Genuanseerde debat is nodig, ook oor apartheid

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Foto: Rozier van Tonder

Afrikaners, en wittes oor die algemeen, word dikwels daarvan beskuldig dat ons nie oor apartheid wil praat nie en dat ons kwansuis almal daarop aandring dat ons die verlede net moet vergeet en aanbeweeg. Ook wat ander netelige kwessies soos transformasie betref, gebeur dit ook té dikwels dat sommige Afrikaners, en Afrikaanssprekendes oor die algemeen, liewers swyg uit vrees dat hulle as rassiste en beskermers van bevoorregting uitgekryt sal word.

Die debat oor apartheid en transformasie word ongelukkig – soos die afgelope tyd duidelik blyk – gekniehalter omdat sommiges se pogings om minderhede by dié debat te betrek, nie werklik daarop gemik is om hul perspektiewe en sienings te hoor nie. Dit is eerder ’n poging om te help toesien dat almal in die land die regerende elite en heersende politieke orde se weergawe van die geskiedenis slaafs navolg.

Die debat word veral ingeperk deur ’n groepie onverdraagsame kommentators wat hulself skynbaar aangestel het om mense se denke te polisieer en toe te sien dat enige “afvallige” persoon swaar “gestraf” word as hulle, soos ek, dit durf waag om van die heersende orde se narratief af te wyk. Hierdie kommentators is selfs bereid om halwe waarhede te verkondig en wanvoorstellings te maak om toe te sien dat dit gebeur.

Dit is presies wat Eusebius McKaiser en Kie. gedoen het ná afloop van ’n onlangse gesprek op sy radioprogram waaraan ek deelgeneem het. Ten spyte daarvan dat ek aan McKaiser, en op ander platforms, gesê het dat ek en AfriForum die skending van mense se waardigheid onder die vaandel van apartheid veroordeel, word daar steeds valslik voorgegee dat ek en AfriForum kwansuis apartheidsapologete, ontkenners van menseregteskendings en rassiste sou wees.

Die heersende orde se narratief hou Afrikaners tans as wreedaardige kriminele voor wat geen positiewe bydrae gelewer het nie, terwyl die ANC as “foutlose” bevryders voorgehou word. In teenstelling met hierdie ongenuanseerde beskouing van die geskiedenis poog ek en AfriForum nie om Afrikaners as foutlose engeltjies voor te hou nie. Soos baie ander volke in die wêreld het Afrikaners groot foute begaan, maar ook prestasies behaal. Ek gee erkenning daaraan dat mense se waardigheid in die verlede geskend is, maar ek staan daarby dat dit onbillik is om my voorgeslagte te vergelyk met Hitler, wat onder andere ses miljoen Jode in gaskamers laat vermoor het. Dit is ook onbillik om apartheid nie binne die konteks van die tyd daarvan te beoordeel nie. Indien daar in ag geneem word dat die ANC homself tydens die Koue Oorlog by die kommunistiese blok geskaar het, was die ANC se alternatief tot apartheid die instelling van ’n kommunistiese bestel. Meer as 100 miljoen mense het wêreldwyd aan die hand van onderdrukkende kommunistiese regerings gesterf.

Na my mening bestaan daar geldige argumente om die VN se besluit in 1973 te bevraagteken om apartheid op soortgelyke wyse as Nazisme as misdaad teen die mensdom te verklaar. Hierdie bevraagtekening stem ooreen met die VSA se destydse ambassadeur na die VN, Clyde Ferguson jr., se standpunt toe hy in 1973 soos volg geargumenteer het: “Deplorable as it (apartheid) is, we cannot, from a legal point of view, accept that apartheid can in this manner be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly construed under existing international law, as set forth primarily in the charter of the Nürnberg Tribunal and as applied by the Nürnberg Tribunal.

Indien Ferguson verkeerd was, is die vraag: Waarom is Neurenberg-tipe verhore dan nie destyds ná die VN se resolusie oor apartheid teen die destydse Suid-Afrikaanse regering van stapel gestuur nie? Vir iemand soos prof. Pierre de Vos om die Statuur van Rome, wat eers in 2002 van krag geword het, nou terugwerkend van toepassing te probeer maak op internasionale reg wat in 1973 gegeld het en só te bewys dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is, getuig óf van moedswilligheid, óf van gebrekkige kennis.

Diegene wat ons almal aan die regerende party se denkraamwerk wil onderwerp, duld dit ook nie dat ’n mens die dubbele standaarde uitwys wat in 1973 tydens die Koue Oorlog vir die VN-proses gegeld het om apartheid as ’n misdaad teen die mensdom te laat verklaar nie. Die veldtog om apartheid as misdaad teen die mensdom te verklaar, is deur kommuniste en diktators gedryf wat sélf aan die erge menseregteskendings skuldig was. Benewens die Sowjetunie en Guinee se leidende rol in dié proses, het Idi Amin en talle ander tiranne die VN-deklarasie onderskryf. Juis omdat AfriForum erkenning gee aan dié verdeelde verlede, gaan AfriForum met die bou van ’n beter toekoms aanhou werk om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder. Wedersydse respek vereis egter nie dat ons almal oor alles, insluitend die VN se besluit in 1973, moet saamstem nie.

Sonder om voor te gee dat ek nou die gevoelens ten volle verstaan van mense teen wie daar tydens apartheid gediskrimineer is, het ek wel al in ’n mate die rou emosie van die skending van iemand se menswaardigheid beleef. Ek sal nooit my seun se gesigsuitdrukking vergeet toe hy ná ’n ure lange soektog na ’n studiebeurs op die internet vir my kom sê: “Jammer Pappa, hier is nie beurse waarvoor wit kinders soos ek kwalifiseer nie.” In ’n ander voorval het een van my dogters op 9-jarige ouderdom aan ’n streeksuitdunronde van ’n wiskundekompetisie deelgeneem. Sy het die tweede plek behaal, en alhoewel twee deelnemers na die volgende ronde deurgedring het, was sy nie een van hulle nie, want een van dié twee deelnemers moes swart wees. My dogter se teleurstelling dat sy uitgeval het omdat sy wit is, sal my altyd bybly. Die werklikheid is dat hierdie en baie ander nuwe ongeregtighede wat in die nuwe bedeling gepleeg word, geregverdig word met die beskouing dat apartheid soos Nazisme ’n misdaad teen die mensdom was. Indien minderhede dus die ANC se weergawe van die geskiedenis ten volle onderskryf, onderwerp ons onsself vrywillig daaraan dat ons kinders, kleinkinders en selfs geslagte daarna benadeel mag word vir die sonde van dié “misdaad teen die mensdom” wat hul voorgeslagte gepleeg het.

Die EFF en ANC het reeds verskeie kere gesê dat minderhede dít wat hulle het, op onregmatige wyse bekom of selfs gesteel het, en dat onteiening sonder vergoeding daarom regverdigbaar is. Sou ons onsself vrywillig met die “misdaad teen die mensdom”-argument vereenselwig, stem ons in der waarheid ook in dat apartheid as geheel misdadig was – ook álles wat in dié tyd gebeur het. Die klein groepie Afrikaners wat so lief daarvoor is om AfriForum oor my uitsprake oor apartheid te kritiseer, sal moet besef dat die logiese gevolg van hul argument is dat alles waarvoor hul voorgeslagte hard moes werk om op te bou, nou as die opbrengs van ’n misdaad gesien kan word en dus gekonfiskeer behoort te word.

Hoewel AfriForum talle bruin lede het, gaan ek my nie die reg aanmatig om voor te gee dat ek namens bruin mense praat nie – soos wat ek ten spyte van die oorweldigende steun wat AfriForum onder Afrikaners geniet, ook nie aanvoer dat ons namens elke Afrikaner praat nie. Wat bruin mense betref, weet ons dat die ANC se weergawe van die geskiedenis ’n hiërargie van benadeling probeer skep. Hiervolgens voer die ANC aan dat swart mense erger as bruin mense benadeel is. Daarom mag bruin mense nie óók voor in die ry staan wat regstellende aksie en vele ander sake aanbetref nie. As bruin mense ook by die “misdaad teen die mensdom waarin bruin mense minder benadeel is”-siening inval, sal hulle eweneens permanent daaraan onderwerp word om ook in die nuwe bedeling tweedeklas burgers te wees.

My beroep op elkeen wat hierdie artikel lees, is dat ons nie moet toelaat dat ons tot selfsensorskap geboelie word nie. As ons aan hierdie soort boelietaktiek en verguising toegee, sal niemand in die toekoms dit durf waag om iets te sê wat nie met die regerende elite se uitgangspunte strook nie. Juis daarom beskou ek dit as AfriForum se plig om voort te gaan om op genuanseerde wyse standpunt in te neem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Vragie ·

Ek het ‘n vraag aan mense wat in die apartheidsera geleef het: Is dit waar dat die ou regering self regerende lande aan swartmense gegee het waar daar gladnie teen hulle gediskrimineer was nie, inteendeel, wit boere daar se grond was aan swart mense gegee? Dat hulle daar gladnie pasboekies hoef te gedra het nie? Dat die ou regering baie geld spandeer het om vir swartmense daar universiteite, skole en industriee, besighede gestig het?

Willem ·

In daardie gebiede was daar nie Blankes nie, en ja, daar was universiteite.

Wessel ·

In die Pre Kommunistiese era (voor 1994) het die regering in SA vir die swartmense hulle eie skole, hospitale en strand oorde gebou. Maar gedurende die tagtiger jare was baie van die skole deur die ANC afgebrand of beskadig.

Eish ·

Ek kan nie anders nie as om my volmondig te skaar by die skrywer se sentiment oor die aangeleentheid nie.
100%. Punt.

JC ·

Perfek !
Dankie Kallie.
Ons as Afrikaners sou lank reeds in ons peetjie in gewees het sonder die Solidariteitbeweging en sy aanverwante liggame.

Bert ·

Is dit wys om ‘n genuanseerde perspektief in hierdie tye te probeer uitlig? Mens hoef nie altyd te se^ wat jy dink nie. Waarom nie eerder op hierdie oomblik in ons land se geskiedenis stil bly nie? Hoe sou ons reageer het indien ‘n Britse/ Engelse groepering relatief kort na die Engelse oorlog met nuanse die afgryslikhede van die konsentrasiekampe probeer verduidelik het? Dalk moet ons slimmer boks.

Doodgewone Vrydenker Erdvark ·

Bert, Jy is heeltemal reg. Ons moet nie ons tyd en energie vermors om eindloos op die verdediging te wees nie. Ons moet ons beperkte tyd en bronne gebruik om te konsolideer en te fokus op suksesdrywers. En ons moet die andersdenkendes oorlaat om mekaar se derms uit te ryg. Die British Upperclass wat na my beskeie wete die grootste slawebedryf in die geskiedenis van die mensdom bedryf het, het ‘n doodse swyge daaroor gehou, sodanig dat die hedendaagse anti-imperialiste, anti-apartheid en anti-kolonialiste die taal van die British Upperclass omhels en pakke klere met rooi dasse wil dra. Hoe ironies tog!

alwyn burger ·

Paul , die waarheid sal uitkom. Dit gaan net tyd vat. Vir honderde jare het die mens geglo die wêrel is plat. Die dag en die uur sal wel aanbreek dat Apartheid en Kolonialisme gehistoriseer sal word. Dan sal daar met nugter denke hieroor besin word. Dan sal uitgediende rasionale wegval en nuwe insigte na vore kom. Dit gaan egter tyd neem…..sal nie in jou of my tyd gebeur, maar dit gaan gebeur. Dit is onafwendbaar.

Ampie ·

Is dit net ek, of irriteer die woord “narratief” ander mense ook?

Ou Feite Vlakvark ·

Kallie, dankie vir jou insette. Bly op die morele pad van eerlikheid, reg en geregtigheid en naasteliefde. Dra die ligfakkel van ware feite in hierdie sondige wêreld.
“In God we trust, all the others bring the data.”

Wessel ·

Hierdie is weerens reaktiewe aksies. Ons het die ou ANC slagspreuk soos: Apartheids tydperk, aanvaar, ons praat self daarvan. Kan ons nie ons eie seining gee nie bv. die Pre
Kommunistiese tydperk (voor 1994), of Ontwikkelings tydperk. Dit was tog waarvoor die Grensoorlig daar was. Niemand het baklei vir Apartheid nie, die oorlog was teen Kommunisme.
Die Rassekaart was (Pre Kommunistiese tydperk) en nou aanhoudend gespeel en ons val elke keer daarvoor.

Nog n vragie ·

Nog ‘n vraag aan mense wat Apartheidsera beleef het, is dit waar dat die oumense gewaarsku het dat as die massas die land gaan oorvat gaan infrastruktuur verval, ons gaan uitgemoor en verkrag word, ons misdaadsvlakke gaan na die van die gevaarlikste lande in die wereld toe gaan, ons taal en kultuur gaan verdruk word, Afrikaans gaan uit skole en universiteite gedruk word? Dit het toe als gebeur na apartheid, so was die ou mense reg?

Jerry ·

Die genuanseerde standpunte en perspektiewe wat die forum tot dusver ingeneem het, was meestal uit reaksie op standpunte of beskuldigings van die ANC en EFF. Dit kom alles neer op strikke wat gestel word en as die skoen jou pas, trek hom aan. Dit is n gegewe dat Afrikaner belange en voortbestaan net bedreig kan word deur betrokke te raak in bekgevegte met die wat ons belange bedreig. Ons moet meer n indirekte benadering volg en agter die skerms hard werk om hulle ondergang te bewerkstellig wanneer hulle n belang teiken. Ek stem saam met Bert dat die forum baie slimmer moet boks. Ons moet gebeurlikheidsplanne in plek kry om die ANC en EFF teen mekaar af te speel. Ons moet die fokus weggeskuif kry van die Afrikaner en sy belange en bevoorregting en ons gaan dit nie regkry deur die onverdedigbare te verdedig. Om die onverdedigbare te verdedig in vandag se tyd is so goed soos om Afrikaans as onderrigmedium vir Universiteite in die hof te probeer verdedig of om die jeug toe te rus met pepersproei en hulle na n baksteengeveg te stuur. Die uiteinde bring dieselfde fatale resultaat vir die Afrikaner en sy jeug!

bgj van der westhuizen ·

die ou mense het geweet waar van hulle praat en kyk nou alls het die waarhied geword

Toe nie verkrompte ·

So die wat afgemaak was as verkromptes was toe reg, en die linkses wat die leuns versprei het het na ander lande geemmigreer en ons in die moeilikheid gelos.

Karel ·

Kan mense asseblief ophou om na regeerders as “elite” te verwys? Ek beskou GEEN regeerder (hier en elders) as “elite” nie. Ongelukkig kan ek nie die woorde waarmee ek hulle beskryf hier gebruik nie, anders word my kommentaar nie geplaas nie.

Koos ·

Net soos wat die ou mense reg was, is hierdie ook 100% reg:

“The Lord will cause your enemies who rise against you to be defeated before your face; they shall come out against you one way and flee before you seven ways.”
Deuteronomy 28:7.

Richard ·

En wat as beide kante in die stryd gelowig is? Wat gebeur dan?

John ·

Ja, maar dan moet ons doen wat Hy vra. Niemand word voorgetrek nie, maar Sy navolgers kan op Sy hulp reken. Narratief is ‘n woord wat uitsluitlik deur professore gebruik word en net varke is slim genoeg om truffels uit te snuffel. Ontspan. Baie verduidelikings tov van apartheid en rassisme help niks. Dis soos om ‘n ontroue minnaar se voete te soen en groot geskenke vir hom/haar te loop gee. Jy mors jou asem, verneder jouself en mors jou geld. Koop liefs ‘n kwaai hond, proviant en hou die hekke toe.

Henry ·

Dankie Mnr Kriel.

Hoe groter sukses met Afriforum se buitelandse aksies behaal word, hoe groter, meer desperaat/absurd sal die temerasies van die regime en die bekende Afrikaanstalige ‘saampraters’ van die huidige regime word.

Laat dit as inspirasie dien om met nog groter toewyding voort te gaan om die menseregte vergrype van hierdie droewe land se regime, nog wyer bekend te stel!!!

DHK ·

Ons kan maar debat voer tot ons blou in die gesig is, ons kan eweneens menslike oplossings soek waarvoor daar nie menslike oplossings is nie. Dit gaan geen vrug oplewer nie. Die realiteit is dat ons almal in die eindtyd is. Enige wedergebore Christen weet dat niks hierdie verval en opbloei van boosheid gaan keer nie. Die profesië in die Bybel is besig om vervulling te gaan en niemand sal dit stuit nie. Afrikaners, soos elke ander Christenvolk, draai toenemend hul rug op hul Skepper. Roep eerder ons mense op tot bekering tot die lewende God want Sy wederkoms is baie naby. Dis die enigste oplossing.

Veritas ·

Kallie, ek hoop van harte dat hierdie kommentaar van my, nie weer gesensor sal word nie. Eusebius McKaiser praat gereeld van ‘debatvoering’ maar hy is net bereid om deel te neem indien dit gaan oor iets waar hy die feite kan verdraai en hy sy gehoor kan opsweep teen sy opponent. Hou in gedagte dat sy luisteraars hom ondersteun in sy anti-wit tirades en dat hy die beheer oor die mikrofoon het. Dit is alles behalwe ‘n gelyke speelveld. Hy praat sy opponent dood en hamer op een punt soos wat hy met jou gemaak het tydens julle onderhoud. As ek jou kan raadgee, moet nie statuur aan sy program verleen deur jou deelname nie. Moet jou ook nie verder aan sy uitsprake steur nie. Hy is ‘n rassis van die eerste water en geniet dit om rassehaat aan te wakker. Wat hy egter nie besef nie is dat hy slegs ‘n pion van die swart rassiste is en geen steun het onder die gematigdes nie. Hou aan met julle goeie werk maar pasop vir die valstrikke wat doelbewus daar gestel word om die Afrikaner te diskredieteer. Sterkte.

Aanklagte ·

Hy sal nog eendag van skending van menseregte en aanhitsing van volksmoord op massaskaal aangekla word.

Johannes ·

Stem 100% saam.
Ek het al lankal tot die gevolgtrekking gekom dat McKaiser en kollegas hul siening op ander af dwing en die persoon dan te probeer verkleineer als in die naam van vrye debat…. Veel meer as John Robbie.
Ek klassifiseer/ervaar dit eerder as vermaak om soms na die selfaangestelde “meningsvormers” te luister.

Frans C ·

Apartheid of eerder afsonderlike ontwikkelling was gedoem van die begin af.Die liberale stadsrade het eenvoudig geweier om beter huisvesting aan plaaslike inwoners te verskaf,alhoewel die Staat baie fondse beskikbaar gestel het.Baie krotbuurte het so ontstaan wat vandag nog nie opgelos is nie.

Slegs hier en daar is daadwerklike pogings soos bv Daveyton in Benoni daargestel op die lewe van mense te verbeter.Daveyton,glo dit of nie, ek het ook daar gewerk,het op ‘n stadium oor beter geriewe as sy blanke eweknie beskik.

Dit was volkome selfonderhoudend.Het selfs oor ‘n kleuterskool beskik waar werkende ouers hul kinders kon los.Die kos was uitstekend en het ek dikwels ‘n bord kos daar ‘gebedel’ en in die middel van die dag by die plaaslike bierbrouery my dors geles.Daar was geen sweempie van vyandigheid nie.

Maar dit was van korte deur want die ANC het besef dat hul nooit aanbewind sal kom nie as tuislande en sulke projekte slaag nie. ‘n Opstande is openlik aangemoedig en is
daar van disinformasie gebruik gemaak in die buiteland ,om sanksies te bewerkstellig.

Baie buitelandse joernaliste wat toergroepe vergesel het,het dikwels weggesluip van toergroepe om die slegste tonele af te neem.So is een foto wêreldwyd versprei waar ‘n jong kind agter ‘n versperring by ‘n stormwatersloot speel.

Dit is toe verkondig dat swart mense in sulke omstandighede leef.

dejager ·

Apartheid was edel.Dit het aan volke die geleentheid gegee om in hul eie onafhanklike state te woon met ń homogene populasie.Die Venda mense gaan nou nooit weer daardie vlak van onafhanklikheid beleef nie.Is enige volk in Suid Afrika vry?Almal is nou ingedwing onder die dwingelandy van die ANC regime.Die ANC praat kamstig demokrasie maar sy hart is steeds kommunisties.Hul dade praat harder as hul woorde.
Die staat wil nou grond vat.Die staat wil nou ń geskiedenis breinspoel aksie verpligtend maak.Die staat baklei om minderhede se opvoedingsmagte te beperk.
Die ANC het ń kommunistiese hart.Ja die ou mense was reg en hulle word elke dag meer reg bewys

TDW ·

Na Obama se eerste termyn was hy nie meer so populêr soos aan die begin nie, maar sy “lobbyists” het vinnig plan gemaak met die mense wat nie van sy vordering gehou het nie. Hulle het die woord gebruik wat debatvoering summier stopsit. Rassis. Elke iedere persoon wat luidkeels gepraat het oor sy swak termyn is as rassis uitgejou. Dit het debat gestop en ook meeste mense te bang gemaak om hul menings te lug, uit vrees vir die skade wat die woord rassis aan hul persoonlike lewens kan aanrig. Dit het gewerk soos ‘n bom. Daar is wel lig aan die einde van die tonnel, ek glo mense raak slimmer en sien die vuil speletjies wat hier gespeel word. Ek glo oor 70 jaar sal hierdie tydperk waarin ons nou leef bekend staan as die rassis-veldtog. Dit sal as lagwekkend gesien word en die toekomstige jeug sal wonder hoe mense dit so maklik kon glo en hoe dit onskuldiges so vinnig kon laat swyg. Daar sal studies gedoen word hoe mense gemanipuleer word met iets wat nie die waarheid is nie, maar net die moontlikheid daarvan persoonlike lewens beskadig. Hulle sal uitkom op die antwoord dat die persoon wat eerste rassis gesê het gewoonlik die tipiese rassis was, maar die woord rassis sal nie meer die breë betekenis hê wat dit nou het nie, maar ‘n duidelike uiteensetting van ‘n vaste betekenis. Dit sal ook gestraf word as jy iemand valslik daarvan beskuldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.