Geskrifte, sondes en sakramente van die staat

Deur Monica Mynhardt

Fundamentalisme is die onwrikbare vasklou aan ’n bepaalde stel onaantasbare waardes wat as fundamenteel tot ’n oortuiging beskou word.

Fundamentalisme maak gewoonlik staat op ’n baie letterlike interpretasie en toepassing van geskrifte, dogmas of ideologieë. ’n Definitiewe onderskeid tussen die “ons” en “hulle” word onderhou met ’n gevolglike klem wat gelê word op reinheid en die terugkeer na ’n ideaal waarvan die “hulle” afgedwaal het.

Aangesien die kernbeginsels verabsoluteer word, is daar geen ruimte vir teenstrydige opinies nie en ook geen ruimte vir ’n werklikheid wat daarmee strydig is nie. Hoewel die verskynsel van fundamentalisme gewoonlik godsdienstige konnotasies het, kan dit ook gewaar word in die neigings van ander groepe – soos regerings.

Nes enige fundamentalistiese geloofsoortuiging het ’n fundamentalistiese staat so ook bepaalde geskrifte, sondes en sakramente. Daar bestaan onbevraagtekenbare beginsels wat as riglyn dien waarvolgens ’n mens moet leef. Enigeen wat van hierdie beginsels afwyk, is ’n sondaar en enigeen wat ander beginsels voorstaan, ’n ketter.

Aanhangers van die plat aarde-teorie is ’n redelike ekstreme voorbeeld hiervan. Ten spyte van alle wetenskaplike teenbewyse klou hierdie samelewing steeds vas aan hul kernbeginsels en word enigeen wat verskil nie net as ánders nie, maar as fundamenteel boos beskou.

Geloof

Argieffoto

Die ANC het hul oorsprong gehad as bevrydingsorganisasie wat met bestelverandering die rol van regering ingeneem het. As bevrydingsorganisasie het hulle sterk bande met die destydse Sowjetunie gesmee vir wie hulle ook opgehemel het as ideologiese messias.

In 1927 was J.T. Gumede die eerste president van die ANC om besoek af te lê aan die Sowjetunie. Tydens die besoek het Gumede die ooreenkomste raakgesien tussen die struikelblokke van swart mense in Suid-Afrika destyds en die struikelblokke van die Russe voor hul 1917-Rewolusie.

Verwysend na die besoek het Gumede opgemerk: “I have been to the new Jerusalem. I have brought the key which would unlock the door to freedom.”

Die ANC het die kernbeginsels van die Sowjetunie pasgemaak vir die ryk wat hulle hier wou opbou. Sodoende is die Marxistiese sekte van die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) gebore. Hoewel die ANC in 1994 die regering van ’n de facto-eenpartystaat geword het, het hulle dit gesien as slegs die begin van die stryd, eerder as die einde daarvan.

Volgens hulle was die samelewing nog nie werklik vry nie. As bevrydingsorganisasie met onvervulde mandaat het die ANC geglo dat dit hul plig is om deur hul magte as regering ’n volledige nasionale rewolusie in elke liewe aspek van die samelewing teweeg te bring.

Geskrifte

Foto: bet.com

Volgens die ANC is die post-1994-samelewing steeds nie waarlik vry nie, aangesien die ekonomie en al die mag wat daarin gesetel is, steeds deur die wit minderheid besit, beheer en oorheers word. Wit monopolie-kapitaal is die onaantasbare, alomteenwoordige boosheid waaraan die ANC permanent uitgelewer is. Ten einde dié boosheid teen te staan, moet hulle dus trou bly aan hulle struggle-fundamentalisme, eerder as om bloot te regeer.

Dit is juis om hierdie rede wat radikale ekonomiese transformasie as dryfveer vir ekonomiese bevryding in die NDR só belangrik is.

Die einddoel hiervan is om ’n nasionale demokratiese samelewing daar te stel waarin:

  • Demokratiese kragte alle beduidende staatshefbome beheer;
  • Oorblyfsels van die eiendomsverhoudinge van apartheid uitgewis is; en
  • Demografiese verteenwoordiging in alle sfere van die samelewing op alle vlakke van besit, bestuur en indiensneming teenwoordig is.

’n Samelewing waarin die welvaart van die land presies eweredig aan die mense teruggegee word, is die absolute einddoel. Met hierdie einddoel wat as byna heilig beskou word, mag die staat as rewolusionêre enjin ’n absolute omverwerping ten enige koste dryf.

President Cyril Ramaphosa het oor die afgelope paar weke in talle uitsprake vermeld dat hierdie pandemie aangegryp moet word as geleentheid om opnuut die ideaal na te jaag. Hy het erken dat die ANC daarin misluk het om oor die afgelope 25 jaar hul rewolusionêre doelwitte te verwesenlik.

Hul antwoord op hierdie mislukkings is egter nie om kernbeginsels te heroorweeg nie, maar eerder om te poog om dit nou vir die eerste keer reg te implementeer.

Sakramente

ras-regstellende-aksie-race

Argieffoto

Nes in enige ander geloof het die ANC bepaalde rituele waarmee hulle lojaliteit en eer aan hul kernbeginsels betoon.

Siende dat die staat die enjin van die rewolusie is, is dit noodsaaklik dat hulle alles moontlik doen om die land in die “regte” rigting te stuur deur regulering. Regulering is sodoende nie net ’n nuttige wyse om die rewolusie te bevorder nie, maar bring ook hulde aan die beginsels van die saak.

In die nasionale demokratiese samelewing moet álles demografies verteenwoordigend wees. Swart ekonomiese bemagtiging en kwotas word geïmplementeer as bakens van lojaliteit teenoor hierdie einddoel. Aangesien dit ooreenstem met ’n kernbeginsel is dit ook nooit oneties nie, maar eerder nodig om die noodsaaklike verandering in die samelewing te bewerkstellig.

Dit is hierdie selfde ritueel wat die Renate Barnard-debakel veroorsaak het. Hierdie denkwyse het daartoe gelei dat die SAPD ’n pos vir jare ongevul gelaat het, eerder as om die enigste gekwalifiseerde persoon – ’n wit vrou – te bevorder. Hierdie rasseritueel het dikteer dat ’n wit persoon benadeel word, selfs al word geen swart persoon daardeur bevoordeel nie.

Sondes

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. (Foto: Dept of Tourism/Twitter)

In hul ongenaakbare fundamentalistiese geloof is enigeen wat van die kernbeginsels afwyk, ’n sondige verlorene wat terug op die regte pad gehelp moet word.

Dit is hierdie denkwyse wat dit regverdig om in die middel van ’n globale krisis hulp volgens ras toe te ken. Die minister van toerisme het op kritiek teenoor die departement se rassekriteria geantwoord dat besighede wat steeds in wit besit is, meer as 25 jaar gehad het om hulself te transformeer. Hiermee het sy voorgestel dat hierdie besighede nie die hulp verdien nie, aangesien hulle ná 25 jaar nog nie daarin kon slaag om die nodige veranderinge te ondergaan nie.

Sodoende word mense wat oënskynlik nie die ideale van die regering op die hart dra nie, letterlik gestraf vir hul sondes. Die regering se funderende beginsels verteenwoordig die objektiewe goeie en opponerende sienings verteenwoordig die objektiewe bose.

Enigeen wat die ANC teenstaan, is óf ’n verdwaalde gelowige óf bloot boos. Hoe dit ook al sy, diegene wat nie op die regte pad is nie, moet reggehelp word – of hulle nou wil of nie.

Alles wat die regering doen, word dus gedoen met ons almal se beste belange op die hart. Wanneer hulle diskriminerende en onderdrukkende beleid implementeer, is dit nie omdat hulle enigeen verag of verwens nie. As rewolusionêre dryfveer dink hulle werklik dat dit hul morele reg en plig is om ons op die regte pad te help.

Die ANC is sodoende nie ’n blote regering nie, maar eerder ’n geestelike leier en messias. Verskeie ANC-leiers het al opgemerk dat die ANC sal regeer tot die wederkoms. Oudpresident Jacob Zuma self het hierdie bevestig deur op te merk: “I hear people complaining when we say the ANC will rule fully until Jesus comes back, but we have been blessed. Pastors have prayed for us.”

Ons plaas hulle hoegenaamd nie in hierdie posisie nie. Daar waar ons ’n blote regering wil hê, hemel die ANC hulself met graagte op tot interim verlossers. Ongeag die prys daarvan sál hulle ons almal tot gedwonge bekering verdoem.

Dit is juis onder hierdie vaandel van verlossing wat die ANC veel meer gevaarlik is as ’n openlik onderdrukkende bestel:

“Of all tyrannies, a tyranny sincerely exercised for the good of its victims may be the most oppressive. It would be better to live under robber barons than under omnipotent moral busybodies. The robber baron’s cruelty may sometimes sleep, his cupidity may at some point be satiated; but those who torment us for our own good, will torment us without end for they do so with the approval of their own conscience.”  – CS Lewis

  • Monica Mynhardt is ‘n navorser by die Solidariteit Bewegingstrust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jaco ·

toe klein regse organisasies asook die AWB in die vroeg 1980’s al begin praat het van ‘n volkstaat. is hulle ook as “fundamentalisties” afgekraak. Het meer mense maar net toe na hulle geluister…..

Riana ·

Baie dankie vir die baue insiggewende plasing. Dit maak sin net jammer dat hulle maar net nie kan sien hulle is hulle grootste vyande is nie.

Zirk ·

‘n Briljante stuk, Monica. Presies my denke ook. Die ANC was ‘n bevrydings organisasie. Is gladnie ‘n politieke party nie, maar baie eerder ‘n SOORT geloofsoortuiging wat almal wil dwing om tot hul bose leëring te bekeer. Leiers figure wat tekens toon van “dwaling”, word verplig om hul politieke kollege in Randfontein by te woon om weer op die “regte pad”, te kom.
Daar is ‘n ongeskrewe motto nl, ANC untill death.

Jaco ·

Die ou nasionale party was maar baie dieselfde. hulle het goed gese soos “jy kan net ‘n goeie Afrikaner wees as jy vir die nasionale party stem”. En daarmee saam is lekker jobs in die staatsdiens en by groot afrikanerbesighede soos SANLAM en Volkskas gedurig uitgedeel aan lede van die Broederbond, wat die geheime “think tank” agter die nasionale party was.
Ek weet hoe die dinge gewerk het”. Ek weet hoe mense üitgewerk” is en hoe die NP en die Broederbond tot kerkrade en skoolkomitees “gelaai” het met hulle mense.
Gaan lees net die stuk oor Gideon Roos op die afrikaanse Wikipedia: briljante radioman en direkteur-generaal an die SAUG vir wie uitsaai ‘n passie was, maar hy is uitgewerk oor hy nie suiwer NP beleid oor die radio wou uitsaai nie, maar neutraal wou wees. ‘n Latere direkteur-generaal was Riaan Eksteen: ‘n diplomaat wat GEEN ondervinding van radiowerk gehad het nie. Dit was dus mos maar ook kaderontplooiing.

Jakes ·

Met die groot verskil dat meeste van die ondernemings gewerk het…..wel net tot Frikkie oorgeneem het.

marius ·

Korrek . En die sogenaamde verkramptes het dwasdeur hul skynheiligheid gesien . Daar is blykbaar niemand oor wat vir hulle gestem het nie ….

Therese ·

Puik artikel!
Dit mag effe ‘troos’ dat die ANC veel eerder CS Lewis se “robber barons” as “moral busybodies” is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.