Geskiedenis: Feite of geïnterpreteerde feite?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Wat is waarheid? Dié vraag is meer as 2000 jaar gelede, waarskynlik spottend, deur Pontius Pilatus aan Jesus van Nasaret gestel.

Tog het die vraag sedertdien aktueel gebly. In ons eie tyd, waar elke Jan Rap en sy maat fopnuus op die internet kan versprei, is dit des te meer so.

Christopher Clark is ’n naam wat waarskynlik deur min lesers van dié rubriek herken sal word. Hy is ’n Australiër van geboorte en tans professor in geskiedenis aan die Universiteit van Cambridge.

Clark het die wêreld van historici die laaste dekade of wat behoorlik op sy kop gekeer met die publikasie van drie skitterende boeke oor aspekte van die Duitse geskiedenis. Daarin het hy die taamlik algemene geskiedenisbeeld oor Duitsland wat ná 1945 ontstaan het behoorlik bevraagteken.

In die eerste boek, Iron Kingdom: The Rise and Downfall of Prussia, 1600-1647, het hy die tese verwerp dat die wortels van die Nazisme in die ou Pruise gesoek moet word. Pruise se ontwikkeling in die 18de en 19de eeu weerspieël dié in ander Europese state veel meer as wat vorige historici toegegee het, het hy aangevoer, en talle voorbeelde van liberale aspekte van dié land gegee.

Die tweede was ’n biografie van die onvolwasse, impulsiewe keiser Wilhelm II. Clark verwerp die idee dat Wilhelm op oorlog uit was en wys ook dat die keiser se mag baie meer beperk was as wat die meeste historici besef het.

Die derde boek, The Sleepwalkers: How Europe Went to War in 1914, was ’n ware kragtoer.

Die tese – wat ironies genoeg die meeste aanhang onder Duitse historici gehad het – dat Duitsland se strewe na wêreldhegemonie verantwoordelik was vir die uitbreek van die oorlog – word ferm verwerp. Pleks daarvan, sê hy, was hier sprake van ’n eskalerende situasie wat by wyse van spreke ’n eie lewe gaan lei het, amper soos ’n sneeubal. Die moondhede het mekaar verkeerd begryp en gereageer op grond van hul eie vooroordeel teenoor die ander, pleks van op die werklike bedoelings van die opponent.

Waarom Clark hier bespreek? Omdat sy werk, dié van sy voorgangers en die reaksies op sy boeke die waarheid illustreer wat die Nederlandse historikus Pieter Geyl kwytgeraak het, dat die geskiedenis ’n ewigdurende diskussie is.

Wat is waarheid? Wat is onbetwisbare feite en wat is afleidings of gevolgtrekkings?

Waar mense, soos by Maroela Media, met mekaar in debat tree, is baie mense geneig om afleidings en gevolgtrekkings met onbetwisbare feite te verwar. En as iemand dus met ’n alternatiewe vertolking van die feite kom, word só iemand alte dikwels outomaties as ’n leuenaar (of selfs verraaier) beskou.

Kom ek gee ’n voorbeeld nader aan die huis. Vandeesweek het prof. Fransjohan Pretorius ’n boek van die historikus Gail Nattrass, A Short History of South Africa, geresenseer.

Pretorius beskryf die boek as “’n liberale perspektief” op die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Op sigself is dit legitiem. Nie alleen kan (en moet!) ons almal altyd dieselfde na dinge kyk nie; níemand van ons benader feite soos ’n blanko blad nie. Álmal benader feite vanuit ’n bepaalde reeks oortuigings – ek doen dit, Nattrass doen dit, elke enkele leser van dié artikel doen dit.

Dit beteken dat geen enkele mens wat sedert die daeraad van die geskiedenis op die aarde gekom het, ooit tot totale objektiwiteit in staat was nie. ’n Behoorlik opgeleide historikus wéét dit, en span ’n reeks akademiese instrumente in om daarvoor te vergoed en minstens na objektiwiteit te strééf (welwetende dat jy nooit heeltemal daarby sal uitkom nie).

Pretorius identifiseer egter ’n horde feitefoute in Nattrass se boek, asook feite wat wel relevant sou wees, maar nie genoem word nie.

Hy noem ook haar selektiewe bronneseleksie, wat daartoe lei dat sy “nie baie begrip [toon] vir die Afrikaner se geskiedenis nie”. Dis duidelik dat Nattrass te veel deur die bril van die tipiese Engelse liberalisme (wat iets heel anders is as die Europese vastelandse liberalisme) na die verlede kyk, en só ’n skewe beeld ontwikkel.

Daarmee trap sy in dieselfde slaggat as ’n vorige geslag konserwatiewe Afrikaner-historici, naamlik om die geskiedenis deur die bril van die hede te bekyk.

Die dieptepunt hiervan is bereik deur P. van Biljon in sy Grensbakens tussen Blank en Swart in Suid-Afrika (1947). Daarin het hy die verlede deur die prisma van die ontwikkelende apartheidsideologie bekyk en dit tot die tyd van Jan van Riebeeck teruggeprojekteer.

Dis eweneens dieselfde slaggat waarin sommige hedendaagse swart historici, sommige eerder politici, trap. Die narratief wat die ANC reeds sedert hy tot verbode organisasie verklaar is probeer vestig, is by wyse van spreke dié van ’n stygende lyn wat voorbestem was om op die duisendjarige vrederyk van permanente ANC-oorheersing uit te loop.

In die proses word die ANC se uitverkoop aan die streng Leninistiese SAKP, sy terreurveldtog in Suid-Afrika en sy interne diktatuur (dink maar aan die strafkampe in Angola, Zambië en Tanzanië) tot blote voetnote gereduseer.

Dis teen dié agtergrond ook dat ʼn mens ʼn onderhoud wat Litnet onlangs met Lize van Robbroeck, hoogleraar in die visuele kunste op Stellenbosch, gevoer het, moet sien. Dis opvallend dat Van Robbroeck, ondanks haar Vlaamse naam en Afrikaanse agtergrond, die onderhoud in Engels gevoer het.

In die onderhoud doen sy ʼn skerp aanval op die Voortrekkermonument, wat sy “ʼn provokasie” noem, en spreek begrip uit vir swart mense wat daardeur beledig voel. Dis ʼn tipiese voorbeeld van hoe die verlede nie op sy eie voorwaardes bekyk word nie, maar deur die bril van ʼn hedendaagse politieke beskouing (wat in elk geval deur talle nie gedeel word nie).

In ’n boek oor die teorie van die geskiedskrywing het die vermaarde Franse historikus Marc Bloch (in Engels vertaal as The Historian’s Craft, 1953) onder meer geskryf: “When the passions of the past blend with the prejudices of the present, human reality is reduced to a picture in black and white…. When all is said and done, a single word, ‘understanding’, is the beacon light of our studies” (verstáán is natuurlik nie dieselfde as góédkeuring nie).

Dat Jan van Riebeeck op 6 April 1652 voet aan wal in Tafelbaai gesit het, is ʼn feit soos ʼn koei. Dat Suid-Afrika se probleme toe begin het, is die vertólking wat pres. Jacob Zuma daaraan heg.

Die twee is nie dieselfde nie, en as ons die geskiedenis behoorlik wil verstaan, sal ons daardie onderskeid moet begryp.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Sarie ·

Interessante artikel. Ek het die werke van Douglas Reed ook gelees . As joernalis wat in soveel wêrelddele geleesf het hy interessante interpretasie van die wêreld geskiedenis. Ook wat in Suider-Afrika gebeur het. Sy werke word nie eintlik deur hedendaagse joernaliste aangehaal nie.

Koos1 ·

Leopold, ‘n baie insigewende stuk. Ons moet egter onthou dat die geskiedenis wat opgedis word, nooit die ware feite is nie. Dit word altyd, en veral in SA, gemanipuleer deur die party wat aan bewind is. Ons het nou weer gesien hoe ver sommiges sal gaan om hulle eie agenda te bevorder. Die Guptas en Bell Pottinger(B.P.) en die woorde “wit monopolie kapitaal”. Gelukkig het B.P. nou sy einde bereik en ek hoop dit is ‘n les vir alle mense wat geskiedenis (of toekoms) wil manipuleer.

Wonder ·

Die lewe is relatief alle besluite word hoofsaaklik op persepsie gedoen!

MCH ·

Ja, hierdie is werklik n insiggewende artikel wat die subjektiewe onderbou van feite wat as geskiedenis aangebied word ontbloot. Die feit is dus dat geen geskiedskrywing universeel aanvaar sal word nie vanweë die drasties uiteenlopende waardestelsels. Selfs met byvoorbeeld die Christelike waardestelsel as onderbou, kan afwykende invloede ( Selfsug en gierigheid) ook tot gevolg hê dat feite nie aanvaar word, wat andersinds binne die sfeer van die waardestelsel val nie. Voorwaar n fenomenale taak wat geskiedskrywers dan het. Indien ons byvoorbeeld die kwessie van die Israelse “besetting” van die Wesbank betrag, is die waarheid dat uit die oudste bron denkbaar(Bybel), Israel wel besitreg op die gebied het. Dit is in der waarheid Judea en Samaria. Die Palestyne daarenteen, beskou dit as onwettige besetting en so ook die meederheid van wereld moondhede. Selfs ons eie SARK waarvan die Afrikaanse NG kerk lid is, doen n striemende aanval op Israel oor die “besetting” Dit is dus n redelik nuttelose oefening om jou hand aan die vakgebied te durf waag, sou jou waardestelsel dramaties verskil van die opdraggewer, wat jou bruikbaarheid beïnvloed. Dit laat my onwillekeurig dink aan n beeldhouer wat sy beste werk lewer op eie inisiatief. Spesifieke opdragte, daarenteen, werk beperkend in op sy skeppingsvermoë aangesien die opdraggewer se nukke en grille kos op die tafel beteken, wat die finale produk, werklikheidsvreemd kan maak. Neem dus geskiedenis met n knippie sout. Kyk net hoe onversoenbaar is die partye in die grondsteelkwessie.

Roelfie ·

Van Riebeeck se skepe het op 6 April geanker, maar hulle het eers op 7 April aan wal gestap ;-)

Gerhardus Petrus Padda ·

Die grootste probleem is na my mening dat meeste mense n eenvoudige narratief nastreef. Hierdie is/was “goeie” mense. Daardie is/was “slegte” mense. Ons almal doen dit, ek ook. Ek kies ook kant as ek geskiedenis lees.

Dit het vir my al hoe duideliker begin word hoe ouer ek word dat Suid Afrika n ontsettende komplekse geskiedenis het, en n komplekse samelewing is. Dit is in baie opsigte n “Midde Ooste” waar verskillende kulture bymekaar gekom het.

Ons sal almal beter doen deur hierdie kompleksiteit te aanvaar. Dit gaan nie verander nie.

alwyn burger ·

“Wat is waarheid?”. Julius Caeser het onsterflikheid verwerf met die vraag. Die mens met sy brose geestelike samestelling is nie onmiddelik gereed vir die waarheid nie. Mediapersoonlikheid Tumi Morake praat van ñ “ongemaklike gesprek” oor ons sosiale bestel.
Ons weet almal vandag dat die wěreld rond is. ñ Tydjie terug in die geskiedenis sou jy dit nie waag om dit hardop te sê nie. Ons leef so in ons selfgeskepte wêreld, ñ wěreld waar die waarheid ñ bedreiging is.
Maar die waarheid moet uit. Die stelling het dieselfde krag as ñ fisikawet.
Wie is regtig veranrwoordelik vir WO 1? . Wie is regtig verantwoordelik vir WO2?. Dr. Leopold Scholtz, gevorderde student in Geskiedeins erken (ietwat teësinnig vermoed) ek dat Duitsland nie alleen verantwoordelik is nie. Hoekom word Duitsland dan alleen verantwoordelik gehou?
Is daar regtig so baie Jode vermoor?
Wie is regtig verantwoordelik vir apartheid?
Wat het regtig by Sharpeville gebeur?. Was Einstein briljant of ñ boereverneuker?
Eendag as die stof gaan lě het, lank na ons, sal ons nageslag koelkop hieroor redeneer. Die waarheid moet uit. Ons sal stadig vorder : ” van begrafnis tot begrafnis”( iemand) . Ons ou muwwe denkende fossiele moet eers wegval.

Alwyn Burger

Herman Goosen ·

Geskiedenis is ‘n gebeurtenis wat deur iemand vertolk word soos wat hy dit “sien”. Dus word talle gebeurtenisse of figure of as sleg uitgemaak of as goed. Moderne Geskiedenins is veral gevaarlik om net uit een bron te interpreter sedert dit dikwels gruwelik bevooroordeeld is.
Belangrike figure hoort dus uitgebeeld te word aan die gevolge van hul dade en nie net hul dade self nie. Veral op politieke veld is daar talle “groot” leiers wat hul onderdane van onderdrukking “bevry” het. Ongelukkig kan mens nie vryheid eet nie en hul nasate sit in ‘n vry land met hope armoede. Is hiedie leier wat sy mense “bevry” het ‘n “Groot figuur” Ja, hy is, maar was hy ‘n goeie leier? Baslis nie!

Vaalseun ·

Baie dankie vir jou insigte, Leopold. Inderdaad, die historikus se werk is nie maklik nie. Arthur Marwick skryf in sy The New Nature of History, “… the core of history, and its claim to being able to produce balanced, evidence-based judgements, rest on its autonomy.”

rassie ·

Leopold,

Historiese feite sonder interpretasie en beoordeling beteken niks. Dit lei na die vraag “so wat?” Objektiewe interpretasie en beoordeling sal egter ‘n utopiese droom bly. Net soos wat Afrikaner nasionalisme die geskiedskrywing vir eie doeleindes gemanupileer het, net so sal alle ander vorme van nasionalisme dieselfde doen, ad infinitum.

Die aanname dat die verlede nie in terme van hedendaagse waardes beoordeel moet word nie is problematies. Die verlede is nooit heeltemal van die hede te skei nie.

Tans verwyt baie Afrikaners nog die Engelse oor die Anglo-Boereoorlog van ‘n eeu gelede en so sal baie ander nog die Afrikaners oor ‘n eeu verder verwyt oor Apartheid.

n’ Nuwe introspektiewe interpretasie en beoordeling van die eie verlede is op hierdie stadium van die Afrikaner se kulturele bestaan, uiters noodsaaklik. Moontlik sal mites en verdraaiings ontbloot word. Sodanige blootlegging het niks met “volksverraad” te make nie.
Mens kan jouself slegs met feite verdedig. Nie met mites nie.

Daardie idees en praktyke uit die verlede wat die hedendaagse situasie binnedring moet noodwendig in terme van hedendaagse waardes en omstandighede beoordeel word en of behou of verwerp word.

Beoordeling maak dit moontlik om die goeie en werkbare uit die verlede te haal en om van die negatiewe en onpraktiese weg te beweeg. Sonder hierdie beoordeling kan mens maklik in die hede met meulsteune om die nek uit die verlede opeindig en nie vooruit kom nie. Net so kan ook van die goeie vergeet word wat sal lei tot kulturel verarming of verdwyning.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.