Gesoek: georganiseerde terugkeer na Mandela-dinamika

Dit was net so jaar na die begin van die nuwe Suid-Afrika. Eric Miyeni het ʼn klein rolletjie gehad in ʼn Amerikaanse aksiefliek, “Danger Zone” met Billy Zane en Robert Downey Jr. wat in Suid-Afrika geskiet is. My vrou was die assistent-regisseur op die produksie – die een wat moes sorg dat al die logistiek reg loop. Aan die einde van die dag se filmsessie het sy heel vriendelik aan Miyeni verduidelik dat die vervoer eers die hoofakteurs na hul bestemmings sal neem en daarna ander soos hy. Dis toe dat hy haar toesnou: “You f****** white bitch!

Eric Miyeni

Wat hy nou gedoen het om Ferial Haffajee ʼn swart slang in die gras te noem wat in die jare van die bevrydingstryd ʼn brandende buiteband om die nek sou kry, is duidelik maar net ‘n voortsetting van sy rassisme.

Mense soos hy en die ANC-jeugliga-leier, Julius Malema, is ongetwyfeld bitter teleurgesteld oor hoe die land se politiek en werklikhede ontvou het. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het al gepraat van ʼn poel van veral jong swartmense van by die drie miljoen wat deur die krake van die onderwysstelsel geval het en nou doelloos ronddryf, sonder werk en sonder hoop. Dis ʼn uiters gevaarlike situasie.

(Dis in ‘n groot mate presies wat dié week in Brittanje gebeur het. Die verskil is net dat die verdelingslyne in ons land dieper en wyer loop… en daarvan is ras een van die ergstes).

Dis Malema se mense – die soort mense wat uit verstaanbare frustrasie en wanhoop makliker vatbaar is vir die simplistiese verhoogspraak waar alle oorsake van ellende lukraak op die witman se brood gesmeer kan word. Die strategie is eenvoudig: pak die skuld op die witman, sê hom sleg, breek sy mensheid af, berei die grond voor vir geweld (soos grond-afvat – want dit sal nie op ʼn ander manier kan gebeur nie) en hou die swart jeug se emosies hoog sodat hulle makliker in so ʼn opgesweepte bui wilde dinge sal kan doen.

Net na die verkiesing in ’94 het ek Thabo Mbeki probeer oorreed dat ʼn aktiewe projek geloods moet word om rasseverhoudinge te bou. Hy het nie belanggestel nie. Gelukkig het Mandela op sy eie wel so ‘n projek gehad. Sy fyn beplande bestuur van die opbou na die ’95 rugby-wêreldbeker om nasiebou te versterk, is welbekend.

Maar hy het eintlik ʼn dieper dryf gehad as bloot net nasiebou. Hy was van nature ʼn leier wat die swere van die verlede wou heel en alle burgers wou rig na ʼn nuwe ingesteldheid om mekaar as mense te aanvaar en te ondersteun. Ek het genoeg persoonlik met hom te doen gehad om dit te kon ervaar. Ongelukkig was die dinamika gesentreer rondom hom as persoon. Dit was nogtans die regte aanslag.

Met sy uittrede was daardie ingesteldheid natuurlik daarmee heen. Persoonlik glo ek rasse-verhoudinge is nou slegter as in enige tyd vanaf die begin negentigerjare. Dit het agteruit gegaan omdat daar nie aktief gewerk is aan die uitbou daarvan nie. Trouens, Mbeki self het met sy neerhalende uitsprake oor die ryk eerste wêreld (bedoelende witmense) die grense van toleransie verder help afbreek.

Onder president Zuma het dit aanvanklik gelyk of hy ʼn verbetering sou wees. Hy het met Afrikaanse groepe in ʼn heel gemoedelike bui gepraat. Maar hy het toe niks positief gedoen om mense nader aan mekaar te bring nie. Meer nog, hy het sonder om ʼn ooglid te verroer al by verskeie openbare geleenthede bly sit terwyl medesprekers, soos Malema, afbrekende uitsprake gemaak het (soos die een dat witmense misdadigers is omdat hulle swartmense se grond sou gevat het).

Tog ervaar ek daagliks baie positiewe interaksies met swart en bruinmense. Net verlede week het ek na vele jare weer die kans gekry om met minister Gugile Nkwinti van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming te gesels. Hy het my nog altyd beïndruk as ʼn rustige beredeneerde mens. Ons span is met die grootste vriendelikheid en gasvryheid ontvang. En hy het nie geskroom om sterk standpunt in te neem teen die uitlatings van Malema nie.

Vroeër het ons ʼn program opgeneem oor inter-ras aannemings. Ons het twee van die wonderlikste mense ontmoet. Die een, Richard, het as wesie na etlike jare van swerf en terugslae uiteindelik by ʼn Joodse gesin beland wat hom aangeneem het. Hulle het hom groot gemaak sonder vooroordeel. Uiteindelik het hulle hom teruggegee aan die kinderhuis omdat hy as jongeling op die Kaapse vlakte hande uitgeruk het. Maar steeds het die indruk wat sy wit Joodse gesin op hom gemaak het, soveel beteken dat hy nou ʼn sukses van sy lewe kan maak. En hy sien nie kleur nie.

So ook met ʼn jong swart meisie wat by ʼn Afrikaanse gesin grootgeword het. Sy praat vlot Afrikaans, sy is pragtig en ʼn innemende mens. Sy het deurgaans ook bande behou met haar swart familie. Sy verteenwoordig ʼn nuwe geslag van burgers wat bloot as Suid-Afrikaners leef en wil leef – sonder die drek van die ras-ding wat nog om meeste van ons se nekke hang.

Na alles word ras in elk geval net bepaal deur 0,1% van die mens se gene-samestelling. Hier is ʼn aanhaling uit die artikel Race and the Human Genome wat in Science verskyn het:

“Scientists studying the human genome announced recently that their investigation of the human genome data concludes that the DNA of human beings is 99.9 percent alike, meaning that no matter what the colour of our skin, when you look at humans on the genetic level, we are indistinguishable from one another.”

“The power of science can be used to eliminate public perceptions of racial superiority and inferiority, which are the basis of racism itself. In this way, the mapping of the human genome could be pivotal in promoting the concept of one race, the human race.”

En:

“DNA studies do not indicate that separate classifiable subspecies (races) exist within modern humans. While different genes for physical traits such as skin and hair colour can be identified between individuals, no consistent patterns of genes across the human genome exist to distinguish one race from another. There also is no genetic basis for divisions of human ethnicity.”

Maar tydens apartheid is ras verhef tot 99% belang – en so doen Malema ook deesdae,  en ander soos Myeni. En weer word dieselfde foute gemaak om ras te verhef tot iets wat kamstig belangrik sal wees. Daarby is dit nou ook oor en oor bewys dat die menslike spesie almal van Afrika kom. Sommiges wat later wit geword het, het so ongeveer 80 000 jaar gelede uit Afrika begin na die uithoeke van die aarde versprei. Eintlik is ons dus maar almal swartmense wat eens op ʼn tyd in Afrika gebly het.

Wat nou nodig is, is dat ons almal die feite van die wetenskap begin erken en verby ras leef. Dis dringend noodsaaklik dat ons almal begin om aktief teen rassisme op te tree – in ons daaglikse lewens, in omgang met ander, by die werk, by die huis, in ons sosiale lewens – oraloor.

Persoonlik dink ek dis so ʼn groot projek dat dit vanuit die president se kantoor bestuur moet word. Vroeër het die veldtog vir morele herlewing in die presidensie gesetel, maar weinig het gebeur. Dis tyd dat dit opnuut weer aandag kry. In wese moet ons almal as Suid-Afrikaners ons verbind tot ʼn paar waardes – die soort waardes wat in elk geval opgesluit is in ons grondwet: respek vir almal, gelykheid, menswaardigheid, mededeelsaamheid en meelewing.

Dit dien geen doel as witmense handewringend vol skuldgevoelens in hoekies gaan sit en hulleself met as bestrooi weens die apartheidsverlede nie. Sulke optrede doen ook afbreuk aan die menswaardigheid van witmense  – terwyl ons juis wil hê dat die menswaardigheid van almal erken en uitgebou moet word. So ʼn waardegedrewe veldtog vir nasiebou (en ontrassing) kan bes moontlik deur Trevor Manuel en sy beplanningskommissie aangevoer word. Maar een ding is seker: iemand moet dit dryf op baie hoë vlak. En verder af behoort daar in elke maatskappy of openbare instansie asook privaatmaatskappye sulke veldtogte te wees wat aansluit by die nasionale projek.

Ook in veral Afrikaner-geledere moet ʼn hartgrondige verandering in ingesteldheid kom. Dit help nie om so te veg vir eie regte dat jy jouself vervreem van die hoofstroom nie. Natuurlik is kultuur en taal van belang en moet dit beskerm word. Maar op die ou einde is dit belangriker om jou eie mensheid te bewaar en daarmee saam ʼn rol te speel in die mensheid van almal anders rondom jou. Laat ons maar blatant eerlik wees: Die gemiddelde Afrikaanse persoon het veel  meer in gemeen met mense soos Mac Maharaj, Valli Moosa, Tokyo Sexwale, ʼn Gugile Nkwinti en dies meer as met Malema of die verkenners wat prof. Van Niekerk na bewering aangeval het. Want mense soos Maharaj en andere deel dieselfde basiese waardes, wil ook in rus en vrede in ons mooi land saam leef en die geleentheid hê om ʼn eie lewe te maak. Om te kan sorg vir jou gesin, om deel van ʼn breër gemeenskap te wees, om deel te wees van ʼn gemeenskap.

Ons moet terugkeer na die Mandela–dinamika, maar op ʼn meer georganiseerde manier. Ons sit op ʼn tydbom. Die woede van die gefrustreerde, werklose jongmense kan enige dag uitbars – veral as dit so kwistig aangewakker word deur Malema. Soos in Rwanda kan die haatspraak tot afskuwelike geweld lei.

Dr. Theo de Jager van AgriSA sê nou die dag dat kommersiële boere die moue sal moet oprol en betrokke raak by opkomende boere om hulle te laat slaag. Maar so geld dit vir elkeen van ons op welke terrein van die lewe ook al. Elk sal betrokke moet raak. Die alternatief is chaos.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Freek Robinson

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is TV- en radio-aanbieder en algemene uitsaaimediakundige. Hy tree gereeld op as fasiliteerder of konferensievoorsitter en is tans aanbieder van die Afrikaanse eNuus op kykNET.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Petrus ·

Kan ons verskeidenheid dalk ons gemene deler wees? As ons mekaar vind op grond van ons uniekhede, in plaas van op ‘n onnatuurlike nasiebou idee, kan ons veel verder kom.

Anoniem ·

Hierdie soort naïewe terug hunkering na die belofte van ‘n reënboognasie deur die neo-verkramptes is verbasend. Mens sou dink dat die realiteite oor die afgelope 17 jaar  hierdie miete en die moontlike haalbaarheid daarvan reeds  by uitstek onmoontlik verklaar het. Daar kan maar slegs tot een gevolgtrekking gekom word, die reënboog is terminaal en nie eens die afgod Mandela se toorkuns (magic) sal hom kan red nie. Om steeds van te klou aan die “droom”  van ‘n reënboognasie, is dagdrome van ‘n verlede wat nooit bestaan het nie. Die reënboogdroom, is immers niks anders as ‘n nagmerrie. Daar kan nie langer in die verlede gelewe word nie.  
 
Dit is tyd vir ‘n toekoms visie. ‘n Toekoms visie gebou op die realiteite van die hede en nie lugkastele en drome oor wat kon gewees het nie. Die realiteit van die hede is dat die swart jeug, waarvan Malema die leier en held is, haat blankes bloot omdat ANC politici blankes voorhou as die versinningsbeeld van alles wat verkeerd is in Suid-Afrika.   Veral deur die volgehoue ongekwalifiseerde veroordeling van apartheid vir alles wat verkeerd is met spesifieke klem op die leuen dat blankes deur die eeue swart mense in SA besteel het. Gevolglik maak Malema en sy volgelinge nie onderskeid tussen Apartheid en blank nie, ook nie tussen Abel Malan en Tim du Plessis nie en nog minder tussen die Verkenners en Afriforum.
 
Die realiteit van die hede is, dat Malema en sy Impi’s, die produk is van die miete van die reënboog Suid-Afrika, want aan hulle verwagtinge is nie voldoen nie en die skuld word gepak op die skouers van die witman. Daarom is daar sinnelose moord aanvalle op onskuldige drie jarige wit kinders. Daarom word weerlose oumense se vingers met snoeiskêre afgesny, daarom sing Malema “kill the Boer” en daarom wil Malema alles wat aan die witman behoort nasionaliseer. Of jou van du Plessis of Geldenhuys is, dit maak nie saak nie. Jy is wit, daarom het jy skuld aan Apartheid en daarom moet jy bloei vir wat NOU verkeerd is.
 
Vir ‘n witman soos Van Niekerk om op die propaganda wa te spring en blankes se sogenaamde “kollektiewe skuld” aan Apartheid te verkondig en te veroordeel, is gevaarlik en kan binne die swartman se verstaan van Apartheid, beskou word as aanhitsing tot volksmoord, in dieselfde sin as Malema se “kill the Boer”. Enige vredeliewende mens moet en sal in opstand kom teen sulke gevaarlike uitsprake, want menselewens is belangriker as vryheid van spraak.   
 
Die realiteit van die hede is, die witman in Suid-Afrika is op geleende tyd. Die prysenswaardige weerstandsaksies wat Afriforum dryf, koop slegs tyd, maar in die langtermyn stel dit slegs die kwade dag uit. ‘n Sikofante houding van Afrikaner vernedering soos deur van Niekerk, vererger die situasie deur dat dit regverdiging van die vernietiging van die Afrikaner te weeg bring.
 
Die enigste positiewe langtermyn oplossing, is territoriale selfbeskikking vir die Afrikaner, in ‘n eie begrensde grondgebied. Laat ons dus ophou om in die verlede te leef, onrealisties drome te droom en eerder werk aan ‘n positiewe, realistiese, toekoms gedrewe oplossing. Selfbeskiking.

Ben Geldenhuys

Anoniem ·

Ons benodig nie ‘n nasiebouprojek uit die kantoor van die president om Suid-Afrika veilig, vreedsaam en voorspoedig te maak nie.

Al wat ons kort is ‘n regering wat sy werk doen.

‘n Regering wat aan die armes dienste lewer, wat infrastruktuur ontwikkel, kwaliteit opvoeding lewer, werkskepping bevorder, wet en orde handgaaf en verwagtinge bestuur.

By gebrek aan bogenoemde kan ons maar net doen wat ons kan.

Kultuur-, geloof-, ras- en taalverskille (die boustene van etnisiteit) is dalk nie ‘n produk van die wetenskap nie, maar wel ‘n produk van menswees.  As sulks is dit net so deel van die werklikheid as enige element op die periodieke tabel.  Om dit te verwens is nie realisties nie.

Daar is geen rede waarom die bevordering van eie regte strydig hoef te wees met versoening nie.  Orania stel as voorbeeld hoe die een gedoen kan word terwyl die ander nie nagelaat word nie.

Propatria ·

Freek;
1. Jy se dat rasse met een duisendste verskil? Ek gee jou gelyk, maar ek moet ook byvoeg dat die samestelling baie wyd is, jy het nie bygevoeg dat alle soogdiere ook seker sowat 95% gelyk is nie (Gee maar die korekte syfer asseblief) Dus is n Koedoe net seker sowat 5% verskilend van jou af?
Jy moet ook in ag neem dat DNA letterlik derduisende aspekte bevat, as jy dus praat van 100 000 items wat ondersoek word sou 0,1% neerkom op 100 DNA verskille
Moet jou nie laat mislei deur slimjan stories nie.

Weet jy iets van teling af?
Twee beeste is altwee beeste, maar die een is n melkbees en die ander n vleisbees, Hoe naby is hulle DNA?

As jy met groente teel dan loop jy elke dag deur die aanplanting en merk die plantjies wat jy van hou (Inpas by jou beplande eindproduk) en jy kies uit (diskremineer) en so laat jy dan weer die wat jy die saad van geoes het weer voortplant om jou unieke doel te bereik met jou teelproses. Na so paar keer het jy n produk met unieke eienskappe, maar DNA toetse sal steeds bepaal dat dit die selfde plant is as waarmee jy begin het.
Jy kan jou diskreminasie baseer op enige iets; smaak, voorkoms, siekte weerstand ens ens.

Deur die eeue het elke volk sy eie unieke karaktereienskappe verbeter deur teling, dus kan ek jou vra wat is die eienskappe van n Jood? Of wat is die eienskappe van n Duitser, of wat is die eienskappe van n Italianer (Ons kan laasgenoemde nog verder afbreek in Noord en Suid), ek kan jou verseker dat die DNA foefie net onkundiges sal oortuig.

2. Mens kry slimjanne en wyse manne, die wyse manne baseer hulle stellings op kennis (terloops kennis kom uit ondervinding, of jou eie of iemand anders sin) Slimjanne baseer hulle stellings op hipoteses en wensdenkery.

Uit ondervinding (kennis) het ons geleer dat die resep vir goeie buurmanskap n behoorlike heining is (sodat Giepie se koeie nie my mielies moet kom eet nie) en so is dit ook tussen volke en nasies, hierdie gaan nie nou oor ras nie, die hele europa is vol grense en hulle is grootliks van een ras.

Wanneer sulke heinings tussen volke afgebreuk word volg dit wat jy nou waarneem.

3. Ons oplossings le dus nie by intergrasie (soos jou vertelling van die aanemings oor kleurgrens nie) maar by wedersydse respek, gaan lees gerus die Boere geskiedenis, dan sal jy sien dat die Boere Republieke n gesonde benadering gehad het en die Britte nie, die Boere het die gesag van die Stamkapteins erken en gerespekteer, die Britte het die Afrikane tot ‘Subject of the Queen’ verklaar en dit was die oorsprong tot vele probleme.

Ek het begrip vir ander, en gun elkeen wat ek myself gun, en dit is om te mag lief wees vir my eie naaste en nie gedwing word om my verste te moet liefhe nie. Dink jy jy kan dit oor jou hart kry om my wens te respekteer?

Theo de Jager ·

Freek is reg. Hy praat nie die korrupsie, wanbestuur en veral die roekelose mistasting in die manier hoe die huidige ANC-leierskap regstellende aksie toepas, goed nie. Dit is juis daardie dinge wat ons Afrikaners se lewe in ons geboorteland ondraaglik maak. Hy se bloot dat die probleem nie so enkelvoudig  soos swak regering of swak leierskap is nie. Dit is die een kant van die storie van Suid Afrika. Ons is die anderkant daarvan, en het net soveel werk om te doen om tot oplossings te kom.

Ek is ‘n 10de geslag Afrikaner, ons familie is in 2012 al 320 jaar hier. Ek is soveel deel van hierdie kontinent en hierdie land as enige ander individu wat ook daarop aanspraak maak. Maar dit gaan oor meer as dit. Ek HOU ook van Afrika, met al sy unieke uitdagings, sy karakter, sy mense en sy onvolmaakthede. Ons Afrikaners was nog nooit alleen hier nie, en ek het ook geen behoefte om geïsoleerd  van ander  Afrikane hier te leef nie. Hulle bedreig op geen manier my identiteit of kultuur nie, inteendeel, dit het juis hier tussen hulle ontwikkel.

Om omgekeerde diskriminasie, wanadministrasie, onbevoegdheid en swak regering of dienslewering as ‘n struktuurfout van post-apartheid Suid-Afrika te sien, en daarom óf te wil weghardloop, óf jouself te wil onttrek en laer te trek, is soveel ‘n mistasting as om rassisme en uitbuiting as ‘n inherente kenmerk van Afrikaners te beskou. Soos apartheid, is dit die brandmerk van ‘n ongelukkige fase in ons geskiedenis, wat sal oorgaan. Elders in Afrika, soos in Mosambiek, Zambië en Kongo Brazzaville het dit al grootliks verbygegaan.   
Tobias Doyer van Santam vertel die storie van ‘n beduiwelde bankbestuurder wat die skuldsituasie van ‘n plattelandse boeregemeenskap moes kom uitstryk. Hy het almal se teuels ingetrek, en elke jaar meer sekuriteit geneem en minder uitgeleen. Na ‘n paar jaar is hy hoofkantoor-toe bevorder, en het die boerevereniging vir hom ‘n afskeid gereel. Toe die ou voorsitter ‘n heildronk instel, roep hy uit “We have outlived the bastard!”
Dit is ons uitdaging: ons moet hierdie fase van ons geskiedenis oorleef, en so ver as moontlik daarin ‘n fondasie skep vir ‘n beter bedeling.   

Anoniem ·

Theo,
 
Jy stel dat ons kultuur nie bedreig word nie.
 
Die afname in opleiding wat in Afrikaans beskikbaar is in skole, tegniese kolleges, technikons en universiteite is seker of ‘n versinsel of het niks met die ANC-regering en ons afhanklikheid daarvan te make nie.
 
So ook Afrikaans se uittrede uit die howe, hospitale, vaktaal, nasionale wetgewing wat geproklameer word, proefskrifte wat nagesien word en werksgeleenthede.
 
‘n Mens moet maar vir ‘n baie beperkte kulturele ervaring vra indien jy nog nie kon agterkom dat ons kultuur sy eko-sisteem verloor nie.
 
Ek meen dat diegene wat slegs ‘n behoefte vir ‘n kombuistaal het sekerlik kan reken dat ons kultuur bloei.
 
Selfs FW de Klerk se stigting meen dat ons inheemse tale meer beskerming en bevordering benodig.
 
“Ons” gaan baie beslis nie “hierdie fase van ons geskiedenis oorleef” indien “ons” net juig en hoop dat die van ons wat wel in bevoorregte posisies is daardie bevoorregting sal kan behou indien ons net genoeg nasiebou nie.  Om nie te praat van die mindergegoede Afrikaners wat deur hierdie proses onder ons eie voete stukkend getrap word nie.  (Hoewel hierdie kommentaar van my slegs geldig is indien ons aanneem dat die “ons” waarna jy verwys, “ons as Afrikaners as kollektief” bedoel en nie slegs “ons ryk boere” nie.)
 
Niemand vra vir isolasie in of van Afrika nie. 
 
Wat wel gevra word is dat Afrikaners en alle ander mense wat hulself met Afrika deur hul kulture vereenselwig, self verantwoordelikheid neem om hul toekoms in Afrika te verseker.

Anoniem ·

Die transformasie van die Suid-Afrikaanse staatsdiens is eers gedurende die Mbeki presidentstermyn voltrek.

Madiba het daarom wel ‘n effektiewe staatsdiens tot sy beskikking gehad.

Hoe groot was die rol en invloed van effektiewe dienslewering tydens sy presidentstermyn en tot watter mate het dit bygedra om die gees van versoening te laat leef?

Ek vermoed dat daardie rol wesenlik was en dat  effektiewe staatsdiens ‘n voorloper vir hernude versoening sal wees. 

Mense raak baie vinning positief wanneer dinge gebeur en ‘n gevoel op grondvlak geskep word dat ‘n land vooruit gaan.

Maar om net te versoen terwyl daar ernstige diensleweringstekorte bestaan is om ‘n pleister oor ‘n kanker te plak.

Kan versoening egter tot beter dienslewering lei? Dit is ‘n vraag wat meer aandag benodig.

Jorik van Suid-Afrika ·

Baie dankie vir die opklaring van die rassevraagstuk Freek. Nou weet ons die verskil in prestasie tussen Eskimos, die Pigmies en Boesmans, die Somalies, Zoeloes, Rooi Indiane, Arabiere, Duitsers, Japannese en die Sjinese is suiwer toe te skrywe aan klimaatsfaktore en miskien dit wat mense elke dag eet. Daar is, as ons jou en die Genoom-genootskap se woorde moet aanvaar, nie eintlik iets soos erflikheid  nie, en dus ook nie iets soos ras nie. Net jammer van die velkleur wat oorgebly het. Vreemd genoeg. Op ernstiger noot: daar is ‘n verskil tussen verhoudinge tussen indiwidue op persoonlike vlak (mens tot mens), en hoe volke en kulture en rasse teenoor mekaar te staan kom. Kleur/rasblindes (soos Freek en die Genoom-genootskap) projekteer mooi verhoudings tussen individue van die private ruimte na ‘n politieke toneel waar die goedgesindheid ongelukkig NIE bestaan nie. Freek, jy gee dit toe in jou verhaal van Mandela wie se persoonlike aanslag anders was as Mbeki en die res van sy gevolg. Kom ons herinner ons ‘n slag daaraan dat Nelson Mandela vir agt jaar geen woord sprak oor die halssnoermoorde waarvoor Winnie Mandela (sy destydse wederhelfte as mense vergeet het) so ‘n sterk voorspraak gemaak het. Waar was die menslikheid toe? Miskien het Freek dit raakgesien en kan hy ons nou beter inlig. Veral nou dat ons so seker is oor die “gelykheid” van alle mense. 

Anoniem ·

Freek, Mandela dinamiek was ‘n ingesteldheid
om te bou en nie af te breek nie.  Dit
was ‘n bestuurstyl om te fokus op die positiewe.  Samehangend is etiese optrede met die belange
van die kiesers eerste.

 

Ek stem saam daar word te min oor ras gepraat
en dit is nie ons DNA wat ons so verskillend maak maar ons omgewing – dis
nie-tasbare aspekte wat natuurwetenskappe nie kan meet nie.  Suid-Afrika se krag lê in verskeidenheid en
nie hoe ons eenders kan, moet wees of dink nie.

 

Die wantroue tussen rasse in Suid-Afrika gaan
nog baie lank voortduur want dit bly deel van openbare en regerings debat om
probleme aan ras te koppel – en omdat verksillende rasse in privaat gesprekke
mekaar nog elke dag sleg sê en dit nog steeds gaan doen vir baie geslagte – en
omdat rasse verskillend lyk.  Ons gaan
nie binne die volgende 200 jaar verby ras leef nie – veral as mense gese word
dit moet gedoen word.  Deel van ‘n
demokratiese samelewing is nie om te beklemtoon dat ons eenders moet dink nie,
maar reeds hoe ons verksillende kan dink

 

Een manier vir ‘n beter Suid-Afrika is egter
om diversiteit te erken, aanvaar en te respekteer en dit sluit ras in.  Ek wil nie in ‘n verhouding wees met ‘n
persoon wat nie van my ras is nie, maar ek het talle voorbeelde dat ek eerder
in besigheid of sosiaal wil verkeer met anders kleuriges as mense van my eie
ras.  Volgende moet Suid-Afrika ‘n
gemeenskaplike fondament te hê wat die grondwet moet voorsien en derdens die
handhawing van die grondwet.  Erêns kort
etiese regering vir my persoonlik.

 

Suid-Afrika kort ‘n leier wat eties optree
sonder familie belange in regering tenders (soos Zuma wat maak dat hy nie
respek verdien nie), wat fokus op wat bereik moet word en nie energie spandeer
op wie die sondaars is (soos Mbeki) en wat die land kan lei met beskikbare
bronne.

 

Viva ras en Suid-Afrika!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.