Geskiedenis! O wee, geskiedenis!     

Deur dr. Jurie Joubert

(Argieffoto/Unsplash)

“There is nothing either good or bad, but thinking makes it so.” – Hamlet, deur William Shakespeare. 

Die onderwyser staan nog steeds voor die klas en spreek die leerders toe, maar onderwysers en leerders het vandag toegang tot tegnologie wat hulle die geleenthede bied om beter op hulle eie te leer. Daarom behoort vandag se onderwysmodel die leerders in staat te stel om self kennis te bekom.

Minister Angie Motshekga het in 2015 ʼn span aangestel om opnuut na die geskiedeniskurrikulum te kyk. Die komitee se werk is in 2018 afgehandel en een van hul aanbevelings was dat die vak Geskiedenis in graad 10, 11 en 12 “verpligtend” gemaak moet word. Die plan vir die nuwe “Motshekga-geskiedenis” berus op die volgende doelwitte:

Die kurrikulumbeginsels en alle inhoud sal volgens die komitee se denke en kennis gekies word. Motshekga verduidelik die voornemens self as volg:

  1. “Geskiedenis behoort ontwerp te word sodat leerders in staat gestel word om aktiewe burgers te wees –
    • insluitend om krities betrokke te raak by die feite van kolonialisme, apartheid en die bevrydingstryd; en
    • jongmense moet bemagtig word met waardes, houdings en gedrag wat bydra tot nasiebou, sosiale kohesie en nasionale versoening.
  2. Hierdie soort kennis sal die 21ste eeuse generasie in staat stel om die verband tussen globale en nasionale burgerskap te begryp.”

Hierdie “kennis” gaan nou gebruik word om die vak Geskiedenis se leerplan te ontwikkel. Hierdie politieke interpretasie (Motshekga se taalgebruik kan nie anders geïnterpreteer word nie) wil ek “indoktrinasie” noem. My opsomming daarvan is as volg:

Iemand [die komitee] het besluit hoe die verlede ontwerp en herskryf moet word (en dat klaskamer pedagogiek daarop gebou moet word). Hierdie komitee het bepaal dat kolonialisme/ apartheid en die bevrydingstryd die enigste temas is wat in Geskiedenis hoort en onderrig moet word. Onthou, hierdie keuse gaan ʼn eie soort kennis met waardes, houdings en gedrag voorskryf wat moet bydra tot nasiebou, sosiale kohesie en nasionale versoening!

Ek wil graag verstaan wat Motshekga (sy is ʼn politikus en nie ʼn historikus of pedagoog nie) met bostaande woorde bedoel. Hoe verstaan sy en haar komitee die woord “geskiedenis” en hoe verstaan hulle die verlede? Kan ʼn mens deur middel van ontwerp ʼn spesifieke soort kennis skep?

Talle ander vrae ontstaan. Antwoorde op hierdie vrae kan ons egter wêreldwyd in uitmuntende historiografiese boeke oplees. Gevolglik verstaan ek die antwoorde op dié vrae as volg:

“Geskiedenis” is ʼn werkwoord en nie ʼn selfstandige naamwoord nie. Die woorde “ken” en “verstaan” is ook nie sinoniem nie. ʼn Leerder kan ʼn akkurate en deeglike kennis van iets hê sonder om te verstaan waarom die kennis geregverdig is, wat die kennis beteken, of wat met die kennis gedoen kan word.

Die doel daarmee om die verlede te verstaan, is nie om te verander wat gebeur het nie, wat onmoontlik is, maar om lig te werp op die onvervulde eise van die hede. Indien ʼn mens die oorsake van die Anglo-Boereoorlog op dieselfde wyse in die klaskamer sou verduidelik as wat dit op universiteit gedoseer word, kan ʼn mens dit netsowel in ʼn vreemde taal verduidelik, want 12-jariges sal dit eenvoudig nie verstaan nie. Vaktoepassing – die vermoë om effektief te onderrig – is net so belangrik as om vakkennis oor te dra. Verder moet daar in ag geneem word dat, al is leerders besig om opdragte/ take te voltooi, dit geen waarborg is dat waardevolle leer plaasvind nie.

Dit is nie die eerste keer – en sal beslis nie die laaste keer wees nie – dat politieke magte probeer om die voorstelling van die verlede te beheer nie: Voorbeelde hiervan is die verbranding van die Biblioteek van Alexandrië en die Nazi-boekverbrandings, ʼn veldtog van die Duitse Studente-Unie in die 1930’s om boeke seremonieel in Nazi-Duitsland en Oostenryk te verbrand.

Helen Keller het die Duitse studente in ʼn ope brief gekonfronteer: “Die geskiedenis het jou niks geleer as jy dink jy kan idees doodmaak nie. Tiranne het dit probeer doen, dikwels tevore, en die mag van die idees het opgestaan en hulle vernietig. Jy kan my boeke en die boeke van die beste geleerdes in Europa verbrand, maar die idees daarin het deur ʼn miljoen kanale gesypel en sal voortgaan om ander gedagtes in die lewe te roep.”

Diegene wat op ʼn gegewe oomblik in die geskiedenis leef – en ons moet daarvan bewus wees dat die hede nie homogeen is nie – is die erfgename van mense se prestasies, ongeregtighede en vergeetagtigheid, wat hul begrip van die geskiedenis vorm.

Wanneer ons die term “verlede” gebruik, bedoel ons al die dinge wat van die begin van tyd tot op hede gebeur het. Met ander woorde, dit is alles wat voor hierdie presiese oomblik plaasgevind het: elke persoon, elke samelewing, elke gebeurtenis en elke idee wat voorheen bestaan het, is deel van “die verlede”. Ongelukkig het byna alles uit die verlede vir ewig verdwyn en net fragmente van bewyse dat dit ooit bestaan het, het oorgebly. Die Slag van Rorkesdrif is ʼn goeie voorbeeld. “Die verlede” as ʼn term verwys na al hierdie dinge, al bestaan hulle nie meer nie.

Daarteenoor verwys die term “geskiedenis” na hoe ʼn geskiedkundige gepoog het om “die verlede” te konstrueer sodat ons dit kan verstaan. Die meeste van die tyd verwys “geskiedenis” na die skryf van ʼn boek deur ʼn professionele geskiedkundige met die doel om te verduidelik hoe ʼn samelewing, kultuur, persoon of gebeurtenis bestaan het, gebaseer op die bewyse wat oorgebly het.

Alle geskiedkundiges erken egter dat hul geskiedenisse onvolledig is, omdat hulle baie van die leemtes in hul stories moes aanvul, aangesien ons nie al die bewyse uit die verlede het wat ons sou wou hê om ʼn volledige verslag te skryf nie.

Geskiedkundiges vul egter nie bloot die leemtes in die verlede aan nie. In plaas daarvan, bestee hulle jare aan toegewyde navorsing en probeer om soveel as moontlik uit te vind om ʼn ingeligte raaiskoot oor verskillende aspekte van die verlede te maak.

Uiteindelik erken elke geskiedkundige dat sy of haar storie slegs die beste gevolgtrekkings is oor wat heel waarskynlik gebeur het, gebaseer op die bewyse wat ons het.

Indien ʼn ander geskiedkundige ʼn beter weergawe van die geskiedenis kan verskaf, is geskiedkundiges bereid om hul opinies te verander. Dit is hoekom ons sê dat daar veelvuldige “geskiedenisse” van die verlede is: elke geskiedkundige het sy of haar eie interpretasie van die verlede, wat oop is vir hersiening en regstelling. “Die verlede” is voltooid en kan nooit verander word nie, maar “geskiedenis” is ʼn deurlopende bespreking wat probeer om die verlede te verduidelik en staan oop vir verandering en hersiene weergawes.

“Geskiedenis” berus op wat ons van “die verlede” weet, en dit is afhanklik van die bewyse wat beskikbaar is. Jy kan nie ʼn geskiedenis skryf wat nie op bewyse gegrond is nie. Dit lyk asof Motshekga en haar komitee dit nie verstaan nie.

Volgens internasionale standaarde is daar sekere beginsels waaraan enige kurrikulum moet voldoen. In ʼn land soos Suid-Afrika moet daar kerndele wees, sowel as streekdele waaruit onderwysers kan kies. Kom ek noem ʼn paar voorbeelde:

  1. Die krag van redenasie, denke, geheue en besluitneming hou alles daarmee verband. Die vervulling van hierdie doelwitte moet by die keuse van onderwerpe in ag geneem word.
  2. Die inhoud wat gekies word, moet gepas wees vir die ouderdom en vermoë van die groep leerlinge aan wie dit onderrig gaan word. Die kurrikulum moet dus kindgesentreerd wees.
  3. Daar moet ʼn funksionele verband wees tussen die inhoud van die vakmateriaal en die doel waarvoor dit onderrig word: Die hele kurrikulum vir elke klas moet effektief verbonde wees aan die vorige en die daaropvolgende klasse.
  4. Die kurrikulum moet wyd en omvattend wees: Die kurrikulumkeuses moet sodanig wees dat die leerlinge kan leer oor die verhaal van die mensdom, beginnende by die plaaslike geskiedenis, gevolg deur die streeks- en nasionale geskiedenis, en uiteindelik die wêreldgeskiedenis bereik.
  5. Die kurrikulum moet klem lê op nasionale- en wêreldgeskiedenis.
  6. Die kurrikulum moet gegrond wees op die beginsel van integrasie met die daaglikse lewe van die gewone mens: Sodanige materiaal moet plek gegee word in die geskiedeniskurrikulum om in die behoeftes van die samelewing en studente te voorsien.

Motshekga en haar komitee ignoreer bogenoemde beginsels en wil hul eie geskepte verlede in kinders se kele afdruk. Volgens Motshekga bied die volgende drie aspekte die grootste uitdaging vir hulle proses:

  1. Die groot uitdaging nou, wat ʼn reuse-onderneming is, behels die herskryf van geskiedenis.
  2. Selfs die taakspan het gesê: “Jy kan nie die huidige geskiedenis [soos dit opgeskryf is] weergee soos dit is nie.” Dit moet dus herskryf word.
  3. Motshekga het gesê hulle moet geld kry vir nuwe handboeke en onderwysers sal heropgelei moet word, met ander woorde, sy beplan die weg na indoktrinasie deur middel van ʼn nuwe pedagogiek.

As kurrikulumontwikkeling gebeur soos dit deur Motshekga beskryf word, is die naam van die vak verkeerd, want Geskiedenis is iets anders – wat sy beskryf, is indoktrinasie.

  • Dr. Jurie Joubert is ‘n onafhanklike opvoedkundige konsultant.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annie Webb ·

Natuurlik is dit propaganda en indoktrinasie! En hoegenaamd nie uniek tot SA nie. Tydens die Covid-inperkings het konserwatiewe Amerikaanse ouers vir die eerste keer insae gekry in hoe hulle kinders reeds dekades lank in die skole geïndoktrineer word deur kurrikula wat die sg,. “woke” kultuur vestig. Dié kultuur wat bedoel is om die Weste “van binne uit te hol” deur Westerse kultuur en trots op eiegoed te vernietig. Soos ingegee deur die onderwys-unies wat deur opgeleide Kommuniste geïnfiltreer is, soos soveel ander institusies en groepe in die VSA. As ‘n mens wil weet waarteen ons in SA moet waak terwyl daar nog (bietjie) tyd is, moet jy sorg dat jy spesifiek anti-Kommunistiese nuus onder oë kry. Behalwe die VSA-blad Breitbart, waarvan ons eie wyle Rhoda Kadalie se skoonseun redakteur is, ook die internasionale Epoch Times. Eersgenoemde gratis, laasgenoemde op subskripsie. Dit maak die holruggeryde “links” en “regs” waarmee die “linkse media” so smous, irrelevant.

Anel ·

Dit is regtig nie ‘n vak wat jou iewers bring nie. Slegs as jy dalk ‘n politikus wil word. Om dit verpligtend te maak is net vir indoktrinasie. Dan, as die onderwyser nie saam stem met ‘n kind se antwoord nie, kry hulle ook sommer nul. Laat die kinders vakke neem waarmee hulle iets kan doen, waarmee hulle werk kan kry. Mense of dan kinders wat regtig in geskuedenis belangstel, sal daaroir lees. Om dit ‘n verplugte leervak te maak gaan die wat nie daarin belangstel nie, negatief maak. En geskuedenis kan nie herskryf word nie. Dis iets wat gebeur het. Maar nou ja, met ons regering is enigiets moontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.