Geseënd is die vredemakers

johannes-calvyn

Johannes Calvyn. Foto: Af.wikipedia.org

Op 31 Oktober 1517, vanjaar 499 jaar gelede, het Maarten Luther sy 95 stellinge teen die kerkdeure van Witteberg vasgespyker. Dié daad van protes was die begin van die Hervorming waaruit vele Protestantse kerke gegroei het. In 2017 word “Luther 500” regoor Europa, in die VSA asook in Suid-Afrika gevier.

Saam met Luther was Johannes Calvyn een van die invloedrykste mense wat ooit geleef het. Calvyn wat op 10 Julie 1509 in Frankryk gebore is, se denke oor bekering, die verhouding met Jesus, die kerk, christene se betrokkenheid by die wêreld, die erediens, die staat en die ekonomie is vandag nog net so aktueel soos toe hy geleef en gewerk het. Duisende boeke het oor sy lewe verskyn. Elke faset van sy lewe is in noukeurigheid beskryf. Hy is ook vandag ook nog net so omstrede soos in sy eie tyd. Sommige het hom lief, beskou hom as ’n profeet, sien sy werke as geïnspireerd, terwyl ander hom haat en hom as ’n dwaalleraar en ketter etiketteer.

Die ironie is dat Calvyn niks hiervan gesoek het nie. Hy was ’n alleenmens. Op sy gelukkigste op die kantlyn waar hy kon dink, skryf en verder studeer. Met goeie reg, want hy was ’n briljante student. Hy was vlot in Frans, Duits, Latyn, Grieks en Hebreeus. Bo en behalwe teologie het hy ook doktorsgrade in die regte en filosofie gehad.

Hoewel Calvyn se pa ’n Rooms-Katolieke kerkamptenaar was, was Calvyn reeds vroeg in sy lewe ontnugter oor die magsmisbruik, geweld en valse leer van die Rooms-Katolieke kerk. Toe die vervolging van die Protestante deur koning Frans I op sy ergste was, moes hy ook vir sy lewe uit Frankryk vlug.

Calvyn het onder ’n skuilnaam van dorpie tot dorpie gereis en geskryf waar hy kon. Selfs ten spyte van die onstuimige en lewensbedreigende tye was hy bereid om onbepaald al reisend te skryf en te studeer. Dit het hy vir twee jaar gedoen. God het ’n ander plan vir Calvyn se lewe gehad.

Toe Calvyn een rustige somernag saam met sy vriende in Genève in Switserland kuier, het die vurige dominee van die protestantse gemeente in Genève aan sy voordeur gehamer. Calvyn het later vertel dat William Farel met sy wortelrooi hare en blitsende oë met die “passie van ’n Ou Testamentiese profeet” hom probeer oortuig het om as ’n dominee van die protestantse gemeente in Genève aan te bly.

Daarvoor was Calvyn nie te vinde nie. Een vir een het hy sy teenargumente met ’n dodelike logika uiteengesit:

  • Sy vryheid is vir hom belangrik
  • Hy wil eerder ’n bydrae lewer deur sy skryfwerk
  • Hy wil verder studeer.

Calvyn het sy lewe klaar beplan en Farel se pleidooie het nie met sy fyn uitgewerkte toekomsplanne gestrook nie. Argumente is heen en weer geslinger tot op die beslissende oomblik toe Farel opgespring het en met sy vinger in die lug vir Calvyn gewaarsku het: “… jy hou jou studie as dekmantel voor. Daarom voorspel ek vir jou in die Naam van die almagtige God, dat as jy nie saam met ons werk nie, die Here jou sal vervloek as mens wat nie na Christus soek nie, maar na sy eie belang.” Calvyn vertel op daardie oomblik het hy ervaar hoe sy vrese, sy begeertes, sy fyn uitgewerkte planne in gehoorsaamheid voor God wegsmelt.

Daardie somernag in 1534  was nie net die draaipunt in Calvyn  se lewe nie, maar ook die draaipunt wat die kerk en ons wêreld diepgaande verander het. Daardie nag het Matteus 10:34 en 38 soos ’n swaard deur Calvyn se hart gesny: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Hy wat nie bereid is om sy kruis op te neem en My te volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.” Vir die eerste keer het Calvyn verstaan wat die teks vra. Nie in teorie nie, maar in praktyk. Daardie nag het God vir Calvyn die verskil tussen ’n vredemaker en ’n vredebewaarder gewys. Dit is ’n klein aksentverskil, maar met ’n groot lewensverskil.

’n Vredebewaarder skep ’n veilige wêreldjie wat ek verstaan en wat ek die krag het om te beheer. Op ’n veilige afstand sien ek wat verkeerd is, ek voel bekommerd en selfs jammer daaroor, solank dit net nie my probleem word nie. Ek wil net vrede ervaar en sal daarom agteroorbuig, toegee, ingee, my blind hou, stilbly, verkeerdhede onder die mat invee, solank die vrede bewaar kan word.

Vir 27 jaar was Calvyn ’n vredebewaarder. Later het hy verstaan dat die probleem van ’n vredebewaarder is dat ʼn mens vir ’n tydjie lank veilig en selfs gelukkig kan voel, maar dat die risiko daar is dat ʼn mens jou lewe op God se kantlyn kan leef. Dat ʼn mens God se doel met jou lewe kan mis. Dit is dan wanneer iets binne onvervuld bly en die diepte van geestelike groei mens bly ontwyk.

Hierteenoor staan ’n vredemaker. ’n Vredemaker neem die swaard van God se Woord in sy hande en laat die swaard deur sy eie hart en lewe sny. ’n Vredemaker se oë is oop vir dit wat stukkend, seer, verkeerd en onregverdig is in ons samelewing. ’n Vredemaker vee nooit die verkeerde onder die mat in nie, het nie ’n blinde oog nie, draai nie sy rug nie, bly nie stil ter wille van vrede nie, omdat ’n vredemaker weet vanuit die Woord roep God sy kerk, gelowiges om te bly protesteer totdat dit wat stukkend is, nuut en heel word  in ooreenstemming met God se Woord.

Om te protesteer is nie net deel van ons Protestantse geloofstradisie nie, maar ook deel van ons historiese erfenis. Dink maar net aan Adam Tas se protes teen die korrupsie van die VOC, die Hugenote, die duisende Afrikanervroue se optog ná die Rebellie vir die vrylating van generaal De Wet. Selfs aksies soos die Helpmekaarbeweging was ’n vorm van burgerlike protes.

Nie alle vorme van burgerlike protes is aanvaarbaar nie. Suid-Afrika word geteister deur radikale vorme van burgerlike protes wat gepaardgaan met vernietiging, afbreek, brandstigting en geweld. Verkeerde vorme van burgerlike protes lei tot nuwe rassisme en verharding van verhoudinge en radikalisering van die samelewing. Dié soort protes laat baie Afrikaners onttrek  in ’n wêreld waarin ons veilig voel. ’n Wêreld waar ons ten alle koste die vrede wil bewaar. Die waarheid is dat as ons vredebewaarders wil wees wat onbetrokke op die kantlyn leef, versaak ons ons roeping. Om te protesteer totdat dit wat in die samelewing verkeerd en onbillik is, reggestel is aan die hand van God se Woord, lê immers in die hartklop van die evangelie.

Elke Sondag vier ons die feit dat God juis nié ’n vredebewaarder is nie; Hy is die Vredemaker by uitstek. Jesus het mens geword in ’n onveilige wêreld, die onreg in die samelewing met God se waarheid uitgedaag en magsmisbruik ontmasker. Hy is vervolg, verraai, verdag gemaak en gekruisig sodat daar ’n blywende vrede tussen God en mens kan kom.

Ja, die swaard sny seer. Waar ’n vredemaker vanuit die Woord optree, praat, werk, regstel en getuig is daar onstuimigheid en word veilige grense geskuif. Daar is selfs vyandigheid, konflik, vervolging, belediging, etikettering, tweedrag, omstredenheid … en baie trane.

Calvyn het later vertel hoeveel trane hy oor daardie einste stad Genève gestort het. Hoeveel konflik, karaktermoord en angs hy beleef het, dat hy uit die stad en land moes vlug, net om later gesmeek te word om terug te kom. Hy moes teruggaan want dit is waar hy God se vredemaker moet wees. Toe hy die stad binnery, het hy gehuil, omdat hy, in sy eie woorde, “nog nooit so bang was vir ’n plek soos vir Genève nie. …”

Toe eers het Calvyn Jesus se belofte aan ’n vredemaker verstaan. In die bergrede, die grondwet van sy koninkryk, beloof Jesus: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Langner

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Danie Langner is die Besturende Direkteur by die FAK.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Pyrrho ·

Hierdie stuk, soos ander wat ek die laaste ruk in kerklike kringe gelees het, verwys net sydelings na Luther. Myns insiens een van die foute wat die Afrikaner oor die jare gemaak het, veral ten opsigte van Cavyn se uitverkiesingsleer waarvolgens sommige mense voor geboorte bestem is vir verlossing en ander tot ewige verdoemenis.

PIET ·

Die skrywer ignoreer die feit dat Jesus nooit protes teen die wreede Romeinse Ryk geopper of aangemoedig het nie. Jesus was n sagte pasiewe mens wat dit net teen die Farriseers gehad het

John ·

Vrede-maak het niks te doen met Nineve nie. Die stad moes van hul slegte wee afstand doen voordat die Vader die vernietiging daarvan afgewend het. Vrede volg net na mense op hul kniee gedwing word deur verwoede vernietging, aggresiewe beskuldiges en gewetenspeletjies of… opregte vergifnis en sielsverandering na die goeie deur beide partye. Spel met die Afrikanergewete lewer niks goeds op nie al loop regte trane oor geestelikes se vet lekkerlewe-wange. Dis ‘n middeleeuse konsep wat nog geen oorlog verhoed het nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.