Geslagsgeweld is grootste menseregteskending

Deur Ian Cameron

Argieffoto

Die ANC het ons land in die verkragtingshoofstad van die wêreld verander en Suid-Afrika staar nou moontlik die grootste menseregtekrisis van ons generasie in die gesig. Die ANC mag nooit die reg opeis om die vryheid van vroue, Vrouedag en Vrouemaand tydens hul bestaan ​​in Suid-Afrika te vier nie. 116 vroue se lewens word daagliks verwoes wanneer hulle verkrag word en daar is byna ’n 100%-waarborg dat geregtigheid nie sal seëvier nie.

Stel jou voor dat jy die ma van ʼn vyfjarige dogtertjie is wat verkrag en vermoor is, waarna haar liggaam in ʼn puttoilet gegooi is en jy weet dat die kans dat geregtigheid sal geskied minder as 7% is? Dit is die geval van klein Chantal Makwena (5) van Rocklands wat in Augustus 2019 wreed verkrag en vermoor is. Dieselfde verdagte wat Chantal na bewering verkrag en vermoor het, is in hegtenis geneem vir die verkragting van ʼn vrou in 2018 en was op daardie stadium uit op borgtog.

Suid-Afrika het een van die hoogste syfers van geweld teen vroue en meisies ter wêreld, en ʼn vrouemoordsyfer wat vyf keer die wêreldgemiddeld is, met ʼn geskatte 12,1 uit 100 000 slagoffers per jaar. Suid-Afrika se geslagsgebaseerde geweldstatistiek (GGG) is gelykstaande aan ʼn land waar oorlog gevoer word. 2 695 vroue word elke jaar in Suid-Afrika vermoor  ̶  dit is een vrou elke drie uur.

Dit is deur die toedoen van onbevoegde amptenare soos Bheki Cele, polisieminister, dat mans soos Nicholas Ninow in die strate van hierdie land kan rondloop. Ninow het ʼn klein sewejarige meisie se lewe vernietig – voordat dit nog kon begin – toe hy haar in ʼn restaurant in Pretoria in 2018 verkrag het. Hy is nie weens DNS-bewyse skuldig bevind nie, maar is op heterdaad betrap.

Tydens die parlementêre debat oor die agterstandkrisis rakende DNS-monsters in 11 Mei vanjaar, het Cele bevestig dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) reeds oortyd implementeer om die agterstand van 208 000 sake op te klaar. “Ons doel is om 40% van menslike hulpbronne te gebruik om die agterstand aan te spreek, en 60% van die personeel sal nuwe sake hanteer,” het Cele gesê. Dit is nou drie maande later en die agterstand het die 300 000-kerf verbygesteek, wat bewys dat Cele nie sy mandaat vervul en die SAPD ook duidelik nie in hul mandaat slaag nie.

Suid-Afrika het die afgelope jaar sy plek as die verkragtingshoofstad van die wêreld gehandhaaf, met ongeveer 132 voorvalle per 100 000 mense. In 2020 was Tshegofatso Pule, Naledi Phangindawo, Alexia Nyamadzawo, Nolundi Dondolo en vele ander die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en is hulle wreed vermoor.

Meer as 300 000 slagoffers van geweld in Suid-Afrika word van geregtigheid ontneem deur ʼn korrupte wetstoepassingsgroep wat nie kan verseker dat basiese forensiese prosedures afgehandel word nie. Hoeveel kinders soos Chantal moet nog verkrag of vermoor word sonder hoop op beskerming of geregtigheid?

In Junie 2020 het Cele die nuwe DNS-toesigraad aangestel wat betaal word om die agterstand van die DNS-monsters in Suid-Afrika uit te sorteer, maar hulle het nog slegs een keer vergader sedert hulle aangestel is. Hoe slaap jy snags, wetende dat jou mislukte toesig net nog meer slagoffers van geslagsgebaseerde geweld, en spesifiek verkragting, van geregtigheid ontneem?

Suid-Afrika word met ʼn pandemie veel groter as Covid-19 gekonfronteer, naamlik geslagsgebaseerde geweld. Die ANC doen homself voor as ʼn regerende politieke party, maar is eintlik ʼn kriminele mafia wat staatsinstellings beroof. Onder die sogenaamde leierskap van mense soos Cyril Ramaphosa, Jacob Zuma, Cele, Khehla Sithole, Jackie Selebi, Nathi Nhleko en Nathi Mthetwa, het die ANC medepligtig geraak aan die geslagsgebaseerde geweldpandemie wat Suid-Afrika in die gesig staar.

Daar is net een rede hiervoor: Die regering word deur ʼn intellektueel korrupte organisasie gelei wat die grootste kriminele netwerk geword het wat Suid-Afrika nog ooit gesien het. Wetstoepassingsinstansies is vir politieke gewin deur die ANC gekaap; hulle misbruik hierdie liggame om te verseker dat geregtigheid nooit sal seëvier nie. Nie een van die beloftes wat Cele tydens sy ampstermyn as minister van polisie gemaak het, is nagekom nie; in werklikheid is daar nog, terwyl ek hier skryf, verdere agteruitgang.

Ian Cameron.

Ramaphosa behoort hom te skaam omdat hy met ʼn minister soos Cele omgaan – ʼn minister wat die polisie begin vernietig het toe hy sowat ʼn dekade gelede as nasionale polisiekommissaris aangestel is. Cele is ook deur ʼn hof onbevoeg vir sy amp bevind toe hy die nasionale kommissaris was.

Mbali Shongwe, ʼn verkragtingslagoffer, vertel die waarheid oor die mislukking van die Suid-Afrikaanse regstelsel. Nadat sy haar saak aangemeld en deur al die nodige kanale gegaan het, is die saak uit die hof gegooi. Daar is vir haar gesê daar is ʼn gebrek aan bewyse, maar na verdere ondersoek het sy agtergekom dat geen van die bewyse opgevolg is nie. Die kringtelevisiebeeldmateriaal was perfek geposisioneer om haar verkragting af te neem, maar is nie eens deur die speurders nagegaan nie. Die SAPD het ook geweier om haar aanvaller in hegtenis te neem ondanks die bewyse wat sy aan hulle verskaf het.

“Dis nie net my verkragter wat my wou stilmaak nie, maar ook die stelsel wat bedoel is om my te beskerm. Die vroue van Suid-Afrika is moeg. Wat ons daagliks in die gesig staar, is ʼn plaag wat ons nie meer kan ignoreer nie. My verkragting het my onherroeplik verander, maar ongelukkig vir my verkragter en die regstelsel wat my in die steek gelaat het, het ek sterker aan die anderkant uitgekom. Ek sal nie stilbly nie. Totdat iemand luister en die stelsels en kultuur verander, sal ek aanhou veg vir die geregtigheid wat ek en soveel ander vroue verdien,” sê sy.

Hoeveel meer vroue moet sterf aan die hand van hul genadelose en gewelddadige moordenaars? Wanneer is genoeg, genoeg? Hoe kan die regering dit regverdig om die begroting vir BBP-beskerming met R26 miljoen te verhoog terwyl kwesbare vroue en kinders in ons gemeenskappe blootgestel en onveilig bly?

Die verkragtingshoofstad van die wêreld word met trots geborg deur die ANC.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Vind asb ‘n manier om hierdie artikel in die breer media en in ander tale geplaas te kry – hierdie boodskap moet uitgedra word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.