Gesonde werk noodsaaklik vir menslike gesondheid

flip-buys-tweede-groot-trek-02

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema)

Die staat van algehele landwye afsondering werp ’n skadu op almal se gemoed. Mense is met reg bekommerd oor hul gesondheid, hul werk en hul gesinne se toekoms. Almal voel onseker, want die pandemie en sy gevolge bedreig elkeen.

Die vraag is egter nie of die staat van afsondering die een of ander tyd opgehef of uitgefaseer moet word nie, maar wanneer en in watter omstandighede. Sekere lande in die wêreld, soos Kanada, se inperkingsmaatreëls is veel ligter, terwyl ander dit reeds begin verslap het, soos Duitsland en Oostenryk.

Koerantberigte het die naweek daarop gesinspeel dat die staat van afsondering dalk vir etlike maande verleng kan word om te verhoed dat die Covid-19 virus vinniger versprei. Dit het kommer laat toeneem dat nóg meer mense hul inkomste of werk kan verloor.

Die ekonoom Dawie Roodt het bereken dat die bestaande drie weke reeds ’n miljoen poste in die slag laat bly het, terwyl Mike Schüssler skat dat die krisis 1,6 miljoen mense hul werk kan laat verloor. Die vrees bestaan gevolglik dat die ekonomiese gevolge van die inperkingsmaatreëls die Covid-19-krisis verder kan verdiep en verleng. Terselfdertyd is mense natuurlik steeds bekommerd oor hul eie en hul gesinne se gesondheid.

Die oplossing vir die krisis is egter nie maklik nie. Suid-Afrika is nie ’n klein ryk landjie soos Singapoer wat ’n algehele staat van afsondering vinnig en doeltreffend kan instel, die virus stop, en dan die land weer vinnig aan die werk kan sit nie. Daar is ongelukkig ’n groot gaping tussen hierdie ideale teorie en die harde praktyk in Suid-Afrika.

Teorie en praktyk

Die huidige inperkingsreëls geld vir almal in die land, behalwe mense wat noodsaaklike dienste lewer. In die praktyk werk dit nie so maklik nie. Miljoene mense bly in digbevolkte gebiede en kan hulself moeilik isoleer. Derduisende mense moet ook naby mekaar gaan toustaan vir Sassa-toelae, of moet winkels besoek om lewensmiddele te koop. Die informele sektor moet aanhou loop omdat dit rampspoedige gevolge vir talle mense inhou as hierdie sektor gaan staan en nie meer onmisbare produkte kan verskaf nie. Die regering was reeds verplig om die beperkings op taxi’s te verlig sodat hulle noodsaaklike werkers kan vervoer.

Dit alles bring mee dat die krisis nog nie verby gaan wees wanneer die huidige inperkingsmaatreëls op 16 April verby is nie, terwyl die ekonomiese krisis ook dan al diep sal byt. Talle kenners se skattings laat dit blyk dat die infeksies eers ná die afsondering kan begin sneeubal en daarom word al meer gerugte gehoor dat die regering dit verder kan verleng. Niemand weet egter of die verlenging in die Suid-Afrikaanse omstandighede doeltreffend genoeg sal kan werk nie, veral in die informele sektor.

Belastinglas

Die verlenging van die afsondering sal veel makliker afgedwing kan word in die formele sektor. Dis ook nie ’n maklike oplossing nie omdat statistieke wys dat minder as drie miljoen belastingbetalers ’n volle 97% van persoonlike inkomstebelasting betaal. Hierdie finansiële Gideonsbende dra dus ’n groot verantwoordelikheid vir 56 miljoen mense in die land. Natuurlik betaal feitlik almal verkoopsbelasting, terwyl maatskappye ook belasting betaal. Die bykanse ekonomiese stilstand beteken egter dat al die belastingbronne drasties afneem en dat dit die versorging van die bevolking al moeiliker sal maak omdat dit al meer gaan kos. Sonder ’n sterk stroom belasting sal die mense wat siek word van die pandemie ook nie behoorlike mediese hulp kan ontvang nie.

Ekonomie

Om te sê dat mense se gesondheid bo die ekonomie gestel moet word, is nie heeltemal waar nie – dit kan nie geskei word nie. Die land se ekonomie was voor die pandemie reeds in ’n krisis, en ná die onlangse afgraderings en werkstilstand as gevolg van die inperkingsmaatreëls is ’n resessie – of erger – onvermydelik. Enige verdere skade aan die ekonomie kan miljoene mense se werk, kos op die tafel én gesondheid ernstig benadeel. ’n Gesonde ekonomie is ’n noodsaaklike voorwaarde om mense te voed, te dokter en teen die siekte te beskerm. Die verlies van miljoene werkgeleenthede kan tot die platval van die land, ’n grootskaalse hongersnood en maatskaplike onrus lei wat die viruskrisis in ’n nóg groter nasionale ramp kan verander.

Dit is ’n belangrike denkfout om te aanvaar dat daar net een vorm van afsondering is wat die virus se verspreiding kan strem. Die huidige algemene inperking moes in die lig van die aanstormende krisis blitsvinnig ingestel word om die virus se verspreiding te strem. ’n Algemene inperking is egter soos om met ’n groot kanon op muskiete te skiet. Jy skiet dalk ’n paar raak, maar verwoes in dieselfde proses moontlik die hele dorp. Dis beter om soos ’n skerpskutter presies op die regte teiken te mik, en nie onskuldige omstanders te wond nie. Strategie behels dus ’n slim inperking, wat net kwesbare groepe en diegene wat nie veilig kan werk nie, afsonder, maar mense wat veilig en gesond kan werk, toelaat om dit te doen.

Gesonde werk

Dit geld vir mense wat hoofsaaklik van die huis af kan werk, maar ook diegene wat by die werk voldoende afgesonder van ander mense kan werk. Dit is werkers wat op hul eie met masjinerie werk of kantoorwerkers wat om die beurt belangrike take kan verrig sonder dat hulle kontak met ander mense het. Rotasiewerk, wisselende aankoms-, werk- en vertrektye, asook aanpassings in skofwerk kan byvoorbeeld ondersoek word. Vergaderings kan steeds telefonies of deur videokonferensie gedoen word sodat sosiale afstande gehandhaaf kan word.

Terselfdertyd behoort daar uit die bewese praktyke van ander lande geleer te word sodat restaurante en ander maatskappye wat deur afleweringsdienste hul produkte kan versprei, weer aan die gang kan kom.

Die belangrikste is dat die manier waarop ons werk en leef vir die duur van die pandemie sal moet verander om aan te pas by die nou bekende gesondheidsreëls. Die manier waarop ons vir die voorsienbare toekoms werk, moet verander, eerder as wat ons werk in geheel tot stilstand moet kom. Die gesonde voortsetting van werk is bepalend vir die volhoubare hantering van die medium- en langtermyn gevolge van die pandemie op ons lewens.

Daarom moet daar ’n verskuiwing kom vanaf ’n bepaling dat net noodsaaklike werknemers mag werk, na voorsiening dat almal wat veilig en gesond kan werk, ook toegelaat moet word om dit te doen.

Dit is hoekom Solidariteit ’n span beroepsgesondheidskenners onder leiding van advokaat Paul Mardon opdrag gegee het om met voorstelle te kom hoe soveel moontlik mense op ’n gesonde manier weer kan begin werk. Terselfdertyd word daar ’n beroep op mense gedoen om self voorstelle te maak van wat gedoen kan word omdat elke werkplek se omstandighede verskil.

Die doel is om so gou as moontlik ’n verslag aan die regering voor te lê met voorstelle oor hoe die afsonderingsmaatreëls aangepas of stelselmatig uitgefaseer kan word. Die gesondheid van mense sal in hierdie voorstelle altyd voorkeur geniet omdat daar nie met menselewens gedobbel mag word nie. Ons moet kliphard vir mense se gesondheid én werk veg omdat menslike gesondheid en gesonde werk onafskeidbaar is.

Daar is spesiale voorsiening vir voorstelle en insette oor veilige en gesonde werkspraktyke bycorona.org.za/insette.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

koos ·

Ek is nie ‘n vrekkige persoon nie maar het versigtig met my salaris oor die jare gewerk, voordat my velkleur veroorsaak is dat ek permanent vervang is. Geen nuutste iPhone of Galaxy nie, nee dankie die ou foon werk nog tjap. Ek het in die sewe vet jare ietsie opsy gesit, nou is dit die sewe maer jare waarin ons leef (en AA/ EE gaan dit nog verleng ook). Good for me. Al wat ek poog met die skrywe is dat jy iets moet doen aan jou situasie na COVID. Raak ontslae van jou skuld, jy is iemand anders se slaaf. Vergeet van jou droomkar en die fênsie selfoon. Kry fone en karre wat vir jou werk, nie wat jy begeer nie. Na die duiwel met DSTV, kry Openview. Aanvaar dit nou maar, die sewe maer jare sal kom en gaan maar sal altyd daar wees. Doen iets daaraan, jou regering gaan jou beslis nie help nie. Werk jouself in ‘n “Good for me” situasie in. Jy, en net jy, kan dit aan jouself doen.

Annelie ·

Net so Koos! Ek stem! Niemand gaan hul oor jou ontferm nie… al gee jy meer as jou deel aan die wat minder het… Ek het dit ook bitter vinnig besef… Die wat meer het, wil NOG meer hê.

Annelie ·

Jitte ja… veral afleweringsdienste… Daar is produkte waarvoor n mens al voor daar sprake van lockdown was, reeds voor wag. Dis noodsaaklike items wat as nie-noodsaaklik gesien word nie, aangesien dit nie geeet ens. kan word nie, maar sonder dit kan my besigheid nie aangaan nie….

Lorinda ·

Puik artikel. Dankie Flip. Ek ondersteun d voorstelle ten volle. Dis lekker om altyd ‘n skeppie hoop te kry by Solidariteit!

Louwrens ·

Ek stem saam. Uitstekend verwoord maar ons sit met n probleem wat al jare saam ons loop. Ons kan al die goed maak werk wat voorgestel is en dit sal suksesvol wees maar ons sit met diegene wat nog nooit werklik hard moes werk vir iets nie. Diegene wat nie die luukse sal verruil vir samewerking nie.
Ek SAL inspring en my deel doen en ek weet my kollegas ook want ons het dieselfde siening. Die lockdown trek ons almal af tans.
Lekker dag vir almal

Boortor ·

Ek ondersteun die voorstelle ten volle en nog meer. Die probleem is dat die voorleggings aan die regering gebruik word om die tafels mee af te stof. Hulle sal NIE daarna kyk nie want dit kom van die verkeerde mense af. Nie te min…goeie artikel. 10/10.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.