Geslagsgeweld-oorlog nooit gewen met SAPD-ANC-romanse

Deur Ian Cameron

Ian Cameron.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is omskep in die politieke ystervuis van die ANC, en die voortdurende stryd teen geslagsgebaseerde geweld in die land sal glad nie verbeter sonder die beëindiging van hierdie ANC-romanse nie.

Die aanstelling van ’n ander nasionale kommissaris is beslis nie die enigste antwoord op die vele probleme in die SAPD nie, aangesien byna elke kommissaris die afgelope twee dekades op een of ander manier met korrupsie of ander kriminele aktiwiteite verbind is. Veel meer indringende en deursigtige werk sal nodig wees om werklik volhoubare verandering by die land se wetstoepassingsliggaam aan te bring.

Situasieverslag

Vertroue in die SAPD is op ’n allemintige laagtepunt, terwyl gemeenskappe reg oor die land meestal weerloos gelaat word as hulle hulself nie in goed opgeleide gemeenskapsveiligheidstrukture organiseer nie.

’n 17-jarige veroordeelde reeksverkragter is verlede week tot 30 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die seun was net 15 jaar oud toe hy drie seuns, tussen agt en tien jaar oud, in afsonderlike gevalle in 2020 in die Katlehong-omgewing verkrag het. Daar word geglo dat die tiener die jongste opgetekende reeksverkragter in die geskiedenis van Suid-Afrika is.

Minstens was daar hierdie keer ’n skuldigbevinding. Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad eindig slegs een uit elke 12 sake in ’n skuldigbevinding, en dit is dié wat wel die hof haal. Met meer as 150 gerapporteerde verkragtings, dui die navorsingsraad verder aan dat slegs 8,6% van alle sake in ’n skuldigbevinding vir ’n seksuele misdryf eindig.

Een van die ontstellendste statistieke deur die raad is dat minder as een uit elke vyf sake wel verhoor word. Dit is belangrik om te onthou dat slegs een uit nege verkragtings na bewering in Suid-Afrika aangemeld word. Stel jou voor wat die totale syfer eintlik is.

Verskeie faktore beïnvloed die kwynende openbare vertroue in die SAPD: gebrek aan reaksie; korrupsie; die gebrek aan aanspreeklikheid; ondoeltreffendheid in die hantering van misdaad en ’n groot kwessie  ̶  die gebrek aan etiese en bekwame leierskap binne die SAPD. Die SAPD is ’n organisasie wat se kerndoelwit moet wees om burgers te dien en te beskerm, en tans faal hulle klaaglik op verskeie vlakke

Die absolute vernietiging van die SAPD se ondersoekvermoë, sukses, bekwaamheid en vordering het daartoe gelei dat aanklaers byna die helfte (46,3%) van sake wat hulle inskryf, onttrek voordat die verhoor begin. Onthou dat sodra misdaad ondersoek moet word, dit reeds plaasgevind het, terwyl heelwat kriminele dade voorkom kon gewees het voordat dit plaasgevind het as misdaadintelligensievermoë doeltreffend gefunksioneer het. Die gevolg hiervan is dat in die steekproef van sake wat by die onlangse studie deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad ingesluit is, slegs 18,5% van die sake verhoor is.

Wat nodig is vir suksesvolle hervorming

Lt.genl. Fannie Masemola, nuwe nasionale polisiekommissaris, moet kies of sy lojaliteit daarby lê om gemeenskappe in Suid-Afrika te beskerm en te dien, of by die ANC. As Masemola kies om die ANC se politieke inmengingsmodel in die SAPD te ondersteun en na die pype van Bheki Cele, minister van polisie, dans, sal duisende der duisende meer vroue en kinders die slagoffers van seks- en gewelddadige misdadigers word.

Hierdie, en ander skrikwekkende misdaadstatistieke, bewys dat daar geen vrees vir die huidige regstelsel in Suid-Afrika bestaan nie en dat ’n morele strikvraag die land in die gesig staar wat deur die ANC gelei word.

Masemola sal baie hard moet werk om die geloof van die Suid-Afrikaanse publiek terug te wen.

Hier is ses basiese aksies wat die suksesvolle hervormingsproses van die SAPD kan begin:

  1. Vaardigheidsoudits van alle senior polisielede, ook provinsiale en afdelingskommissarisse en adjunkkommissarisse;
  2. Poligraaftoetsing op alle senior polisielede om korrupsiebetrokkenheid te bepaal;
  3. Verhoogde hulpbronbeskikbaarheid vir kundige misdaadintelligensie-ontwikkeling in die SAPD;
  4. Herimplementering van die SAPD se reserviskapasiteit;
  5. ’n Intensiewe SAPD-vuurwapenoudit deur ’n eksterne paneel van private firmas; en
  6. Herbelegging in spesialiseenhede, spesifiek forensies, vir die polisie.

Slagoffers van geslagsgebaseerde geweld en families van vermoorde vroue en kinders verdien geregtigheid en terselfdertyd moet ons meer as ’n samelewing doen om verdere morele agteruitgang te voorkom. Voorkoming is eenvoudig beter as genesing.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack ·

As hulle maar net die hervorming in die polisie kan deurvoer.Lt.genl. Fannie Masemola is deur die ANC aangestel so hulle sal beslis wil hê dat hy saam met hulle moet dans.Ek verwag geen verandering of verbetring in enige vorm by die SAPD nie.Alles gaan maar net soos voorheen aangaan.

Anel ·

Die polisie is veronderstel om A polities te wees. Nou is alle aanstellings slegs vir ANC kaders, selfs nuwe rekrute. As jy nie kan bewys dat jy ‘n lid van die ANC nie, kan jy maar vergeet om polisieman te word. Hulle is veronderstel om alle burgers te beskerm en te dien, maar dit gebeur nie en sal ook nie gebeur nie solank as wat die ANC regeer nie.

Marthinus W ·

Om polisieman/vrou te wees is nie n gewone 9to5 werk nie; dis n roeping. Nie almal is geroep om dit te doen nie. Jy is eintlik 24/7/365 aan diens, want al is jy af, kla die buurvrou oor haar man, of oor die buurman se honde wat blaf. As daar n probleem in die straat is, word verwag dat jy dit moet oplos, want jy bly mos daar.

Dus: daar moet ook na die psigologiese aspek van rekrute gekyk word. En, hoeveel polisielede is tegnies gesproke alkoholiste? Dit is nie n verskoning nie, maar hulle beleef ontsettend wrede en steurende dinge daagliks. Geen normale mens kan dit uithou nie. Daar moet ook berading vir hulle wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.