Geskiedenis ’n verpligte vak tot matriek?

bril-boek-handboek-geskiedenis

Foto: DariuszSankowski/Pixabay.com

Die aankondiging dat die ANC geskiedenis ’n verpligte vak tot matriek wil maak, is nie so onskuldig soos dit lyk nie. Daaragter sit ’n verskuilde agenda.

Die ANC glo dat hulle met ’n eensydige geskiedenisleerplan die huidige probleme van rassisme kan oplos. Hulle glo ook dat hulle met verpligte geskiedenis nasiebou kan bevorder waar hul eie nasiebouresep tans misluk.

Natuurlik is dit nie verkeerd dat kinders geskiedenis leer nie. Geskiedenis leer kinders waar hulle vandaan kom. Deur geskiedenis leer hulle ook om nie die foute van die verlede te herhaal nie. Die belangrikste voorwaarde is dat dit gebalanseerde geskiedenis moet wees wat alle kante van die verlede verduidelik.

Suid-Afrikaanse geskiedenisskoolleerplanne fokus tans hoofsaaklik op die ANC se struggle-geskiedenis. Om watter rede sal die nuwe geskiedenisleerplanne anders lyk? Die struggle-geskiedenis is belangrik om sekere dele van ons geskiedenis te verstaan, maar dit alleen verklaar nie alles wat die afgelope paar eeue in Suid-Afrika gebeur het nie.

By Vryheidspark in Pretoria word die land se geskiedenis in uitstallings uitgebeeld. As jy daar deurloop, is dit ontstellend om te sien hoe die geskiedenis van Suid-Afrika vereenvoudig word tot ʼn 350 jaar lange rassestryd tussen wit en swart.

Natuurlik was daar stryd tussen wit en swart in ons geskiedenis. Dit is egter net een deel van ons ingewikkelde verlede. As jy Suid-Afrika se geskiedenis net as ʼn swart-teen-wit-konflik sien, pas die 200 jaar lange stryd tussen wit Boere en wit Britte glad nie daarby in nie. Só ignoreer Vryheidspark heeltemal die Afrikaner se eie vryheidstryd.

Die Anglo-Boereoorlog van 1899, of die Suid-Afrikaanse oorlog, soos dit daar genoem word, word baie terloops en heeltemal uit konteks as deel van 1948 en apartheid voorgestel. Die Eerste Vryheidsoorlog teen die Britte met die veldslag by Majuba is nêrens in die uitstallings te sien nie.

Waarom bied die ANC-regering die geskiedenis so eensydig aan?

“Die regering wat die hede beheer, beheer ook die verlede”, het George Orwell in sy boek 1984 (p39-40) geskryf.

Die Duitse skrywer Ernst Toller het reeds in die vorige eeu die definisie van geskiedenis beskryf as: “Die propaganda van die oorwinnaars.”

Só word geskiedenis ’n baie sterk wapen in die hande van die huidige ANC-regering.

Minister Angie Motshekga. Foto: ANA

Hoe gebruik regerings geskiedenis?

Regerings gebruik geskiedenis deur in leerplanne te kies watter materiaal uit die verlede aan kinders geleer word en wat berekend weggelaat word. Geskiedenis sonder konteks word dan propaganda. Dit lei nie tot die oordra van geskiedenis aan kinders nie, maar tot die oordra van geskiedenismites.

Wat is ’n geskiedenismite?

ʼn Geskiedenismite is wanneer ek net die feite wat my pas, van ’n gebeurtenis in die verlede oordra, as die enigste waarheid van die betrokke gebeurtenis. Ek interpreteer hierdie feite dan só dat ek my politieke doelwitte vir vandag daarmee kan bereik. Daarom vertel ‘n mite jou dikwels meer van die huidige tyd waarin dit ontstaan het as van die verlede. Dit weerspieël die huidige mense se vrese en gedagtes en nie die vrese en gedagtes van die mense in die verlede waarna verwys word nie.

Epictetus, ʼn Griekse filosoof, het reeds in die eerste eeu ná Christus gesê dat mense nie deur gebeure beweeg of gemobiliseer word nie, maar deur hul interpretasie van die gebeure.

Mites word só gebruik om die huidige geslag te motiveer, te laat goed voel of te laat skuldig voel oor die verlede.

Byvoorbeeld:

Om my ondersteuners teen ’n ander groep op te sweep, kies ek slegs die feite van gruwelike onregte wat daardie groep se voorvaders 200 jaar gelede teen my mense gepleeg het.

Dit is nie net die huidige ANC-regering wat mites skep vir politieke propaganda-doeleindes nie. Meeste regerings doen dit. So is daar ook talle Afrikanermites wat in die verlede geskep is om Afrikaners te motiveer en saam te snoer.

Afrikanermites

In die 1930’s was die Afrikaner platgeslaan deur droogtes, verstedeliking en armoede. Meeste hiervan was steeds die nagevolge van die Anglo-Boereoorlog. Dit was nodig om Afrikaners weer trots te maak op wie hulle is en hulle só te mobiliseer vir ʼn moontlike verkiesingsoorwinning wat in 1948 gevolg het.

ʼn Afrikanermite uit die 1930’s is dat alle Boere tydens die Anglo-Boereoorlog briljante ruiters en skerpskutters was. Ook dat die meeste Boere lojale Bittereinders was wat tot aan die einde van die oorlog geveg het om hul vryheid te probeer behou.

Latere navorsing in die 1970’s en onlangse boeke het meer genuanseerd hieroor begin skryf. Almal was nie briljante skerpskutters, goeie ruiters en lojale Bittereinders nie. Van die ongeveer 60 000 burgers op kommando het tot 20 000 vroeg in die oorlog die wapen neergelê. Dit beteken dat een derde van die burgers vroeg opgehou veg het. Van hierdie burgers het 5 400 die wapen aan Britse kant opgeneem en bereid gewees om teen hul broers en volksgenote te veg.

Afrikaners is nie anders as enige ander volk wat sy geskiedenis betref nie. Hulle het foute in die verlede gemaak, maar het ook baie om op trots te wees.

ANC-mites

Tans is daar talle ANC-mites wat om dieselfde redes as hierbo geskep word. Dit is hierdie mites wat waarskynlik in die nuwe geskiedenisleerplanne sal wees. Net enkele voorbeelde:

“Al die konflik in Suid-Afrika het ontstaan toe Jan van Riebeeck en die wittes hier aangekom het.”

Hierdeur word gesê dat daar permanente vrede en harmonie tussen al die swart stamme en inwoners was totdat die wittes aangekom het.

Dit is ’n geskiedenismite en feitelik verkeerd.

Hoekom het Shaka as Zoeloekoning die kort assegaai ontwikkel? Hoekom het hy sy soldate die bulhoringformasie vir omsingeling laat oefen? Was dit om die swakker stamme te omsingel ten einde vir hulle komberse uit te deel of met die korter assegaai vir hulle braaivleis te hou? Nee, die feite wys hoe dit gebruik is om ander swart stamme uit te wis.

Nog ʼn ANC- en EFF-mite is dat die skikking in 1994 nie ʼn vrywillige skikking was nie. Volgens hierdie mite was die onderhandelinge op die Afrikaners afgeforseer ná die oorwinnings van die ANC oor die Afrikaner-regering. Die MK-soldate van die ANC kry dan erkenning omdat hulle so dapper geveg het om die oorwinning moontlik te maak.

Die feite is dat daar nie een konvensionele militêre geveg tussen die Suid-Afrikaanse weermag en die MK-soldate plaasgevind het nie. Die MK-soldate het wel sabotasie gepleeg en enkele suksesvolle bomme geplant waarin verskeie burgerlikes en kinders gedood is.

Dit is insiggewend wat Chris Hani, die hoof van umKhonto weSizwe later oor die stryd gesê het. “We (the ANC) concede the fact that we never broke the back of the South African Defence Force and South African Police, but you (the NP) must concede the fact that you never broke the spirit of liberation in the townships.” (Beeld, 6/12/2010 p13)

As jy dit durf waag om van hierdie ANC-weergawes van die geskiedenis en ANC-mites af te wyk, gryp die ANC-leiers en die openbare media jou. Die sosiale media deur Twitter en Facebook hang jou gou in die openbaar op oor jou “verkeerde feite”. Jy moet aanvaar dat jou afwykende feite dan vinnig as ʼn “teruggryp na apartheid” beskryf sal word.

Wat kan ons daaraan doen?

As in die nuwe leerplanne slegs ANC-mites en -weergawes van die verlede behandel gaan word, is dit belangrik dat daar ʼn poging tot balans sal moet kom. Ander feite en interpretasies moet deel van die debatte oor die verlede word.

In Suid-Afrika doen ander gemeenskappe dit deur, byvoorbeeld, eie Joodse- of Duitse privaat skole waar hul kultuur- en geskiedenissienings oorgedra word. Waar dit nie moontlik is nie, word selfs kort ekstra middagskole aangebied. Ook kultuurorganisasies soos die Voortrekkers kan dit doen. Ekself neem gereeld jeuggroepe na die Voortrekkermonument en ander historiese plekke as mý bydrae.

Soos die ANC-geskiedenisplan duideliker word, sal ons ’n ernstige debat moet voer oor hoe ons kan verseker dat ons kinders gebalanseerd na die verlede kyk.

George Orwell skryf:

“Die doeltreffendste manier om ’n volk te vernietig, is om sy eie verstaan van sy geskiedenis te ontken en te vernietig.”

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieter ·

Gelukkig maak ons jongste klaar met Matriek die jaar, ek sou in elk geval nie dat hy die cANCer geskiedenis geneem het nie, n 0 op sy rapport sou pragtig gelyk het.

Kannaland ·

SA raak almeer agter in die 4de industrieele revolusie. Een van die dae gaan Chinese of ander groep hier opdaag en ons koloniseer en ons gaan geen weerstand kan bied nie want hulle gaan top tegnologie he. Op ekonomiese gebied gebeur dit reeds. Ons moet eerder wiskunde, wetenskap en ander praktiese vaardighede op fokus. Geskiedenis maak nie die maag vol nie. Die ANC moet dit besef.

Marthinus Willemse ·

Wanneer laas was jy by die Voortrekkermonument? Daar is instruksies spesiaal in Chinees, want hulle is begerig om ons geskiedenis te ken, sodat hulle kan weet hoe ons koppe werk.

Dit sal kortsigtig wees om nie geskiedenis te leer nie. Die mens is nie net `n skepper nie, maar ook `n dromer, `n filosofeerder, en geskiedenis is `n goeie afspringplek om ons kinders te leer om te dink. Pieter Mulder haal George Orwell aan, wat nie `n wiskundige was nie; hy was welaf, het in Frankryk en die Spaanse burgeroorlog te doen gekry met sosialisme, en vir die res van sy lewe daarteen geveg. Geskiedenis gee aan ons die woorde, aanhalings, voorbeelde, van die mens se aksies, en help ons om dieselfde foute te vermy – ongelukkig is die meerderheid politici nie begerig om uit hul voorgangers se foute te leer nie.

ACJ ·

Nee ek weet nie wat gaan in daardie koppe nie.ANC is net n’ suksesvolle mislukking

Wallas ·

Pieter, dit sal gaaf wees as jy dié nodige kundiges kan kry om die relevante partye in die ANC regering/departement by te staan in die ontwikkeling van die korrekte geskiedenis vir toekomstige generasies

alwyn burger ·

Almal skerpskutters en goeie perderuiters!?.Daar was klerke.spoorwegmanne ,landmeters ,prokureurs ,studente , onderwysers ,predikante en talle armlastiges wat nog nooit op ñ perd se rug was of ñ geweer vasgehou het nie. Ek weet nie hoekom dit die Boere-oorlog genoem word nie. Dit moet eintlik die Goud-oorlog genoem word.

Flippen grap ·

Ek gee nou geskiedenis by n nieblanke skool. Die snert wat die gr8 kinders in hul koppe het oor wat apartheid was. Basies is dit “black=good and white=bad”!

Hannes ·

Indien Afrikaner kinders nie hul eie geskiedenis ken nie, is dit hul ouers se skuld.
Ek het my broer se kinders nou die dag bietjie uitgevra oor Jan van Riebeeck en die Slag van Bloedrivier, en hulle het niks geweet nie. Hoekom nie? Omdat my broer en skoonsus nie moeite doen om hulle te leer nie.

Paul ·

Ek kan nie die geskiedenis wat ek in die 70’s op skool gehad het onthou nie, dalk het ek dit nie gehad nie, maar my belangstelling in waar ek en my voorouers vandaan kom, van JvR se dae af het my nie ongeletterd gelaat nie. Die nuuskierigheid het die oorhand gekry met die neus in die boeke en koerante wat daaroor berig, vandag die internet en ook Maroela, so ek is ten volle ingelig.

Cornelia ·

Dankie vir u kaosbare, wel deurdagte en koersvaste gedagtes Dr. Mulder. Dit is so dat ons volk by ‘n kruispad in ons volksgeskiedenis staan. Ons het beslis ook ‘n selfopgelegde taak om ons nageslag in die waarheid van ons volk se geskiedenis verhaal toe te lig en ons volkstrots te bewaar soos dit uniek aan ons karakter en strewe geëien word. ‘n Leefstyl wat onlosmaaklik van ons Geloofspad met God verbind was en nog steeds is. Ons het onsself onder ‘n juk gebring.

TDW ·

Ek sukkel my dood om Suid-Afrikaanse geskiedenis te gaan navors op die internet. Eerstens is google baie kieskeurig oor wat hy eerste sit op die resultate, maar ek gebruik nou darem ‘n ander soekenjin en dit gaan beter, maar ek kry nie feitlike gebalanseerde geskiedenis webtuistes nie. Of ek kry webtuistes wat net sekere goed op het. Is hier enige iemand wat my kan help. Moet asb net nie sê sahistory.org nie, dis geskiedenis geskryf deur die ANC. Indien iemand weet van ‘n webtuiste wat alles bevat, asb, lig my in. Dankie

Jamie ·

‘n Voorstel: Hierbo het Maroela Media balk wat inhoud aandui; nuus, debat, sport ens. Voeg nog ‘n hoof by: Geskiedenis. Vra dan kundiges om minstens een maal per week ‘n stuk geskiedenis daarin te skryf. Dit moet hoofsaaklik ons geskiedenis wees; “ons verstaan van ons geskiedenis”, maar dit moet geskiedenis wees, nie propaganda nie. Dit moet ook so geskryf wees dat kinders dit ook sal lees. Dit is noodsaaklik vir oorlewing van ‘n volk dat sy kinders leer waar hulle wortels was. En die son sak al in die weste. Jamie.

DHK ·

‘n Volk wat nie weet waar hy vandaan kom nie, weet ook nie waarheen hy oppad is nie. ‘n Volk wat sy gisters vergeet, is more self vergete… ‘n Volk wat sy vyande se leiers vereer en sy eie volkshelde van weleer demoniseer, is ‘n ruggraatlose volk. ‘n Christenvolk wat sy God verlaat, is gedoem. Al vier van hierdie twyfelagtige eienskappe is ongelukkig in meerderheidsgetal aanwesig by my eie volk, die Afrikanervolk. Dit stem my tot diepe weemoed en ontnugtering.

ADRI ·

Die regte geskiedenis is belangrik, maar die anc moet eers hulle prioriteite reg kry. Kry eers die kinders. om goed te kan lees en skryf. dan kan hulle geskiedenis beter leer en verstaan. Tans kan baie matrikulante nie eers lees en skryf nie!!!

Charlene ·

Adri dis nou ware woorde wat jy sê, hulle prioriteite is beslus op die verkeerde goed gespits.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.