Geskiedenis van idees: Romantiek en Materialisme

Uitbeelding van die Slag by Waterloo tydens die Napoleontiese Oorloë wat die eerste deel van die 19de eeu oorheers het (Foto: Wikipedia)

Terwyl die 18de eeu deur die rede, die strewe na kennis en die wegdraai van die godsdiens bepaal is, was daar in die 19de eeu sowel ʼn herontdekking van die mitiese, emosionele en transendente, asook nuwe radikale en materialistiese idees. Die intellektuele sentrum van die 17de en 18de eeu, Frankryk, het in die 19de eeu na Duitsland geskuif en universiteite was weer die bronne van nuwes idees en denke.

Die 19de eeu val in twee duidelik verskillende helftes uiteen.

Die eerste helfte word oorheers deur die era van Napoleon se oorloë, sy verwydering en die herstel van die ou orde, waarop twee dekades van relatiewe rus gevolg het waarin die Romantiek kon gedy. Dit word 1848 deur verskeie revolusies en opstande versteur, wat wel ook onderdruk word, maar wat ʼn nuwe tydsgees inlui: aandrang op burgerlike deelname (al was dit nog geen volwaardige demokrasie nie) en nasionalisme (die aandrang op volkstale pleks van dinastiese ryke, by name in Duitsland en Italië asook op die Balkan).

Die 19de eeu, veral sy tweede helfte, sien ook ʼn al hoe vinniger ekonomiese ontwikkeling danksy nuwe uitvindings en industriële massa-produksie en die opkoms van sosialisme as gevolg daarvan.

Die Romantiek en Idealisme

Die kultuurtydperk wat die eerste helfte van die 19de eeu bepaal het, altans in Middel-Europa, was die Romantiek, terwyl die enger filosofiese rigting die Idealisme was. Die Romantiek was die teenbeweging teen die Verligting en het van omtrent 1790 tot 1850 gestrek. Tipiese temas in die Romantiek, soos ook ʼn eeu gelede in die Sentimentalisme, was die klem op die gevoel pleks van die verstand, die bekoring vir die ongeskonde natuur en die soeke na ʼn onbedorwe wêrelddeel.

Otto von Bismarck, die Duitse politikus wat grootliks vir die samesnoering van al die verskillende Duitse state tot een staat verantwoordelik was. Hy was op die politieke front doenig tydens die era van Romantiek en Materialisme (Foto: Wikipedia)

Ook God as bron van alles is herontdek en talle romantici was belydende Christene. Terwyl die Verligting met die mitiese en die verlede wou wegdoen en op ʼn beter toekoms gerig was, het die Romantiek weer die rykdom van die verlede gesoek, nie in die antieke tydperk soos tydens die Renaissance nie, maar in die Middeleeue. Die begeestering vir die mooi en oorspronklike en vir die eie volk en land het daartoe gelei dat volkskatte soos sprokies, legendes en volkswysies opgeskryf en versamel is om dit vir die nageslag te bewaar.

Die waardering vir die eie moes ook polities vergestalting kry. Duitsland was nog geen eie staat in die eerste helfte van die 19de eeu nie en die romantiese beweging het ook die onderbou gegee vir die nasionale herlewing en pogings om Duitsland as een staat te herskep. Die Idealisme se uitgangspunt was dat dinge in wording en in die vloei is en heenwys na die gees wat agter alles is en wat verabsoluteer is.

Positivisme, Materialisme en Utilitarisme

Op die hoofsaaklik Duitse beweging van die Romantiek en Idealisme het, veral in Frankryk en Brittanje, die Positivisme en Materialisme as teenbewegings opgekom. Die Positivisme was eintlik net ʼn nuwe weergawe van die Empirisme. Vir positiviste en materialiste is die toestand en dit wat sigbaar, voelbaar en meetbaar is al wat saak maak. Alles wat bestaan is materieë, nie gees nie. Die sienings is gedryf deur die geweldige vordering van tegnologie in die tweede helfte van die 19de eeu.

Materialistiese en utilitaristiese denkers soos Karl Marx en Jeremy Bentham probeer die wêreld verklaar met antwoorde op die vraag wat die mens fisies by iets baat. Menslike behoeftes en persoonlike voordeel is nou sentraal en alles kan terugvervolg word na ʼn natuurwetenskaplik meetbare grondbeginsel. Godsdiens is volgens die materialiste en utilitariste net ʼn menslike behoefte en daar bestaan geen hoër wese bo dit wat sig- en tasbaar is nie.

ʼn Bekende samevatting van die materialistiese idee is: waarheid kom nie uit God of uit die gees nie, waarheid is die somtotaal van die menslike bestaan. Ekonomie, soos reeds by Adam Smith in die 18de eeu, staan nou as sentrale idee en alles anders word as oorbodige afleiding en vermorsing van tyd en energie afgemaak.

Charles Darwin (Foto: Wikipedia)

Nog ʼn nuwe idee wat in die 19de eeu na vore gekom het, is die Evolusionisme. Opbouend op die ewolusieteorie van Charles Darwin, wat die ontwikkeling van die mens en trouens van alle lewe uit primitiewe oervorme sonder die hand van ʼn Skepper postuleer, word ook die menslike ontwikkeling as een van laer-na-hoër ontwikkelde wesens daargestel. Alle kulture van die wêreld word gesien as synde in ʼn ontwikkelingsproses van primitief na gevorderd. Party is nog feitlik in hulle oertoestand, soos die natuurvolke in die tropiese dele, ander, veral die Weste, word as reeds op die hoogste vlak van ontwikkeling gesien.

Nuwe politieke idees wat veral in die 19de eeu sterk na vore gekom het (terwyl die reeds ontwikkelde politieke idees van Liberalisme en Konserwatisme verder ontwikkel is) is diegene van nasionalisme en Sosialisme. Nasionalisme was ʼn vertakking van die idealistiese en romantiese ideebeweging, terwyl Sosialisme uit die Materialisme voortvloei. Anders as wat vandag dikwels vermoed word, was nasionalisme geen reaksionêre of regse idee nie. In Duitsland, byvoorbeeld, was die nasionale beweging, wat sy eerste hoogtepunt in die middel van die 19de eeu bereik het met die revolusie van 1848, sterk gesteun deur studente, wat wou wegdoen met die heerskappy van die adellikes en wat uit die talle feodale kleinstate een verenigde, demokratiese volkstaat wou skep waar dieselfde taal gepraat en dieselfde kultuur beoefen is.

Die beweging is deur die adellike heersers onderdruk, maar die Pruisiese kanselier, Otto von Bismarck, het wel aan die drang na ʼn verenigde Duitsland voldoen deur die verskeie deelstate onder Pruisiese leiding, en met beperkte stemreg en ʼn keiser as staatshoof, saam te voeg. In Italië was die nasionalisme eweneens sterk en het sowel revolusionêre asook meer behoudende voorstanders gehad.

Die ander groot politieke idee van die 19de eeu, wat egter eers in die 20ste eeu tot uitvoering gebring is, was Sosialisme. Karl Marx het saam met sy geesgenoot Friedrich Engels die sogenaamde wetenskaplike Sosialisme ontwikkel as analise van die toestand van die tyd waar die vryemark in sy ekstreme vorm veral in Engeland groot ongelykhede tot gevolg gehad het. Die sosialiste het wel veld gewen in die 19de eeu, maar kon geen staat oorneem nie omdat die samelewings in Europa te kompleks daarvoor was.

Dit het eers in die 20ste eeu op groot skaal en wêreldwyd gebeur, maar ironies genoeg juis nie in die van Marx geanaliseerde gevorderde nywerheidsekonomie soos Engeland of Duitsland nie, maar in hoofsaaklik agterlike landboulande soos Rusland en China (meer hieroor in die deel oor Marx en in die artikel oor die 20ste eeu se idees).

Jeremy Bentham (Foto: National Portrait Gallery, Londen)

Denkers van die 19de eeu

Die Engelse filosoof en politikus Jeremy Bentham (1748-1832), asook sy aanhanger John Stuart Mill (1806-1873), geld as die grondleggers van die Utilitarisme. Die basiese idee is dat etiek bepaal word deur die nut wat dit bied. ʼn Handeling is dan moreel regverdig as dit tot voordeel van die grootste hoeveelheid mense is. Die uitkoms van iets is dus belangriker as die intensie. Vir die mens is die enigste doelwit die vermeerdering van genot en die vermy van pyn (hedonisme), ʼn gedagte wat die Griekse filosoof Epikurus reeds gehad het.

Op die staatkundige terrein staan die utilitarisme ʼn welsynstaat voor wat deur tegnokrate tot die grootste moontlike voordeel van die grootste hoeveelheid mense gelei word. Uit die aard van die saak is in die utilitarisme geen plek vir God en vir morele waardes nie. Bentham was die voorloper van die Britse Liberale Party, wat meer links is as die hoofstroom liberale partye elders. Sy radikale idees soos feminisme, ateïsme, diereregte en aanvaarding van enige seksuele praktyke is in sy tyd wyd verwerp, maar het in die 20ste en veral die 21ste eeu sterk na vore gekom.

Georg Wilhelm Hegel (1770-1831) word soms as die grootste filosoof van die 19de eeu beskou en is ten minste bepalend vir die denke van die eerste helfte van die 19de eeu en was die hoof verteenwoordiger van die Duitse Idealisme. Hy was ʼn hoogaangeskrewe dosent by verskeie bekende Duitse universiteite soos Tübingen, Heidelberg en Berlyn. Behalwe vir sy publikasies in sy leeftyd (die bekendstes daarvan is Fenomenologie van die gees, Die wetenskap van die logika, Basis van die regsfilosofie het ook postuum publikasies oor sy talle lesings verskyn.

Sy denke is kompleks en kan moeilik met een begrip saamgevat word. Vir Hegel is die doel van die filosofie om die wêreld te begryp soos dit is, nie om te sê hoe dit behoort te wees nie. Vryheid as dryfkrag vir menslike handeling staan vir hom sentraal. Die gees, en veral die strewe na vryheid, dryf mense egter van een uiterste na die ander, soos hy in sy leeftyd byvoorbeeld aan die hand van gebeure in Frankryk kon sien: die absolutistiese monargie word deur die revolusie oorwin wat vryheid belowe, net om dan in ʼn radikale diktatorskap te ontaard wat weer deur ʼn absolute monargie (die van Napoleon) vervang word.

Die Duitse filosoof Hegel (Foto: Wikipedia)

ʼn Wesenlike uitgangspunt van Hegel is die dialektiek: die verandering en hoërontwikkeling van iets in verskeie stadiums. Hy beskryf dit aan die hand van ʼn saadkorrel, wat reeds die vol ontwikkelde plant met sy saad in hom dra en dit net deur ontwikkeling moet voortbring. Terwyl in die natuur egter alles ʼn kringloop is, is in die gees die hoërontwikkeling aangelê: al word mense gebore, groei, plant voort en sterf weer, is daar met elke generasie ʼn sprong. Dit geld ook vir alles wat die mens doen, byvoorbeeld in die argitektuur: elke nuwe boustyl is in breuk met die verlede en ʼn hoërontwikkeling, al is daar natuurlik elemente van dit wat was. Die dialektiek pas hy ook op die geskiedenis toe in die geskiedenisfilosofie van tese, antitese en sintese, met as uiteinde die wêreldgees van die absolute rede. Sy dialektiese metode is van blywende waarde en is deur Hegel se skolier Karl Marx aangewend vir sy vertolking van die wêreldgeskiedenis as een wat opbou tot die uiteindelike klasselose samelewing.

Wat Hegel se staatsteorie betref, het hy ʼn hoë dunk van die staat as instelling gehad wat uitdrukking gee aan die strewe na vryheid, aan die regte van die individue en aan funksionerende instellings. Die staat is die sintese van die belange van die enkele burger en van die geheel, wat groter is as die somtotaal van die burgers. Hegel verskil hier duidelik van die liberale staatsbeskouing, wat die staat as noodwendige euwel sien wat op grond van nuttigheidsoorwegings van die burgers kontraktueel tot stand kom. Hegel reken dat die grondwetlike monargie die ideale staatsvorm is.

By Hegel is ook die soeke na die “absoluut verhewe” ʼn sterk tema. Hy was nie gelowig nie (maar wel goed bekend met die Christelike godsdiens) en het dus nie God as die absoluut verhewe gesien nie, maar eerder van ʼn “absolute gees” gepraat, ʼn opperste beginsel en idee wat die wêreld regeer en wat gesoek moet word. Nie die kuns of die godsdiens kan die absolute gees ontdek nie, slegs die filosofie kan dit uiteindelik erken. Die Christelike godsdiens sien hy wel as die mees gevorderde godsdiens volgens die dialektiese ontwikkelingsskema.

Sören Kierkegaard (Foto: Royal Library of Denmark via Wikipedia)

Sören Kierkegaard (1813-1855), ʼn Deense filosoof, was ʼn Christen en iemand wat Hegel se uitgangspunt van die gees as die absolute gekritiseer het en op die beperkinge van die mens en die menslike gees gewys het. Net God is die absolute. Die menslike bestaan ontwikkel volgens hom in drie stappe: eers die gewaarwording van sy jeug en die ontdekking van die erotiese, maar ook van hartseer en teleurstelling. Dan, die etiek waardeur die mens aktief handel en kies om vry te wees. Hier besef die mens egter ook die grens van vryheid en die gevaar om die ewige te verloor deur net aan sy eie vryheid te dink. As derde trap kom diepe geloof waardeur die mens aan die ewigheid deel kan hê.

Karl Marx (1818-1883), ʼn Duitse filosoof, se bekendste werke is das Kapital en Kritik der politischen Ökonomie. Marx probeer daarin die teorieë van onder andere Adam Smith, oor hoe welvaart geskep word, as verkeerd te bewys en voer aan dat die kapitalis (dus die eienaar van die produksiemiddele) geen waarde toevoeg nie en die arbeider wat iets met sy arbeid produseer wat veel meer werd is as die karige vergoeding wat hy daarvoor ontvang, uitbuit. Die arbeider kan nie uit die bose kringloop van afhanklikheid ontsnap nie, omdat die stelsel op uitbuiting gebou is en daarom moet die hele stelsel omver gewerp word en die arbeiders in ʼn klasselose samelewing net dit produseer wat hulle self benodig en mekaar ondersteun.

Marx het Hegel se dialektiese geskiedenisbeskouing vir die teorie van historiese materialisme aangewend. Die geskiedenis word volgens Marx gekenmerk deur die stryd tussen klasse oor materiële behoeftes, nie oor idees en ideale nie. ʼn Primitiewe stelsel word deur ʼn meer gevorderde een oorwin en diegene wat beheer oor die produksiemiddele het, wen altyd. Alle instellings soos howe, parlemente, die kerk, wette, selfs die kultuur, is net geskep om die beheer van die besittersklas oor die armes te versterk.

Karl-Marx

Karl Marx (Foto: En.wikipedia.org)

In Marx se idee van die historiese fases was daar eers die primitiewe stamstelsel van die oertyd, vervang deur die stelsel van slawerny soos wat dit in die vroeë antieke tyd bestaan het, vervang deur die antieke stadstelsel (Griekse en Romeinse beskawing), vervang deur die feodale stelsel van die Middeleeue tot die kapitalistiese stelsel wat begin het in die Renaissance met die gildes en die handelshuise en wat tot in Marx se leeftyd in die vorm van die moderne nywerheidskapitalisme geheers het.

Die kapitalistiese stelsel moet deur die arm werkers oorwin word deur die stelsel van kommunisme, wat die finale stadium is en ʼn soort hemel op aarde inlui waar almal gelyk is en almal se behoeftes bevredig word. As tipiese materialis het Marx ook nie aan God geglo nie en het godsdiens as deel van die onderdrukkende stelsel gesien.

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche (1844-1900) het die denke van die 20ste eeu wesenlik beïnvloed en word ook vandag nog dikwels aangehaal. Sy denke en idees word veral deur pessimisme en nihilisme bepaal, naamlik dat daar geen objektiewe waarheid en geen objektiewe waardes is nie. Die wêreld en lewe het geen sin en betekenis nie, alles is relatief en net subjektiewe interpretasies en opinies van enkelinge. Seker die bekendste aanhaling van hom is “God is dood” as die finale afsluiting van die era van die Christendom en Christelike moraal in die Weste en die toetrede van ʼn era van goddelose ideologieë wat die grootste deel van die 20ste eeu oorheers het.

Vir Nietzsche, wat as dosent in antieke tale goed met die Griekse denke en mitologie onderlê was, is daar twee beginsels wat die wêreld en die lewe bepaal en wat hy in sy werk Die Geburt der Tragödie uiteengesit het: Die Dionisiese beginsel (na die Griekse God van die wyn en dronkenskap, Dionisies) en die Apolliniese beginsel (na die Griekse god van die kunste, Apollion). Die Dionisiese is die wilde, ongetemde, passievolle wat deur drange en die lus aangedryf word en wat dikwels vernietigend is, maar daardeur ook skeppend kan wees. Dit is die bron van alle lyding en verskrikking in die wêreld. Die Apolliniese word deur die mens as antwoord en verweer teen die bedreiging van die Dionisiese geskep en is dissipline, orde, die beskawing, kultuur en moraal.

Die Duitse filosoof Friedrich Nietzsche. (Foto: DPA/ dpa Picture-Alliance via AFP)

Die Apolliniese word egter dikwels oordryf uit vrees vir die onbeheerbare Dionisiese en lei tot die doodmaak van passie, emosie en skeppende energie. Hy pleit vir die “Dionisiese wysheid”: ons moet bereid wees om die pyn en lyding van die wêreld op te neem, waardeur ons egter ook uit die selfopgelegde tronk kan ontsnap en intense belewenisse kan ervaar en geniet. Die kultuur moet die Dionisiese gebruik en aanwend, nie doodmaak nie. Die toppunt van die Dionisiese wysheid vind hy byvoorbeeld in die musiek van Richard Wagner.

In sy latere werke, byvoorbeeld in Also sprach Zarathustra, der Antichrist en Der Wille zur Macht word Nietzsche nog meer ekstreem en formuleer gedagtes en idees soos die konsep van die Übermensch. Die mens moet volgens Nietzsche die natuurlike dryf hê om sterker as ander te word. Die onbeheerbare en grusame in die natuur, die ontplooiing van die sterkes se deugde van trots, moed, krag en selfs brutaliteit en koelbloedigheid moet onbeperk ontvou sonder die beperkings van moraal en godsdiens.

Hy was ook iemand wat die ewolusieteorie op die mens en die samelewing van toepassing gemaak het met die heerskappy van die Übermensch as die hoogste ontwikkelingsstadium wat in die slagspreuke “mag is reg” en “net die sterkes oorleef en die swakkes vergaan” saamgevat word. Nietzsche se gedagtes is in die 20ste eeu deur die Fascisme en die Nasionaal-Sosialisme opgeneem en tot gruwelike uitvoering gebring, alhoewel Nietzsche geen ideoloog of politikus was nie en dit vir hom oor onbeperkte denke, nie oor uitvoering gegaan het nie.

Hierdie artikel verskyn as deel van ‘n reeks wat handel oor die idee-geskiedenis van die mensdom. Die reeks ontleed die grootste idee-strominge wat oor die afgelope eeue die Weste soos wat ons dit vandag ken, help vorm het. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.