Gesondheid, gewete en Christelike vryheid

(Argieffoto: Unsplash)

Een van die redenasies in die debat rakende verpligte inentings, is dat dit juis Christelik is. Daar word dan basies twee redes daarvoor aangevoer. Die eerste is dat individuele menseregte nie verabsoluteer mag word nie. Dit beteken dat die voorneme om die meeste mense te bevoordeel ʼn genoegsame teenhanger is sodat individuele regte dit nie kan veto nie.

Doen afstand van vryheid

Die tweede argument is ’n beroep op naasteliefde. Die standpunt word dan gehandhaaf dat die welsyn van almal swaarder weeg as individuele vryhede en dat dit ʼn Christelike plig is om juis van jou vryhede afstand te doen.

Wat leer die Bybel regtig?

Beide hierdie twee bewerings of manier van redenering het baie veld onder Afrikaanssprekende Christene gewen. Aan die een kant word individuele menseregte ingespan, en soms onlogies óórspan, en aan die anderkant word die standpunt gehandhaaf dat Christelike optrede juis behels dat ʼn mens jou vryheid prysgee.

Maar is dit waar? Is dit wat hier beweer word, en eintlik deesdae algemeen as die waarheid aanvaar word, regtig wat die Bybel ons leer?

Sosiale kontrak – Bybels?

Kom ons neem eerstens die individuele menseregte-argument wat tans baie populêr geword het. Hierdie standpunt is eintlik ’n verwoording van wat die “sosiale kontrak” genoem word. Dié teorie vereis inderdaad dat vryhede op hierdie manier prysgegee word, maar om te beweer dat die Bybel dit vir ons leer, is om té ver te gaan. Voorstanders en teoretici verskil onderling oor hierdie standpunt, maar filosowe soos Thomas Hobbes, John Locke en Jean-Jacques Rousseau gaan almal van die standpunt af uit dat dit ’n kontrak-idee is. Die kernpunt is dat binne die sosiale kontrak-teorie die basiese vertrekpunt is dat die mensdom eintlik net ’n klomp losstaande individue is.

Nie een van hierdie kern vetrekpunte van die sosiale kontrak-teorie is Bybels nie.

  • Vryheid volgens die Bybel is bevryding van iets en vryheid tot iets. Dit word vir ons op baie maniere in die Bybel geleer. Bevryding het daarmee te make dat sonde en verkeerdhede, onderdrukking en swaarkry opgehef word. Belewing van vryheid het daarmee te make dat ʼn mens bevry word om iets anders te mag en te kan doen. Dit word sterk uitgebeeld met roeping en die geskenk van vrymaking wat God gee. God se vryheid wat Hy skenk kom deur die Persoon, en werk van Jesus Christus af deur die Heilige Gees. Christus bevry die kinders van God van sonde, die dood en die duiwel se werke. God skenk aan sy kinders vryheid om te wees wat Hy bedoel het hulle moet wees. Die sosiale kontrak werk net op twee vlakke: die losstaande individue en die owerheid aan wie hulle nou eintlik hulle vryhede afgestaan het, ter wille van beskerming. Die Bybelse manier werk op drie vlakke, naamlik die mense, die owerheid en God self.
  • Dit lei logies tot die volgende kritieke punt van die sosiale kontrak, naamlik dat dit juis net individue raaksien. Die Bybel leer dat nie net individue bestaan nie. Daar bestaan ook groepe of gemeenskappe. Die Bybel gebruik dikwels die term “volke, tale en nasies”. Volgens die Bybel is volke en gemeenskappe nie maar samestellings van individuele keuses nie (soos wat die sosiale kontrak juis bedoel nie), maar is skeppings gegewens. Met ander woorde, daar het groepe en gemeenskappe bestaan voordat daar van enkelinge gepraat kan word. Die duidelikste lyn hier is dat God self die mens as ’n sosiale wese skep deur te sê: Laat Ons mense maak, na Ons beeld en na Ons gelykenis (Genesis 1:31). Die Bybel leer dus dat die individuele Adam, en die individuele Eva, nie net as losstaande individue gesien mag word nie. Hulle is geskep in gemeenskap, ten eerste vanuit God as heilige gemeenskap self, en dan as gemeenskap binne die huwelik en gesins- en breër gemeenskapslewe.

Bindings wat God gee

Die sosiale kontrak aanhangers, en die wat dít gebruik om verpligte inenting goed te praat, kan hulle nie hier op die Christelike basis beroep nie. Die sosiale kontrak is nie ’n Bybelse idee nie. Dit breek bande wat God handhaaf. Dit word in die Bybel die verbond van God genoem. Om verpligte inenting te probeer redeneer vanuit die vertrekpunt van individuele menseregte binne die sosiale kontrak-idee, is om vanuit die staanspoor die bal ver mis te slaan – veral as ʼn mens wil beweer dat dít juis die Christelike siening is.

Waar gaan dit eindig?

Ons kan ook op die uiteindelike gevolge van die standpunt vanuit die sosiale kontrak-idee let. As die individu sy vryheid prysgee, en aan die owerheid die alleenreg gun om enige verpligting op te lê deur slegs te beweer dat dit in die algemene belang is, dan is ons besig om op baie dun ys te beweeg. Die geskiedenis en die huidige praktyke is genoegsame bewys daarvan. In kommunistiese China word presies dit gesê: dat dit in die algemene belang is dat elke gesin net een kind mag hê. Verpligte sterilisasie en verpligte aborsies is die gevolg. Die feit dat ʼn mens sou sê dat die individu in die sosiale kontrak vrywillig sy reg afgee terwyl dit in die kommunistiese stelsel afgevat is, verander niks aan die argument nie. Die owerheid kan uiteindelik, op grond van die argument van algemene belang, self besluit om jou tweede en derde kind te laat doodmaak. Jy het jou vryheid afgegee en – volgens die kwasi-Christelike siening – moet jy dit maar verduur, want dit is naasteliefde. Uiteindelik – as vryheid sonder God bedink word – word dwang liefdeloos en wreed.

Gewetensvryheid

Hoe behoort Christene – wat die bande van God in die verbond raaksien, en wat die vryheid wat Christus gee hoog ag – oor verpligte inentings te oordeel? (Ons los nou maar eers die algemene agterdog en wantroue teen die huidige Suid-Afrikaanse regering om effektief in hierdie gesondheidskwessie op te tree agterweë.)

Christene behoort hulself op grond van die liefdeswet van God in hulle gewete te verantwoord of hulle hul wil laat inent of nie. Die sesde gebod lui: jy mag nie doodslaan nie. Dit eis die beskerming van lewe; van jouself en van jou naaste. “Jy mag nie doodslaan nie” beteken dus ook dat jou optrede nie jou naaste se lewe mag bedreig nie. Die sesde gebod vereis egter nie selfmoord deur jou vryhede weg te gooi nie. Vryhede en gewete gaan oor die behoud van jou naaste; ook jou naaste in sy band met God self.

Geen vrypas met vryhede

Dit is egter ’n geheel ander saak om te sê dit is reg dat die owerheid die reg het om almal te verplig om in te ent en hulle vryhede te ontsê as hulle dit nie doen nie. Die owerheid se taak is nie om gewetens te beheer nie. Die owerheid se taak is nie om vrypas te ontvang om vryhede van al die individue te ontvang en te maak wat húlle dink in die beste belang is nie. Die Bybel beperk die taak van die owerheid, maar tans word die owerheid en staat bykans as almagtig gesien; ’n eienskap wat God slegs Homself toe-eien.

Vryheid is duur

Dr. Wikus Buys.

Vryheid is duur in Christus gekoop. Dit mag nie verkwansel word nie en mag glad nie aan die owerheid afgestaan word in ruil vir beskerming nie. Dit is juis wat die sosiale kontrak leer. Ons moet tans in die Afrikaanse gemeenskap weer aanleer om vanuit die verbond van God te dink. Menseregte word uiteindelik maar bepaal deur wat die meerheid dink dié regte moet behels. Die sosiale kontrak is tans besig om die Afrikaanse gemeenskap baie skade te doen. Hulle boet nie net regte wat God hulle in sy verbond gegee het in nie, maar hulle word selfs van kansels af aangemoedig – en in God se Naam aangesê – om hulle vryhede prys te gee. Dit is lewensgevaarlik.

Die debat rondom verpligte inentings gaan dus oor meer as net individue se regte en die regering se (al)-magsreg om te besluit wat goed is vir almal. Die debat raak die punt aan of ons as Afrikaanse gemeenskap nog in verbondenheid met God wil leef, en of ons die bindings van sy skepping en redding aanvaar. Die voorstanders van verpligte inentings – soos deur die sosiale kontrak-aanhangers verdedig – kan hulle nie op die Bybel beroep nie. Hulle probeer ’n onbybelse teorie met Bybelversies versier. Hulle moedig mense aan om hulle vryheid prys te gee. Dit weerspreek juis wat God sê. As jy jou naaste liefhet soos jouself, sal jy aan die ander gun wat God ook aan jouself in Christus gun. Naasteliefde moenie misbruik word om gemeenskappe se vryhede te steel nie. Naasteliefde behels óók liefde vir God se verbintenisse.

Gesondheid, gewete en Christelike vryheid is lyne wat saam met mekaar loop. As ons nóú die raad van die sosiale kontrakteurs volg, ook dié wat die Bybel laat buikspreek, gaan ons vryhede inboet wat ons nie maklik gaan terugkry nie. Ons is vry in Christus, en ons mag dié vryheid nie so gou afgee nie. Ons geestelike gesondheid hang daarvan af.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Wikus Buys

Meer oor die skrywer: Wikus Buys

Dr. Wikus Buys is die uitvoerende direkteur van die Begrond Instituut.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Treurwilger

Wat ‘n bevrydende stuk deur dr. Wikus Buys.

VaalDonkie

Jy kannie ‘n omelet maak as jy nie ‘n paar eiers breek nie, ne!

MT

Nugter, onafhanklike denke en suiwer menings, alhoewel skaars, is nog steeds te vinde vir die wat daarna soek.

Baie dankie Wikus! (koes maar vir die klippe wat wel sal volg)

MakersMark

Is dit ‘n poging tot ‘n geloofs regverdiging vir “christelike teenstand” van die Afrikaner teen verpligte inentings wat dan ons Godgegewe “vryheid” sou wegneem? Wat van ander nasies en gelowiges? Wat van verpligte inentings teen kindersiektes? Waarop is die prinsiepe geskoei en watter bybelverse snoer “gewete, gesondheid en vryheid saam” ? Laat jou versies dan “buikspreek”. Nee wat regse antivaxer poging sonder enige bybelse regverdiging.

Sokrates

Briljant beredeneer, baie dankie.