Genuanseerde oordeel bring ʼn mens veel verder

Nigel Biggar. Foto: YouTube-skermskoot

Tot die afgelope naweek het die naam Nigel Biggar vir my niks gesê nie. Totdat ek ’n artikel van die Konserwatiewe Europese parlementslid Daniel Hannan in The Sunday Telegraph oor hom gelees het.

Dit het bekend en aktueel geklink, want jy kan sy situasie byna net so op dié in Suid-Afrika oorplant.

Biggar is ’n hoogleraar in morele en pastorale teologie in Oxford. Hy het onlangs ’n meningsartikel in die Londense Times oor die erfenis van die Britse Ryk geskryf wat alle politiek korrekte akademici in Brittanje witwarm van woede gehad het.

Biggar se boodskap was dat die Britse samelewing die erfenis van die Britse Ryk met meer ewewigtigheid moet beskou, pleks daarvan om dit bloot met skaamte te onthou. Hy het erken dat wreedhede onder Britse heerskappy plaasgevind het, maar ook gesê dat dit orde en reg verskaf het tot voordeel van die betrokke gebiede en die inwoners, iets wat “morele legitimiteit” aan die Britse oorheersing gegee het.

Hy het byvoorbeeld die Britte se massamoord van 1919 op Indiese nasionaliste in die stad Amritsar gekontrasteer met die feit dat die Britse vloot gehelp het om die internasionale slawehandel uit te roei. Die geskiedenis van die Britse Ryk is “moreel gemeng”; dus kan “skaamte deur trots getemper word”.

Vir ’n groep kollegas en ’n studente-organisasie was dit een te veel.

Die studente-organisasie, Common Ground Oxford, het sy siening as “holruggeryde en uit die duim gesuigde onsin” bestempel. Hy sou volgens die organisasie “bevooroordeeld” (“bigoted”) en “rassisties” wees.

Meer as 50 kollegas het ’n skerp aanval op hom só afgesluit: “Ons het nooit geglo dat dit voldoende is om imperialisme eenvoudig as ‘sleg’ te verdoem nie. Ons glo ook nie dat dit gerehabiliteer kan of moet word omdat ’n deel daarvan ‘goed’ was nie.”

In sy ontleding van die polemiek in The Sunday Telegraph het Hannan geskryf: “Waar hulle eens ’n nuttige korrektief gebring het op die onkritiese patriotisme wat die ryk in vorige geslagte geïnspireer het, het hulle nou net so bevooroordeeld geword as die jingo’s wat hulle veroordeel. Net soos apologete net die positiewe gesien het – die regstaat, die verspreiding van moderne geneesmiddels, die ondergang van Hitler – sien vandag se linkses net die wandade.”

Iets soortgelyks het sowat 20 jaar gelede gebeur toe die Franse historikus Stéphane Courtois in ’n opspraakwekkende boek die misdade van die kommunisme moreel gelyk gestel het met dié van die Nazi’s: “Die hongerdood van ’n Oekraïense Koelakkekind wat willens en wetens uitgehonger is deur die Stalinistiese regime, ‘weeg op’ teen die hongerdood van ’n Joodse kind in die ghetto van Warschau wat uitgehonger is deur die Nazi-regime.”

Laat ek duidelik wees: Persoonlik kan ek emosioneel min waardering vir die Britse Ryk toon. Die Britse imperialisme was verantwoordelik vir wandade teenoor my eie volk, die Afrikaners, asook teenoor swart mense en die Khoisan.

Maar as akademikus, as historikus, moet ek daardie emosionele gevoelens sover moontlik op die agtergrond probeer skuif. Anders word my analise deel van ’n politieke twisgesprek en daardeur bevlek.

Die vermaarde Franse historikus Marc Bloch, wat in 1944 deur die Nazi’s vermoor is, skryf dat die historikus – en dit geld eintlik alle akademici – moet wegbly van morele veroordelings. “Wanneer die passie van die verlede versmelt met die vooroordele van die hede, word die menslike werklikheid gereduseer tot ’n swart-wit foto…. Uiteindelik is ’n enkele woord, ‘begrip’, die baken vir ons studie.”

En die Afrikaanse historikus GD Scholtz het geskryf: “’n Historikus wat die prooi van sy eie subjektiewe gevoelens is wanneer hy die pen opneem, is geen ware historikus in die ware sin van die woord nie…. Juis een van die vernaamste toetse vir die grootheid van ’n historikus, is die wyse waarop hy bereid is om ’n waarheid wat miskien vir sy eie gevoelens en opvattings onaangenaam mag wees, na vore te bring en dit in die regte perspektief te stel.”

In die vroeë jare van dié eeu, toe die openbare polemiek oor die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) se eensydige benadering op sy hoogtepunt was, het ek die Duitse historikus Martin Broszat se pleidooi dat die Nazi-era “gehistoriseer” moet word, op apartheid toegepas. Broszat se standpunt was dat die Nazi-wreedhede nie ontken of gerelativeer moet word nie, maar dat die tyd ná etlike dekades aangebreek het dat dit aan die normale akademiese vereistes van afstandelikheid en ʼn strewe na objektiwiteit onderwerp moet word.

Broszat is indertyd skerp deur sekere kollegas aangeval. En ek self is in die openbaar deur senior politiek korrekte kollegas verneder, mense wat indertyd maar alte gretig was om in die nuwe bewindhebbers se goeie boekies te kom (nie dat dit hulle gehelp het nie).

Ek kan my voorstel dat ʼn teoloog, wie se werk dit immers is om morele oordele te vel en verskynsels aan Bybelse voorskrifte te meet, onderwerpe soos die Britse Ryk, apartheid en Nazisme uit ʼn morele oogpunt benader. Maar ʼn historikus kan dit nie doen nie – nie betreffende die Britse Ryk, die nasionaal-sosialisme, die kommunisme of apartheid nie.

Dan bekyk jy die verlede deur die bril van die hede, en dit lei jou tot skeefgetrekte gevolgtrekkings.

’n Voorbeeld is die wyse waarop Afrikaner-denkers soos Bram Fischer en Beyers Naudé, maar ook Piet Cillié en Schalk Pienaar beoordeel word. As jou oordeel slegs deur ’n morele veroordeling van apartheid beïnvloed word, gaan jy Fischer en Naudé ophemel en Cillié en Pienaar verguis.

Maar as jy die verlede as outonoom benader en dit nie deur die steeds veranderende bril van die hede bekyk nie, sal jy sake anders sien.

Fischer wou apartheid vervang met ’n Leninistiese eenparty-diktatuur; Naudé het geen probleem gehad om met sulke kommuniste saam te werk nie. Maar albei het wel daarvoor gesorg dat die swart verset teen apartheid nie destyds volledig tot swart rassisme verword nie.

Cillié en Pienaar was in sekere sin slegs “halwe” dissidente, want hulle het albei binne die Afrikaner-nasionalistiese kraal gewerk. Maar omdat hulle binne hoorafstand van hul eie mense gebly het, was hul invloed om die Afrikaners van rassisme los te week, vele male groter.

Dié genuanseerde oordeel, reken ek, is baie waardevoller as sommige kollegas se skietery van die heup af.

Probéér dus volledig en objektief te wees, en bly weg van maklike en goedkoop morele oordele. Hannan het ’n punt.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Christiaan Potgieter ·

Dis ‘n netjiese stuk Leopoldt. Objektiwiteit is egter meestal ‘n moeilik bereikbare ideaal. Selfs hulle wat dink hulle is objektief is gewoonlik nie. Miskien help dt egter as ‘n mens jou vertrekpunte en eie liddorings kan verklaar teenoor die hoorder in ‘n poging om konteks te verleen. Ons leef egter in ‘n wêreld van aktivisme en dit vind nie eers meer plaas in uitgelese akademiese debatte nie.

Eish ·

Vanaf 2017 wag ek vir n artikel uit die pen!
Daar leer ek in my grysheid toe ook weer n groot waarheid.
Dankie Mnr. Scholtz, soos altyd, insiggewend, vars en stof tot nadenke.

Rupert Ashford ·

Dankie Leopold. Baie goeie stuk. Al kritiek wat ek kan lewer is dat ek sien jy “hou dit in die familie” en haal ‘n Scholtz aan…;-)

Vaalseun ·

Leopold, die arme historikus word verplig om met die insig en objektiwiteit geseënd te wees waarmee die rolspelers waaroor hy/sy skryf nie bedeeld was nie. Pous Gregorius XIII, byvoorbeeld, vier die slagting van die Franse Hugenote met ‘n medalje waarop staan, “Ugonottorum strages 1572.” “Slagting van die Hugenote 1572.” By die Hugenote monument op Franschoek staan die Protestantse slagspreuk, “Post Tenebras Lux.” “Na die duisternis die lig.” Dit is vir my ook van toepassing op die waardevolle rol van die historikus, naamlik, om vir ons helderheid oor die duisternis van die verlede te bring.

Marthinus Willemse ·

My ma was `n nooi Senekal; fyn, opgevoede, intellektuele Hugenote. As Afrikaner met Hugenote (en Hollandse en Skotse) bloed, onthou ek pous Gregorianus XIII eerder omdat hy die Gregoriaanse kalender ingestel het op 24 Februarie 1582.

Dis net soos Adolf Hitler, wat aan sy wetenskaplikes carte blanche en `n blanko-tjek gegee het. Daarmee het hulle vuurpyle gebou en tegnologieë ontwikkel wat Amerika in staat gestel het om die eerste mens op die maan te plaas op 20 Julie 1969. As jy `n eerlike geskiedenis van ruimtevaart wil skryf, sal jy Hitler se bydrae moet noem.

Rusland se president, Wladimir Poetin, word in die Westerse media fyngemaal omdat hy die Russe aanmoedig om vrede met hul geskiedenis, en figure soos Iwan die Verskriklike, Josef Stalin en kommunisme te maak. Hy en Michail Gorbatjof moedig die mense aan om die “wit bladsye” van hul geskiedenis in te vul met die lyding, maar ook positiewe dinge, wat onder die kommuniste en die tsaars gebeur het. Op 31 Oktober 2016 is die Goelagmuseum in Moskou geopen, en Amerika se grootste Ruslandkenner, Stephen F Cohen, was daar. Cohen word swartgesmeer in Amerika oor sy historiese siening van Rusland. Cohen sê dit (die Goelagmuseum) wys dat die Russe begin om die gevolge van kommunisme te verwerk, terwyl sy eie mense, 150 jaar na die afskaffing van slawerny, nog nie `n museum daarvoor kon open nie.

Therese van Schalkwyk ·

Interessante kommentaar, Marthinus!
Soos jou bydra oor Afrikaans by die artikel deur Connie Mulder ook. Waardering.

Janee, die Amerikaners’ verwerk’ hul land se geskiedenis deur pragtige standbeelde af te breek.

rassie ·

Leopold,

Ek stem saam dat die strewe na objektiewe geskiedskrywing die ideaal moet wees en dat genuanseerde geskiedskrywing ‘n middel daartoe kan wees. Stem ook saam dat emosie, sover as wat dit wel menslik moontlik is, nie ‘n rol moet of behoort te speel nie.

Selfs wanneer die histotikus wel voortreflik daarin sou slaag, hang die uiteindelike interpretasie van die feite van die leser of gebruiker van die feite af wat daaraan sy of haar eie interpretasie sal gee, met emosie en al toegevoeg. Veral as die tema en die feite sigself tot emosionele vertolking leen. Soos byvoorbeeld die konsentrasiekampe in die 1899-1902 oorlog.

Of soos met betrekking tot die vestiging van die vryburgers in 1657. Ek het onlangs die woordelikse weergawe van Van Riebeeck se Dagjoernaal, soos deur Bosman en Thom in boekvorm uitgegee is gelees.

Die woordewisselling tussen Van Riebeeck en Harry rakende die vestiging van die Vryburgers op die Khoi se weiveld en hul ongelukkigheid daarmee word duidelik uit die inskrywing van 20 Februarie 1657. Dit is die objektiewe feite. Afrikaanse geskiedskrywers en skoolhandboeke het dit grootliks vermy.

Dit sal na my mening baie moeilik wees vir die geskiedskrywer om in die huidige hoogs emosiebelaaide post-apatheidsera die gewone indiwiduele gebruiker of groep te oortuig dat een van bogenoemde partye nie onregverdig of dan te wel immoreel gehandel het nie, ongeag die gees van toentertyd, die groter konteks, of wat ookal.

Christiaan ·

Baie dankie Oom Leopold. Ek self is teoloog, historikus (M in kerkgeskiedenis ) en biblioloog (Ou testament). In al drie hierdie rigtings word ek gekonfronteer met moraliteit, objektiwiteit en natuurlik verantwoordbare hermeneuse. Om ‘n geldige morele oordeel te vel, objektiewe beskouing van die geskiedenis, en verantwoordelike verklaring van ‘n teks te gee moet een saak baie mooi in ag geneem word, KONTEKS. As die konteks van gebeure hetsy histories, of tekstueel nie aggeneem word nie, is die uiteinde altyd subjektiwisme.

Dit bring ons by soveel van vandag se beriggewing in media (ek het Oom se skryfsels en oproepe tot geduld al gelees in hierdie verband). Ek is bevrees dat in baie politieke kommentaar nie ‘n genoegsame verantwoording van konteks is nie. Die uiteinde is dikwels politiek korrekte subjektiwiteit. Konteks dien nie as ‘n verskoning vir moreel aanvegbare optrede nie, maar dit dien as ‘n dekor beskrywing waarteen daardie optrede plaasgevind het. Dan kan daar ‘n beter (soms genuanseerde) begrip van bepaalde optrede wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.