lei. Paul Kruger is as president aangewys en Piet Joubert as kommandant-generaal. Die belangrikste dorpe, Pretoria, Potchefstroom en Lydenburg was almal in Britse hande. Daarom sou Heidelberg as hoofstad gebruik word.

Joubert het onmiddellik begin om alle voorbereidings vir oorlog te tref. Om optrede te voorkom, is die Britse mag in Pretoria vasgekeer. ʼn Mag wat hulle van Lydenburg te hulp gesnel het, is by Bronkhorstspruit voorgelê en bykans vernietig. Terwyl die binnelandse mag lamgelê was, het Joubert geweet die eintlike bedreiging sou ʼn inval uit Natal wees. Hy het die omgewing goed geken en kon sy magte goed ingrawe om al die moontlike deurgange te stuit.

Die Britse magte het twee maal deur die Boerelinies probeer druk: By Schuinshoogte (of Ingogo) en Laingsnek. Al twee kere is hulle met groot verliese teruggedryf.

Die Britse aanvoerder, Colley, het besluit om die Boere heeltemal te fnuik deur van die gebaande weë af te wyk. Gedurende die nag van 26 Februarie 1881 is ʼn groot kop, wat beheer oor ʼn groot omgewing sou bied, bestyg. Dit was Majuba. Mevrou Joubert, ʼn formidabele vrou wat haar man dikwels op militêre ekspedisies vergesel het en van groot hulp was, was die eerste om Britse soldate op die berg waar te neem. Joubert, wat self van die strategiese waarde van die kop bewus was, kon dit byna nie glo nie. Hy het wagte spesiaal by die plekke waar die berg bestyg kon word, geplaas. Hulle het ongelukkig hulle taak nie baie ernstig opgeneem nie en gaan slaap. Die verhaal sê dat Joubert aan sy vrou gesê het dat dit onmoontlik was; dit was seker maar bergbokke wat sy sien. Haar antwoord was: “En van wanneer af dra die bergbokke rooi baadjies?”.

Joubert se antwoord op hierdie Britse uitdaging was om die Britse mag aan te val voor hulle hulleself goed kon ingrawe. Hy het die terrein baie goed uitgekies, sodat die Boere die berg bykans ongesiens kon bestyg. Die Britse soldate, wat na die uitputtende nagmars gaan slaap het, was totaal uit die veld geslaan toe die Boere hulle op die berg verras. ʼn Kort, bloedige slag het gevolg, waartydens Colley self gesneuwel het.

Die militêre vernuf van Piet Joubert en sy burgers se vasberadenheid het die Britse owerhede oortuig dat dit nie so maklik sou wees om die “rebellie” in Transvaal te onderdruk nie. ʼn Skikking is bereik, waarvolgens die ZAR sy onafhanklikheid gedeeltelik herwin het. Dit sou voortaan slegs wat buitelandse verhoudings betref, aan Brittanje ondergeskik wees.

Besondere bydrae

Daar is in die geskiedenis soveel faktore wat ʼn belangrike rol speel, dat dit onmoontlik is om te sê hoe sake sou verloop het as Joubert, byvoorbeeld, in 1893 vir Kruger as president verslaan het. Joubert se finale mislukking as aanvoerder van die Boeremagte, moet ʼn mens nie sy ander prestasies uit die oog laat verloor nie.

Die simboliese waarde van die oorwinning by Majuba het ʼn belangrike rol in die opkoms van bewuste Afrikanerskap gehad. Hy het ʼn ander soort Afrikanerskap as Kruger s’n verteenwoordig, wat belangrik is, al het dit nooit die botoon gevoer nie. Verder het sy voorbereidings vir die oorlog ʼn belangrike grondslag gelê vir die heldhaftige stryd wat die Boere later gevoer het. ʼn Mens moenie vergeet nie dat Joubert vir baie jare die leier was van ʼn groep wat Louis Botha, Koos de la Rey, Christiaan Beyers en Danie Theron ingesluit het.

Generaal Piet Joubert is een van die Boereleiers wat somtyds in die vergetelheid verdwyn. ʼn Deegliker ondersoek wys dat hy op ʼn bepaalde tyd ʼn deurslaggewende rol in sy volk se lewe gespeel het.

  • Hierdie is ‘n uittreksel van die artikel wat eerste op die FAK se webtuiste verskyn het en hier gelees kan word. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kwikkie12 ·

Jammer dat ons kinders vandag nie hulle geskiedenis ken nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Generaal, groot verskoning dat ons geslag julle harde werk en opofferings ongedaan gemaak het. Maar julle ysters word nie meer gemaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.