Gepraat van kernontwapening – ’n Suid-Afrikaanse storie

Pelindaba

Die Pelindaba kernnavorsingsentrum buite Pretoria. Foto: NJR ZA/Commons.wikimedia.org

Dit was in September 1992 dat ek in Wene, Oostenryk, aangekom het. Betyds vir die jaarlikse vergadering van die Internasionale Atoomenergie Agentskap (IAEA). Ek was pas aangestel as adjunk-permanente verteenwoordiger van Suid-Afrika by dié liggaam.

Net voor die vergadering begin het, het dr. Waldo Stumpf, toe uitvoerende hoof van Suid-Afrika se Atoomenergiekorporasie (AEK) by Pelindaba, my eenkant toe geroep. Hy sou ook die vergadering bywoon, maar wou eers iets met my deel, iets wat ek nie eens met my ambassadeur mog deel nie. Wat gevolg het, was so verbasend dat, as ek valstande gehad het, dit sou uitgeval het. Ek het die eerste keer uitgevind dat Suid-Afrika sy eie kernbomme vervaardig het.

Ek het die afgelope paar dae weer daaraan gedink na aanleiding van president Donald Trump van Amerika se kinderagtige speletjie met Noord-Korea: eers praat die twee oor kernontwapening, dan weer nie, dan weer. Laat ’n mens dink aan ’n speletjie wat ons as kinders gespeel het: met ’n gousblommetjie in die hand het ons die een blaartjie ná die ander afgetrek … sy het my lief, sy het my nie lief nie . . .

Nietemin, Stumpf het my nie alles vertel nie, maar gewaarsku dat ek dié uiters sensitiewe inligting die een of die ander tyd gaan nodig kry. Dit was ook nie lank nie of die IAEA het aangedui dat hulle na Suid-Afrika se kernwapenprogram wou gaan kyk. Suid-Afrika het gesê dis goed so, mits ek as gasheer saamgaan … juis omdat ek amper niks geweet het nie. So is ek en die IAEA se span inspekteurs Suid-Afrika toe.

Tydens die besoek het ek ekstra dom gespeel, maar stadigaan iets begin wys word toe ons in die Richtersveld die plek besoek het waar Suid-Afrika na bewering sy kernwapens getoets het. Een van die SA amptenare daar het grootoog na my toe gekom en gesê hy het vergeet om sekere drade agter ’n sandduin daar naby te verwyder. As die IAEA dit sien, sou hulle onraad vermoed. Hulle was nie toe al veronderstel om dit te sien nie. Ek het hulle op ’n syspoor gelei.

Terug in Wene het alles min of meer normaal verloop, en ek het groot vriende met die hoofinspekteur van die IAEA, die Griek Dimitrio Pericos, geraak. By hom het ek op ’n dag verneem dat die IAEA gaan eis dat hulle weer moet gaan inspekteer, en dat ’n Russiese satelliet dit opgetel het dat Suid-Afrika gereedmaak om ’n kernwapen te toets. Ek het die nuus dadelik aan Pretoria gekommunikeer en gevra dat president FW de Klerk voor enige besoek moet vertel wat die stand van sake is. Só kry ek ook een dag die nuus dat die president dit binne ’n dag of twee in die parlement gaan aankondig dat ons kernwapens gehad het, maar dat dit afgetakel is.

Dadelik was daar weer vinnige voetwerk nodig, want ons het die IAEA deurgaans verseker dat ons geen kernwapens het nie. Ek het ’n dag of wat speling gevra om Pericos en sy baas, dr. Hans Blix, in te lig dat daar so ’n aankondiging kom. So gesê, so gedaan, en toe die aankondiging in die parlement kom, is twee van die IAEA se inspekteurs wat in Pretoria was, dadelik toegelaat om Pelindaba te besoek. Hans Blix het dadelik ’n span van tien inspekteurs saamgestel om Suid-Afrika te besoek, en omdat hulle my vertrou het, gevra dat ek weer die gasheer moes wees.

In Suid-Afrika aangekom, is die hele afvaardiging dadelik Pelindaba toe waar die leier van die Suid-Afrikaanse span wat die kernwapen ontwikkel het, die hele storie moes kom vertel. Hy het kort voor die onderhoud my benoud eenkant toe geroep en gevra dat ek hom moes verseker dat nie hy of sy gesin in gevaar sou wees nie. Hoewel ek geen mandaat gehad het nie, het ek hom verseker dat hy niks hoef te vrees nie.

Wat gevolg het, het weer my mond laat oophang. Hy, soos ander Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het in Los Alamos, waar Amerika sy kernbomme vervaardig het, gaan studeer. Uit oop gepubliseerde materiaal – die Amerikaners wil mos oor alles spog – het hy en sy span twee en twee bymekaar gesit en vier gekry. Ek kan nog baie vertel hoe die groepie inspekteurs met hul Geiger-tellers op en af in Pelindaba gesoek het. Daar was ook ’n Vlaamse inspekteur – en die IAEA het seker gedink dat hy Afrikaans sou verstaan – en ons Suid-Afrikaners het besondere genot daaruit geput om hom met vals nuus te voer. Nie lank daarna nie, het die leier van ons span gevra of ek nie vir hom ’n werk by die IAEA kon kry nie. Pericos het hom amper omhels toe hy die nuus hoor, en die Suid-Afrikaner was daarna lank ’n IAEA-inspekteur in Japan.

Volgende was die gebou waar die meganiese gedeeltes van die kernbomme aanmekaar gesit is. Pericos is genooi om na die stoorkamer te gaan waar die stukke, nou opgesny, gelê het. Hy wou niemand behalwe vir my daar toelaat nie. Hy het nie een van sy inspekteurs vertrou nie, het hy gesê. Hier het ek sekerlik die enigste Suid-Afrikaanse diplomaat geword wat van die stukke in my hande gehou het.

Die saal waar tientalle masjiene gestaan het waarmee die meganiese dele gesny is, was volgende aan die beurt. Pericos wou eers nie glo dat die masjiene die ding kon doen nie, tot een of twee knap Suid-Afrikaners hom gewys het hoe dit gedoen word. Ek sal nooit sy oë vergeet toe ons daar uitstap nie: “Liewe Vader”, het hy gesê, “ek het honderde van hierdie masjiene in Irak gesien.” Dis dalk waarom Trump nou steeds bekommerd is.

Daarna het die Kalahari aan die beurt gekom. Daar was twee skagte: een in ’n skuur en een in die veld wat met ’n hoop grond bedek was. Terloops, die skagte is geboor met die boor wat Suid-Afrika tydens die Coalbrook-ramp ingevoer het om honderde mynwerkers te red wat as gevolg van ’n rotsstorting onder in die myn vasgeval was.

Ek is genooi om saam met een van die inspekteurs ’n graaf te gryp en die grond op een van die gate te begin verwyder. Hy was ’n Amerikaner en het gou vir my gesê: “Look up, you are on candid camera!” Bo ons het ’n Amerikaanse satelliet gesirkel wat die hele petalje vasgelê het. Later het ek my foto by die Amerikaanse Central Intelligence Agency se man in Wene gesien.

Nietemin, om ’n lang storie te beëindig, die IAEA was tevrede dat Suid-Afrika sy kernwapens vernietig het en die hele program gestaak het. Terug in Wene het ek aan die Suid-Afrikaanse regering voorgestel dat van die dele van die kernwapen gesmelt en in die vorm van ’n ploegskaar (vir vrede) aan die IAEA geskenk word. Vandag staan die ploegskaar buite die raadskamer van die IAEA. Dit is egter nie van ’n opgesmelte kernwapen gemaak soos die onderskrif sê nie, want dit was te hard. Dit is van gewone skrootmetaal en die IAEA weet dit.

Daarna het die soms kaalvuisgeveg gevolg om Suid Afrika weer op die Raad van Goewerneurs te kry en hoe die ANC en die ou regering saam teen Egipte geveg het. Maar dis ’n ander storie vir ’n ander dag.

Vinnig ’n woordjie oor Trump en Noord-Korea: eersgenoemde gaan gou leer dat sy manier van boelie nie in die internasionale arena werk nie. Met sake in Amerika kan dit dalk werk, maar Noord-Korea met die steun van Rusland en China gaan sy bluf roep. Trump wil hê Noord-Korea moet sy kernwapenprogram staak. Kim Jong-oen sê hy wil hê die hele gebied moet kernwapenvry word … en dit sluit Amerika se kernwapens in Suid-Korea en duikbote in die gebied in.

’n Opwindende tydjie lê voor!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Tienie Fourie

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

bloues ·

Baie lekker gelees en geleer.
Skryf nog asseblief Tienie.
Ons wag in spanning

Gerhard ·

Miskien moet Trump net ophou omgee of Asië se Micky Mouse A-Bomme het of nie. Dit maak net so min saak as wat dit saak maak of Rusland sulke goed het. Sanksies sal die plek uiteindelik tot ‘n val bring net soos wat Kommunistiese Rusland tot ‘n val gekom het. Daar is eintlik geen rede om met hom te onderhandel nie.

Kannaland ·

Dit was nie sanksies wat rusland of ou SA tot n val gebring het nie. Dit was sosiale ingenieurswese.

Gerhard ·

Kannaland.
Kommunistiese Rusland het tot ‘n val gekom omdat kommunisme nie KAN werk nie. Sanksies het dit net aangehelp. Noord-Korea sit met ‘n soortgelyke probleem. Kommunisme maak dit al klaar ‘n hool van ‘n plek en sanksies sal dit breek. Die ou Suid-Afrika is eerder die nalantenskap van onbekwame Broeders wat vir hulself gesorg het ten koste van die Volk. Sanksies het dit ook aangehelp.

Rupert Ashford ·

Presies. Kim se burgers krepeer en die land se landbou stort in duie. Daar is nie kos nie en sanksies vererger dit. China wil nie he 25miljoen uitgehongerde zombie mense moet oor die grens loop op soek na kos nie (Suid Korea nog minder). So Kim wil deels self praat en is onder druk van China om te praat. Natuurlik sal daar eise wees van Kim se kant af ook en Trump is nie so dom dat hy dit nie weet en voorbereid is nie. Iets goeds kom dalk net hieruit.

t ·

@Rupert Ashford – Ek stem saam dat hier dalk iets goeds kan uitkom. Al die vorige Amerikaanse presidente kon nie hond haaraf maak nie. Trump is eerstens ‘n besigheidsman en tweedens ‘n president. Ek dink hy gaan Kim ‘n aanbod maak wat hy nie kan weier nie. Sonder dreiging en afdwinging.

Marthinus Willemse ·

Trump het Kim probeer boelie, gesien dit werk nie, en die beraad afgeskaf. Einde Mei het Poetin vir Sergei Lawrof, sy minister van buitelandse sake, soontoe gestuur. Trump het gestik aan sy tee, besef hy het weer die bal laat val, en noodgedwonge die beraad heringestel.

Die Sowjetunie het ineengestort nadat Amerikaanse “kenners” en die IMF die Russiese leier, Boris Jetsin, wat hulle Jacob Zuma was, oortuig het om die kommunistiese ekonomie hardhandig te verander na `n kapitalistiese stelsel. Op daardie stadium was daar nie sanksies teen Rusland nie.

Tienie, ek hou van jou skryfwerk, jy moet `n boek skryf, asb.

Gerhard ·

Jy spandeer teveel tyd op webblaaie waar ou kommuniste uit Oos blok lande sit en nonsens praat. Die plek was al klaar in sy kanon toe hulle verandering begin het. Sentrale beplanning werk nie en het die einde van die ou Soviet-Unie tot gevolg gehad. Die pyn daarna is nie ter sake nie.

John ·

Nee, 007 het nog nooit teen ‘n Rus te staan gekom nie. En Trump het nadat sy vise-pres as ‘n idioot bestempel is, sy lood gewys, deur kop uit te trek. Dis maar dit. Die pers oorskat sy mag. Die borrel bars gereeld. Om te weet… is ‘n koerantman se groot droom, maar saans jaag sy eie nagmerries hom ook maar goed rond.

Louis ·

Baie interessant- behalwe vir die feit dat die laaste keer dat Russiese spioenasiesatelliete waargeneem het dat Suid-Afrika vir ‘n kernwapentoets voorberei het Augustus 1977 was- beslis nie tydens FW De Klerk se bewind nie- miskien is dit maar net ‘n ligte verwarrinkie- verder is dit ‘n goeie terugblik op die verlede.

alwyn burger ·

Die groter werêld het al in 1979 vermoed dat SA oor kernwapens beskik. Gaan lees op oor die Vela-voorval.

Gerhard ·

Die Amerikaners het dit lankal geweet maar oorgesien om te keer dat Kommunisme oorvat. Toe Kommunisme tot ‘n val kom het die Broeders niks meer gehad wat die Weste wou hê nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.